Elsa Joubert se ongemak met die skryf van Poppie Nongena
66804266_1434325336709131_101223806411997184_o.jpg

Wie vertel die storie en wie vind daarby baat?

Poppie Nongena het op 31 Januarie in Suid-Afrikaanse filmteaters begin wys. Die draaiboek is deur die regisseur Christiaan Olwagen en Saartjie Botha geskryf. Dit is gebaseer op Elsa Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena (1978).

Die boek is in 1978 binne vier maande drie keer herdruk. Dit is verskeie kere bekroon en is sedertdien vertaal in dertien tale insluitend Frans, Spaans, Duits, Nederlands en Italiaans. In 1985 het ’n Amerikaanse uitgawe verskyn.

Daar is ’n vroeër poging aangewend deur die Amerikaners om die boek in ’n film te omskep met Whoopi Goldberg in die hoofrol, maar die skrywer het geweier.

As verhoogstuk was Poppie wel suksesvol. Dit is landswyd in Afrikaans en Engels opgevoer. In New York is dit in ’n eksperimentele teater aangebied en later het dit as ’n Off Broadway-opvoering die Obi-toekenning verwerf vir die beste dramateks. Dit is gekies vir die Edinburgh-toneelfees, en later ook in Londen, Australië, Kanada en Chicago opgevoer.

Die storie handel oor ’n swart Afrikaans-Xhosa vrou wat stabiliteit nastreef in die tyd van hewige onluste in apartheid-Suid-Afrika. Die verhaal speel af teen die agtergrond van paswette en gedwonge verskuiwings op die vooraand van die 1976-opstande teen apartheid en Afrikaans as onderrigtaal.

Elsa Joubert het die boek geskryf ná onderhoude met haar huishoudster Ntombizodumo Eunice Ntsata (née Msutwana), sowel as met haar familie. Die storie van Poppie Nongena is op Ntombizodumo Eunice se lewe gebaseer, alhoewel dit hier en daar aangepas is. “Poppie” is as skuilnaam gebruik om die identiteit van Ntombizodumo Eunice en haar familie te beskerm ten tyde van die boek se verskyning.

Die film, waarin Clementine Mosimane die hoofrol vertolk, handel primêr oor die laaste jaar se vertellings in die boek. Die film laat by tye die kyker ongemaklik voel en hou ’n onverbiddelike spieël aan die gemeenskap op. Poppie word ’n plekhouer vir derduisende swart vrouens van die apartheidera.

Elsa het haar misnoeë uitgespreek ná die onderhoude met Ntombizodumo Eunice oor die storie se vertelling. Haar oorspronklike transkripsies en notas waarin hierdie ongemak aangeteken is, word in die Universiteit Stellenbosch-biblioteek se manuskrip-afdeling vervat. Sy skryf:

Ek word bewus van ’n vreemde antipatie. Ek het geen meer begeerte om met die boek voort te gaan nie.

Ek het bewus geword van ’n antipatie by haar ook. Dit is asof ek moet grawe, uitboor, besonderhede wat ek geen reg op het nie, by haar moet uitkrap.

Ons het waarskynlik nou die punt bereik waar ek nie nader wil gaan en sy nie meer wil ontbloot nie.

Daar is ’n muur nie van onbegrip nie maar van volslae onbegeerte om te begryp. Vir my is daar iets afstootliks in wat sy aan my moet blootlê, vir haar in die afbreek van die mure wat daar tussen ons moet bestaan.

Miskien kry ek ’n boek en is ek ’n bediende kwyt.

Maar ek dink dis meer as net die blok of teenstand op menslike vlak. Die opwinding van uitvind, van gebiede en ervaringsveld betree wat vir my geheel en al onbekend was, is weg.

In die massa goed wat voor my lê, is daar bedreiging soos van ’n kanker- groeisel in die liggaam. Wil ek die kennis hê? My hele psige verwerp dit.

Dit is vir my onaangenaam om daarmee te werk.

Anders as wat dit sou wees as ek byvoorbeeld die lewe van ’n rooihuid of ’n eskimo sou beskryf. Dit is al die tyd, gedurig, gedurig ’n vreet aan myself.

Selfs my omgewing word weggevreet, soos muise kaas van binne vreet.

Klaas het vanaand die sleutel van haar kamerdeur moes regmaak en die deur was oop en ek het ingegaan, wat ek nie van hou om te doen nie. Ek hou nie van die reuk, van die vreemdheid, van, hoekom kom die woord by my op, van die bedreiging nie.

Dit kwel my dat die mure swart gerook is, deur wie? Ek moet dit laat skilder. Môre. Nog ’n stoel kry. ’n Tafel. Waarom moet die toestande waarvan sy vertel in my eie agterplaas voortgeset word?

Lucy Valerie Graham skryf in die artikel ‘A Strange Antipathy: Elsa Joubert and Poppie Nongena’ oor die skrywer se kortverhaal ‘Agterplaas’, in die bundel Melk, wat twee jaar ná die oorspronklike verskyning van die boek gepubliseer is. Sy skryf oor die wit ongemak en aandadigheid wat die skrywer ervaar het en haal die kortverhaal se verklaring aan:

I live on the periphery of an existence which I don’t understand. There are superficial points of contact: a few words to the petrol pump attendant, good morning to the man who delivers the milk. And there is the Black woman who works in my house. She is closer to me than a sister, and she is more intimately acquainted with my private life than a sister could ever be.

But I do not know her... She is my link with the unknown, a bridge I negotiate with great difficulty... She came to live in the room in the back yard and her territory is demarcated. I planted large shrubs to screen the room from my view.... The life in that room in the back yard is bound up with my life. Without that life I am a body that casts no shadow; my property and my house feel deserted; I wander aimlessly; the flowers droop in their vases and the mirrors on my walls reflect blurred images. I seek the life in the room in my back yard so that I may know it. With fingers of the blind, I grasp the door which is so firmly shut against me. I cannot see. For God’s sake, just walk in and have a look, my husband tells me. Why the nerves? He goes to work and I stay behind. My children go to school and I stay behind. My visitors leave and I stay behind. I and the life of the Black woman in my back yard.

Die film, wat in sekere tonele aan die The Handmaid’s Tale-televisiereeks herinner, ontketen ’n soortgelyke gevoel van ongemak as dié waarna Joubert verwys. Dit is treffend, maar die vertelling voel plek-plek te beperk tot die wêreld van kykNET-films. Die uitbeelding van wit onderdrukking en swart weerstand word wel goed gebalanseer in die tonele wat die Black Sash-beweging se werksaamhede uitbeeld. Dit is die kyk en bespreking werd.

83125918_1611105259031137_1917575285595701248_o.jpg
72658034_1504092443065753_6920315842940895232_o.jpg
Foto’s deur Melanie Cleary

Foto’s deur Melanie Cleary

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Elsa Joubert se ongemak met die skryf van Poppie Nongena gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand