Fokofpolisiekar se dans deur die donker
Anelia Heese besin: Hoe skryf 'n mens krities oor die klankbaan van jou jeug?
Hoe skryf ’n mens krities oor die klankbaan van jou jeug? Hoe skryf jy oor musiek wat jou via ’n bonkige iPod vergesel het, ingeprop in ’n vlak sportsbra op ’n skole-atletiekbaan, musiek vir daardie onmoontlike puisietyd? Hoe navigeer jy die bedwelmende nostalgie van herkenbare riffs wat jou maagdelikheid – en die onafwendbare verlies aan onskuld – getoonset het?
In ’n dorp waar ons by skoolbyeenkomste teen The Offspring gewaarsku is (duiwels, jy sien), was Fokofpolisiekar my teacher’s pet. Elke generasie het sy eie duiwels en soos elke tiener het ek geglo ek is deel van die eerste generasie wat dit vir eens en altyd kan uitdryf.
Dit was die taboestatus aan hul naam, dit was die omstrede anti-Afrikanersentiment in ’n rigiede two-tone NG-De la Rey-wêreld. Dit was ook my eerste liefde, daardie eerste pakkie van ’n long distance boyfriend uit Bellville. Bubble-wrapped, nog by die poskantoor opgetel, daai dae toe die National Geographic nog afgelewer is. Dit was my eerste mans-T-shirt, deurdrenk met Axe body spray, merch geskenk aan my ná laasnag se PG-13-vry. Op universiteit was Fokofpolisiekar die klankbaan van warm bier en disenchantment met koshuiskultuur.
Dis waaghalsig om te lank na dieselfde band te luister. Hulle spring jou dalk voor en begin koer oor kinders wanneer jy nog vir ouerskap gril (Norah Jones). Party word wedergeborenes (M Ward) of beland aan die verkeerde kant van die #metoo movement (Ryan Adams). Dalk begin hulle treur oor ouers wat hulle wees laat (Sufjan Stevens) wanneer joune jou nog frustreer. Of hulle bly ewig jonk, soos daardie ooms by die Dros wat saam met die tienermeisies wil drink (Coldplay).
Die titel van Fokofpolisiekar se vyfde studioalbum, Dans deur die donker (2023/4), wat verskyn twee dekades ná die uitreik van hul debuut, As jy met vuur speel sal jy brand, verkoop hoop. Wat beteken dit om deur die donker te dans? Moet ’n mens dit letterlik opneem – veral tydens beurtkrag – as die allerlaaste toelaatbare protes in ’n post-koloniale bestel? Dans deur die donker is onvolmaak, maar onweerstaanbaar. Die album kry dit reg om my op ’n verrassende wyse van verlammende sinisme te troos. Dit is, soos die titel van snitnommer ses heet, wraggies “nie nodig om my polse te sny nie”.
'n argief van grootword
Fokof se albums kan as ’n argief van grootword beskou word. Daar word oor sorgelose kuiers met “rooiwyn en sigarette op Stellenbosch” (‘Vernietig jouself’, As jy met vuur speel sal jy brand, 2003) berig, en neergesien op sogenaamde “mikrogolfoondmense” wat “werk, trou en kinders kry” (‘Tevrede?’, Lugsteuring, 2004). Noudat hulle self ou ballies is, betreur hulle daardie middelklas-malaise waar jy jou bekommer oor “swaartekrag en wat goed kos” (‘Dans deur die donker’). Daar word wasig gekla oor die masjien met die groot M, maar dis in die anekdotes van “twee jobs, selfde pay” (‘Die einde’, Dans deur die donker) waar ’n futlose Van Coke jou raaksing.
Soos die rituele waarin jy jou maagdelikheid verloor, was Fokof dikwels gebrekkig. Dis punk in Afrikaans. Te dikwels skaaf die inheemse taal teen die ingevoerde klank, ongemaklik en gemaak-werk, soos onbeholpe tieners tydens coitus. Sommige lirieke bly vir my ’n ouditiewe uitdaging. Die ongemaklike beklemtoning van vokale kan klink soos halfhartige consent:
Landmýne van skuldgevoelens (‘Brand Suid-Afrika’, Swanesang, 2006). Ek onthou ons het hardóp gebid (‘Komma’, Selfmedikasie, 2017). Werk, trou en kinders kry, en moontlik dan aan depressie ly, iemand moet vra hoe-kóm (‘Tygerberg vliegtuig’, As jy met vuur speel sal jy brand). Of ons ooit apatie reg kan spel én uitspreek, bly betwisbaar (‘Hemel op die platteland’, As jy met vuur speel sal jy brand). In vorige werk was daar reëls wat standerd 8-kreatiewe opstelle kon wees: “’n Instinktiewe haat vir instansies van die bewussyn / kondisioneer my / die Bybel van pyn” (‘Vernietig jouself’). Hierdie lompheid is steeds teenwoordig met geforseerde neologismes soos “poes-op” (‘Dis nie nodig om my polse te sny nie’), maar jy aanvaar dit met deernis, soos daai koddige nefie wat jy slegs by familiebyeenkomste sien.
‘Word wakker word groot’ (Dans deur die donker) is ’n gepaste strydkreet vir Maandag wanneer jy in die verkeer vassit. Die liriek “die kinders skree en probeer ons wakker maak terwyl ons hulle forseer om te gaan slaap” kan ’n metafoor wees, of dit kon deur ’n moedelose ouer van ’n slapelose kleuter geskryf wees. (Hunter Kennedy vertel my juis oor die produksie van die album: “Ons sal jam, en dan moet ons 13:00 breuk om die kids by die skool te gaan haal.”)
Fokof was nog altyd sosiaalbewus, maar anders as Voëlvry, huiwerig om polities-uitgesproke te wees. In ‘Goeie ou dae’ (Dans deur die donker) waag hulle wel ’n eg Suid-Afrikaanse protes met “watter deel van die goeie ou dae mis u? Is dit die passewet of die potpourri?” Kennedy skerm deur te sê hy “verwys na die globale fenomeen van die beroepspolitikus”, maar kom ons wees eerlik: Dis lirieke reg uit die ou woonkamer waar die swaar gordyne altyd dig toegetrek is en die deur slegs oopgemaak is vir die dominee se besoek.*
Daar is skimme van vernuwing, maar dis steeds die Fokof van ouds. Wynand Myburgh vertel hoe eie die skryfproses aan die band is: “Ons almal is met klomp ander dinge besig, maar wanneer ons aan ’n Fokof-album werk, maak ons tyd om meer met mekaar uit te hang en random gesprekke oor ’n klomp dinge te voer. Uit daardie gesprekke begin die songs dan loop. Johnny [de Ridder] en veral Hunter [Kennedy] is baie goed daarmee om ons energie, denke, ensovoorts in die musiek vas te vang. Dis moeilik om te weet presies wat ’n mens wil doen of hoe dit gaan klink, maar ons het ’n formule wat ons al vanaf die begin gebruik. Dit is: Ons wil musiek skryf wat die vyf van ons wil hoor. Ons vergeet van die wêreld daarbuite en skaaf tot al vyf van ons die thumbs-up gee. Op ’n manier is dit ’n selfish approach, maar dit is wat Fokof is. Dit is wat ons vyf in daai stadium wil hoor. Dan hoop ons dat ander mense dit ook sal like.”
Op 40+ is hul klank duidelik meer volwasse, afgerond. “Ons wou ’n album maak, eerder as ’n collection of singles,” sê Kennedy. “Ek dink nie ons sal ooit ons styl verander nie. Ons gaan probably soos The Stones aankap tot ons 80 is en dinge op ons eie doen, want dis pret.”
Waar is die nuwe bands dan? Is ons verdoem tot jul voosgevatte bekendheid en die eindelose landskap van inoffensive pop? vra ek. “Ons ís die heritage act,” antwoord Kennedy. “Die enigste rede hoekom ons by Liefde By Die Dam optree, is omdat Pierre [Greeff, van Heuwels Fantasties-faam] dit organise. Ek weet ek klink dalk oud as ek dit sê, maar daar is nou weer ’n groundswell wat terugskop teen die tediousness van autotune, van perfection. Fok, hier is die baton, vat hom.”
Tekkies aan, oorfone op, mik ek die teerpad in ná ’n lang werksdag en probeer die styfheid wegdraf. Fokof was nog nooit groot kuns nie, maar soos ek vaart kry, weet ek: Daar is ’n plek in my hart waar slegs Dans deur die donker my heen kan vat.
*Met erkenning aan my penmaat, Deon Lamprecht.
Luister hier na die album.