'Afrikaans is nie groot nie'
Churchil Naudé, Jackie Lätti en Gideon Breytenbach

Churchil Naudé, Jackie Lätti en Gideon Breytenbach

Gideon Breytenbach skryf oor Die Wasgoedlyn

Oor die afgelope vyf jaar het ek saam met Charl J. Naudé, Riku Lätti, en Jackie Lätti (Die Wasgoedlyn TV-span) reg oor die land gereis op soek na die beste oorspronklike liedjieskrywers in ons land, met spesifieke fokus op Afrikaans. Ek het nog altyd ’n groot liefde en belangstelling in die plaaslike musiekbedryf gehad en het altyd gehoop om uiteindelik by te dra daartoe. Wat op my gewag het, het my verwagtinge oorskry.

Tot op hede het ons saam met meer as 60 oorspronklike liedjieskrywers, skilders en ander visuele kunstenaars, digters, skrywers, fotograwe, en allerlei skeppende wesens gewerk op Die Wasgoedlyn TV-reeks wat nou op amper 40 episodes staan. Daar is veiligheid in nommers, maar die nommers is geen skuilplek in hierdie geval nie. Daar is dalk nie een van hierdie skeppende wesens met so ’n befokte haarstyl soos Faf du Plessis of ’n uitrusting soos dié van Gert Johan Coetzee nie (met apologie aan Deon Maas se haarkapper en Andries Bezuidenhout se baadjiekoper), maar ieder en elk van die kreatiewe tiewe wat op Die Wasgoedlyn verskyn het is geniaal in hul eie reg. Ons is oorval met eerlike, opregte, en oorspronklike skeppers – almal met ’n sagte plek vir Afrikaans maar met ’n openhartige begeerte en aktiewe gedagtestroom gerig op ’n inklusiewe toekoms vir almal (nog nie een van hulle het ’n klaaglied gesing oor ABSA hulle nie in Afrikaans wou help nie, byvoorbeeld). Daarom is elke stukkie wat op die lyn hang van kardinale belang vir ons kultuurskat.

Benjamin Voete

Benjamin Voete

Deon Maas

Deon Maas

Ons het nie geprotesteer sodat daar iets kan wees soos Afrikaans Is Groot in die Moreletapark kerksaal nie. Die goed wat Die Wasgoedlyn doen is meer wat ek in gedagte gehad het.
— Koos Kombuis

Op Die Wasgoedlyn het ons nog nooit gevoel dit is die energie werd om betrokke te raak in ’n moddergooi-debat oor die drek wat deur die kapitalistiese stelsel as eg-Afrikaanse musiek voorgehou word nie. Ons wou nog nooit die institusionele rassisme wat die fondasie van die vermaaklikheidsbedryf vorm ons hooffokus maak nie. Ons voel ons tyd en energie kan baie meer konstruktief spandeer word deur op te bou aan dit wat wel waarde het, en wat wel behoue moet bly van Afrikaans. Eg Afrikaanse musiek wat hande vat met die ewig-ontwikkelende boeremusiek van die 1930’s en vorentoe, soos David de Lange en later Nico Carstens. Eg Afrikaanse musiek soos wat dit ontstaan het met die samevloeiing van kulture in die Kaap – musiek wat grotendeels steeds ongedokumenteerd bly vanweë die feit dat dit selde of nog nooit opgeneem is nie. Musiek soos die Briels tot David Kramer, Anton Goosen en Voëlvry. Ons poog om uiteindelik die publiek te wys dat daar wel egte en eerlike musiek gemaak word in Afrikaans, en hoop dat ons dokumentering daarvan dit behoue sal laat bly.

Ongelukkig voel dit of ons pis teen die wind met ’n musiekindustrie, die Afrikaanse musiekindustrie spesifiek, wat op die stadium so erg geleun is ten gunste van die sinnelose ingevoerde Europese musiek. Dié musiek is die resultaat van jare se taal- en kultuurpolitiek wat klas- en rasverskille heeltemal verontagsaam en doelbewus ’n beeld van ’n homogene gemeenskap voorgehou het: welvarend, heteroseksueel, patriargaal, wit, Christen. Die kommersiële Afrikaanse musiekindustrie is gewhitewash van sy geskiedenis en haar ware fondasie lê diep verdoesel onder die soveelste liedjie wat handel oor die Afrikaner se opstand teen die oormag (of watookal Chris Chameleon se nuutste AfriForum-treffer is). Musikaal is Afrikaans Is Groot nie veel anders as Eurovision in Afrikaans nie, en terwyl die publiek die soetkoek opvreet is dit die skeppende kunstenaars wat aan die agterste speen suig. Soos Anton Goosen sê in sy onderhoud op Die Wasgoedlyn: “Ons gun hulle die appel, maar nie die hele appel nie, ons wil ook ’n klein stukkie hê.” Al hierdie musiek wat teer op nostalgie in die strewe na winste sou my nie een slapelose nag besorg het nie, indien dit wel die werklikheid van ons land, musiek, of taal was.

Stef Bos

Stef Bos

As jy kyk na waar Afrikaanse musiek op die oomblik is het jy waar Riku Lätti en Die Wasgoedlyn is. Dan het jy hier in die middel waar Van Coke Kartel, Fokofpolisiekar en Karen Zoid is. Dan het jy hierdie ander goed wat nie volkseie is nie, en dit is wat mense nie verstaan nie (...) dit is nie wie ons regtig is nie. Dit is nie wie ons veronderstel is om te wees nie. Dit is wie ons gesê is om te wees in plaas van wie ons regtig is (...) en tot dit verander gaan musiek in Suid-Afrika nie verander nie.
— Deon Maas

My handelinge oor die afgelope vyf jaar met byna 60 skeppers vanuit alle klasse en kulturele verdelings van Afrikaans het dít aan my bewys – Afrikaans kan lekker wees. Afrikaans kan vry wees. Afrikaans kan jammer wees vir sy geskiedenis, maar trots bou op ’n toekoms. Afrikaans kan sterk en sagkens wees. Afrikaans kan mooi wees, maar tog belangriker, Afrikaans kan ook lelik wees en dit is reg so. Jy kan bewus wees van jou omgewing en die mense daarin. Jy kan dit observeer en omskryf in Afrikaans. Jy hoef nie verdom op te tree in Afrikaans nie. Afrikaans is eintlik net ’n taal en niks meer nie, maar ons het dit lief. Afrikaans kan groot wees, maar dit is nie. Op Die Wasgoedlyn probeer ons die wond van sistemiese rassisme te help genees.

Die Wasgoedlyn is ’n program waar musikante en vriende lekker kuier, stories deel en mooi musiek maak agter die huis, onder die wasgoedlyn. Dit is ook daar om iets eg vas te vang. Iets groter as enige van ons. Dit is ’n stempel van ons denkwyse op die gegewe oomblik. Dit is ’n foto van ons teleurstellings en drome. Dit is ’n lied oor die mense wie ons was, wie ons is en wie ons nog gaan word. Die liedjie klink mooi, ten spyte van.


Die Wasgoedlyn reeks 1 is tans beskikbaar op Vimeo OnDemand.

Gideon Breytenbach is mede-vervaardiger van Die Wasgoedlyn, skepper van films en televisie-programme asook musikant wanneer dit donker is.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'Afrikaans is nie groot nie' gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand