Van Boeremusiek tot Bernoldus Niemand

Grafika: Andréa Müller. Foto’s: Verskeie bronne, soos vermeld in die artikel.

'n Omvattende musiekgeskiedenis van upset en verset

Redakteursnota: Musiekjoernalis en tromspeler Carsten Rasch deel hier ’n ruim en vrygewige geskiedenisverhaal wat strek van die oorsprong van boeremusiek en ghoema, vastrap en langarm, na die opstandige en antagonistiese rockmusiek en avant-garde teater wat hy eerstehands as jong man in Suid-Afrika se 80’s counterculture scene geluister en ervaar het. Word gemaklik, skink jou koffie/tee/wyn/brannewyn en hou jou oorfone byderhand dis ’n lang en opwindende reis deur die (Suid-) Afrikaanse musiek- en kultuurgeskiedenis dié, met ‘Daar kom die Alibama’, ‘Suikerbossie’, ’n singin’ cowboy wat wille truuks op sy perd uitvoer en die legende van Bernoldus Niemand wat as besienswaardighede op hierdie pad wag. So, buckle up en maak gereed om ’n paar afdraaipaaie na Wikipedia en YouTube rabbit holes te neem. Dis die scenic route lekker lees en lekker luister.


I. Hier kom 'n ding!

“Uiteindelik! Die rebellie het begin! Jirre, dis omtrent tyd … ” Dít was my gedagtes destyds in 1988 nadat ek Piekniek by Dingaan by die Baxter-teater gesien het. Te lank was die Afrikanerjeug deur die selfvoldane nasionalisme van hul ouers verlei. Wat sou dit verg om hulle uit die laager en op die strate te kry? Wie sou die moed hê om die els op te tel en die borrel te bars waarin Afrikaners hulself vreesbevange toegemessel het? Nadat ek hierdie show gesien en Ralph Rabie (later Johannes Kerkorrel) ontmoet het, het ek wel geweet: Hier was ’n klomp mense wat nie net die skrif aan die muur gesien het nie, maar sommer besluit het om spottend verder daaraan te las.

Piekniek by Dingaan, ’n soort kabaret, is geworkshop deur Rabie, Gustav Geldenhuys en Marthinus Basson, onder andere. Die teks is glo gebaseer op ’n paar notas van André Letoit (toe nog nie Koos Kombuis nie). Gerrit Schoonhoven, ’n opkomende jong teaterregisseur van Potch, het die regie behartig. Willem Möller en Jannie van Tonder was in die band. Die oomblik wat die vertoning begin het, het jy geweet hier kom ’n ding! 10 minute later was die verhoog sopnat met die bloed van die heilige koeie wat die crew wellustig geslag het. Sonder verskoning kondig hulle aan dat die tyd van beleefdheid verby is. Ou bekendes soos Sonja Herholdt se ‘Waterblommetjies in die Boland en Randall Wicomb se ‘Dans met die rooi rok’ is honend uitmekaargeskeur; hulle lirieke is vervang met nuwe woorde wat die sentimente van die dag weerspieël. Die gehoor juig die slagting uitbundig toe. Fok NP van Wyk Louw en sy voorstel van “sagte, lojale protes”, en fok die belofte van die Musiek- en Liriekspul om verandering van binne te bring. Dít het nie gewerk nie. Vuur kan slegs met vuur bestry word.

Dit het my baie aan Zeesen Radio herinner, ’n samewerking tussen Guillaume Rossouw (ook bekend as Guill Gapp), oerpunk en sanger van die Safari Suits en Housewife’s Choice, en Chris Pretorius, die impresario agter die radikale Glasteater. In 1980 – agt jaar voor Piekniek by Dingaan – het hulle by die Breughel, ’n kafeeteatertjie wat ek in Stellenbosch bestuur het, ’n paar shows gedoen. 

Zeesen Radio was oorspronklik die naam van die oorlogtydse Nazi-propaganda-radiostasie wat na die buitewêreld uitgesaai het, insluitend Suid-Afrika, waar ’n beduidende gedeelte van die Afrikanerbevolking die Nazi’s ondersteun het. Rossouw en Pretorius se plan was nie om hulde te bring nie. Inteendeel. Die gehoor het nie geweet of hulle kom of gaan nie. Ek twyfel of hulle al ooit so ’n anargistiese show gesien het. Ek weet ék het nie. Die woord het blitsig versprei deur Stellenbosch se piepklein groepie goddeloses, stoutgatte, sosialiste en roekers, en alle vertonings is gou uitverkoop, selfs oorverkoop. Dat die boere nie daar opgedaag en ons toegemaak het nie, was nogal verbasend, want die show was grootliks in Afrikaans, met ’n Bybel en die FAK as rekwisiete duidelik sigbaar as simbole van die fascistiese regering.

Hein Marais, Die Matie-kritikus, het die volgende daaroor te sê gehad:

The music, although occasionally disjointed and haphazard, was ravaging and thrilling. The abrasive textures that meshed and then eased into meandering rhythms bore a bold human quality that sometimes brought the subversive exercises of Cabaret Voltaire and Throbbing Gristle to mind.

Inderdaad. Dalk het die bottel whiskey wat Guillaume, Chrissie Sharp, Megan Kruskal en Bo Peterson kort voor die vertoning van kant gemaak het, iets daarmee te doen gehad. Dit het in elk geval die nodige litte losser gemaak.

Kunstenaar onbekend. Via jamesphillip.co.za.

Teater, veral die radikale eksperimentele teater van The Space, die Baxter, die Glasteater, die Black Sun en The Market (in Johannesburg), was uitdagend, prikkelend en aan die voorpunt van verset. En omdat die counterculture in die 80’s so klein was, het almal geweet wat die ander doen, of dit nou letterkunde, teater, musiek, dans of film was. Die meeste hiervan was egter Engels, en nou (so het dit in elk geval gelyk) was Afrikaans uiteindelik gereed om deel te neem. Maar verset is gesien as verraad. ’n “As jy nie vír ons is nie, is jy teen ons”-tipe ding. Jy is gebrainwash van jongs af oor die politiek, die Swart Gevaar, die rooi komplot, en dit was vrek moeilik om oor daardie lyn te trap.

Piekniek by Dingaan, Zeesen Radio en natuurlik die Voëlvry-toer met Bernoldus Niemand, Kerkorrel en Koos Kombuis ’n paar jaar later was onmiskenbaar radikale verset. Maar om te verstaan presies hoe radikaal, moet ons teruggaan in die geskiedenis van Afrikanermusiek, wat eng gekoppel is aan die ontwikkeling van Afrikaneridentiteit. Nie dat daar veel oor geskryf is nie. Trouens, die gebrek aan literatuur oor die ontwikkeling van Afrikanermusiek is só beperk dat dit eintlik verdag is.

II. Om te ploeg, nou met 'n ander man se kalwers

Dit het als begin in 1707, toe ene Biron van Mallabaar, ’n VOC-slaaf, gearresteer en veroordeel is omdat hy glo ’n “onkiese liedjie” in die publiek gesing het in ’n taal wat half-Maleis-half-Hollands was. Van Biron weet ons bitter min. Sy naam stel voor dat hy dalk op ’n stadium ’n Franse meester gehad het en vernoem is na Armand de Gontaut, Baron de Biron, ’n bekende Franse kommandeur van die vorige eeu. Dalk is dit net ’n verbuiging van ’n Malgassiese of Indonesiese naam. Hy kon wel Maleis praat en sy van is Van Mallabaar, dus was hy oorspronklik van Batavia. Ons weet hy kon sing, ons weet hy was meertalig, ons weet hy was ’n kneg en ons weet hy is gestraf. Dus weet ons dalk veel meer van hom as van die meeste ander slawe aan die Kaap. Maar wat was die deuntjie? Hoekom het hy dit gesing? Dalk was hy moerig (slawe het oorgenoeg redes gehad om moerig te wees), dalk wou hy net ’n punt maak, of dalk was hy net ’n bietjie aangeklam. Wie weet? Beskikbare dokumentasie verskaf nie veel inligting nie, want hy was immers ’n slaaf, hoegenaamd sonder enige regte. Hoe is hy gestraf? Wie weet. Enige van die volgende sou van toepassing wees: lyfstraf, openbare vernedering, korttermyn gevangenisstraf, of harde arbeid. 

Dit is moontlik dat Biron musiek gebruik het om sy misnoeë bekend te maak en dat die song iemand, sekerlik ’n Hollander, voldoende geïrriteer het, óf met die woorde óf die manier waarop dit gesing is óf die mix van tale. Vir die skamele oortreding het hy moontlik swaar betaal. Ek stem dat Biron die titel van ons eerste musikantaktivis verdien en dat, wat ook al sy song was, as die eerste ghoema-song van verset gesien kan word.

Ek stem dat Biron [van Mallabaar] die titel van ons eerste musikantaktivis verdien en dat, wat ook al sy song was, as die eerste ghoema-song van verset gesien kan word.
— Carsten Rasch

Ghoema is die naam wat gegee is aan die musiek wat besig was om in die Kaap te ontwikkel, en nes die Afrikaanse taal, is dit die slawe en hulle afstammelinge wat daarvoor krediet moet kry.

Daar kom die Alibama, wat in 1863 (amper ’n halfeeu ná Biron se rebelse uitinge) geskryf is, is van die eerste ghoema-liedjies wat opgeskryf is in die geskiedenis. Die song, wat dalk deur ’n ramkie (’n snaarinstrument wat moontlik op ’n Portugees-Indonesiese of dalk Malgassiese luit gebaseer is) en ’n gommie (’n drom vervaardig uit ’n wynvat) begelei is, sou by pieknieks of ander partytjies gesing en op gedans word. 

Teen dié tyd het die kadriel en die wals, asook die polka en mazurka – almal Europese danse – al hul verskyning in die Kaap gemaak. Dié danse het elkeen sy eie unieke beat en het langsaam deur die nuwe musiek wat aan die ontwikkel was, gesypel, met die uiteindelike verskyning van ’n splinternuwe dansritme met die lekker beskrywende naam van vastrap. 

Vastrap was die voorganger van boeremusiek aan die een kant, en die Kreool-langarm aan die ander, terwyl dit die gekose ritme van die rieldans geword – en gebly – het. Hoe die vastrap/boeremusiek van daardie tyd geklink het, is ’n raaisel. In die begin het iemand dalk ’n gommie gespeel met ’n ramkie (of dalk ’n ramkietjie met net een snaar, volgens Louis Leipoldt) en met ’n viool of ’n tjello, maar dit was slegs toe die konsertina, banjo en mondfluitjie verskyn, van so 1870 af, dat vastrap en boeremusiek sy unieke klank en ritme bekom het. Let wel: Die Voortrekkers het nie boeremusiek gemaak nie.

Presies hoe dié musiekallegaartjie met al sy invloede ontwikkel het, is ook net ingeligte gissings, want amper niks is neergeskryf nie en omtrent alles is mondelings oorgedra. Alex van Heerden, oorlede trompet- en konsertinaspeler van formaat, het gedink dat boeremusiek, en veral die vastrapdans, ’n gemeenskaplike geskiedenis deel met kreoolse musiekgenres wat ontstaan ​​het uit kontakte tussen Europese koloniste, die Khoikhoin (veral diegene wat as plaasarbeiders gewerk het) en slawe. En dit het hoofsaaklik op die plase gebeur. 

Dit maak goed sin. Uiteraard is boeremusiek presies wat dit gesê het dit is – musiek gemaak deur boere vir boere, en dus ’n plattelandse verskynsel, eerder as ’n stedelike een. Ons praat nou van die tyd voordat Wit Kapenaars as Afrikaners geïdentifiseer het, toe hulle na hulself as boere verwys het, wat later Boere met ’n hoofletter B geraak het, ’n etnisiteit. Nes die ghoema-musikante, was die meeste van die Boere wat vastrap en boeremusiek gespeel het, ook “kaalvoet”-musikante. Ongeletterd en selfgeleerd, kon hulle nie musiek lees nie. 

Die uitliggende distrikte was groot en nie dig bevolk nie, met plase ver uitmekaar, dus was die boeremusiekorkeste merendeels net bekend in die streek waar hulle gewoon het en by troues en partytjies gespeel het. Hulle het nie eers name gehad nie. Die benaming van die orkeste het eers gebeur in die 30’s, toe platemaatskappye hulle wou opneem. Elke orkessie het sy eie liedjies “geskryf” en was blykbaar nogal besitlik daaroor. Heelwat later, toe die legendariese konsertinaspeler van die Vier Transvalers, Faan Harris, eendag by ’n kompetisie tot sy verbasing hoor dat iemand een van sy welbekende liedjies ‘Die hartseerwals’ speel, het hy die jonger man wat dit gespeel het, ná die tyd nader geroep en gesê: “Jy ploeg nou met ’n ander man se kalwers.”

Die musiek self was meestal vrolik, soos dansmusiek behoort te wees, en die titels van die liedjies beïnvloed deur Boerekultuur: ‘Ou waenhuis’, ‘Vrolike voete’, ‘Warmpatat’, ‘Jemkoek-polka’. Daar was geen politiek betrokke nie en absoluut geen verwysings na ras, etnisiteit of patriotisme nie. Dít sou die job van die politici en latere volksvaders word.

III. Netnou dans die mense!

Die heel bekendste Afrikaanse liedjie is sekerlik ‘Suikerbossie’. Fred Michel, ’n haarkapper van Observatory, het die boeremusiek-song geskryf, en dit is vir die eerste keer in 1933 deur sy orkes, Michel en sy Lekker Kêrels, opgeneem. Die oorspronklike opname het nie veel roeringe veroorsaak nie, maar opnames daarna, ene David de Lange, onder andere, het verstommend gewild geword en baie geld verdien vir byna almal wat dit gesing, vertaal of opgeneem het – almal behalwe die oorspronklike komponis. Dit is selfs in Engels vertaal.

Tydens die Eeufeesviering in 1938 het die gewildheid van ‘Suikerbossie’ tweespalk gesaai onder die Afrikaners en was dit die oorsaak van ’n langdurige bekgeveg tussen die ondersteuners en teenstanders daarvan. Die organiseerders van die Eeufees was die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en die Afrikaner Broederbond. Vir die nasionaliste was ‘Suikerbossie’ die simbool van alles wat verkeerd was met die nasie. Hulle pogings om ’n nasie te bou deur (Wit) Afrikaners te manipuleer om hulle volksbestaan te herontdek het gedreig om te ontaard in ’n klassestryd tussen die nasionalistiese elites en die werkersklas, arm Wit mense en boere wat nie die vereiste onderskeid tussen Wit en die nie-so-Wit kon of wou maak nie.

Hierdie vieringe, ’n gebeurtenis van enorme afmetings wat deur Henning Klopper, die stigter van die Afrikaner Broederbond, bedink is, was bedoel om die nasionalistiese droom te mitologiseer en die idee te versterk dat die Boerevolk, soos die bybelse Israeliete, Egipte (die Kaap) verlaat het, na die Beloofde Land getrek het, baie ontberinge en teenstand verduur het, maar met die hulp van die Almagtige God as oorwinnaars te voorskyn gekom het. Die onsinnige idee van die “uitverkore nasie”, iets waarmee ons Afrikaners almal grootgeword het, is juis hier geskoei. Die verhale van die moed en uithouvermoë van ’n godvresende en nederige nasie; die legendes wat rondom die Trekkerleiers en die Boeregeneraals ontstaan ​​het, tesame met die propaganda wat deur die Afrikaanse pers versprei is, het die Eeufees van 1938 ’n sukses gemaak (en ongetwyfeld aansienlik bygedra tot die Nasionale Party se oorweldigende verkiesingsoorwinning 10 jaar later). ’n Dawerende sukses, behalwe vir een klein dingetjie: die sang … of liewer, die gebrek daaraan.

’n Spesiale uitgawe van Die Huisgenoot tydens die 1938-Eeufeesvieringe. Foto via mediamense.com

Die ruggraat van die Eeufeesviering was ’n herlewing van die Groot Trek, met ’n aantal ossewaens wat die oorspronklike roetes van die Voortrekkers van ouds gevolg het. Hulle is toegejuig waar ook al hulle gegaan het. Byeenkomste is gereël by die uitspanplekke – pieknieks, nie danse nie – met ’n program van sang en volkspele gevolg deur ’n gebraaiery, en dis hier waar die nonsens begin het. 

By hierdie byeenkomste is die publiek aangemoedig om die liedere te sing wat so trots in die FAK aangebied word, liedere soos ‘Die Stem’, die Transvaalse Volkslied, en gesange soos ‘Prijs die Heer met blye galme’. Maar wanneer die mense moes sing, is die meeste van hulle tjoepstil, met net ’n handjievol halfhartige pogings. Trouens, die gesingery was so vrot dat dit die bron van groot ontevredenheid geword het. “Wat gaan aan met ons mense?” het die volksvaders hulself gevra. “Is ons ’n nasie van sanghaters?” 

Maar later, toe die piekniekskare die tradisionele gemmerbier verruil vir hardehout en die ouens hulle konsertinas, bekfluitjies en banjo’s uithaal en ‘Suikerbossie’ en ‘Brandewyn laat my staan’ begin speel, het almal skielik hul stemme gevind en uit volle bors begin sing. Duidelik kon hulle sing, hulle wou net nie die FAK-liedjies sing nie.

Maar later, toe die piekniekskare die tradisionele gemmerbier verruil vir hardehout en die ouens hulle konsertinas, bekfluitjies en banjo’s uithaal en ‘Suikerbossie’ en ‘Brandewyn laat my staan’ begin speel, het almal skielik hul stemme gevind en uit volle bors begin sing. Duidelik kon hulle sing, hulle wou net nie die FAK-liedjies sing nie.
— Afrikaners is plesierig, aldus Carsten Rasch oor die skare by die Eeufeesvieringe van 1938

Ontevredenheid het gou in woede verander. Hierdie drinkery en gespelery van boeremusiek was te veel! Netnou dans die mense! En almal weet dat ’n gedansery net tot een ding lei: ontug! Vir godvresende Regte Afrikaners wat op die punt staan ​​om ’n volwaardige nasie te word, was hierdie losbandigheid ’n gruwel wat in die kiem gesmoor moes word. Dus het hulle hul opinies na die briewe en opinieblaaie van koerante soos Die Burger (waarvan DF Malan die vorige redakteur was) en Die Transvaler (waarvan HF Verwoerd die redakteur was) geneem, en ’n woordeoorlog was die gevolg, met ‘Suikerbossie’ as die middelpunt.

David de Lange, wat in 1935 ’n opname van ‘Suikerbossie’ saam met Willie Welgens en George Abrahams gemaak het, en wat deur Gallo Record Company vrygestel is, was die man wat die song so gewild gemaak het. Inderdaad, die song was só gewild hulle het hulself Die Suikerbossie Orkes begin noem. Teen die tyd van die Eeufees is glo 250 000 ‘Suikerbossie’-plate verkoop. As in ag geneem word dat die Afrikanerbevolking destyds slegs 1,6 miljoen getel het, kan mens reken dat byna elke huishouding in die land een van die plate gehad het.

De Lange was ’n man wat hard kon party hou. Hy’t gesmaak van ’n gefuifery en het moeilik “nee dankie” vir ’n dop gesê. Songs soos die begeesterde ‘Boomstraat se nooiens’, die rooiligdistrik van Pretoria, was die tipe lied wat hom geroer het. Dit was ’n plek waar hy self lekker gekuier het. Willie Welgens, sy konsertinaspeler, en Gamza Karriem, sy banjospeler, het by De Lange geloseer en sy huis gedeel. Hoe De Lange en Gamza oor die weg gekom het, was ’n godswonder. Gamza was ’n Moslem wat sy naam desnoods moes verander na George Abrahams, sy Joodse ouma se van, om te kan aanhou speel gedurende die tyd van Afrikanernasionalisme. Hy het glad nie gedrink nie. 

De Lange het vere gevoel vir die nasionalistiese nonsies. Hy en sy maters was glad nie die tipe rolmodel wat Kloppers en Anton Hartman, nuutaangestelde hoof van musiek by die Suid-Afrikaanse Uitsaai Korporasie, en ander Broeders in gedagte gehad het nie. Hulle was besig om ’n nasie te bou geskoei op ’n Europese model, nie die Kaapse allegaartjie nie. Dus was Hartman se keuse van musiek Europese kunsmusiek en ’n uitheemse gogga wat hy “ligte Afrikaanse musiek” genoem het, meestal vertaalde musiek van Duitsland en Oostenryk. Vastrap en boeremusiek was gagga, die gekonkelry van ongeskoolde boeremusikante van twyfelagtige oorsprong. 

David de Lange se orkes, Die Naglopers, met De Lange regs, in ’n onbekende jaartal. Foto verskaf deur Piet Bester.

Die feit dat die gewildste liedjie in die land oor die verlange na die “suikerbossie” van ’n meisie met die naam Siena gaan, was soos sout in die wond en haas onaanvaarbaar. Volgens David Kramer is ’n suikerhuis die term wat destyds gebruik is om ’n hoerhuis in Distrik Ses te beskryf. (Gebruik gerus jou verbeelding oor wat ’n suikerbos is.)

Die tragiese gevolg was dat al David de Lange se musiek, en sommer vastrap en boeremusiek in die algemeen, deur Hartman as ongewens en ongeskik bestempel is. Ten spyte van ‘Suikerbossie’ se sukses, sou dit eers jare ná De Lange se dood in 1946 in die FAK-Sangbundel opgeneem word, of op die radio gespeel word.

Hartman se sensuur van boeremusiek was ook diep simbolies: ’n ontkenning van wat in werklikheid die oorsprong van Afrikanervolksmusiek is, naamlik ghoema, die musiek van knegte en slawe. ‘Suikerbossie’ is inderdaad ’n afstammeling van ‘Daar kom die Alibama’. 

Só het boeremusiek ’n rebelse musiek geword.

IV. Orals in die strate is die fans van Country plate – en James Phillips let op

Met net soveel van ’n inspirasie as McLaren se Sex Pistols ’n dekade tevore, het James Phillips in die 1980’s die Bernoldus-persona as ’n karikatuur van Afrikaanse musiek geskep. Let wel, nie Afrikaner-musiek nie. Boeremusiek en vastrap is Afrikanermusiek, gespeel met tradisionele instrumente soos die banjo en konsertina, trekklavier en mondfluitjie, met Afrikaanse lirieke wat stories oor en vir Afrikaners vertel. Nee, ek praat van countrymusiek, ’n styl waarmee Afrikaners hulle vereenselwig het wat, ironies genoeg, gewoonlik met Engelse lirieke gesing word. Amerikaanse countrymusiek het die Afrikaanse musiek-scene sedert die 1930’s al geïnfiltreer, van die oomblik wat die eerste plate in Amerika gedruk is en hulle pad oor die Atlantiese Oseaan gevind het, danksy die nuutgestigte Gallo-platemaatskappy se lisensie-ooreenkoms met Brunswick Records. Die Amerikaanse maatskappy het ’n redelike groot katalogus van sogenaamde hillbilly songs en tranetrekkers (dirges) gehad. Dié musiek se invloed op Afrikaanse musiek was groot en wydverspreid. ’n Goeie voorbeeld hiervan is ‘Die kalfiewals’ deur David de Lange, geïnspireer deur die liedjie ‘Shannon waltz’ deur die East Texas Serenaders.

Vra hulle – Afrikaners – hoekom hulle so mal oor countrymusiek is, en niemand kan hulle vinger daarop lê nie: dis pret, dis lekker, dis genotvol, dis ontspannend, dis nice … ja, maar daar moet tog sekerlik iets diepers wees? Die beat, miskien? ’n Eenvoudige country two-step pas goed by ’n boeremusiekpolka, want albei deel die boom-shick- ritmiese patroon, en ’n country waltz dans dieselfde as ’n boeremusiekwals.

Maar daar is tog iets wat selfs dieper as die beat gaan, wat hierdie vreemd-snaakse liefdesverhouding kan verklaar, en dit is sosiaal-politiese omstandighede. Volgens musiekhistorikus Rob Allingham deel Afrikaners ’n aantal merkwaardige “toevallighede” met hulle Amerikaanse eweknieë: die deurdringende invloed van eng Calvinistiese oortuigings; die negatiewe effek om aan die verloorkant in ’n oorlog te wees (die Anglo-Boereoorlog en die Amerikaanse Burgeroorlog); en die daaropvolgende depressie wat bankrot boere van hulle plase af gedwing het. 

Hierdie verlies van ’n landelike leefstyl – ’n verlies van self, trouens – gekombineer met ’n migrasie na die stad, het gelei tot ’n diepe swaarmoedigheid wat enersyds gelei het tot ’n voorliefde vir sentimentele tranetrekkers – “Sad songs sell”, volgens ons queen of country music, Barbara Ray – en andersyds tot ’n romantisering van daardie verlore leefstyl deur ’n bekoring met die trekgees van Amerikaanse pioneers, cowboys en die cowboy-kultuur van perdry en beesboerdery.

Cowboy-bloed vloei as’t ware deur ons wat in Afrikaanse gesinne grootgeword het, se are. As ’n laaitie in Springs (waar ek grootgeword het) was my gunstelingbioskoop-short The Lone Ranger. Dit was ’n reeks, so jy kon die Lone Ranger en sy makker, Tonto, se avonture weekliks volg. Min of meer terselfdertyd het ek Ruiter in swart, die fotoboekie-held, ontdek. 

Ben Brandt, die naam van die hoofkarakter (gespeel deur Vonk de Ridder), is ’n ZARP – Zuid Afrikaanse Republikeinse Polisie – wie se lot ’n swerwerslewe in die Laeveld is, waar hy wet en orde moet handhaaf, nes ’n sheriff in die Wilde Weste. Sy backstory is tipies ’n familietragedie: die verdwyning van sy seun, Eben. Daarna swerf hy deur die Laeveld, soekend na die langverlore seun. Maar die Laeveld wemel van skurke, beesdiewe, lae lakke en werfetters, en tussen sy getob oor sy seun en die geswerwery, red Ben menige damsels in distress van ’n nare lot. 

Ten spyte van die feit dat hierdie fotoboekies verbode in baie huishoudings was –blykbaar het die lees daarvan jou dom gemaak – was dit nogtans baie gewild. Selfs die rooinekke van Springs het dit gelees. Was James geïnspireer deur Vonk de Ridder (ook ’n skuilnaam) en Ruiter in swart? Carl Raubenheimer, James se goeie vriend en Corporal Punishment band-maat, dink so: “I’m convinced James was inspired by that poesboekie ou, whatsisname? Yep, Ruiter in swart. We used to check them out, too, you know?” Miskien wel …

Maar daar is ook ’n ander groot aanspraakmaker: Charles Jacobie, die sogenaamde Father of South African Country. Gebore in die 1920’s in ’n klein Vrystaatse dorpie, het hy nooit besef dat hy bestem is vir groot dinge die dag toe hy besluit het dat countrymusiek sy toekoms sal wees nie. In ’n ware verhaal van rags to riches, het die Jacobies, soos talle ander Afrikanergesinne, hulle familieplaas in die depressie ná die Anglo-Boereoorlog verloor. Hulle is gedwing om na die stad te trek op soek na werk en daar het Charles countrymusiek ontdek. Jacobie se pa het gesukkel om sy gesin te onderhou, so die jong Charles het die vermaaklikheidsbedryf betree nadat ’n sersant by die Fordsburg-polisiestasie hom ’n kitaar present gegee het. Hy het homself leer speel en verskeie talentkompetisies gewen. ’n Paar jaar later, terwyl hy as die opening act vir die gewilde Chinese towenaar Ling Sha deur die land getoer het, is hy deur ’n talentsoeker van Gallo Record Company raakgesien, en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Jacobie se kinderjare op ’n beesplaas het ’n groot rol gespeel in die karakter wat hy vir die verhoog ontwikkel het. Hy het grootgeword met boeremusiek, veral dié van Chris Blignaut, maar snags het hy gedroom van Gene Autry, Roy Rogers en the wide Texan plains. Dit was dus heel gepas dat die vervaardigers by Gallo besluit het om sy debuutalbum Die singende beesboer te noem, ’n kopknik na Gene Autry se Singin’ cowboy

Die Vader van Suid-Afrikaanse Country, Charles Jacobie. Foto verskaf deur Helgard Coertze.

Via Deezer

Via RYM

Die plaat was ’n reusesukses. Jacobie het sy groef gevind en hy sou dit so diep moontlik ontgin deur homself as ’n Amerikaanse skou-cowboy voor te stel. Hy het as seun leer perdry, maar nou het hy homself toutruuks en perdrytoertjies geleer. Hy het vir Roy Rogers bevriend, wat vir hom ’n cowboy-hemppatroon gestuur het wat Jacobie se vrou gebruik het om sy eie hemde te maak. Hopalong Cassidy (William Boyd) het selfs vir hom ’n spesiale stel spurs gestuur. Binne ’n paar jaar het hy 40 verskillende uitrustings bymekaar gehad, insluitend 12 paar cowboy-stewels, 12 Stetsons, ’n deftige Amerikaanse saal en selfs ’n Colt-rewolwer.

Die skare het mal gegaan wanneer ’n opgetooide Jacobie op sy perd die verhoog opry, lasso in die hand, sixgun op sy heup, terwyl hy ‘Ou ryperd’ sing. 

Ek dink James kon homself net nie help nie. Die ironie was so reg in sy kraal.

Afrikaners se bekoring met countrymusiek en die cowboy-kultuur is verwarrend, maar James het iets anders daarin gesien. Om in Springs groot te word het sekerlik iets daarmee te doen gehad. Net 40 minute noord van die myndorp is ’n klein gehuggie met die naam van Bapsfontein. Die plekkie, wesenlik net ’n versameling kleinhoewes en plasies rondom ’n hotel en ’n drankwinkel, het die eer om die plek te wees waar dit alles begin het. Wel, nie alles nie, maar beslis die verskynsel van countrymusiek in Suid-Afrika. Frans Hattingh, die hoteleienaar, het begin om bands te reël op Sondae in die oordgebied, oorkant die straat van die hotel. Oom Frans het van countrymusiek gehou omdat dit “goed” was, en hy het in daardie rigting geneig toe hy bands begin book het. Kort voor lank het letterlik duisende mense gestroom na die matinee-shows, kompleet met opgetooide Afrikaanse cowboys en cowgals wat net in Engels sing. Snot en trane was aan die orde van die dag. Ag, fok die bioscope, Deddie, ons wil Bapsfontein toe gaan!

Foto’s van Bernoldus Niemand via jamesphillips.co.za

Teen 1965 was Western-genre movies baie gewild, onder mense van alle rasse en tale. Jim Reeves het soveel plate in die land verkoop dat hy oorreed is om ’n toer hier te doen, wat daartoe gelei het dat Jamie Uys ’n film spesiaal vir hom gemaak het: Kimberley Jim, ’n kopknik na Reeves se bynaam, Gentleman Jim. Hierdie musiekblyspel was die enigste film wat Jim Reeves ooit gemaak het, en hy sou waarskynlik meer gemaak het as hy nie die volgende jaar tragies in ’n vliegtuigongeluk naby Nashville gesterf het nie. Kimberley Jim is in 1966 eksklusief in Suid-Afrika vrygestel en is met groot sukses ontvang. Hierdie film was die hupstootjie wat countrymusiek nodig gehad het om hoofstroom te word. Lance James, Bobby Angel, Gene Rockwell, Tommy “The Killer” Dell, Sally Vaughn en Bles Bridges het Jacobie se suksesresep noukeurig gevolg, opgedress in cowboy-uitrustings (maar sonder die perd- en toutoertjies).

Clive Calder se CCP het verskeie Jacobie-albums vervaardig en Paul Zamek (EMI) het verskeie groot country-kunstenaars opgeteken. Zamek beweer dat Afrikaanse countrymusiek verantwoordelik is vir soveel as 35% van plateverkope in die sogenaamde “Wit mark” – en ongeveer 10% van alle plateverkope in alle markte. Die syfers is nie te versmaai nie.

Country was ewe skielik Groot. Baie Groot. Eintlik enorm. Ander platemaatskappye het ook begin inloer en enigiemand wat ’n paar cowboy boots en ’n Stetson besit het, en wat ’n paar note kon sing, is naarstigtelik gesign deur platemaatskappye. Die vermoë om te jodel was ’n bate. Almal is betower deur die eentonige geklingel van die tills, selfs die A&R-manne wat toe-oog gestaan en skiem het oor rakke in platewinkels propvol plate van boepens ooms in Stetsons en blonde tannies in knielengte frill-rokkies en wit cowboy boots wat saam tranetrekkers sing oor verlore liefde wat weer gevind word. 

Maar vir ons, die eiesinnige punks, new wavers en rockers wat in die onderbuike van die stede gejol het, was dit hel. Nie een van ons sou dood in Bapsfontein, die speelplek van ons besnorde vyand, gevind wou word nie. Die rynsteen-versierde ingang na ’n ekslusiewe “Net Blankes”-duiwelsparadys is tog immers die hoofkwartier van die rockspiders, hairybacks, clutchplates en Dutchmen!

Wat de donner het James probeer aanvang? Waarheen was hy en Bernoldus op pad? Na rykdom en faam? So dink ’n paar mense wel, maar ek wonder. Ek dink James het die country-subkultuur probeer infiltreer juis om dit te ondermyn. James/Bernoldus sou nooit in enige stadium van die spel deel van die probleem kon wees nie. Hy was heeltemal te dwars. Hy sou liewer die oplossing wou wees! Or what?

V. 'Wie is Bernoldus Niemand?'

Min mense weet dat Bernoldus as ’n universiteitstesis gebore is, die praktiese komposisie deel van die BMus-kursus waarvoor James Phillips by Wits geregistreer was. Miskien het dit na ’n goeie plan gelyk, maar die profs, nieteenstaande sy klaarblyklike talente, moes op die ou end verskil.

Terselfdertyd was James druk besig met sy nuwe band The Cherry Faced Lurchers, wat toe net begin gig het. Mike de la Hunt was die drommer en Lee Edwards het die baskitaar gespeel. Beide van hulle was beginners, soos baie van die punk en new wave musos van daardie jare. James het hulle glo gepoach van The Worst Blues Band in the World, ’n band wat niemand nog ooit van gehoor het nie, behalwe die lede self, en selfs hulle betwis dit soms. Dit was nie lank voor Mike en Lee hulle vanne opgegee het om as Mike Lurcher en Lee Lurcher bekend te word nie, slingerende gebroeders met gesigte rooi van al die gesuipery. Maar hierdie storie gaan nie oor die Lurchers nie, dis ’n Bernoldus-storie dié. So, terug na James by Wits, ’n wêreld wat hy slim afgesonder het van sy rock ’n roll-leefstyl. Tot ’n mate, in elk geval.

Rashid Lanie, die komponis, onthou hoe hy James die eerste keer in ’n kampushysbak raakgeloop het. “There he was, long hair, kaalvoete, dishevelled, you know, and I’m just looking at him smiling at me” (Rashid lag hard oor die foon soos hy onthou). “He says, ‘howziiiiit!’. We were the two odd ones out. He was the rebel Afrikaner boy and me the sort of non-White in the department. So we bonded.”

Om die vierde jaar van die BMus-graad te voltooi moes studente ten minste vier stukke voltooide en genoteerde musiek, kompleet met tempo, maat en speelstyl, voorlê, volgens Rashid. “When James shared with me his intentions of submitting the Bernoldus songs, I was very nervous for him knowing full well the backlash that he would receive as he had shared that he was not intending to notate the music of the album as the music itself was a document to the times he was speaking to, writing to and singing to.”

[...] the music itself was a document to the times he was speaking to, writing to and singing to.
— Rashid Lanie oor James Phillips as musiekstudent in die 1980's

Sy studieleier moes gedink het dit was ’n grap toe James daar aankom met ’n opname van liedjies soos ‘My broken heart’, ’n twee minuut lange spottende snot-en-trane-song in die beste tranetrekker-country-tradisie; ‘Snor City’, ’n skreeusnaakse oefening in ironie gemik op die hoofstad, ’n plek waar “die strate […] vol country plate [is]”; ‘Boksburg bommer, ’n ode aan die Oos-Randse swaargewigbokskampioen Gerrie Coetzee; en ‘Tribute to Jody’, ’n suikersoet Hammond-orrel-tranetrekker, geskryf nadat hy Jody Wayne by die lughawe raakgeloop het. 

Sy verhandeling is inderdaad verwerp.

Volgens Lanie het James as die rebel daar aangekom, maar soos die tyd verbygegaan het, het hy begin aanpas by die streng reëls van die departement. “He had to, to get out of there” – vermoedelik met sy graad. Sy liefde vir musiekmaak was so ooglopend dat almal bewus was daarvan, maar die fakulteit was so styf soos die snor op ’n Pretorianer se bolip. 

Nadat hy geprotesteer het en meegedeel is dat hy sou druip as hy nie aan die basiese vereistes van akademiese prosedure voldoen nie, het hy later wel met die notering vorendag gekom. Dit lyk asof sy professore Carl van Wyk en Henk Temmingh en die hoof van die musiekskool professor Walter Mony gevoel het dat die Bernoldus-projek te ver gegaan het, en hy is gedruip. Hy moes die jaar maar oordoen. Maar wat nou gemaak met ’n hele album se musiek? 

Die ooglopende oplossing was Lloyd Ross en Shifty Records. Lloyd was bok vir enigiets en het nooit besluite geneem gebaseer op geld en profyt nie. Hy het in die eerste plek die musiek oorspronklik opgeneem en het nou net die Cherry Faced Lurchers se debut album vrygestel. Miskien kon Shifty iets daarmee maak. “I loved it,” sê Lloyd. “It was so leftfield.” En so kry Bernoldus Niemand sy tweede asem, dié keer as ’n misterieuse cowboy-karakter. Die album se naam sou wees Wie is Bernoldus Niemand? ’n Blerrie goeie vraag, daai. Ek kan myself net indink hoe hulle daardie storie opgekook het, met baie drinkgoed en rookgoed en dalk ’n bietjie acid boonop. (Heelwat gewigtige besluite is destyds só geneem. Geen wonder niemand kan eintlik onthou wat gebeur het nie. Dalk ook maar ’n goeie ding.) 

Dit is besluit dat die single ‘Hou my vas, Korporaal’ sou wees, met ‘My broken heart’ op die flipside. Hazel Crampton is opdrag gegee om die cover te maak, natuurlik ’n grootbek-korporaal. James het die song eintlik baie jare tevore geskryf en dit is die eerste keer opgeneem tydens ’n samewerking met Carl Raubenheimer, vir ’n kortstondige band genaamd The Illegal Gathering, omstreeks 1981. Dat hy dit destyds in Afrikaans geskryf het, was verstommend, maar volgens Carl was James reeds op daardie stadium van plan om ’n Afrikaanse album te maak. “He was talking about it,” het Carl gesê, “but then he had this weird epiphany thing, and after the Illegal Gathering he went back to Rhodes a complete nutter Christian, and he became James the Boptist instead.” 

Omslag van die 7"-plaat met ‘Hou my vas, korporaal’ op kant A …

… en die omslag op die flip-side, waarop ‘My broken heart’ opgeneem is.

Hy moes die song kort ná sy militêre diens geskryf het. Enigiemand wat in die army was, sou die klein leidraadjies in die liedjie herken, veral in die instrumentale gedeelte waar almal stront praat totdat jy die korporaal hoor sê: “Sien jy daai boom? Gaan haal hom! Ek wil hom rook!” Dit is James op sy snaaksste, maar ook dodelik ernstig. ‘Hou my vas, Korporaal’ was ewe veel ’n kreet om hulp as ’n grappige herinnering aan die army. Dit is geen wonder dat die End Conscription Campaign dit as hulle anthem gekies het nie.

Die tafel is gedek vir grootsheid. ‘Hou my vas’ sou ’n hit word, dalk ‘My broken heart’ ook (die songs is juis gekies omdat hulle verskillende markte sou raak); James sou ’n kakhuis vol geld in die bank hê; Shifty sou al hulle rekeninge kon betaal en nog heelwat oorhê; en die royalties sou nooit ophou inrol nie.

Um, nee … ‘Hou my vas’ is deur die SAUK gesensor, saam met ’n groot gedeelte van die daaropvolgende album. As ’n liedjie nie op radio gespeel word nie, versmoor dit en sterf ’n aaklige, verlate dood. ‘Snor City’ is byvoorbeeld afgekeur omdat dit in “swak smaak” is. Presies so is dit geskryf in die kantlyn van ’n SAUK-lysie afgekeurde songs wat jare later uitgelek is. Swak smaak … Kan jy dit glo! Die tipe sluwe sensuur wat deur SAUK-gatekeepers soos Pieter Human en Anton Hartman beoefen is, was die gevaarlikste, want dit is stilletjies gedoen, sonder dokumentasie. Net ’n nota in die kantlyn was genoeg, en ’n diep krap oor die snit om seker te maak dat niemand dit per abuis speel nie. 

Verkope van die single was so swak dat James uiteindelik ’n klomp kopieë daarvan skelm op die rakke van verskeie CNA-takke gaan sit het. Die verwarde personeel het natuurlik geen idee gehad waar die plaat met die brutaal-skreeuende korporaal vandaan kom nie. Snaaks, nè? Maar dit was ’n daad van stille desperaatheid.

Mens kan maar net droom oor wat kon gebeur het, as alles volgens plan verloop het.

Bernoldus se storie is ook die storie van ’n hele era van Suid-Afrikaanse musiek wat doelbewus onderdruk en van hulle suurstof ontneem is deur agentskappe van die apartheidsregering. Die musiek was net te opstandig vir sy eie beswil. ’n Regte clusterfuck van epiese proporsies – so erg, daar is nie eers ’n Afrikaanse woord daarvoor nie. 

Bernoldus se storie is ook die storie van ’n hele era van Suid-Afrikaanse musiek wat doelbewus onderdruk en van hulle suurstof ontneem is deur agentskappe van die apartheidsregering. Die musiek was net te opstandig vir sy eie beswil. ’n Regte clusterfuck van epiese proporsies – so erg, daar is nie eers ’n Afrikaanse woord daarvoor nie.
— Carsten Rasch

In heroorweging, egter, was die hele Bernoldus-sage so briljant as wat dit tragies is. Die idee om jouself – as ’n self-erkende rooinek – binne ’n hegte cowboy-kultus in te wurm, om as’t ware agter vyandelike linies te operate, was so dapper as wat dit naïef was. Om jouself as die onbekende cowboy voor te doen en ’n karakter so absurd soos Bernoldus Niemand te skep het ’n merkwaardige mengsel van genialiteit, spitsvondigheid en durf geverg. Niemand het nog ooit so iets probeer nie – nêrens in die wêreld nie, sover ek weet. Dit was teater uit die boonste rakke, ’n satire so skerp uitgevoer dat selfs Pieter-Dirk Uys die knie gebuig het.

Dit moes gehore histeries soos The Beatles fans laat gil het van ekstase, met scants en panties wat op die verhoog neerreën. Of dit moes ouens by landbouskoue in elke dorpie dwarsdeur die land met hulle pistole in die lug laat skiet het. Maar dit is Suid-Afrika, bestuur deur ’n Calvinistiese klomp rassehaters aan ’n kort leiband. Dit was nooit regtig moontlik nie.

By die bekendstelling van die album Wie is Bernoldus Niemand by die Guild Hall, in Johannesburg, was James/Bernoldus “nie beskikbaar nie” – te teruggetrokke en skaam, glo – maar sy “vriend” Janus, ook van Springs, is gestuur vir die TV-onderhoud. Janus, natuurlik, is net nóg ’n James-persona – kak aangetrek, met ’n belaglike (plastiese?) snor wat halsstarrig vasklou aan sy bolip en in sy neus se pad staan.

“So, he is then choosing to make a comment on South African life?” vra die jong joernalis naïef. (Dalk het sy regtig nie geweet met wie sy praat nie?)

“Ja, well,” antwoord Janus/James/Bernoldus nadenkend, “he’s just making a comment. I don’t think he knows what on …” 

Fotograaf: John Hogg


Carsten Rasch skryf oor wat hy like, meestal World Music, musiekgeskiedenis en aspekte van counterculture. Hy is die skrywer van Between rock & a hard place: a memoir (2019, Jacana & Friction). Hy speel dromme vir Sunny Skies. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Van Boeremusiek tot Bernoldus Niemand gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand