Gerrit Olivier oor sy vertaling van Koos Prinsloo se skryfwerk

Gerrit Olivier oor sy vertaling van Koos Prinsloo se skryfwerk

Steeds vars en rou, dié erotiese geweld

’n Engelse vertaling van Koos Prinsloo se werk Place of Slaughter and Other Stories (2022, Fourthwall Books) het onlangs verskyn. Gerrit Olivier bied ’n voortreflike vertolking van Prinsloo se plofbare en baanbrekende bundel Slagplaas (1992, Human en Rousseau), saam met uitgesoekte verhale uit die versamelbundels Jonkmanskas (1982, Tafelberg), Die Hemel Help Ons (1987, Taurus) en Weifeling (1993, Hond). Sy vertaling demonstreer dat Prinsloo se betrokkenheid by manlike mag en identiteit in Suid-Afrika onder noodtoestande en in die wêreld as ’n plek van begeerte en slagting vandag net so vars en oorspronklik is as wat dit dertig jaar gelede was.

Koos Prinsloo is in 1957 in Kenia gebore en het as seuntjie saam met sy gesin na Suid-Afrika gekom. Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en as ’n joernalis by verskeie koerante in Johannesburg gewerk. Jonkmanskas, sy debuut as kortverhaalskrywer in 1982, is gevolg deur nog drie bundels wat manlike seksualiteit, geweld en Suid-Afrika onder ’n onderdrukkende regime ondersoek het. Hy is in 1994 aan MIV-verwante oorsake dood.

Gerrit Olivier het ’n loopbaan as rubriekskrywer en uitgewer, akademikus en dekaan van geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand gehad. Hy het vir etlike jare in die Wits-departement kreatiewe skryfwerk onderrig gegee. Sy boek Aantekeninge by Koos Prinsloo (2008, African Sun Media) is ’n omvattende behandeling van Prinsloo se kortverhale.


FRANCOIS: Gerrit, jy is een van die vooraanstaande kenners van Koos Prinsloo en sy werk. Ek sit langs jou op ’n vliegtuig en ons is beide in ’n goeie bui en begin te klets. Ek weet nie veel van Koos Prinsloo nie, maar wil graag weet wie hy was en wat hy gedoen het. Wat verklap jy in só ’n informele oomblik?

GERRIT: Ek sou sê as jy Prinsloo nog nie gelees het nie, is dit tyd om dit te doen. Hy is ’n tegniese meester en een van die uitdagendste skrywers in Afrikaans. Sy werk is vandag nog so vars en so rou as toe dit verskyn het.

FRANCOIS: Hoeveel boeke het hy geskryf? Stem hulle ooreen of verskil die temas en aanslae?

GERRIT: Daar is vier boeke: Jonkmanskas, Die Hemel Help Ons, Slagplaas en Weifeling. Baie temas in Jonkmanskas word in ander vorme en toonaarde voortgesit in later bundels: begeerte tussen mans, die konfrontasie met die ouerhuis en die tradisies van die voorvaders, politieke verdrukking en openbare geweld. Prinsloo was nooit haastig om gepubliseer te word nie. Tussen die eerste drie bundels verloop elke keer vyf jaar, maar as Slagplaas verskyn, weet hy reeds dat hy nie veel langer het om te leef nie. Weifeling, wat net ’n jaar later verskyn het, bevat drie verhale wat vroeër voltooi is en tekste waarin Koos sy eie dood verwerk. Dis ’n publikasiegeskiedenis van iets meer as ’n dekade.

FRANCOIS: En hoe het jy tot die besluit gekom om juis Slagplaas te vertaal, saam met ’n paar ander verhale uit sy ander boeke?

GERRIT: Ek het begin met Slagplaas omdat dit Prinsloo se mees gewaagde en tegnies-veelsydige werk is – ’n ware tour de force. Die bundel moes in sy geheel vertaal word omdat tekste dikwels op mekaar inspeel. Die Pop Ster, byvoorbeeld, verskyn in die eerste en laaste verhaal, en Die Noord-Amerikaner in verskeie verhale. So ontstaan ’n proses van aflegging in die bundel: aflegging van die begeerte en die geliefde. Dis die besef van die naderende dood (anti-retrovirale behandeling het nog in die toekoms gelê) wat van Prinsloo se laaste werk ’n bestekopname en ’n troos maak. Slagplaas is ’n komplekse en veelkantige refleksie op die geweld van ons bestaan en ons sterflikheid. Toe die vertaling klaar was, het ek besluit om verhale uit ander bundels in te sluit: dié wat ’n mens nie sou wil mis nie, en ’n paar ander wat Prinsloo se ontwikkeling as skrywer illustreer. 

Slagplaas is ’n komplekse en veelkantige refleksie op die geweld van ons bestaan en ons sterflikheid.
— Gerrit Olivier

FRANCOIS: Jy het vroeër genoem Koos was lief vir simpel, soms rowwe grappe. Kan jy enige van hierdie grappies wat hy vertel het, onthou?

GERRIT: Hier is twee grappe wat hom vreeslik laat lag het. Die eerste het ek in die NP van Wyk Louw-dokumenteversameling op Stellenbosch van alle plekke teëgekom, in ’n boekie waarin Van Wyk Louw voorbeelde van “Boere-humor” opteken. Die ou boeretannie ly aan erge hardlywigheid en besluit ’n lavement is nodig. Sy roep die bediende nader om die enema te help toedien, trek haar rok op en buk oor die bad. Ná ’n ruk vra sy: “Elsie, hoekom druk jy nie die pypie in nie?” en Elsie sê: “Maar in watter gaatjie moet ek hom druk, ounooi? Die groot bloue of die klein bruinetjie?” In ’n huis langs die M1 in Bloemfontein raak ’n egpaar jare gelede tydens die middagslapie ná die Sondagmiddagmaal lus vir mekaar. Ná ’n ruk mompel die man: “Ek sien Winnie Mandela is toe aan bedrog skuldig bevind.” “Hoekom praat jy nou daaroor?” vra sy vrou, en die man sê: “Daar sit nog ’n stuk van Die Volksblad aan jou hol vas.”

FRANCOIS: Wow.

Volgende vraag: Gay seks in Afrikaans, maar nou ook in Engels. Is die seks in Prinsloo se werk anders as heteroseksuele voortplanting en kattemaai? Dit was egter geskryf in apartheid en tydens die Vigs-pandemie, dit was baie stroomop. Is dit rof of mooi?

GERRIT: Baie rof én baie mooi. Prinsloo skram nie weg van seksuele praktyke waaroor baie gay mans self liewer die sluier wou trek nie: cruising in parke, besoeke aan stoombaddens, anonieme naaiery. Dis ’n spel en ’n ironiese ekwivalent van die oupa se jagtogte in ‘Die jonkmanskas’. Die dringendheid hiervan hang saam met die feit dat dit ook die soeke na kontak is van die ontroosbare kind. Prinsloo konfronteer die feit dat ons selfs op hierdie intiemste terrein die geweld herhaal wat van die wêreld ’n liefdelose slagplaas maak – kyk maar na PCP. Onthou: hy’t geskryf in ’n tyd toe baie vriende en bekende mense aan ’n ongeneeslike, oordraagbare siekte gesterf het, ’n tyd waarin een seksuele kontak jou dood kon beteken.

Prinsloo konfronteer die feit dat ons selfs op die intiemste terrein die geweld herhaal wat van die wêreld ’n liefdelose slagplaas maak.
— Gerrit Olivier

FRANCOIS: Wat was Prinsloo se verhouding met sy ouers en hoe het dit sy skryfwerk beïnvloed? Dikwels, weens kulturele en geloofsredes, is daar botsings tussen ouers en hulle queer kinders, maar dit is ook maar ’n universele ding om of jou ma of jou pa te word, óf om teen hulle te skop...

GERRIT: In die geval van queer kinders is die struweling dikwels meer akuut, veral as die ouers kultureel-konserwatief of -godsdienstig is. Hierdie “afwyking”, want dit is hoe Koos se eie pa dit ten minste aanvanklik beskou het, tas die ouer se gevoel van besitsreg oor sy kind wesenlik aan. Mag, sê Harold Beaver, is ook die mag om te besluit wat die teken be-teken; om te definieer wat ’n man (of ’n vrou) is. ’n Ekstreme voorbeeld hiervan moet die Taliban wees. Wat Prinsloo uniek maak, is die deurlopende onderhandeling in sy verhale met die gesag en waardes van die voorouers. Dit begin al in die eerste verhaal in Jonkmanskas en sal voortduur tot aan die einde toe, waar die pa ten slotte ook met deernis bejeën word. Hierdie vaderlike, miskennende mag herhaal homself in die staat, die literatuur en die uitgewerswese. Vir Prinsloo is skryfwerk ’n poging om mag te verstaan, om jouself daarvan te bevry, om aan die skaamte te ontkom, om jouself te definieer in die aangesig van onderdrukking, ook al verg dit ’n verbreking van “fatsoenlike” norme. ’n Mens moet selfs “verraad” pleeg om vry te wees. Die aktiewe soeke na bevryding behoort Prinsloo vandag nog sterk te laat spreek tot enige gay persoon in ’n konserwatiewe omgewing. Omdat manlike gesag – en die vorme van misbruik wat dit legitimeer – op die geheim staatmaak, is bekendmaking Prinsloo se belangrikste wapen. Op ‘Belowe jy sal niemand sê nie’ reageer hy deur presies dit te skryf wat taboe geag word. Vir sy onverskrokkenheid het hy ’n prys betaal. Die publikasie van Jonkmanskas is deur Hennie Aucamp, sy mentor aan die begin, aangemoedig en miskien selfs bemoontlik. Elize Botha, die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde, het gepraat by ’n partytjie wat gereël is om die verskyning van sy debuut te vier. Dis ’n konserwatiewe wêreld waarvan Prinsloo algaande vervreem geraak het.

Vir Prinsloo is skryfwerk ’n poging om mag te verstaan, om jouself daarvan te bevry, om aan die skaamte te ontkom, om jouself te definieer in die aangesig van onderdrukking, ook al verg dit ’n verbreking van ‘fatsoenlike’ norme.
— Gerrit Olivier

FRANCOIS: Prinsloo se radikale oopheid en verklappings van intieme aspekte van ander se lewens, maar bowenal sy eie, klink nogals soos party mense se gebruik van sosiale media. Dink jy Koos sou hartstogtelik instagram of tiktok? Of sou hy oud en bitter gewees het teen hierdie tyd, na privaatheid ingekeer het?

GERRIT: Ek vermoed Prinsloo sou afgeskrik gewees het deur die geraas op sosiale media – en die tyd wat dit opneem. Hy het nie in die eerste instansie geskryf om homself in die openbaar te projekteer nie. Ervarings wat hom geboei of ontstel het, word die aanleiding vir ’n verhaal, of vind hulle plek in ’n verhaal wat sy oorsprong elders gehad het. Hy was in baie opsigte ’n private persoon en daar is baie besonderhede van sy lewe wat nooit hulle weg na sy skryfwerk gevind het nie. Maar sy verhouding met sy ouers en land van herkoms, sy seksualiteit en sy ervarings met sy eie skryfwerk het vrugbare terrein vir ontginning gebly. Wanneer hy wel direk oor homself skryf, is daar altyd ’n groter vraagstuk aan die orde. Dikwels objektiveer hy dan homself op ’n spottende manier, omskep homself ironies in Die Toeris of Ou Uilskuiken. ‘Die poort van hemelse vrede’ is gebaseer op ’n besoek wat hy aan New York gehad het, maar om op grond van ’n paar ooreenkomste aan te neem dat die skrywer en die hooffiguur identies aan mekaar is en dat Prinsloo alles ervaar het wat hy beskryf, soos Scheepers in Die skrywer en sy geskryfdes (1998) doen, is foutief. Ons weet eenvoudig nie en dit maak ook baie min saak. 

FRANCOIS: Daar is die insident waar Johannes Kerkorrel Prinsloo met die vuis opgedonner het. Voel jy soms of hierdie insident die bespreking van Prinsloo se werk oordonder?

GERRIT: Ralph Rabie het Prinsloo op die dag van die bekendstelling van Slagplaas in die De Kat-kantoor aangerand. Prinsloo het met ’n opgeswolle gesig in Pretoria opgedaag en daar was selfs ’n foto van hom in Beeld. Dis ’n skande dat die redakteur van De Kat geen saak teen Rabie vir betreding en aanranding van ’n werknemer aanhangig gemaak het nie. Die insident het ’n enorme bohaai veroorsaak en ten minste een “bekende letterkundige” (maar helaas naamloos) het die aanval vergoeilik. Veel erger as dit was die homofobiese reaksies van Tom Gouws, Charles Malan en Jan Rabie in hulle resensies van die bundel. Ek dink Ralph was veral kwaad omdat die uitbeelding in stryd was met sy versigtig-gekurateerde openbare beeld as Johannes Kerkorrel. Soos die tyd verbygaan, word egter duidelik wat toe al vir ’n oplettende leser duidelik moes gewees het: die ooreenkoms met bestaande figure (en daar is dosyne ander) is van sekondêre belang vir die betekenis en waarde van die verhale. Kerneels Breytenbach het ná die verskyning van die vertaling vir my gesê dat hy die verhale nou amper meer geniet omdat hulle bevry is van hulle onmiddellike konteks. Hulle spreek egter steeds van ’n sentrale impuls in Prinsloo se skryfwerk: om sy eie tyd op te teken, sodat dit nie vergeet sal word nie; om die dood uit te daag. Baie lesers het vasgekyk in die skandaligheid van Slagplaas en nie raakgesien dat die “geskryfdes” (Riana Scheepers se term) opgeneem word in ’n groter struktuur van betekenis nie; hulle word getransformeer en selfs gefiksionaliseer. Die Pop Ster is literêr-gesproke nie Ralph Rabie nie; hy is ’n toonbeeld van ’n oppervlakkige en byderwetse narcis, ’n “glamour-poes”. En so is Die Noord-Amerikaner nie Don Caldwell nie; hy word die onbereikbare geliefde, die een wat “ver skyn” maar ook skitter in sy afwesigheid, iets so amper uit die laat-negentiende eeu. Insgelyks is Koos – of hoe hy ook al benoem word – nie Koos nie. In ‘Nawoord’ is elke karakter ’n figuur uit die tyd, maar as ’n mens hieraan verbykyk, besef jy dat Prinsloo ’n parodie skryf op die epistemologiese onsekerheid van die bybelse evangelieskrywers. Hiervolgens is ons kennis maar ’n sameraapsel van persooonlike ervarings, nuusbrokkies en gerugte (dink Thomas Bernhard) – ’n lieflike onsekerheid. 

Die Pop Ster is literêr-gesproke nie Ralph Rabie nie; hy is ’n toonbeeld van ’n oppervlakkige en byderwetse narcis, ’n ‘glamour-poes’.
— Gerrit Olivier

FRANCOIS: Watter ander queer skrywers se werk maak jou opgewonde? Selfs ook queer filmmakers, musikante?

GERRIT: Ek was nog altyd ontroer deur Jacob Israël de Haan se Pijpelijntjes, wat in 1904 in Nederland ’n opskudding veroorsaak het. De Haan was ’n interessante figuur: ’n voorloper van Amnestie Internasionaal, ’n sionis wat ’n anti-sionis geword het en in Jerusalem vermoor is. Ek bewonder die manier waarop Gerard Reve tegelyk troosteloos en skreeusnaaks kan skryf, veral in De avonden (1947) en die briewe in Op weg naar het einde (1963) en Nader tot U (1966). Ander skrywers: Édouard Louis, Alan Hollinghurst, Walt Whitman, Garth Greenwell (onder die beste wat nou skryf), Lorca en Kavafis. Edmund White het onuitstaanbaar geword. Filmmakers: Pier Paolo Pasolini, Derek Jarman, Pedro Almodóvar. Ek hou van Benjamin Britten. Arnold van Wyk se musiek is pragtig. En laat ons die voortreflike Koekie Ziervogel nie vergeet nie!

FRANCOIS: Ons samelewing stoot dood onder die mat in, maar dan word die mat onder ons uitgeruk. Was Prinsloo bang vir die dood? Hoe het hy dit benader in sy skryfwerk; hoekom so?

GERRIT: Met die dood gaan ’n mens die onbekende in en Prinsloo was so bang daarvoor as enigiemand anders. Hy het aanvaar dat daar geen genesing sal wees nie, gestipuleer dat hy sy laaste dae in sy en Andrew McLeod se woonstel in Berea sal deurbring. Hy was geboei deur die volstrekte andersoortigheid en onvoorstelbaarheid van die dood, die feit dat dit ’n ontologiese grens markeer. Te midde van die onsekerheid wat Prinsloo se later werk kenmerk, is daar een sekerheid: jou eie dood. Maar hoe vorm ’n mens ’n denkbeeld van jou eie uitwissing? Freud het gesê dis onmoontlik. Die dood is tegelyk ’n onoplosbare misterie en volkome alledaags. Soos dit in Stoppard se Rosencrantz and Guildenstern Are Dead (1966) gestel word: die dood is nie ’n messtekery en rondvallery en bloed soos in Shakespeare nie; dis maar net iemand wat verdwyn – “Now you see him, now you don’t” – en klere wat in ’n kas agterbly. Die aangrypende van Prinsloo se laaste tekste is dat hulle, in die woorde van Josepovici, ’n kleedrepetisie vir die dood is. Jy kan die dood nie as denkende wese betree nie, maar jy kan jouself tot op die drumpel begelei. Prinsloo eien sy komende dood toe sonder doekies-omdraai, as ’n mens kyk na die einde van ‘Die storie van my pa’, waarin die skinderstories en verswygings rondom MIV-Vigs gerepudieer word. Soos so dikwels met Vigs gebeur het, was Prinsloo aan die einde dikwels nie meer by sy volle positiewe nie. Of dit ’n goeie of ’n slegte ding was, kan ek nie sê nie. Voor in die lykswa wat hom kom haal het, het ’n vrou gesit wat in die nag verkrag en deur die begrafnisondernemers opgelaai is. Prinsloo sou waarskynlik nie die kans laat verbygaan om dit in ’n verhaal op te neem nie.

Die dood is nie ’n messtekery en rondvallery en bloed soos in Shakespeare nie; dis maar net iemand wat verdwyn en klere wat in ’n kas agterbly.
— Gerrit Olivier

FRANCOIS: Prinsloo klink vir my na iemand wat nogals esteties ingestel was: hy skryf oor modehuise, beeldende kunstenaars, ikonografie. Ek is veral geïnteresseerd in die werk van Neil Goedhals wat na verwys word in een van sy verhale (‘Neil Goedhals (33) is dood’). Dit lyk of die meeste van Goedhals se onverkoopte werk aan Wits geskenk is, maar daar is min inligting daaroor beskikbaar. Wat kan jy my hieroor vertel?

GERRIT: Ja, hy was baie esteties ingestel en ook buitengewoon-nuuskierig. Hy het gehou van mooi klere en mooi musiek (het selfs in ’n koor gesing) en het belanggestel in argitektuur en kuns. Die verhale toon dat hy eintlik in alles belanggestel het en ook enigiets wat vir hom interessant gelyk het, sou gebruik. Daar is ten minste drie stories wat ek hom vertel het, net om hulle later in ’n verhaal aan te tref. Van Goedhals sou hy bewus gewees het as ’n sentrale lid van die Johannesburgse teenkultuur van die tyd. Wat die musiek betref, het hy die stiller vorme verkies: kantates, lieder, Arvo Pärt. Die terapeut in Prinsloo se allerlaaste verhaal vind sy berusting in die sereniteit van Cioran en Gesualdo. As Prinsloo êrens ’n tuiste gehad het, was dit in die wêreld van boeke en sy werk toon inspirasie van oral oor. Hy was ’n groot bewonderaar van Raymond Carver se sogenaamde “dirty realism” en vermoë om van ’n alledaagse situasie iets skrikwekkends te maak. Sy hantering van die foto in ‘Die affair’ is geïnspireer deur ’n artikel van Jerzy Kosiński oor die Franse Nobel-pryswenner Jacques Monod. In ‘Klaarpraat’ verwys hy na drie mense wat almal die idee verdedig dat iets uit niks kan ontstaan: Monod, die Russiese sterrekundige Alex Vilenkin en die wetenskapsfilosoof Paul Feyerabend. Al wat ons met ander woorde oor die haglike onderneming van skryf kan sê, is: “Eendag was daar…” En eendag was daar nie meer nie. Die “hemelruim”-passasie in ‘Die affair’ is ingegee deur Gerard Reve se De ondergang van die familie Boslowits (1946): “Tot die tijd besprak men alle dingen: de afstanden der planeten, de vermoedelijke duur van de oorlog en het al dan niet bestaan van een god.” So sou ek kon voortgaan. 

Foto op die voorblad vanuit Exit: SA’s only gay and lesbian magazine (Nov/Des 1990, no. 47, bl. 5; gehou in die GALA Queer Archive)

FRANCOIS: Ek hou baie van die omslag van die Engelse vertaling. Hoe het dit tot stand gekom? Was daar ander opsies – kan ons sien hoe die boek andersins dalk sou lyk?

GERRIT: Jonathan Cane het aangebied om die boek te ontwerp en aan my en die uitgewer idees oor die bladspieël, die lettertipe, die binne-ontwerp en die buiteblad voorgelê. Dis die wonderlike van ’n boek maak: jy sien die verskillende elemente en probeer jou voorstel hoe dit sal lyk as alles saamkom. Daar was ongeveer ses verskillende idees vir ’n buiteblad. Ons het aanvanklik een gekies en toe van plan verander omdat die eerste keuse, hoe pragtig ook al, Prinsloo se werk te sterk sou koppel aan ’n homoseksuele klubkultuur. Dit was minder suggestief, minder dubbelsinnig as die ontwerp wat die voorblad geword het en op ’n foto in Exit gebaseer is. Ek dink self dis ’n baie mooi boek wat pas by Prinsloo se puntenerigheid oor die voorkoms van sy boeke. Hy het self Simon Ford vir Die Hemel Help Ons gekies (ek dink dis ook waar van Andrew Verster vir Jonkmanskas) en daarop aangedring dat Anton Sassenberg Slagplaas se omslag ontwerp.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gerrit Olivier oor sy vertaling van Koos Prinsloo se skryfwerk gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand