Billy Monk se klubfoto's van 1960's Kaapstad
Die vasvang van 'n enigma
Billy Monk (1937–1982) is ’n enigma. Hy het in die 1960’s in Kaapstad as ’n bouncer gewerk. Dit is hier, by die gewese klub The Catacombs, waar hy met sy Pentax-kamera oomblikke vasgevang het wat oraloor al opslae gemaak het. Die storie van Billy Monk is ’n fassinerende een, ’n storie wat amper soos ’n fabel klink – of ’n Griekse tragedie. Dit is onlangs omskep in ’n kort dokumentêre film van 37 minute waarvan Klyntji ’n voorskou gesien het.
Billy Monk was nie soseer ’n fotograaf nie, maar eerder iemand wat met ’n skerp oog geleenthede van allerhande soorte kon raaksien. Hy is ’n opportunis genoem. Hy was ook nie iemand wat daarvan gehou het om vasgebonde te wees nie – hy het in die oomblik geleef. Hy het in hierdie gees by The Catacombs aangekom en is by dié klub aangestel as bouncer. Hy is vrye teuels gegee en het tot hartelus deelgeneem aan die losbandigheid van die klub. Die ondergrondse nagklublewe van daai tyd was ongeken in die apartheidera. Die onbereidwilligheid om aan ’n onderdrukkende en konserwatiewe sisteem gehoor te gee, was ’n tipe teenstand.
The Catacombs was ’n bymekaarkomplek vir mense van regoor die wêreld, vanweë die klub se ligging naby die hawe. Dit was voordat die volskaalse onttrekkings en sanksies die apartheidstaat getref het. Daar was mense van alle lande en agtergronde; seksualiteit en ras was nie rede om iemand weg te hou nie. Oor Monk se seksualiteit word daar vertel dat alhoewel hy aangetrokke gevoel het tot vroue, hy ook met mans verhoudings aangeknoop het. Omdat daar volgens hom “nie genoeg vrouens in die wêreld was nie”, het hy besluit om te “double-up”.
Hy het ná elke aand se skof sy foto’s sorgvuldig geliaseer, en het dit ook self ontwikkel in sy fotograaf-vriend se studio; ’n deel van die woonstel waarin hy gebly het. Van die foto’s het hy aan die mense wat daarin verskyn, verkoop, aangesien baie van dié mense matrose was wat vir ’n paar dae op ’n slag in Kaapstad vasgemeer was. Dit was ’n geleentheid om ’n bietjie ekstra geld te maak. Billy het wel die mense wat hy afgeneem het, leer ken – hulle was nie blote subjekte vir hom nie, maar mede-stryders vir ’n sorgelose tyd.
Die foto’s word hoog geag, juis omdat die fotograaf déél was van die omgewing wat hy afgeneem het. Die kunsresensent Ashraf Jamal stel dit so:
Monk was able to capture the lives of people redeemed from apartheid’s scrutiny, for in these hidden worlds no one cared about status, caste, sexual preference. One senses too that Monk’s subjects knew and trusted him, for with him they could be themselves. If I consider Monk as one of South Africa’s greatest photographers it has everything to do with his humanity – he was no voyeur, no connoisseur, no brittle collector of others’ lives.
David Goldblatt het op sy beurt die fotograaf se lof besing, deur te sê dat hy geweet het hoe om sy kamera te gebruik. Monk se foto’s was nie sommer net happy snaps nie. Sy tegniek van flitsgebruik was verfyn en dit is konsekwent aangewend. Hy het spesifieke fynere film gebruik om die optimale detail vas te vang in die donker kamers van die klub. Hy was goed.
Billy Monk was nie in sy leeftyd bekend as fotograaf nie. Die foto’s was vir lank vergete en is amper weggemaak. Die gepreserveerde fotoversameling wat in drie lêers pas, is deur Monk se fotograaf-vriend Paul Gordon aan Jac de Villiers, ook ’n fotograaf, gegee. Met die bekende fotograaf David Goldblatt se uitsprake oor die foto’s, is die waarde daarvan uiteindelik raakgesien en is dit vir die eerste keer in 1982 as uitstalling aangebied by die Markteater se galery in Johannesburg.
Monk het ten tyde van die uitstalling se installasie, wat sonder groot bohaai oopgemaak is, gewerk as ’n diamantduiker aan die kus. In die dokumentêre film word daar deur sy seun David Monk vertel dat sy pa nog altyd lief was vir die see en dat hy hom dikwels in sy kinderdae met ’n boot uitgeneem het. Billy het daarvan gehou om met tye net te verdwyn. “Gone fishing,” het mense van hom gesê. Hy het soms ook onwettig perlemoen uitgehaal.
Daar is vooraf met Billy geskakel oor die uitstalling en hy het toestemming gegee, maar hy het vermoedelik nie veel daarvan verwag nie. Die uitstalling is egter gunstig beoordeel en die Johannesburgse Kunsgalery het ’n klompie van die foto’s vir hulle permanente versameling aangekoop. Billy Monk was vinnig op pad om bekend te word as ’n gerekende fotograaf. Nog nooit vantevore het hy ’n standvastige werk gehad waarvoor hy boonop erkenning gekry het nie. Hierdie uitstalling sou alles vir hom verander. Billy het verlof geneem om die uitstalling by te woon.
Op pad na Johannesburg, by ’n russtop, is Billy Monk tydens ’n argument doodgeskiet. Die presiese rede vir hierdie voorval is nie bekend nie, maar verskeie gerugte het oor die jare opgeduik. Het hy met diamante gesmokkel? Was dit net ’n dronkgeveg met ’n onstabiele vriend? Billy Monk is twee keer geskiet. Die doodskoot was van agter deur sy rug. Sy werk is ná sy dood nog in heelwat uitstallings en boeke vertoon. Hy sou nooit sien hoe sy foto’s deur mense waardeer word nie.
Billy Monk was geen held nie. Hy was ’n goeie ou, en hy was ’n slegte ou. Op ’n manier was sy foto’s – net soos sy lewe – flitse van opportunisme.
Die Billy Monk Collection word deur Craig Cameron-Mackintosh en Gavin Furlonger bestuur. Die eersgenoemde is die regisseur van die dokumentêre film Billy Monk – Shot In The Dark.
Jack Parow en Francois van Coke se musiekvideo vir Hard Partytjie Hou (2012) se konsep is op Monk se fotoversameling geskoei.