Albert Frost is die real deal

Albert Frost is die real deal

Anelia Heese gesels met ons eie donkerprins van blues in Berlyn

Albert Frost het onlangs by ’n rits venues in Duitsland opgetree as deel van sy Europese toer vir die Pfingstrock-bluesfees. Ek het by my Berlynse kantoor getjaila om met ons eie Hendrix uit Suid-Afrika, soos hy dikwels beskryf word, te gesels.


Niemand het al ooit weens die weer Berlyn toe getrek nie. Die stad is op ’n moeras gebou. Wanneer dit koud is, sneeu dit nie. Wanneer dit warm is (selde), is dit bedompig en klewerig. Ons is hier vir die kultuur. 

Dis ’n ongewoon lieflike sonskyndag by die Kulturbrauerei in die yuppie-buurt, Prenzlauerberg. Die venue is ’n kort opsomming van Berlyn se geskiedenis: vroeë jare ’n bierbrouery vir die werkersklas, waarna dit tydens die oorlog as ’n “Nationalsozialistischen Musterbetrieb”, of “allervoorbeeldigste Nazi-maatskappy” bestempel is. In die 70’s word die vervalle industriële perseel ’n teelaarde vir die legendariese techno rave scene. Ná die val van die Muur word dié kompleks ’n politieke speelding vir die burgemeester en beleggers totdat dit vandag in kantoorspasie omskep is. ’n Paar kulturele aangeleenthede word dan en wan deur die stadsraad gereël om die ouer garde in die buurt gelukkig te hou.

Ek is by verre die jongste mens wat op ’n Donderdagaand hier aangewandel kom om ’n gratis blueskonsert te kom kyk. Behalwe vir die denim-on-denim kon ek myself net sowel in ’n bejaarde plattelandse NG Kerk bevind.

Albert is óók dekades jonger as die trekpleister vir die Duitse crowd. Vandag speel hy saam met die basspeler, Manne Pokrandt, van die geliefde DDR-band, Engerling, wat hierdie jaar hul vyftigste bestaansjaar vier.

In die laatmiddagson trek hy los, die riff soos ’n lap wat skeur. Dan begin die klank vorm kry: ’n meesterlike mengelmoes van rock/folk/blues, delta blues, psychedelic rock en daardie inheemse ghoema-ritme uit die suidpunt van Afrika. Albert se kitaargoëlery maak iets in die gryskoppe los en hulle begin beweeg wat hulle kan. Dis ’n knik hier, ’n knik daar, ’n golfie wat oor die skouers spoel. 

Albert sê iets oor blues wat eintlik folk is en dat dit uit Afrika kom, en dan laat waai die trio met ‘Money money’, ‘Everlasting’ en ‘Catfish blues’. 

In die laatmiddagson trek hy los, die riff soos ’n lap wat skeur. Dan begin die klank vorm kry: ’n meesterlike mengelmoes van rock/folk/blues, delta blues, psychedelic rock en daardie inheemse ghoema-ritme uit die suidpunt van Afrika.
— Anelia Heese

Wanneer ek hom ná die show ontmoet, besef ek dat Suid-Afrika se donkerprins van blues, soos Anton Marshall en Miles Keylock hom in Rolling Stone beskryf, se saligheid meestal op die verhoog te vinde is. Daar is ’n kriewelrigheid, ’n haastigheid wanneer hy gesels, asof die afwesigheid van ’n kitaar in sy hande hom ontwapen laat.

By die kroeg aangekom, gewaar ons ’n groep jong mense wat hulle lewe vir een of ander TikTok-gehoor uitsaai. Hy kyk kopskuddend na hulle en sê: “In this day and age, live music is the only real space that’s left, really.” In ’n ander konteks sou ek wou terugkap met: “Okay, boomer.” Maar Albert is geregtig op hierdie kommentaar. Willim Welsyn het Albert in sy liner notes van ’n 2013-opname só opgesom: “Frost didn’t become The One by means of nifty press releases, media hype, funky Facebook photos or pretty overproduced flash-in-the-pan studio albums. He became The One by playing live… a lot.”

Albert speel baie en lank. Hy speel kitaar sedert hy 12 jaar oud is en het as sewentienjarige saam met sy pa in die band, Blues Broers, begin optree. In Suid-Afrika speel hy gemiddeld vier shows ’n week en het oor drie dekades meer as 2 500 shows op sy kerfstok. 

Hy geniet dit om in Duitsland te toer, vertel hy, want alles werk hier en hy hoef net op te daag en te speel. In Suid-Afrika is die infrastruktuur nog nie daar nie. Tussen die reëlings en die promo en die stage set-up, is dit, “ironies genoeg, asof die tyd op die verhoog, wanneer jy perform, die enigste blaaskans is wat jy kry!”

Albert speel ook saam met ander kunstenaars. Sy collab Rolodex sluit in name soos Arno Carstens, Koos Kombuis, Anton Goosen, Chris Chameleon, Frosted Orange, Karen Zoid, Henry Ate, Neil Sandilands, Tubatsi Mpho Moloi, Robin Auld en vele ander. Is hy ’n huursoldaat as hy ’n session musician is, wil ek by hom weet? “Nee, ek is eerder ’n musikale slet,” lag hy. Maar hierdie smid het tog standaarde. “Ek kon seker baie geld gemaak het as ek in Steve Hofmeyr se band sou speel, maar ek kan dit eenvoudig nie doen nie.” 

Frost didn’t become The One by means of nifty press releases, media hype, funky Facebook photos or pretty overproduced flash-in-the-pan studio albums. He became The One by playing live… a lot.
— Willim Welsyn oor Albert Frost

Waarna soek hy dan as hy nie in Afrikaans is Groot wil wees nie? “I’m always looking for that thing.” Hy begin vinniger praat, tas na woorde. “That thing, that moment where a conversation starts… With the band, with the audience. That’s where the magic is.”

Dis seker magies, ja, as jy in ag neem dat dié SAMA-wenner geen formele musiekopleiding het nie. “Selfs al kan ek nie musiek lees of skryf nie, is my werk ’n bewys dat you don’t need a degree to be a musician. I only miss it sometimes, when working with other professional musicians. But I know that if I start trusting my eyes more than my ears, I will fuck it up.” Hy voeg by: “Elke mens kan musiek of kuns maak. Ek specialise net daarin.” 

Toe hy in 2020 in ’n fratsongeluk byna sy duim verloor het, was dit maar naelskraap. “Ek sê vir die sjirurg: Jy moet verstaan, ek maak nie net musiek omdat ek wíl nie – dis al wat ek kán doen. Sonder my duim het ek nie ’n lewe nie. Jy beter dit regmaak.” Hy het sedertdien herstel en gaan van krag tot krag. In 2021 het hy sy derde solo-album, Sacred sound, die wêreld ingestuur. Dis ’n huldeblyk aan harde, sweterige, voetstamp-rock ’n roll en ’n duidelike wegbreek van Sharp Street en Been around se groovy tunes.

Ek pols hom oor die ouderdom van die gehoor. Het die tyd aangebreek vir blues om ’n genadedood te sterf? Dit ís ’n probleem, hierdie wat hy “cottonfield crowds” noem. Dis juis hoekom hy nie meer suiwer blues speel nie, en dit is deels hoekom hy uit die Blues Broers moes kom. 

Maar blues is meer deurdringend as wat ons besef, verduidelik hy. “Dis eintlik in alles wat ons vandag luister, want dis die oerklank van musiek, oor kulture heen. Dis ’n cliché line, ek weet, maar blues is a feeling. It’s the ultimate way to express the human condition. Blues, unlike jazz, is more powerful in its simplicity. This whole A, D riff, with the B being the breath, the minor chords over a major chord… It doesn’t make sense on paper, because it’s supposed to clash. But that’s exactly what reverberates with people, because it sounds like life.”

En wat kan hy sê oor die man wat hom aanvanklik oor die blues geleer het? “One thing I got from my father, is this idea that music has to be pure. That it’s best live, with people. And that music is something worth celebrating.”

In ’n wêreld waar die meerderheid tieners nuwe musiek deur TikTok-video’s in 15 tot 30 sekonde sarsies ontdek, is live musiek seker ouskool. Maar wie weet, in ’n wêreld wat so vinnig aan’t verander is, mag dit dalk tydloos bly. Mits ons die Mystic Boers en die Smoking Kills en die Rockey Streets aan die lewe kan hou.

Foto’s verskaf deur die skrywer


Albert Frost vier hierdie jaar drie dekades in die musiekbedryf. Hy toer in Oktober saam met die ander Suid-Afrikaanse kitaarlegende, Dan Patlansky, by die Barnyard-teater (3 Oktober in Pretoria, 4 en 5 Oktober in Johannesburg, 8 Oktober in Durban en 15 Oktober in Kaapstad).

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Albert Frost is die real deal gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand