'Bram Fischer gee Afrikaners 'n progressiewe geskiedenis'

'Bram Fischer gee Afrikaners 'n progressiewe geskiedenis'
Peter Paul Muller vertolk die hoofrol as Bram Fischer.

Peter Paul Muller vertolk die hoofrol as Bram Fischer.

Die nuwe film An Act of Defiance

“[Bram Fischer] gives Afrikaners an identity of a progressive past,” vertel Patricia van Heerden, An Act of Defiance: The Bram Fischer Story se mede-vervaardiger, tydens die onlangse Joburg Film Festival. Hierdie Nederlandse film is ’n grotendeelse Afrikaanse biopic wat gaan oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die Rivonia Treason Trial. Van Heerden vertel dat daar nie genoegsame borge in Suid-Afrika gekry kon word om hierdie storie te vertel nie, dus is Nederlandse entiteite ook genader. Die film, met beide ’n Nederlandse regisseur en hoofakteur, het goed gevaar in Nederland.

Die lewensverhaal van Bram Fischer vorm deel van ons gedeelde Suid-Afrikaanse erfenis, ’n deel van die geskiedenis van apartheid waar die Afrikaner nie die villain is nie, al vertel ons dit nie op ons eie nie. Hoe dit ook al sy is dit hartroerend om hierdie verhaal as film te gewaar. Hopelik sal dit nuwe gehore aan Bram Fischer se verhaal bekendstel. ’n Verspreidingsooreenkoms is met kykNET geteken en die film gaan vroeg 2019 in Suid-Afrikaanse filmteaters wys.

Lionel Bernstein, Denis Goldberg, Arthur Goldreich, Bob Hepple, James Kantor, Ahmed Kathrada, Govan Mbeki, Raymond Mhlaba, Andrew Mlangeni, Elias Motsoaledi, Walter Sisulu en Harold Wolpe was op 11 Julie 1963 op die Liliesleaf-plaas naby Rivonia gearresteer, ten tyde van hulle beplanning aan ’n komplot om die apartheidregering geweldadig omver te gooi. Aangesien hulle op heterdaad betrap is, was daar ooweldigende bewyse om hulle van sabotasie aan te kla. Nelson Mandela is saam met die groep voor die hof gebring op dieselfde aanklagte. Die advokaat en destydse hoof van die Balieraad, Bram Fischer, neem die besluit om hierdie groep mans te verteenwoordig, ondanks geweldige teenkanting van sy mede-regspraktisyns.

Dan was daar ook die geheim wat hy soos ’n suicide vest rondgedra het.

an act of defiance bram fischer.jpg

Bram Fischer het ’n dubbele lewe gelei as prominente advokaat, maar ook as leier van die verbande Kommunistiese Party. Bram moes ook op die 11de Julie 1963 op Liliesleaf-plaas gewees het. Hy was deel van die groep wat die sabotasie beplan het. Hy moes ook op die beskuldigdebank gewees het, maar dit het so uitgedraai dat hy sy mede-vryheidsvegters van die regsbank af verteenwoordig het. Die aanklag van sameswering tot sabotasie het die doodstraf as dreigende vonnis gedra. Mandela, Kathrada, Sisulu en kie het die galg in die oë gestaar. Dit was met hierdie saak waar Nelson Mandela sy alombekende toespraak gelewer het: “[…] I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for and to achieve. But if it needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.”

Tydens die hofsaak moes Bram sy gesig wegsteek om te keer dat die getuies hom herken. Met die afloop van die daaglikse hofverrigtinge het hy steeds in geheim die sabotasie-plan vorentoe gedryf, alles onder die wakende oog van die veiligheidspolisie, publiek en pers. Die ware verhaal is uitgeknip vir ’n courtroom drama. Die beskuldigdes het teen ’n korrupte sisteem tot staan gekom, maar was dit eens dat hulle verantwoordelikheid sou neem vir wat hulle gedoen het, die oordeel sou aanvaar en dat hulle nie sou appelleer nie. Hulle het hul verset aangeteken deur om aan te voer dat dit die Staat was wat in die beskuldigdebank moes wees, nie hulle nie. Bram Fischer het as advokaat die hof in die oë gekyk en geweier om aandadig te wees aan ’n brutale sisteem van onderdrukking. Hy was óók bereid om sy lewe te gee vir ’n gelyke en regverdige Suid-Afrika.

