Wie sal ons Vrye Weekblad wees?
Die voorblad van die laaste uitgawe van Vrye Weekblad.

Die voorblad van die laaste uitgawe van Vrye Weekblad.

'n Suiwer politieke, joernalistieke en kulturele ingryping

'n Digitale argief van Vrye Weekblad is nou beskikbaar. Buiten die rebelse kultuurskatte wat daarin te vinde is, kom dit vinnig na vore dat Vrye Weekblad in 'n hele paar maniere nog relevant is.

Daar word in die algemeen heelwat kritiek teen die Afrikaanse media uitgespreek, spesifiek teenoor koerante en aanlyn nuuspublikasies. Dit kom nie as verrassing nie, met inagneming van die polariserende retoriek van vreesbevange verregse groepe, wat veral onder wit Afrikaners doenig is om hulle agenda te bevorder. Die rol en invloed van die media moet nie in die opsig misgekyk word nie. Afrikaanse media praat direk met 'n klein, maar invloedryke demografie. Hierdie invloed word dikwels misbruik. Dit is waardevol om na die Vrye Weekblad-argief te kyk en dit te vergelyk met vandag se medialandskap. 'n Wekroep, soos die een wat Vrye Weekblad as anti-apartheid koerant in die lewe gebring het, bestaan vandag weer as gevolg van soortgelyke uitdagings wat die media in die oë staar.

Daar is steeds 'n monopolie van Afrikaanse druk- en aanlynmedia, met Naspers wat die meerderheid van Afrikaanse publikasies besit. Drukmedia trek die wêreld oor noustrop en Afrikaanse media is geen uitsondering nie. Koerante en hulle webwerwe maak 'n verlies, met enkele uitsonderings. Weens die geweldige finansiële druk wat die pers in die gesig staar, kan hulle dit nie bekostig om nóg lesers te verloor nie. Wat te doen as jou lesers se oortuigings ver verwyder is van versoening en gesamentlike vooruitgang, en boonop nie bereid is om te betaal vir uitkyke wat van hulle s'n verskil nie? Die media se rol as waghond en lig in die donker is net so belangrik as vantevore, maar dit raak al hoe moeiliker om 'n winsgewende bestaan te voer.

Die Afrikaanse nuusmedia bestaan hoofsaaklik uit Media24 (Naspers), wat as cash-strapped maatskappy eerstens na hulle finansiële belange omsien, en Maroela Media, wat aan Solidariteit behoort. Dit is bykans onmoontlik om die belange van AfriForum, ook deel van Solidariteit, en Maroela Media van mekaar te skei. AfriForum het geen bekendstelling as alt-right wit-belangegroep nodig nie. Die onafhanklikheid van die pers is 'n onlosmaakbare deel van demokrasie, en vir hierdie rede kon Vrye Weekblad Afrikanernasionalisme se bubble help bars. Die laaste uitgawe beskryf dit so:

Vrye Weekblad se credo verskyn ook in die eerste uitgawe. Max du Preez spel daarin die beleid van Vrye Weekblad uit: onverbonde, geen spesiale lojaliteite teenoor enige politieke party of belangegroep nie, ons behoort nie aan enige geldmag of maatskappye groep nie. Ons wil betroubare, gebalanseerde inligting vir ons lesers kan gee - 'n skaars produk in Suid-Afrika in die jaar 1988. Hy skryf: "Op die oomblik is al die groot Afrikaanse koerante bondgenote van die Nasionale Party terwyl die enigste ander primêre nuusbron, die SAUK, deur die staat beheer word. Hierdie verhouding tussen regerende party en media moot noodwendig 'n inhiberende invloed op beriggewing hê.

En hoekom is ons naam Vrye Weekblad? Want ons is vry van ideologieë; vry van propaganda en slagspreuke; vry van eng inbibisies, vry van manipulering deur Staatspresidente, ministers, Broeders, generaals en groot kapitaliste - vry om vir die moderne Afrlkaanssprekende te sê: lees en besluit self.

Vrye Weekblad en die span joernaliste en medewerkers wat daaraan gewerk het, het 'n rol gespeel in die afskaffing van apartheid. Nie dat die heavyweights en die jong joernaliste wat destyds by Vrye Weekblad gewerk het vandag stil bly oor die korrupsie en misdaad wat so geredelik plaasvind nie. Max du Preez, wat redakteur van Vrye Weekblad was, bly een van die media se mees klinkklare stemme, en Jacques Pauw het sy reputasie as vooraanstaande ondersoekende joernalis oor al die jare behou. Veral nou met sy boek The President's Keepers wat sowat 200 000 kopieë verkoop het. Christi van der Westhuizen, wat ook die laaste jaar die kunsredakteur van Vrye Weekblad was, is vandag 'n gekende en prominente akademiese stem in vroueregte en Afrikaneridentiteit. Daar is vele ander ook.

'n Onafhanklike stem in die Afrikaanse media soos Vrye Weekblad s'n is nodig. Mens moet bewus bly van die reusevoordeel wat die bestaande Afrikaanse mediahuise uit apartheid getrek het. Groter diversiteit in die media is na wense om die status quo uit te daag. 

Vrye Weekblad het toegemaak weens "teleurstellende advertensiesteun" wat die publikasie uit die Afrikaanse sakesektor gekry het, asook weens hoë regskostes wat meer as 'n derde van die koerant se operasionele koste geëis het. Die koerant se kantore was boonop gebom, die nuuskantoor se rekenaars was teruggeëis weens agterstallige rekeninge wat nie betaal kon word nie en Max du Preez is vir ses maande tronk toe gestuur, vir vyf jaar opgeskort. Hy noem dat dit aan die begin makliker was om die publikasie op suiwer adrenalien en idealisme te bedryf. Daar was in 1994 as finale verskyningsjaar gesprekke om saam met die gewese Insig en Die Suid-Afrikaan saam te smelt, maar Max noem in Vrye Weekblad dat die kulture en aanslagte van die publikasies té verskillend was, en boonop het die Nasionale Pers (nou Naspers) 'n "enigste-bul-in-die-kraal-arrogansie getoon wat die Vrye Weekblad-redaksie al aan gewoond geraak het". Max kry tog die laaste woord in en maak dit duidelik dat die publikasie op 'n hoë noot die leisels neergelê het:

Maar daar is 'n ander kant van die hele saak. Vrye Weekblad was nooit bedoel as 'n kommersiële projek nie. Dit was 'n suiwer politieke, joernalistieke en kulturele intervensie. Waar dit kommersieel 'n mislukking was, was dit in die sin wat my betrek 'n sukses.

[...] Ons fade nie. Ons fokof.

Hieronder deel Klyntji 'n paar van die voorblaaie oor die jare van Vrye Weekblad se bestaan. Anton Sassenberg het die ontwerp in April 1991 oorgedoen, wat 'n toonaangewende bladuitleg en tipografie tot gevolg gehad het.

Lank lewe Vrye Weekblad, of altans die oortuigings daaragter.

Die digitale argief is hier beskikbaar.

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wie sal ons Vrye Weekblad wees? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand