Ouers se aanvaarding van hul queer kinders
201706271530-2.jpg

Party seuns en dogters word met ope arms uit die kas uit verwelkom, maar vir baie jeug is dit nie die geval nie. Kinders word uit die huis geskop, finansieel afgesny en gesinne vervreem van mekaar. Alhoewel die wêreld, en Suid-Afrika, meer as ooit vantevore aanvaardend is van gelyke regte vir almal, word homofobie steeds gekweek deur kulturele en religieuse leerskole. 

Kerke in Suid-Afrika debatteer oor die kwessie van die “toelaatbaarheid” van homoseksualiteit, terwyl sommiges die debat summier van die hand wys weens hul interpretasie van ’n goddelike wil vir ’n heteroseksuele samelewing. Daar word dikwels gefokus op die politiese, geregtelike en religieuse perspektiewe op gay-wees, maar daar word heelwat minder gekyk na wat enkele mense vóél.

Sekerlik sal ander se persoonlike emosionele ervarings, met die gay-wees van hul kinders, meer tot hulle deurdring as diskoers in dagblaaie en sinodes. Dis ’n moeilike en uitdagende proses, vir beide queer kinders en hul ouers, om hulself en ander werklik te aanvaar en los te breek van die samelewing se reëls en verwagtinge.

Die RSG-radiodrama, Agter toe deure, wat onlangs vir die eerste keer uitgesaai is, spreek hierdie onderwerp direk aan op ’n menslike wyse. Dit wek deernis vir die ouers wat hul kind aan die dood verloor het, ’n kind wat queer was, en ouers wat nie altyd verstaan het nie. Dit kyk na enkele reaksies soos wat verwag kan word van enige ma of pa. Die radiodrama wys nie vingers nie, maar laat die luisteraar eerder met die vraag of afkeur en verwerping dit enigsins werd is.

Ons het met Perdita van Dijk du Bois, skrywer van die radiodrama, gepraat oor die totstandkoming van die storie. Sy deel van haar gedagtes.

scan025.jpg

Agter toe deure het grotendeels uit my eie ervaring gevloei.  

Ek het deur die genade nog nie ’n kind aan die dood afgestaan nie. Die verlies aspek is dus in ’n groot mate vir my eerder simbolies. Ek het wel na negentien jaar van getroude lewe ontdek dat my man, die pa van my kinders, gay is. My onmiddellike reaksie was letterlik een van oorweldigende deernis omdat ek besef het hoe onaanvaarbaar gay-wees in sy familie van oorsprong sou wees.  

Daar was ook, in daardie oomblik, ’n kragtige kristalhelder, instinktiewe wete dat ons seun ook gay is. Ek gebruik doelbewus die byvoeglike naamwoorde – dit was ’n spirituele ervaring wat ek fisies op die krop van my maag ervaar het. Hierdie wete was vir my die dryfveer om soveel as moontlik oor homoseksualitieit te leer sodat ek gereed sou wees vir die dag wat my seun sy oriëntasie met my sou deel. 

Die teks bevat baie aspekte van my pogings om my geestelike oortuigings en hierdie lewensomwentelende gebeure met mekaar te versoen. Dit het vir my daaroor gegaan om my liefde vir my mense en my “kerk” bymekaar uit te bring.

Met die promovering van die drama, het ek probeer uitreik na van die liefdevolle individue wat my persoonlik, en ons almal kollektief, dien deur hulle pogings om die standpunt van die NG Kerk van binne te verander.”

Luister na Agter toe deure:

 

Met Richard van der Westhuizen, Elma Potgieter, Rina Nienaber en Ilsé Klink. Regie deur Mari Snyman.

scan022.jpg

Agter toe deure is Perdita se tweede radiodrama. Haar eerste drama, Wat sal die mense sê, is in 2015 uitgesaai en is vir ’n ATKV-Veertjie benoem. Dit is ’n kleurryke en emosionele storie oor die samekoms van mense met verskillende sienings, agtergronde, kultuur, geloof en ras soos verkragting ditself in die lewe van twee gesinne dring. Luister dit hier.

  • Oorspronklike illustrasies, gebaseer op Agter toe deure se teks, deur Flip Hattingh
  • Sien nog van sy werk hier

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ouers se aanvaarding van hul queer kinders gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand