Uittreksel: Azille Coetzee se In my vel
Om eksplisiet en openlik Afrikaans te wees
“Jy’s nie die enigste een wat al Biko gelees het nie, Lisa.” Só lui ’n aanhaling uit die laaste hoofstuk van Azille Coetzee se boek In my vel (2019, Tafelberg). Verder as die bespreking oor Biko word Njabulo Ndebele, James Baldwin, Judith Butler en Lady Skollie ook opgehaal.
Dié boek handel oor die skrywer wat haar in Amsterdam bevind om ’n PhD aan die Vrije Universiteit te doen. Met haar Nederlandse lover aan haar sy voel Azille Coetzee lig en bevryd. Sy hou van die sosiale gelykheid, die wêreldklas festivals, die galerye, en lesings deur beroemde filosowe. Sy begin uiteindelik Nederlands baasraak en begin om te verstaan hoe daar wesenlike kultuurverskille in die Afrikaanse en Nederlandse tale opgesluit lê.
Daar is egter ’n hardkoppige ongemak wat haar nie wil los nie. Met In my vel verken Coetzee dwingende aktuele vrae oor Suid-Afrikanerskap op ’n persoonlike manier.
Azille Coetzee is ’n postdoktorale navorser aan die Universiteit Stellenbosch en fokus op feministiese filosofie, Afrikafilosofie en dekolonisasie. Sy woon in Kaapstad. Haar werk verskyn op Netwerk24, Vrye Weekblad en Klyntji.
Uittreksel
Ek en my niggie besluit om op ’n road trip te gaan Namakwaland in. Ek wil die Hardeveld sien, gaan kyk waar my oupagrootjie gewoon het, skoolgegee het en met sy bokwa rondgereis het om sy deel te doen vir die ontplooiing van die Afrikanergees.
Intussen het Wilhelm Verwoerd ’n boek gepubliseer oor sy wroeging oor sy verhouding met sy oupa, die gehate apartheidsleier Hendrik Verwoerd. ’n Poging om vrede te maak met waar hy vandaan kom, en om uit te pluis hoe nou vorentoe.
In haar nuwe boek oor Winnie Mandela, skryf Sisonke Msimang dat wit mense hulself kollektief verontskuldig vir apartheid: die ouer generasie sê hulle het nie geweet wat aangaan in daardie jare nie, en ons, die jonger generasie, sê dit was nie ons nie, ons was te jonk, of selfs nog nie gebore nie.
Deur homself en sy plek in die wêreld te probeer verstaan in verhouding tot die doen en late van sy oupa, weerstaan Wilhelm Verwoerd ’n agtelose onskuld, lê hy sy plek in ’n sisteem bloot en neem hy verantwoordelikheid daarvoor.
In die gees van Wilhelm se projek val ek en my niggie in die pad, op die spoor van ons eie twyfelagtige voorsate. In haar SUV gly ons oor die Weskuspad, steek al wat ’n kar is verby. Ontbyt in Piketberg en dan reguit deur, met die Cederberge agter ons die woestyn in.
Die uitgestrekte plate grond is koper, dan silwer, op plekke roesrooi. Dis noukeurig opgedeel, behoort stuk vir stuk aan die Laubshers, Pools, Kotzes, Coetzees, Vissers, Strauss’e, Nieuwoudts, Meyers, De Kocks. Maar daar is ’n onsamehangendheid, tyd is los, uit sy voeë uit. Garies, Kamieskroon, Goegap, Nigramoep, O’Kiep, Aggeneys, Komaggas, Koingnaas, Gamoep, Papendorp, Koekenaap eggo iets van êrens anders af, uit ’n ander wêreld.
Daar is regtig niks hier nie, sê my niggie ná ure se ry deur die Knersvlakte. Ja, sê ek. Ek het gedink dat ek, deur hier te wees, ’n sterker houvas op my oupagrootjie sal kry, iets van sy Afrikanerhart sal begin verstaan. Maar behalwe vir die genadelose skoonheid van hierdie verlatenheid, die magiese omvang van die leegte, die ondeurdringbare eensaamheid van hierdie dor aarde, sien ek niks.
Ons draai om. Slaap die nag in Lutzville en staan die volgende oggend vroeg op om betyds terug in die Kaap te wees vir ’n vriendin se baby shower op ’n wynplaas.
•
Ek lees verder oor die geskiedenis van die Afrikaner en dis selfs erger as wat ek gedink het. Van die begin af was die aandrang op rassemeerderwaardigheid sentraal tot die identiteit van die groep mense wat hulself later “Afrikaners” begin noem het. Van die begin af het ons aanspraak gemaak op die reg om van swart en bruin mense slawe te maak en om hulle te mishandel soos ons wil. ’n Onwrikbare vertroue in die meerderwaardigheid van wit mense en die reg om deur swart en bruin mense gedien te word.
Dit was ’n hoeksteen in die geskil tussen die Afrikaners en die Britte. Omdat slawerny reeds in daardie tyd in Brittanje afgeskaf is, probeer die Britse koloniste ook hier die praktyke staak en ’n groot dryfveer van die Groot Trek is uiteindelik die Afrikaner se aandrang op ’n lewe op ’n plek waar hulle swart mense hul slawe kan maak en kan hanteer soos hulle wil, sonder enige gevolge of inmenging van die staat.
Ek lees in Hermann Giliomee se boek Die Afrikaners (2004) toe die Afrikaners besef hulle kan nie meer volwasse swart mense ontvoer en hulle onder dwang laat werk nie, begin hulle die kinders van die swart mense in die omliggende areas steel en selfs handel dryf in die kinders, na wie hulle verwys het as “swart ivoor”.
Hoe dieper ek in hierdie geskiedenis in lees, hoe mismoediger word ek. Van dag een af maak ons hierdie land onleefbaar vir almal rondom ons. Dis waar ek vandaan kom. Geen wonder so baie van die swart en bruin Suid-Afrikaners het geen tyd vir ons nie. Is rassisme eenvoudig in ons gene? Is daar enigsins iets te redde uit hierdie identiteit?
Dan verstaan ek hoekom sommige mense van Afrikaanse herkoms kies om eerder in Engels te leef. ’n Verwerping van die etiket “Afrikaner” en ’n afwysing van die politiek wat geassosieer word met dié identiteit. Dis ’n besluit wat ek respekteer, en soms beny, maar wat nie beskikbaar is vir my nie. My selfverstaan is geanker in my taal, Afrikaans-wees is iets wat ek nie kan prysgee sonder om iets baie fundamenteels aan myself te verloor nie, te verraai nie. Maar saam met die identiteit, die etiket, kom ’n donker verlede, ’n verskriklike reputasie, wat soos ’n string blikke agter my klap.
“Hoe kan ons op ’n aanvaarbare manier Afrikaans wees vandag? Aktief identifiseer met die identiteit sonder om die verlede stilswyend te kondoneer?” vra ek vir my vriendin Elma, ’n ambisieuse Johannesburger oorspronklik van die Paarl, wie se plattelandse Afrikanerherkoms iets is wat soms ’n struikelblok is in die gesofistikeerde, stedelike besigheidswêreld van Johannesburg, waarin ’n mens privaatskool-Engels of Zoeloe, of meestal enige iets anders as Afrikaans praat.
“Die beste manier waarop ’n mens Afrikaans kan wees, is om eksplisiet en openlik Afrikaans te wees,” sê sy dadelik. Dis duidelik iets waaroor sy al lank nadink.
Dis Vrydagmiddag ná werk en ons sit in The Power and the Glory, een van my gunstelingkroeë in Kaapstad. Ek drink ’n glas wyn en geniet die gevoel van die naweek wat nog heeltemal oop voor my uitstrek. Vanmiddag is die stylvolle Kaapstad-crowd rondom ons heeltemal Engels. Behalwe ek en Elma, en een ander jong meisie wat met ’n Afrikaanse aksent met haar Engelse vriende sit en gesels. Dit begin al weer warmer word en ons sit buite op die hoek van die straat.
“Wat bedoel jy?” vra ek, nuuskierig oor hierdie antwoord, een wat ek nog nie by iemand anders gehoor het nie.
“So wys ons vir almal ons is nie almal so nie,” sê sy, en beduie met haar perfek gemanikuurde hande na my en haar. “Ek identifiseer nie as Afrikaner in die eng, uitsluitende sin nie, maar as Afrikaanssprekende wat een vir een mense se vooroordele teenoor ons verkeerd begin bewys.”
“En werk dit?” vra ek.
“Wel, soms voel ek dit help selfs net om vir mense bewus te maak van die interne veelheid binne die Afrikaner-identiteit. Ons is ’n klomp verskillende soorte mense wat ’n liefde vir ’n taal deel. Maar min anders. Ook in ons geskiedenis was daar Afrikaners wat op allerhande verskillende maniere geleef het. Om Afrikaner te wees kan enige iets beteken. Kultuur en taal is beweeglik en mense is almal verskillend. Dis wat ek vir mense probeer wys met hoe ek Afrikaans is.”
Soos ek in die daaropvolgende dae Elma se insigte absorbeer, begin my Afrikaansheid al hoe losser aan my sit, en kan ek dit dra soos ’n ligte kledingstuk waarin daar ruimte is om te beweeg, waarin ek kan uitstrek, verander.