Die film handel deels oor Bram se vrou, Molly Fischer, se reuseaandeel in die verset teen apartheid.

Die regisseur, Jean van de Velde, vertel van een van die ontmoetings wat hy gehad het tydens die ontwikkeling van die film. Kort voor die dood van Ahmed Kathrada met hy met hom ontmoet op ’n Saterdagmiddag in ’n stil restaurant in Johannesburg. Met die vraag oor wat hy gedoen het in sy tronksel in die dae voor sy vonnis, begin Kathrada Sarie Marais te sing. My Sarie Marais is so ver van my hart. Maar 'k hoop om haar weer te sien. O bring my t'rug na die ou Transvaal. Daar waar my Sarie woon. Jean wys hierdie uit as een van die oomblikke waar die Afrikaanse taal vir hom op ’n verstommende wyse ditself bekend gemaak het – “die taal van apartheid, die taal van die onderdrukker”, maar ook volgens Kathrada, “die taal van my jeug”.

Die regisseur het in die Belgiese Kongo grootgeword. Hy vertel dat die ondrukking en segregasie van apartheid nie op dieselfde manier daar na vore gekom het nie, maar dat daar wel ’n geweldadige krisis ontstaan het met die baklei vir onafhanklikheid. Met die lees van onder meer The State Vs. Nelson Mandela: The Trial that Changed South Africa (2007) deur Joel Joffe, waaruit die draaiboek sou ontstaan, is hy veral deur die storie van Bram Fischer geprikkel – ’n naam wat herhaaldelik in leesstof opgeduik het. Hy het begin woeker met die draaiboek om die gebruik van regstaal te verminder en meer aspekte van Bram Fischer se lewe buite die hof in te sluit. Fischer, wat in myn- en grondregte spesialiseer het, het van ’n gekende familie gekom wat hoë staatsposte beklee het. Hy was ’n begaafde rugbyspeler wat teen die All Blacks gespeel het. Bram was die toonbeeld van die white picket fence Afrikaner in sy groot voorstedelike familiehuis – iets waarteen daar in opstand gekom is. Dié argetiepe is egter op sy kop gedraai met die dat Fischer intiem betrokke was met die ANC se ondergrondse aktiwiteite om apartheid op elke moontlike geleentheid teen te werk.

Die film verdien om wyd en syd gekyk te word. Die kostuums, dekor en taalgebruik bly getrou aan die tydperk. Die Palace of Justice hofsaal in Pretoria, waar die verhoor plaasgevind het, is gebruik vir die film se hoftonele. Fyn aandag is geskenk aan details soos dokumente, kopieermasjiene, kaarte, karre en die polisie se uitrustings. Die film is lank, net oor twee ure, maar dit is boeiend. Peter Paul Muller in die hoofrol het selfs Afrikaans leer praat, maar ’n bietjie dubbing was aan die einde nodig. Dat die akteur nie aan Suid-Afrikaanse gehore bekend is nie maak die vertolking meer geloofwaardig.

Die uiteinde van Bram Fischer se lewe bly ’n tragedie, alhoewel sy kinders geleef het om die verandering te sien waarvoor hy geveg het. Harry Kalmer se eenman teaterstuk The Bram Fischer Waltz, wat ’n paar jaar terug gespeel het, onder andere by die Markteater, sluit goed by hierdie film aan. Dit beeld Bram se uiteinde in ’n tronksel met onbehandelde kanker, gepynig deur die verdrinking van sy vrou, uit. Nelson Mandela het in Junie 1995 die eerste Bram Fischer Memorial Lecture gelewer – ook by die Markteater. In die toespraak, wat op SAHO beskikbaar is, sê hy dat Fischer se gees voortleef as een van die mees prominente Afrikaners wat help bou het aan ’n nie-rassige Suid-Afrika.

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'Bram Fischer gee Afrikaners 'n progressiewe geskiedenis' gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand