'n Dokumentêr (of twee) oor die lewe van James Phillips
Om te keer dat Bernoldus Niemand verdwyn
James Phillips, ’n Engelsman van Springs, was nie juis gelukkig dat sy grootste sukses as musikant onder die naam van sy alternatiewe verhoogpersona Bernoldus Niemand was nie. In 1985 het hy die album Wie is Bernoldus Niemand? vrygestel: sy Engelse musiek se luisteraars was beperk en hy wou ’n groter gehoor trek. Toe hy in Afrikaans die “cultural establishment” van apartheid aangespreek het, het dit mense regop laat sit en laat luister. Die album is vinnig deur die SAUK verbied, al sou sy liedjie ‘Hou my vas, Korporaal’ die klankbaan van die End Conscription Campaign word. Phillips is tot die weermag opgeroep, maar het hom uitgespreek teen diensplig. Dit is boonop sy Afrikaanse musiek wat, na bewering, aanleiding gegee het tot OppiKoppi en die Voëlvry-beweging (deurdat dit gedien het as inspirasie vir Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel).
Phillips is op ’n jong ouderdom beïnvloed deur rock ’n roll, spesifiek deur Bob Dylan se musiek, en het so ’n politiese bewustheid teen apartheid ontwikkel. In die laat 1970’s het hy die band Corporal Punishment saam met Carl Raubenheimer en Mark Bennet gevorm. Later sou die band Cherry Faced Lurchers ontstaan. Hulle punk rock oor Suid-Afrika se vreemdhede en brutaliteite is beskryf as “menacingly sarcastic” politiese kommentaar. Die milieu waaruit die lirieke kom, is gekenmerk deur diensplig, Calvinisme, die onderdrukking van politiese debat en die pers, en geweld. Phillips is beskryf as die stem en gewete van ’n generasie wit Suid-Afrikaners. Hy was ’n satirikus, digter en bekwame liedjieskrywer.
Phillips se musiekstudies in Makhanda (toe Grahamstad) was vir hom belangrike vormingsjare. Dié tyd het gepaard gegaan met verdiepte spiritualiteit en sy groter bewustheid van wat aan die gebeur was in die townships.
Phillips se musiekloopbaan was nie sonder uitdagings nie. Hy is deur die sisteem as ’n opposisiefiguur gebrandmerk en sy musiek is nie op die radio gespeel nie, vanweë die politiese en harde aard daarvan. Hy het onder Shifty Records musiek gemaak, maar die bemarkingsbegrotings was beperk. Sy musiek, wat later meer volwasse geraak het, het nie in sy lewenstyd onder die naam van James Phillips die sukses bereik wat hy graag wou nie. Hy het nietemin ’n prominete rol gespeel in die musikale verset teen onderdrukking, pre-1994.
Daar is twee dokumentêre films gemaak oor die lewe van James Phillips. Een deur Robbie Thorpe en Lloyd Ross, genaamd James Phillips — Famous for not being Famous (2003), kyk dit hieronder. Vir meer oor James Phillips, kyk na die omvangryke webwerf oor hom wat deur Shifty Records gemaak is.
In ’n ander dokumentêr, The Fun’s Not Over – The James Phillips Story, word sy storie in sy eie woorde vertel, gesamentlik met die vertellings van Max du Preez, Zapiro, Pieter-Dirk Uys, Koos Kombuis, Vusi Mahlesela, Jack Parow sowel as Phillips se vriende en familie. Vir beskikbaarheid, kyk hier. Luister na die dokkie se klankbaan hier.