Charlotte Van den Broeck se Kameleon nou ook in Afrikaans

Charlotte Van den Broeck se Kameleon nou ook in Afrikaans
Kameleon voorblad.jpg

Dié debuutbundel is deur Daniel Hugo vertaal

Die Belgiese digter Charlotte Van den Broeck se eerste poësiebundel Kameleon (2015, De Arbeiderspers) is in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo (2020, Protea Boekhuis) en dit is van Oktober af beskikbaar. Kameleon word beskryf as ’n reeks met die eerste oogopslag naïewe dog ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat ’n meisie se identiteitsoektog na vrouwees kaart. Dit is ’n ontdekking van die lyflike en van taal, en die digter delf deur herinneringe, landskappe en vorms. Die temas in Van den Broeck se poësie strek van speelsheid tot introspeksie, met onheilspellende verbeeldingselemente wat die gedigte waarmerk. Die bundel kom na aan die volrondheid waarna daar gestreef word (die sirkel is ’n herhalende motief van totaliteit in die bundel).

Van den Broek is gebore in Turnhout, België, in 1991. Nadat sy Engels en Duits studeer het, doen sy haar meesters in woordkuns en teater by die Koninklike Konservatorium in Antwerpen. Sy het tot dusver twee bundels geskryf: Kameleon (2015), wat die Herman de Coninck-debuutprys vir poësie ontvang het, en Nachtroer (2017), wat genomineer is vir die VSB Poësieprys 2018 en die Ida Gerhard-prys. Haar poësie is in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies vertaal.

Die digter is bekend vir haar unieke voordragkuns. Van den Broeck het in 2018 die Woordfees in Stellenbosch bygewoon as besoekende Nederlandse skrywer en het ook van haar werk tydens die fees voorgedra. Haar voorlesings kan op YouTube en elders op die internet besigtig word. Die bandontwerp van Kameleon deur Annemart Swanepoel en die omslag-kunswerk deur Monique Prinsloo doen reg aan dié bundel. Die redakteur is Rentia Bartlett-Möhl. Intellektuele lesers, sowel as die jong generasie poësieliefhebbers sal van die bundel hou. Dit behoort ’n vrugtevolle oefening te wees om die Afrikaanse vertaling met die Nederlands te vergelyk, vanuit Hugo se pen as gesoute vertaler. ’n Mens kan hoop dat die digter se opvolgbundel Nachtroer ook in Afrikaans vertaal sal word – die publieke dunk daarvan blyk hoër te wees op Goodreads, met verskeie lesers wat opmerk dat die tweede bundel meer volwasse is en die digter se stem tot haar reg kom.

Koop die bundel hier. Drie gedigte uit Kameleon word hieronder gedeel.


VOORBEELDE

’n Vrou hou ’n hondjie aan sy nekvel
op haar skoot vas soos ’n handsak

’n Vrou haal uit haar handsak
’n sakkie gedroogte wors.

’n Vrou speel tydens ’n werksonderhoud
met haar handsak en het moontlik ’n seksuele fantasie.

’n Vrou rits haarself toe in die binnesak
van ’n ander vrou se handsak.

’n Vrou verloor haar handsak
en beskuldig ’n Marokkaan.

’n Vrou versamel sigaretstompies en het intussen
genoeg om ’n klein handsak te vul.

’n Vrou het soveel handsakke versamel
dat ’n tydskrifartikel oor haar geskryf word.


CHARLOTTEPOEDING

Toe jy jou omdraai en ons nog vergeefs
probeer om ’n nagereg te maak van ons poedingbene
het ek geweet dat jy my lankal nie meer dáár kan verdra nie.

Ek nogtans in allerlei geure:
– Charlotte met framboosroomys.
– Charlotte met lemoen en muntjellie.
– Kersiecharlottte.
– Advokaatcharlotte.
– Hamcharlotte uit Bourgogne.
Nee?

Ek onthou hoe ek dan simpel-romanties die sproete
op jou linkerskouerblad probeer tel het,
daar was soveel en ek het die telling kwytgeraak, toe

ons mekaar nie eens meer gegroet het nie, waarna jy ook nooit weer
“hallo” gesê het nie, het jy my ’n boerse maaltyd genoem
tussen die sop en die slaptjips, grootgemaak
en geslag op ’n McDonald’s-plaas
wat van mooi kalfies goedkoop hamburgers maak.

Ek is jou big-and-tasty-quarter-pounder-bbq-bacon-
southern-style-crispy-chicken-
premium-grilled-double-cheeseburger.

Is ek vir jou lekker, wil jy nog hê?

As ek lag,
verander die buitelyne van my gesig,
kyk.

Ek weet nie wat vir jou die mooiste is nie,
maar geluk is haalbaar
volgens sekere afdelings in boekwinkels
boetseer daarom my gesig
in watter vorm ook al
tot dit lyk na die masker van jou blyspel.

Ek is minder tragies as wat jy dink.


MENSE WAT NA NATUURPROGRAMME KYK OM HULLESELF BETER TE VERSTAAN

Ons kyk na natuurprogramme:
geslagsryp wyfie in die savanne
op die sofa beplan ons ’n studiereis
van die een lyf na die ander.

Arms uit die rok trek, mekaar
in beweging bring, ritme vind
roerloos
onder jou hande lê.

Om te praat is maar net die kamoeflage van vergeet
laat ons nooit hiervan taal maak nie
laat ons hier die syfers van die horlosies
en die horlosies van die mure steel
tot dit slegs sirkels is
wat ons van niks beroof nie.

Slegs hierdie afgeleë tydstip
waarop ons ons vorm verloor.
Volgens die wette van wederkerigheid
kan dit altyd weer die begin wees

weer arms uit die rok trek, mekaar
in beweging bring
ritme vind.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Charlotte Van den Broeck se Kameleon nou ook in Afrikaans gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand