Azille Coetzee en Bibi Burger se feministiese brief, Turksvy
Hoe lyk feminisme en genderbevryding vandag?
Azille Coetzee en Bibi Burger, twee jong Afrikaanssprekende en -skrywende feministe, het ’n digitale feministiese brief geloods wat elke tweede week gaan verskyn – dit heet Turksvy. Ons deel hulle boodskap hieronder.
Toe ons tien jaar terug ernstig begin dink het oor feminisme, was dit iets waarvan die meeste mense wat ons geken het, niks wou weet nie. Vandag is dit anders, feminisme is uiteindelik in die mode en volledig teenwoordig in die hoofstroom-populêre kultuur, ook in Suid-Afrika en selfs, tot ’n mate, in Afrikaans.
Maar – hoor ons gereeld – wat ís feminisme? En dit is ’n vraag wat verbasend moeilik is om te beantwoord in ons taal- en kultuurruimte. In Afrikaans het ons nie ’n lang geskiedenis van opgeskrewe en georganiseerde feministiese aktivisme nie, en die geskiedenis wat daar is, is beskamend – Wit vroue wat mobiliseer in diens van Afrikanernasionalisme. Hoe lyk genderbevryding, hier, vandag? Kyk ons na Saartjie Baumann, Petronella van Heerden, Johanna Brandt, Glenda Kemp? Yoma of Juanita du Plessis? Koesister of koeksisters? Auntie Merle of Tannie Evita? Die Klerewerkersunie, Dulcie September? Hoe sê ’n mens intersectional in Afrikaans?
Ons nader van die slimste en talentvolste Afrikaanssprekende mense (jou gunstelingskrywers, -denkers en -kunstenaars) om in Turksvy te dink en te skryf oor hierdie vrae. As jy inteken, ontvang jy elke tweede week ’n brief, en dit is gratis.
Turksvy neem die vorm van ’n briefwisseling aan omdat ’n brief enigiets kan wees –gedigte, comics, stories, opstelle, dagboeke, foto’s, onderhoude en resepte – en omdat dit ’n voortgaande gesprek oopmaak, omdat dit persoonlik is, omdat daar ’n lang tradisie bestaan van briewe skryf tussen vroue.
As jy wil inteken op Turksvy, kliek hier. (Gratis en no strings attached.) Jy kry jou eerste brief in Mei. Turksvy word geborg deur die Afrikaanse Taalraad en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Vir nou, om die gesprek te begin, om te wys waar óns koppe staan, deel ons (Azille en Bibi) twee kort briewe wat ons geskryf het aan mekaar. Ons deel ook eksklusief met Klyntji ’n uittreksel uit die eerste Turksvy-brief deur Ronelda S Kamfer.
Liewe Bibi
As ’n manier om oor hierdie dinge te begin dink, wil ek vir jou meer vertel van die kompleksiteit waarmee ek my vroulikheid ervaar, en om dit te doen, moet ek jou terugneem na waar ek vandaan kom. Ek het baie lank gedink dat ek feminisme nie nodig het nie. Ek het grootgeword in die middelklas, Wit, Kaapse voorstede in die negentigs en die vroeg 2000’s en daar het ons gedink ons is almal reeds bevry. My ouers het my baie onafhanklikheid gegun en ek was deel van ’n groot, hegte groep vriendinne (is nog steeds), waarbinne ons vir mekaar die ruimte geskep het om te dra wat ons wil, te slaap met wie ons wil, en alles te doen wat die ouens mag doen. Die soort vroulikheid waarin ek geïnisieer is, lyk op die oppervlak volkome geëmansipeerd. Ons is sterk, ons kultiveer noue bande met ander sterk vroue, ons werk baie hard, ons is in voeling met ons begeertes en ons is nie skaam daaroor nie, ons haat nie mans nie want ons hoef nie.
Natuurlik ís daar reëls, ek en my vriendinne ken hulle net so goed soos wat ons ma’s hulle ken, en ons hou mekaar daarby. Dis die ou reëls. Jy kan min of meer doen wat jy wil, maar jy moet maer wees (of ten minste hard genoeg daarna streef), jy moet jouself mooi versorg, dit is belangrik hoe jy lyk. Voorhuwelikse seks (binne perke) is okay, want die veel groter probleem is as jy nié ’n man kan kry nie. Jy kan (moet) sexy wees solank jy ordentlik is (soos wat Christi van der Westhuizen daaroor skryf: Goeie maniere, ’n soort werksetiek en iets met klas te doen ook). En jy moet sterk wees, niemand wat ons ken is beïndruk met ’n pap vrou nie. Dis ’n vroulikheid wat gevorm het onder druk – in die konteks van die opkoms van Afrikanernasionalisme en Wit Afrikaanse weerstand teen Britse imperialisme – heteroseksuele seks en kragdadigheid is noodsaaklik vir die voortbestaan van die Wit nasie.
Deesdae word dit dan al hoe duideliker vir my dat die soort vroulikheid wat ek beliggaam, nie spesifiek progressief is nie maar juis meestal voldoen aan die historiese voorskrifte van my (koloniale) kultuur. Trouens, die volksmoeders van ouds sou trots wees op ons girl boss energy op Instagram in ons bikinis in Hermanus, ons professionele sukses, die verloofring. En dit word vir my al hoe duideliker die mate waartoe ek, ongeag van alles anders wat ek doen, my waarde meet aan hoe begeerlik ek is vir mans, hoeveel ek weeg, en die mate waartoe ek daarin slaag om die regte soort ordentlike middelklaswaardigheid uit te straal (met die fiksheidroetine en die gemanikuurde naels). Ek word meer bewus van die diep skaamte wat ek (teen my beterwete) voel oor die feit dat ek nie wil kinders hê nie. En ek is bewus van al die maniere waarop ek nie my wil laat geld teen mans nie, veral nie as hulle Wit en Afrikaans is nie; ek is bewus van die energie wat ek in ’n soort vroulike inskiklikheid belê. Ek is bewus van al die maniere waarop ek, soos my voormoeders, my lot ingooi by Wit mans eerder as by ander vroue in Suid-Afrika.
Dit is dinge wat ’n vorige generasie Afrikaanse feministe reeds gesê het.“[W]atter breed is ons?” vra Antjie Krog van haar susters wat “jog en gym en joga / verbete klou aan soepelheid en Pil” (in haar gedig ‘Lady Anne by die mikrogolfoond’). “[O]ns is die laaste,” sê sy, wat “kinders teer laat verblond op melk en heuning,” want “agter ons onder ons langs ons [stort] strukture wat ons soort in stand hou / in hulle maai”. Dis al meer as dertig jaar later, en hier is ons nog steeds, strukture steeds staande.
Bibi, dis dan die vrae waarna ons heeltyd terugkeer: Wat ís feminisme vandag in ons taal- en kultuurruimte? Hoe lyk vroulike emansipasie? En nie net vir Wit middelklasvroue soos ek en jy nie. Trouens, op watter maniere word mý emansipasie onderhandel ten koste van ander Suid-Afrikaanse vroue s’n? Hoe lyk ’n feminisme in hierdie taal wat werklik bevrydend is, nie die foute van die verlede herhaal nie? Wat dink jy? Hoe voel jy?
Van Azille XXXX
Liewe Azille
Dankie vir jou brief. Ek kan met baie wat jy sê identifiseer, en jy sê dit so mooi – hoe Wit Afrikaanse vroulikheid ’n tipe vroulikheid is wat onder druk gevorm is. Ek en jy het by baie van dieselfde plekke uitgekom: Die tipe (Wit middelklas-) vroue wat ons is en die posisies waarin ons onsself bevind, is soortgelyk. My herkoms was egter baie landeliker en vreemder as joune. Ek dink vroulikheid het moeiliker gekom vir my as vir jou. Ek is nie so blond en mooi soos jy nie, ek gril as mense aan my naels vat. Ek voel nooit so minderwaardig as wanneer ek by ’n haarkapper is nie. My grootwordjare het ook gepaard gegaan met klasangs en pogings om weg te steek hoe onordentlik ons gesin is. Beide die mans en die vroue in my gesin is nie “ordentlik” nie, maar dit voel vir my asof dit meer die vrou se rol is om die front van ordentlikheid voor te hou. Dit klink dalk asof ek trots is op my vreemdheid of probeer om die slagoffer te speel. Miskien steek daar waarheid daarin, ’n trots in weerwil van skaamte?
Maar wat ek eintlik probeer kommunikeer, is dat alhoewel ek ook die nageslag is van die “susters in kombi’s en stasiewaens / met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint” wat Krog so goed in ‘Lady Anne by die mikrogolfoond’ beskryf, is die Krog-gedig wat die meeste spreek tot my, eerder ‘om in ’n dogtertjie se kamer te slaap’ (2014). Die spreker van die gedig is ’n “tannie” wat praat met ’n dogtertjie en vir haar sê dat sy sien hoe hard sy probeer, hoe “jy as oudste kind net jou bes doen”. Ook dat sy as tannie die angs sien wanneer die dogtertjie wel ’n klein fout maak, en die besef in haar oë dat “bes nie tel nie / dat bes niks / bring of uiteindelik tot niks lei nie dat / bes ander se beheer oor jou is”.
Dit is ’n gedig waarmee, dink ek, baie eersgeborenes sal identifiseer – en dan veral vroulike eersgeborenes. Vroulik soos in femme, nie net vroulik soos in gebore met ’n vroulike liggaam nie. Want ek dink daar is iets aan ons vroulikagtiges wat ons juis vatbaar maak vir hierdie “besdoen”. Miskien bloot dat ons in ’n wêreld lewe waarin ons beste nooit heeltemal genoeg sal wees nie.
My identifikasie met die gedig het te doen met my eie neurose en my disfunksionele gesin se spesifieke vorm van disfunksionaliteit, maar die gedig spreek ook tot die tipe feminisme wat vir my ’n tuiste geword het, ’n manier om te verstaan dat my ervarings en optrede nie uniek is nie, en dat dit ook op ’n manier te doen het met gender.
Soos jy, Azille, besef ek ook toenemend dat hierdie feministiese tuiste wat ek gevind het spesifiek Wit is, en dat dit reedsbestaande strukture van bevoorregting onderhou en reproduseer. Dit is ’n sobering gedagte. Wanneer Ronelda S Kamfer skryf: “[A]l die hardcore wit meisies wat ek ken / dra eventually hulle pa of oupa se suits,” (uit ‘Red Virgin’) voel dit soos ’n punch in die maag, nie net omdat ek regtig my manlike voorgeslagte se baadjies dra nie, maar ook omdat my sogenaamde bemagtiging deur hierdie power dressing neerkom op ’n poging om die Wit man se posisie van bevoorregting vir myself te eien. My “bes probeer” is sodat die metaforiese Wit pa my sal aanvaar en ek my plek in sy ekonomie kan inneem. Dit is ontstellend en verwarrend om so uitgedaag te word. Maar vir my is dit ook opwindend. Soos jy, Azille, het ek ook vrou geword in die vroeë 2000’s, ’n besonders onfeministiese tyd, trots “postfeministies”. Die feit dat gesprekke oor gender en seksualiteit nou orals plaasvind, ook in Afrikaans, beteken hopelik dat ons verstaan van die wêreld, onsself en mekaar net meer genuanseer kan word, en ek hoop Turksvy is ’n plek waar ons van hierdie kwessies kan probeer uitpluis.
Liefde,
Bibi
Issie boek se naam feminisme?
Deur Ronelda S Kamfer
Allison hang in die kamerdeur-entrance soos ’n bubblegum chewing teenager uit ’n 80’s film, en vra wat ek maak.
“Ek lees van feminisme.” My ma stop agter haar met ’n oorvol wasmandjie. “Wat maak julle twee?”
Ek is in die middel van ’n cold war met my ma, so ek lig nie eers my oë op van die boek af nie. Allison antwoord: “Nana lees van famine en die Nazi’s-goed en ek gan nou hare was.” Sy haal ’n handdoek uit die wasmandjie en draai terug badkamer toe terwyl my ma verder verby stap. Ek staan op en maak my kamerdeur toe, gaan lê op die vloer en lees verder.
“A wild, wicked slip she was — but she had the bonniest eye, the sweetest smile, and lightest foot in the parish: and, after all, I believe she meant no harm; for when once she made you cry in good earnest, it seldom happened that she would not keep you company, and oblige you to be quiet that you might comfort her.”
Ek probeer relate aan Catherine in Wuthering Heights (1847), maar ‘My Heart Will Go On’ (1997) speel oor en oor kliphard in my kop, soos Guantanamo Bay-torture music. Die woorde begin ebb en flow soos water op die blaai voor my, op die water ’n skip, Titanic. Die Titanic-film (1997). Spesifiek die scene in Titanic wanneer Kate Winslet vir DiCaprio sê: “Teach me to ride like a man. And chew tobacco like a man. And spit like a man.” En dan aan die einde van die film kom die lifeboats vir vrouens en kinders. En daar gaan Rose — soos ’n woman. Niemand verkoop veiligheid soos ’n rowwe Wit meisie nie.
Lees die res van dié brief in die eerste uitgawe van Turksvy.