'n Kultuurskat van portrette deur Antonia Steyn

'n Kultuurskat van portrette deur Antonia Steyn
Antjie Krog

Antjie Krog

Dit het alles begin met Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur, wat die fotograaf Antonia Steyn gekontak het om feesgids-portrette te neem vir die 2017 kunstefees. Woordfees het ’n nuwe logo bekendgestel en wou daarmee saam ’n nuwe visuele blaadjie omslaan. Die aanvanklike 95 portrette is tydens die fees in die uitstalling In die gesig gevat vertoon. Die projek is voorgesit met verdere foto’s vir die 2018 fees wat die totaal van portrette na 197 opgestoot het. Die 95 portrette van 2017 is in vyf dae afgeneem, en die 2018 foto’s in ses dae, geskiet in Kaapstad, Stellenbosch en Johannesburg. Beide jare se beelde is verwerk deur Heléne van Aswegen tot ’n unieke handgemaakte boek as ekslusiewe 1/1 kunswerk. Die boeke is opgeveil by die Woordfees Bravo! Bal in 2017 en 2018.

Daar was sprake om hierdie projek oor drie jaar te doen, maar dit het nie realiseer vir 2019 se fees nie. Antonia vertel dat sy dit graag in die toekoms wil hervat. Met die vraag oor wie sy nie kon afneem nie, of nog wil afneem, sê sy: “Daar is so baie! Elsa Joubert, Desmond Tutu, Zanele Muholi, Marlene Dumas… Ek sou baie graag vir Ryk Hattingh en David Goldblatt voor my lens wou gehad het.” Die portrette sluit ook gewone Stellenboschers van alle ouderdomme in as deel van Woordees se gemeenskapsprojekte.

Tobie Cronjé

Tobie Cronjé

Die uitstalling se titel, In die gesig gevat, kom van iets wat Frasier Barry gesê het tydens sy fotosessie. “Na afloop van elke portret, het ek 4-5 gunstelinge uitgedruk en teen die muur geplak. Dit het met die editing proses gehelp. So het ’n muur van gesigte in die studio ontstaan. Ná Frazier se portret het hy na die muur gestaar, die foto’s bekyk, na my gedraai en gesê: ‘’n Mens voel so in die gesig gevat!’ Die woorde het later die titel van die uitstalling geword,” vertel Antonia. Oor ander oomblikke, vasgevang met haar Hasselblad, voeg sy by: “Toe Tobie Cronjé voor my lens kom sit en ek die knoppie druk het ek besef daardie eerste foto is dié foto. Dit was magic. Ek het baie vriendskappe gesmee; ek en Deon Maas het heerlik bier gedrink in Berlyn.”

Oor die foto’s se intimiteit, met ’n skoon en treffende estetika, vertel sy dat almal gevra was om neutrale, wit en swart te dra. “Ek wou nie hê dat die kyker se aandag deur kleure of patrone afgelei moet word nie. Om alles te stroop en net op die gesig te fokus, om die eerlike oomblik vas te vang, die ontmoeting tussen lens en mens.” Nie dat dit die Princess of Africa gekeer het om haar leopard print te dra nie.

Hoe ontgin sy die subjek se diepere self vir die portret? “Ek probeer soveel navorsing as moontlik doen oor elke persoon voor die tyd. Ons praat dan ook oor allerhande staaltjies en skandaaltjies. Tydens die fotosessie skep ek ’n veilige ruimte, ’n tipe van ’n kokon met swart polyboards. Die isolasie help om die buitewêreld uit te sny en ’n intieme konneksie te vorm. ’n Ontblote oomblik.”

Res van die 197 portrette

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Kultuurskat van portrette deur Antonia Steyn gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand