Loftus Marais se gedig oor 'n skaamluis

Loftus Marais se gedig oor 'n skaamluis
Foto: Alet Pretorius

Foto: Alet Pretorius

En ander dinge oor Jan, Piet, Koos en Jakob

Die gedig oor ’n skaamluis (‘Crabs’) in sy nuwe bundel Jan, Piet, Koos en Jakob (2019, Human & Rosseau) het vir Loftus Marais gegaan om ’n ander soort diergedig te skryf as wat reeds in die Afrikaanse poësie bestaan. Oor die gedig ‘Piet Langpoot’ vertel hy dat dit so maklik is om in Afrikaans gedigte te skryf oor die natuur as ’n klein filosofie’tjie; ’n verstaan van die wêreld deur stip te kyk na die klein bewegings van ’n daddy long-leg. So dan ook met ’n pubiese luis.

JanPietKoosJakob.jpg

Die derde bundel van Loftus Marais ontgin opnuut bekende temas uit die digter se oeuvre: verbruikerskultuur, manlike identiteit, tuis/ontuis wees in Suid­-Afrika, dikwels met ’n vlymskerp uitgesprokenheid en ’n nog skerper visuele ingesteldheid.

Loftus het ’n belangstelling in die rol en betekenis van portretstudies en sê dan ook dat ’n naam ’n portret is. In die bundel speel hy met volksname, asook die mans wat hierdie name dra. Hy het inspirasie getrek uit die uitdrukkings wat vervat is in die WAT en brei deurgaans uit op sy naamlys as portretuitstalling. Oor sy “sad love gediggies” merk Loftus op, by die Johannesburgse bekendstelling met Karen de Wet, dat ’n lys maar bloot ’n opskryf van verliese is. Dit skakel met die tema van die little black book (“daar is geen poësie in Grindr profile name nie”). In sy gedig ‘Heet’ is die verlies nie sy eie nie, maar die subjek s’n wie hy out.

Die bundel se agterblad lees:

ek hou teen die dinge wat my pla
jou naam in my mond
dis klein en nat ’n harde konsentraat
’n pit ’n saad. simpel boereraat

Dit is die digter se eerste bundel wat primêr in Johannesburg geskryf is – met dié dat dit afgevra is hoe hy sy gedigte in aangesig met Randburg se facebrick kan skryf. Dit blyk egter of die boer in beton as inspirasie dien, om net te dink aan ‘Retro cruising’ en ‘Bang Jan dooie Jan’. Daar word uit die lus en vrees van ander geput vir digterlike vermaak.

Loftus vertel oor die ou ding in poësie, soos wat hy by Marlene van Niekerk geleer het, oor ’n kind wat met ’n stokkie in die modder krap – die kind as klein godjie. “Jy is ’n bietjie van ’n god as jy ’n skrywer is,” vertel Loftus oor die skeppende vermoë van woorde kies en buig. Dit is egter ’n mag wat getemper moet word. Die godsbeeld moet gestraf word deur dinge wat digters skade aandoen: “seks, alkohol, Chuckles en pizza,” lys Loftus dit. 

Hier volg drie gedigte van Jan, Piet, Koos en Jakob.

 

Crabs

selfs die benediktyners (ja) weet níks van ootmoed
vergeleke met die man wat (net om seker te kan wees)
afbuk voor twee spieëls om tot selfs poepholhare
af te skeer. onderstebo en staar, trek, al die voue
skoon – die woord "infestasie” ’n dawerende oordeel.
maar selfs op die skoon vel van my mik moet ek ’n lessie
lees: dalk het ’n luisie wel die benzyl benzoate
en lemme vrygespring, tot by my stoorkamer se boekrak
al die pad getrek (oor die toendra van kombuisteëls,
deur die veselmatravyne) na familie in die blaaie daar
(die vismotte en psocoptera) en huisie opgesit. al sê
die internet ’n skaamluis sterf ná 3 dae sonder mensebloed,
dink ek dit kon ’n lewe inrig, selfs geniet, want ink
(ook droë drukkersink) is mos ’n redelike substituut?

 

Heet

hy het my in die virgin active tyger valley opgetel
en ons is na sy woonstel toe, ’n kompleks
tussen kwarrieheuwel en ’n swenk van die N1
en sy verloofde was in robertson die naweek
(juffrou op ’n netbaltoer) hy’t biere uit ’n foto
-en-kalender-en-magneet-versierde yskas uitgehaal,
geweier heeltyd om sy naam te sê: “jammer
dis net veiliger vir my” en ook sy glimlag met die
sagte lippe wat nie regtig by sy baard gepas het nie
maar ná die seks en sy geluidlose gekom het hy
gaan stort en ek het in sy bedkassie sy bybel raakgesien
(goeie seuns skryf in hul bybels mos hul name)
en gekyk, sy naam geleer en later toe vertrek
en soos ’n smokkelaar gevoel, die kontrabande:
“jako swanepoel”

 

Bang Jan dooie Jan

“absa, online banking, please log in”
ek skrik ek het my password skoon vergeet en in
my brein soek ek net soos na die beginpunt van ’n rol ou sellotape
wag dit sal kom hoe vreemd ek dink aan die alarm-keypad sag verlig
teenaan my huis se voordeur skemertyd
ek dink aan cybercrime en hackers live chats porn
die mooi en klein getiete stiefdogters
dink aan my vrou
aan die elektriese omheining om my jaart en aandwinde deur grense
fokken hadida wat die alarm-beams laat afgaan soggens
uithougoeters traliewerk en hakiesdraad en hekstaal
bosse sleutels wag wag ja ek het my password in my kop nou
moet onthou om binnekort my cipralex se voorskrif te hernu
en ek kalmeer myself soms deesdae by die otm deur strokies
uit die drommetjie te vat
’n vreemdeling se saldo te bekyk
en ook ek staar na items in die mandjies van die mense voor my
in die ry by woolies
hoekom wou daai vrou dan dít koop? ek bly dink daaraan
en dink daaraan
my password en my pin is in en dan die selfoon piep-piep
als is reg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Loftus Marais se gedig oor 'n skaamluis gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand