In gesprek met SJ Naudé oor sy kosmopolitiese skryfwerk

In gesprek met SJ Naudé oor sy kosmopolitiese skryfwerk
Foto verskaf

Foto verskaf

Kuns, taal, queerwees, Suid-Afrika en ontvlugting

SJ (Fanie) Naudé se tweede kortverhaalbundel en derde boek Dol heuning (2021, Umuzi) se verhale speel af in Suid-Afrika, Namibië en ’n reeks ander lande in die noordelike halfrond. Die omslag van die bundel is ’n kunswerk deur David Wightman. Dit herinner Deborah Steinmar aan ’n spesifieke uitgawe van Lantern wat aan Japan gewy is. Ander kunswerke wat in dié boek betrek word, is deur Ryan McGinley, Jeff Koons, Louise Bourgeois, Berlinde de Bruyckere en Hermann Nitsch. In Naudé se skryfwerk maak hy dikwels verwysing na ander kunsvorme. Dan ook in Bibi Burger se resensie van Dol heuning noem sy dat SJ Naudé se gevierde debuutkortverhaalbundel, Alfabet van die voëls (2011, Umuzi), destyds deur Louise Viljoen beskryf is as “kosmopolities” en dat dieselfde waar is van hierdie versameling kortverhale. Ek het in die lig hiervan met die skrywer gesels.


FRANCOIS: Kuns speel ’n prominente rol in jou boeke. Versamel jy kuns of is jy bloot ’n aanhanger? Watter kunstenaars se werk trek op die oomblik jou aandag? 

FRONT Dol heuning FTP.jpeg

SJ: In ’n stadium het ek graag kunswerke aangekoop. Mettertyd het ek besef (en dis sekerlik skaars ’n insnydende insig) ’n mens hoef eintlik net na kuns te kyk; dis onnodig om dit te besit. Hoe meer ek skryf, hoe kleiner is my behoefte ook aan die besit daarvan. Daar is soveel kunstenaars wat ek sou kon noem. Ter plaatste hou ek onder andere van Wim Botha, Pieter Hugo, Deborah Poynton, Andries Gouws en jonger kunstenaars soos Athi Patra-Ruga, Ruby Swinney, Michael Taylor en Heidi Fourie. Ook van Andrzej Nowicki, wat eens ’n Kapenaar was, maar Australië toe verhuis het. Internasionaal (kontemporêr en modern-histories) is daar te veel om te noem; enkele name wat hul lukraak voordoen, is Berlinde de Bruyckere, Anselm Kiefer, Joseph Beuys, Agnes Martin, Marc Quinn, Ron Mueck, Louise Bourgeois, Willem de Kooning, Eva Hesse, Michaël Borremans, Luc Tuymans, Cornelia Parker...

FRANCOIS: Dol heuning word gekenmerk deur heelwat “kontinentale” stories wat meestal, as ek reg is, in Suid-Afrika geskryf is. Wat is dit wat jou verbeeldingsvlug na die noorde laat draai?

SJ: Die ruimtes waar die verhale afspeel, is gewoonlik plekke waar ek gewoon het of wat ek goed ken. Omdat ek so ’n groot deel van my volwasse lewe in die noordelike halfrond deurgebring het, is dit waarheen my kreatiewe lewe my dikwels terugneem. Daar is ook die kwessie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat so swaar hier in die lug hang, en wat mens nie kan ignoreer nie. Om stories elders te plaas, maak wyer tematiese velde oop. 

Daar is ook die kwessie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat so swaar hier in die lug hang, en wat mens nie kan ignoreer nie. Om stories elders te plaas, maak wyer tematiese velde oop.
— SJ Naudé

FRANCOIS: Gebroke verhoudings is ook kenmerkend van heelwat van die verhale in Dol heuning – hoekom het jy veral hierop gefokus?

SJ: Ek sou sê die verhoudings is dalk gekompliseerd, of ontspoor as gevolg van verhaalgebeure of subtiele interne verskuiwinge, eerder as wat hulle soseer gebroke is. Of die karakters wil nader aan mekaar beweeg, maar dit gebeur asimptoties. Ek het helaas nie ’n goeie antwoord op jou vraag nie. Dalk het harmonieuse verhoudinge bloot minder dramatiese potensiaal. 

FRANCOIS: Wanneer het jy besef jy is queer en besluit om dit openbaar?

SJ: Dit was vir my ’n geleidelike gewaarwording. Toe ek 26 was en in New York aangekom het om daar te studeer, het dit wel vinnig vir my klinkklaar geword. Dis ’n stad wat jou tot selfkonfrontasie dwing. En die openbaring het snel daarop gevolg. Dis natuurlik baie makliker om ’n nuwe, ontvanklike (of dalk onverskillige) wêreld te gaan opsoek om daardie deel van ’n mens se identiteit uit te basuin. Dis veel dapperder om dit te doen in die plek waar mens grootgeword het. Laasgenoemde het eers veel later vir my gebeur.     

FRANCOIS: In Die derde spoel kom queerwees in ’n kop-aan-kop-botsing met die politiek van die apartheidstaat. Het dit jou grootwordjare gekenmerk en hoe het queerwees jou begrip van die wêreld beïnvloed?

SJ: Die 70’s en 80’s was baie beklemmend vir ’n queer kind/tiener in Suid-Afrika, dalk nog meer so in Pretoria, die toentertydse administratiewe hoofstad waar ek grootgeword het. Dit was vir my ’n tyd van ekstreme ongemak en ontuisheid, hoewel mens die bron hiervan nie ten volle self begryp het voordat mens ontsnap het aan daardie fisieke en sosiale ruimtes nie. Dit was ook ’n tyd van angs – vrees dat jou vermoedens oor jouself ook ander se vermoedens sou word, dat mens blootgestel sou word. Dit was ’n tyd van afwesigheid van queer rolmodelle of noemenswaardige positiewe voorstellinge in die media of in plaaslike literatuur van die soort lewe wat mens sou kon hê as ’n gay persoon. Die enigste kere wat homoseksualiteit trouens hoegenaamd in die pers ter sprake gekom het, was wanneer die polisie mans gearresteer het wanneer hulle op heterdaad betrap is in openbare toilette. ’n Donker tyd vir queer mense in Suid-Afrika. Seker geen wonder nie, dan, dat my eie instink was dat mens net ’n sinvolle lewe sou kon leef buite Suid-Afrika.

Wat vir my so duidelik is uit my eie ervaring, is dat kinders van jongs af in skoolklaskamers formeel opgevoed behoort te word om die spektrum van seksuele en gender-verskeidenheid te begryp, en om verdraagsaamheid en respek hiervoor aan te leer. In Suid-Afrika is daar min heteroseksuele gesinne waar dit tuis gebeur.

Die maniere waarop queerwees mens se wêreldsieninge beïnvloed, is moeilik om te verwoord. Dis iets wat queer mense instinktief aanvoel – as mens in die donker tye grootgeword het, is daar dikwels talmende onderliggende gevoelens van isolasie en marginaliteit, hoewel ook die impuls om die wêreld gedurig te herbedink en herskep. Mens word as’t ware ingedwing in ’n lewensbenadering van onafhanklikheid en kreatiwiteit. En koester ’n durende afsku in outoritêre houdings en in ’n ondeurdagte, cliché-matige benadering tot die menslike bestaan.

FRANCOIS: Is jou werk ’n oefening om Afrikaans queer te skryf? Daar is ’n byt aan jou taal, amper asof die instansie se visier op sigself gedraai is.

SJ: ’n Fyn waarneming. Sekerlik ja. Die taal word styf (wurgend) omhels, en is onder dodelike aanslag. Die sinne moet met laserakkuraatheid gebruik word, en hulself terselfdertyd met ’n skalpel opkerf. Ek dink aan die Duitse komponis Helmut Lachenmann, in wie se musiek die instrumente op allerlei onkonvensionele maniere bespeel word – as die Nazi’s met waardering na Wagner kon luister, dan kan mens ’n viool ná dese op die houtkas slaan om ’n soort musiek te genereer, maar durf jy nooit weer die snare bestryk nie. 

FRANCOIS: Jy was hoog op in die korporatiewe regswêreld voor jy jouself voltyds na skryf gewend het. Dit is ’n wêreld van druk en prestasie, maar dikwels ook van uitbuiting. Kan jy jou vereenselwig met hoe die reg as bewaker van die elite se belange gebruik word? Of is die reg vir jou ’n meer neutrale middel? 

SJ: ’n Groot regsfilosofiese vraag. Die reg en regspleging kan baie dinge wees. Dit kan gebruik word om die elite se belange te bewaak, ja. Dit kan ook slim en meedoënloos  gebruik word om geregtigheid na te streef. Dit kan die instrument van individuele regte-georiënteerde demokrasieë en menseregte-aktiviste wees, maar ook van diktators en tiranne. Ideologies-neutraal is dit nie. En, ja oor korporatiewe uitbuiting van menslike produktiwiteit (ook my eie) sou ek lank kon praat...

FRANCOIS: Vanuit jou leefervaring, wat is jou perspektief op Suid-Afrika se stand van sake en is jy optimisties oor die pad vorentoe?

SJ: Nog ’n groot vraag. Daar is baie wat onrusbarend is omtrent Suid-Afrika se politieke en ekonomiese trajek. Die geweld en brutaliteit wat nog altyd die Suid-Afrikaanse sosiale werklikheid gekenmerk het, is nog met ons. En as korrupsie, wat alles anders verwoes, endemies raak, as dit kultureel ingebed raak, dan is die toekoms nie rooskleurig nie. Demokrasieë ontwikkel uit onderliggende waardestelsels, en is afhanklik van gesonde instellings. Dit verg voortdurende menslike instandhouding; dis nie ’n abstraksie, of ’n stabiele status quo nie. Maar ek vertel niemand iets nuuts nie. Die probleem is dat die soort verskuiwinge in sosiale konsensuswaardes wat nodig is om Suid-Afrika se probleme die hoof te bied, nie juis sigbaar is nie. Daar is wel heelwat om oor optimisties te wees ook – die regbank se standvastigheid, die stewige konstitusionele raamwerk waarin ons funksioneer en die soepelheid en kreatiewe energie van Suid-Afrikaners oor die algemeen. 

Daar is wel heelwat om oor optimisties te wees ook – die regbank se standvastigheid, die stewige konstitusionele raamwerk waarin ons funksioneer en die soepelheid en kreatiewe energie van Suid-Afrikaners oor die algemeen.
— SJ Naudé

FRANCOIS: Jy en jou partner Pierre Brugman het ’n kind deur surrogaatskap verwek. Hoe het ouerskap jou perspektief op wat belangrik is, en jou besteding van tyd beïnvloed?

SJ: Báie verander. Mens sien die wêreld nou noodwendig deur die lens van jou kind se toekoms. Mens het heelwat minder tyd om te skryf, en moet dit versigtiger beplan. Jy is ook minder precious daaroor om geïnspireerd te moet voel om te kan skryf. Jy moet inspirasie snel kan aan- en afskakel, en ’n meer pragmatiese siening kweek van skryf as arbeid.

FRANCOIS: Is klimaatverandering en die ekologiese krisis vir jou ’n sentrale oorweging of meer van ’n kantlangse oorweging? Dink jy jou siening sluit aan by die meerderheid se sentiment?

SJ: Dit behoort sekerlik vir almal wat ’n etiese en morele verantwoordelikheidsin het, en veral vir dié van ons met kinders, ’n redelik sentrale oorweging te wees. Die feit dat dele van die ontwikkelde wêreld hierdie kwessie so verpolitiseer eerder as op konkrete wyse die nodige optredes van stapel stuur binne die klein vensterperiode waarin daadwerklike handeling nodig is om die krisis af te weer, is ontstemmend. Ek is nie seker van die meerderheid se siening nie; in Suid-Afrika voel dit waarskynlik vir die meeste mense of daar meer drukkende kwessies is.

FRANCOIS: Maak dit sin om Afrikaans as tersiêre taal van onderrig te behou in lig van beperkte hulpbronne en die klein rol van Afrikaans in die besigheids- en akademiese sfere?

SJ: Daar is sterk progressiewe argumente uit te maak vir Afrikaans as voortgesette onderrigtaal op alle vlakke, hoewel dalk binne gewysigde raamwerke. In die (soms onverkwiklike) diskoerse rondom hierdie onderwerp is daar myns insiens helaas min bydraers wat die argumente met deurdagte nuanses uitdruk. Dat Afrikaans vir alle praktiese doeleindes haar eindpunt as tersiêre onderrigtaal bereik het, is ’n hartseer saak. Daar is wel reeds so oewerloos hieroor gepraat en geskryf, en dis in ieder geval ’n saak wat eindelik deur politieke magstrome beslis word, eerder as die mees oorwoë argumente. 

Dat Afrikaans vir alle praktiese doeleindes haar eindpunt as tersiêre onderrigtaal bereik het, is ’n hartseer saak.
— SJ Naudé

FRANCOIS: Jy is bekroon vir jou skryfwerk en ruim daarvoor met prysgeld vergoed. Dit is wel ’n uitsondering — dié wat kies om kreatiewe werk in Afrikaans te vervaardig, skep vir ’n beperkte gehoor. Dit is vir baie ’n hartsaak, en daar is gelukkig nog instansies wat Afrikaans op kulturele gebied aanspoor en finansieel rugsteun. Wat laat jou in Afrikaans skryf, en wat bied uitstekendheid in ’n klein taal?

SJ: Wat my in Afrikaans laat skryf, weet ek nie. Ek kan dalk iets antwoord soos: “Dis die taal van my moeder,” of “dis die taal van my beendere”. Dit is wel ook so dat die Afrikaans en Engels ongeveer gelyk te voorskyn kom. Ek skryf dele in Engels en vertaal dit dan in Afrikaans. Dan vertaal ek alles in Engels. En selfs wanneer ek in Afrikaans skryf, is die parallelle Engelse sinne in my agterkop aan’t uitrol, soos ’n klankbaan vir die Afrikaans.

Die feit dat mens ’n lojale lesersgehoor in Afrikaans het, is ontsettend waardevol. Nie dat ernstige Afrikaanse lesers ondiskriminerend lees nie; hulle leessmaak is gesofistikeerd, gevarieerd en kosmopolitaans, soos enige ernstige leser s’n hedendaags. Maar as mens werk van goeie kwaliteit in Afrikaans produseer, word jy makliker deur Afrikaanse lesers raakgesien. En om Afrikaanse lesers as eerste gehoor te hê, is ’n riem onder die hart. Dieselfde geld vir die institusionele ondersteuning wat mens in Suid-Afrika kry, en by uitstek in Afrikaans. Daarsonder sou mens dalk al daaraan gedink het om op te hou. My werk word ook uitgegee en geresenseer in die noordelike halfrond. Mens het dus ’n klomp lesers buite Suid-Afrika, en ek neem ook deel aan boekfeeste en ander boekgesprekke in ander lande, veral die VK en VSA. As ek my nie-Suid-Afrikaanse lesers bymekaartel, is daar meer van hulle as my Suid-Afrikaanse lesers. Maar om wydverspreide en standhoudende internasionale sukses as litêrere Suid-Afrikaanse skrywer te behaal, is nie maklik nie. Daar is in der waarheid maar vier mense wat dit nog ooit reggekry het — André Brink, Nadine Gordimer, JM Coetzee en, in post-apartheidtye, Damon Galgut. En, veral in die geval van eersgenoemde drie, het heelwat hiervan te doen met die feit dat die plaaslike politieke ongeregtighede van die tyd so sterk geresoneer het in die noordelike halfrond, en dat dit tematies so duidelik aangespreek is in hierdie skrywers se boeke. Daar is by heelwat hedendaagse, Westerse lesers ’n soort teleurstelling dat alles in Suid-Afrika so ingewikkeld geword het; hulle mis die ooglopende morele onderskeide van die apartheiddae, en die bevrediging daarvan om dit so helder te kan eien.

Maar om jou vraag direk te probeer antwoord: Of ék uitstekendheid bied in die klein taal, weet ek nie, maar wat die klein taal vir mý bied, is ’n soort tuiste. ’n Onsekere een, met papiermure te midde van stormwinde, maar darem.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van In gesprek met SJ Naudé oor sy kosmopolitiese skryfwerk gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand