Ja, Die Antwoord is problematies, maar…
Dit is 2009 en zef is die in-ding in Suid-Afrika. Ek is 21 jaar oud en ’n Universiteitstudent. Die Antwoord plaas hul video Enter the Ninja op YouTube en oorrompel die internet. In wat soos ’n oogwink voel, is die “zef rap-rave” groep ’n internasionale fenomeen. Die wêreld sit vasgenael voor YouTube om uit te vind wat Die Antwoord is. Hul estetika is iets vanuit ’n ander wêreld, of so kom dit voor. Dié in die binnekringe van Suid-Afrikaanse kuns herken die fotograaf Roger Ballen se lens in hul werk. Ander sien die stereotiperende uitbeelding van Suid-Afrikaanse kulture. Sommiges glo dat Die Antwoord werklik so zef of common is. Die buiteland probeer die idee van zef baasraak en is oor die algemeen gefassineerd daarmee. Soveel só dat Die Antwoord se estetika mode tendense word. Die res het geen idee waarna hulle kyk nie, maar openbaar sterk gevoelens daaroor.
Ek hou Die Antwoord al vir bykans ’n dekade dop. Vandat Wat Pomp Julle? in die donker hoekies van die interwebs ’n verskyning gemaak het tot en met Ninja sy Instagram blad vroeër vanjaar laat vaar het. Wat begin het as ’n fassinasie met ’n rebelse kletsrymgroep, het ontaard in ’n skripsie, ’n verhandeling en ’n voyeuristiese liefdes-haatverhouding met Die Antwoord. Ek sê liefdesverhouding want hierdie (relatiewe) konserwatiewe Afrikaanse meisie hou van vloek, kletsrym, ’n “fok-jou” houding en counterculture. Ek sê haat-verhouding want ek is nie blind vir die groep se uitbuiting en kulturele toe-eiening van gemarginaliseerde kulture nie. Tot en met vandag kan ek steeds nie my vinger plaas op watter deel van Die Antwoord my afpis en van watter deel ek ’n fangirl is nie. Miskien help dit om bietjie dieper te delf.
Die Antwoord bestaan uit Ninja, Yo-landi Vi$$er en DJ High Tek (wat nou as God geken word). Die narratief wat Die Antwoord rondom hul eie bestaan voorhou, skep die idee dat hulle van ’n minderbevoorregte, multi-kulturele agtergrond afkomstig is, soos blyk uit hul vele musiekvideo’s en sosiale media uitlatings. Ninja, wie dikwels as die meesterbrein agter Die Antwoord beskou word, het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hy homself met verskeie Suid-Afrikaanse kulture vereenselwig nie. In sy openingsmonoloog vir die Enter the Ninja (2010) stel hy: “Tjekit: I represent South-African culture. In this place you get a lot of different things: blacks, whites, Coloureds, English, Afrikaans, Xhosa, Zulu, watôkal. I’m like all these different things, all these different people, fucked into one person”. So met die intree-slag kondig hy aan dat hy (en so dan ook Die Antwoord) sommer al hierdie Suid-Afrikaanse kulture verteenwoordig. Maar op watter manier kan ’n wit kletsrymgroep onderskeie Suid-Afrikaanse kulture vir hulself opeis?
Die openingstoneel van die musiekvideo Zef Side (2009) spreek boekdele van die milieu wat Die Antwoord rondom hul eie herkoms skep. Die visuele stilering van die video verf ’n landskap waarin die groep gestereotipeerde zef-Afrikaners uitbeeld. Ninja stel dat die woonbuurt in die video is waar hy, Yo-landi en DJ High Tek saam grootgeword het: “DJ Hi-Tek lives with his granny, and then I live with my mom and dad down the road and Yo-landi’s the next door neighbour”. Ninja en Yo-landi praat Engels met ’n sterk Afrikaanse aksent. Hul taalgebruik is oorvereenvoudig en dui daarop dat hulle skynbaar van ’n laer-middelklas, Afrikaanse agtergrond afkomstig is. “The Afrikaners have these different cultures. One is very conservative and stiff, and the other, the underbelly of that, is zef… We made it our thing.” verduidelik Ninja in ’n onderhoud in 2011.
Zef Side bied ook talle visuele leidrade (soos, sinkdakke wat nie goed onderhou is nie, die gebruik van ou asblikke as ’n alternatief vir tafels, stukkende fietse en motors wat nie herstel is nie en uitgeroeide tuine) wat die idee skep dat die video in ’n arm woonbuurt afspeel waar wit en ook coloured mense leef (soos te sien in die video). Die Antwoord, veral Ninja, gebruik stilistiese elemente en frases wat tipies met coloured-bendes vanaf die Kaapse Vlaktes of tronke geassosieer word. “I am a fucking Coloured...My inner Coloured just wants to be discovered” word in die snit Fish Paste gekletsrym. Groeplede van Die Antwoord spog met tatoeëermerke wat gekopieer is van die Numbers-tronkbende – in die kenmerkende “handvervaardigde” voorkoms. Die Antwoord skep die illusie dat hulle met Coloured bendelede vereenselwig deur skynbaar saam met bendelede in hul video Fok julle naaiers op te tree. Die stereotiperende beeld van gewelddadige en gevaarlike coloured bendelede word sonder twyfel deur Die Antwoord versterk.
In die musiekvideo Evil Boy (2010), belig Die Antwoord kwessies rondom die Xhosa-stam se inisiasieritueel saam met ’n Xhosa kletsrymer, Wanga. Die Xhosa inisiasie is ’n komplekse en spirituele ervaring, maar die Evil Boy video en die wyse waarop die groep in onderhoude hieroor praat, reduseer die ritueel tot ’n blote besnydingsproses. Die video is donker, gru en ontsenu die kyker, wat bydra tot die stereotipe van “diep donker Afrika”. ’n Uitbeelding van die Tokoloshe maak selfs ’n verskyning. In 2012 kondig Ninja in ’n onderhoud aan: “God made a mistake with me. Actually, I’m black, trapped in a white body…” Hy maak hierdie uitlating in min of meer dieselfde tyd wat Die Antwoord se Fatty fatty boom boom bekend gemaak is. In dié video poog die groep, op uiters blatante wyses, om met swart mense te vereenselwig deur Ninja swart te verf waar hy in ’n gestereotipeerde “voedoe-kamer” optree. Dié wêreld skree blackface!
Deesdae is dit meer algemeen bekend dat Ninja en Yo-landi Vi$$er deur Watkin Tudor Jones en Anri du Toit geskep is. DJ High Tek is ’n vloeibare identiteit wat deur verskeie persone uitgeleef word. In realiteit het Watkin Tudor Jones in 1993 aan Parktown Boys High gematrikuleer, hy het ’n kontemporêre kunsuitstalling of twee onder die belt en hy maak al hip-hop en kletsrym musiek onder verskeie personae (MC Tottaly Rad en Max Normal as enkele voorbeelde) sedert 1995. Anri du Toit het al aan verskeie projekte saam Jones gewerk (insluitend Max Normal en ’n paar kortfilms wat die twee saam vervaardig het). Blykbaar is Du Toit ook ’n romanskrywer en is sy as ’n klassieke musikant opgelei. Dit is duidelik dat Jones/Ninja en Du Toit/Yo-landi nie noodwendig die lewenservaring deel van die kulturele groepe wat deur Die Antwoord uitgebeeld en gestereotipeer word nie.
Kulturele toe-eiening (of cultural appropriation) kan breedvoerig omskryf word as die kopiëring en gebruik van elemente van ’n kultuurgroep wat nie jou eie is nie, sonder om die lewenservaring van die bepaalde kultuurgroep te deel. In ons huidige politiese klimaat is problematiek van kulturele toeëiening en uitbuiting aan die muur geskryf – gesprekke rondom swart bewussyn, witheid en kulturele uitbuiting brou daagliks op sosiale media. Die Antwoord se gebruik van stereotipes (soos dié van zef-Afrikaners, coloured-bendelede en swartmense) is hoogs problematies omdat komplekse identiteite en kultuurgroepe op ’n oorvereenvoudigde en veralgemeende wyse verbeeld word. Boonop kapitaliseer Die Antwoord op dié uitbeelding van kulturele groepe in hul musiek en video’s. Is Die Antwoord skuldig aan kulturele toe-eiening? Word gemarginaliseerde kulture uitgebuit vir Ninja en Yo-landi se eie finansiële wins? Sekerlik.
Terselfdertyd kan die argument gemaak word dat Die Antwoord se kulturele toe-eiening so ryk en vervleg is met verskeie invloede dat hulle nuwe identiteite geskep het; moontlik ’n nuwe idee van ’n Suid-Afrikaanse identiteit. Die Antwoord is immers die voortdurende performance van Jones en Du Toit as ’n vorm van konseptuele kuns met die doel op sosiale kommentaar. Deur die groep se uitmuntende gebruik van die internet het hulle daarin geslaag om hulself internasionaal te vestig. Die internet dien ook as ’n skerm om Ninja en Yo-landi se oorspronklike identiteit te versluier. Boon-op het buitelanders nog minder van ’n idee wie Watkin Tudor Jones en Anri du Toit is. Jones en du Toit het as’t ware Ninja en Yo-landi geword. En dié identiteite wat geskep is, is soos ’n laslappie kombers aanmekaar gestik deur heen en weer te toe-eien, leen en kopieer van verskeie Suid-Afrikaanse kulture.
Miskien dien Die Antwoord as ’n spieël vir die Suid-Afrikaanse samelewing. Dalk is hulle die uitbeelding van ’n post-apokaliptiese weergawe van Suid-Afrika wat knak onder aan die aanhoudende stereotipering, toe-eiening en uitbuiting van mense. Een van die rolle van kuns is immers om kommentaar te lewer, die samelewing te reflekteer en ’n denkproses in die kyker aan te wakker. Die Antwoord het definitief daarin geslaag om wonde oop te krap en om sodoende gesprekke rondom rasseverhoudinge, stereotipering en kulturele uitbuiting te bewerkstellig. Al wat ek met sekerheid kan sê is dat dié tipe gesprekke nodig is om ’n brandende Suid-Afrika (moontlik) te kan blus.
Suen Muller werk in die kontemporêre kunsbedryf. Sy skryf en praat graag oor tendense in Suid-Afrikaanse kuns en kultuur.