Moffie: 'n Bittersoet verhaal oor manne op die grens
Oliver Hermanus se film, gebaseer op André Carl van der Merwe se boek
Dit is nie algemeen bekend wat in ward 22 by die militêre hospitaal op Voortrekkerhoogte gebeur het nie. Sekere mense sal weet van die sogenaamde Aversion Project onder leiding van Aubrey Levin, wat tussen die jare 1971 en 1989 honderde na duisende gays wat na die apartheidweermag opgeroep is, onderwerp het aan kastrasie en skokterapie om hulle van hul homoseksualiteit te “genees”. Ward 22 was vir die behandeling van geestesversteurdes bedoel, maar as deel van die ideologie van apartheid is dit gebruik om die samelewing te “suiwer”, ook van daggarokers en lesbiërs wat ook aan onmenslike behandelinge onderwerp is.
Homoseksuele mans het hulself as vyande in die hart van die Afrikanernasionalistiese ideologie bevind. Dit was onwettig om gay te wees en omdat soldate as eiendom van die staat beskou is, kon hulle met ’n soldaat doen net wat hulle wou. Daar is egter die gelukkiges wat nie ontbloot is nie en die wreedaardigste van die onderdrukking vrygespring het. Dit is die storie wat in Moffie vertel word, beide die opkomende film (internasionale debuut 2019) en die boek waarop dit gebaseer is (2006).
Die film trek inspirasie uit die boek, maar volg dit nie slaafs na nie. Die draaiboek is eerder in so ’n mate omskep dat die essensie behoue bly met ’n deels-nuutgeskepte storielyn. Die boek is ’n outofiksie van André Carl van der Merwe se ondervinding as opgekommandeerde soldaat. In beide die boek en film oorleef Nicholas van der Swart weermagopleiding en word gestuur om die rooi en swart gevaar op die grens van Angola af te weer. Vir volk en vaderland. Die boek gaan egter meer breedvoerig om met wat in ward 22 plaasgevind het, as die film, onopgetekende verdwynings en gruwelhede inkluis. In die film is dié aspek meer van ’n stille monster agter geslote deure.
Dit is nie die regisseur Oliver Hermanus se eerste film waarin gaywees en Afrikanerskap verken word nie. In Skoonheid (2011) word die onderdrukking van seksualiteit en die gevolge daarvan uitgebeeld. Die regisseur word ook geken vir sy 2015 film The Endless River. Dit is egter in Moffie waar Hermanus seëvier. Die film is esteties voortreflik. Die klankbaan is ook treffend, veral die vroulike verwerking van Rodriguez se ‘Sugar Man’ wat aan die einde van die film die kyker deurdring. Dit is deur Ben Ludik gedoen.
Dit is interessant om Moffie met ander onlangse plaaslik-verfilmde films te vergelyk. Daar is Die Stropers, waarby Moffie, wat betref visuele tentoonstelling, beslis kers vashou. Daar is uiteraard ook Kanarie (2018) wat met groter afwagting ontvang en bespreek is onder Afrikaanse gehore, maar wat dalk internasionaal verbygesteek kan word deur Moffie. As Kanarie diensplig die musical is, is Moffie die kunsfilm. Laasgenoemde maak nie gebruik van humor en musiek om die spanning te verlig nie. Wellus en geweld dra by tot die spanning wat deurgaans ontwikkel tot aan die einde. Beide films maak gebruik van ’n treinrit as daadwerklike metafoor vir die reis die onsekerheid in, maar dit is in Moffie waar jy besef dit gaan nie ’n easy ride wees nie. Die film is intens en by tye brutaal.
Moffie se rolverdeling lyk as volg: Kai Luke Brummer, Ryan de Villiers, Matthew Vey, Stefan Vermaak, Hilton Pelser, Wynand Ferreira, Rikus Terblanche, Shaun Chad Smit en Hendrik Nieuwoudt. Dié rolverdeling bied ’n mate van verligting, maar bring ook ’n sekere gevoel van spanning mee – veral in die tyd van thirst traps. Die film word aangebied vanuit ’n queer perspektief, mooi seuns in lelike tye. “Eerste liefdes en eerste haat,” om uit die boek aan te haal. Aknee, alkohol, seks, geloof, revolusie, aanranding, geen regte, mislukking en fantasie, selfoortuigende Calvinistiese dogma en vrees, en die aandoening van leed deur vrees en selfverwyt. Alles met ’n tasbare tienergees en ’n ondermynende en weerstandige jagsheid net-net onder die radar. Waar daar ’n vuurtjie is...
Die storie krap dalk vir sommiges ou wonde oop, maar dit gaan ook oor persoonlike verlossing. Dit bring ’n verlede na vore wat andersins onbekend sal bly aan vandag se jeug. Dit is ’n storie wat vertel moet word; en dit is verfrissend om te sien hoe kunsvaardig dit wel gedoen is.
Die film word op 13 Maart 2020 in Suid-Afrika vrygestel.
Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com