Kanarie is 'n gesang oor queer liefde
Afrikana poster (detail) deur M.J. du Preez

Afrikana poster (detail) deur M.J. du Preez

Gay soldaatjie, ja Meneer!

Mens kan net hoop dat Kanarie plaaslik opspraak sal maak en deur Suid-Afrikaners van alle agtergronde gaan kyk word. Dit het reeds by verskeie internasionale filmfeeste aandag getrek en toekennings ingepalm. Dit sê baie, want die film gaan in essensie oor ’n klompie wit mans, meestal Afrikaner, in die weermagkoor om en by die noodtoestand van apartheid. Baie Suid-Afrikaners is met rede nie juis geneig om geredelik simpatiek te wees teenoor die lot van Afrikanermans nie, nog minder die wat betrokke was met die weermag se aandeel in die geweldadige implementering van apartheid in die jaar 1985.

Die film beeld ook, uiteraard, die noue verbinding tussen apartheid en die kerk uit. Die swyg van geloofsleiers oor die vergrype van die Staat, sowel as die dogmatiese ondersteuning van die wettige aanval van talle se menswaardigheid, is integraal verbind tot die storie wat vertel word. Dit doen wel so sonder om te preek, siende dat die film fokus op die kleiner aksies van verset deur individue teen die oorhand van die sisteem. Die afbrekende én opbouende krag van liefde, haat en musiek in die aaklige tyd van oorlog is nie te versmaai nie.

Die film volg Johan Niemand, vertolk deur Schalk Bezuidenhout, deur militêre opleiding en ’n landswye toer van die Kanaries. Die kerkkoor en konsertgroep was deel van die kapelaansbediening van die Suid-Afrikaanse Weermag. Sy mede-koormaat Wolfgang, gespeel deur Hannes Otto, lei hom om alles oor homself en sy wêreld te bevraagteken. Geloof, patriotisme en seksualiteit beland in die spervuur.

Daar is waarde om getrek te word van queerwees binne ’n heteronormatiewe sisteem van onderdrukking. As wit Afrikanerman in die apartheidweermag, was die ervaar van die ander kant van onderdrukking ’n deurslaggewende besef en deelwording van die Other, soos ’n lig wat skyn deur die gordyn, wat dan met heelwat fanfare oopgetrek word. Dieper nuanse in vertellings oor alle aspekte van die samelewing gaan teen die gevaar van ’n enkele narratief – dit is wel, soos in die film beaam, nie ’n tydperk wat onthou moet word met nostalgie nie, maar met woede.

Suid-Afrika het tot vandag toe ’n sterk koorkultuur onder alle kulture, Afrikaners inkluis. Die wat in hoërskool- en universiteitskore gesing het sal die stories van verkrampte en daarteenoor verligte gasouers op toer herken. In die film ontmoet die Kanaries verskeie karakters, sommige as beskermengels van die status quo, ander wat indringend klop aan die kerk se deur oor die realiteit en effek van apartheid in Suid-Afrika. Die cameo performances van vroue kan nie misgekyk word nie.

Lovebird poster deur M.J. du Preez

Lovebird poster deur M.J. du Preez

Die groter politiese en sosiale konteks waarin die film afspeel word slim ingewerk deur Christiaan Olwagen, regisseur en mede-skrywer, met byblyende portrettonele van jong dienspligtiges (mens word herinner aan Roelof Petrus van Wyk se boek Jong Afrikaner: A Self-Portrait) en dan later saam met hulle aanhangsels en gesinne by ’n konsert, die erotiese uittrektonele van soldate op die grens, maar dan ook enkele oorlogstonele waar swart Suid-Afrikaners uitgebeeld word; of as die werkersmag, of die wat uitgebyt word, of as ’n lewelose lyk.

Olwagen se unieke styl, met sy gebruik van aaneenlopende skietwerk, droomtonele en inspirasie getrek uit musiekvideos maak Kanarie iets besonders. Die gepaardgaande simboliek van die doodsbulke van ’n koei op die grens is die toonbeeld van moraliteit wat knaag, ’n indringende wegkerwing van die brutale sisteem. ’n Sisteem wat ná lyding in een sou stort, maar in heelwat aspekte in die sloot gebly het.

Charl-Johan Lingenfelder se aandeel in die film is sonder twyfel kardinaal tot die sukses daarvan. Buiten sy rolle as mede-skrywer en musikale regisseur, is die storie wat vertel word grootliks sy eie, met Bezuidenhout wat hom in die film vertolk. Die historiese kennis en betrokkenheid wat ontstaan deur ’n Kanarie intiem betrokke te hê, wat dan ook aktief met die kultuur van die tyd omgegaan het, vestig die film as outentiek. Buiten die pittigheid is die popkultuur-verwysings na onder andere Boy George, Grace Jones, Prince, Michael Jackson en David Bowie ’n kleurvolle inspuiting tot die vertelling en klankbaan. En Mimi, mal vir Mimi!

Bezuidenhout kan nie na hierdie film bloot as ’n stand-up comedian gesien word nie. Deur die rol word hy as ’n ernstige akteur met diepte gevestig. Hannes Otto, woonagtig in New York, se spel is so gemaklik en tasbaar dat mens hom amper kan aanraak deur die skerm. Die ensemble van akteurs verdien lof, insluitend Germandt Geldenhuys as Ludolf wat die drie enigheid van die vriendekring vervolmaak, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger en Beer Adriaanse.

Die film is ’n waardevolle toevoeging tot die plaaslike aanbieding van queer cinema, saam met die onlangse Die Stropers en Inxeba, en vroeëre Skoonheid. Hoe vêr sal die sukses strek buite die kultuur waarin die film gemaak is? Dit kan en hoort verder te gaan as kykNET; dit is ryp om opgevat te word in die kanon van queer film, om te dink aan Beach Rats, God’s Own Country, 120 battements par minute, Boy Erased, My Own Private Idaho, O Ornitólogo en The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert om maar ’n paar te noem. Hopelik word die film deur internasionale aandag opgeraap.

Scrapbook poster (detail) deur M.J. du Preez

Bespreking buite die Afrikaanse bubble (prys die Here vir subtitles) sal die film verder kontekstualiseer buite die verwysingsraamwerk waarbinne dit geskep is. Die vraag oor hoe die film verkoop moet word was van oorweging met die skep van die film se plakkate. Dit is ’n coming-of-age, musical en oorlogsdrama in een. M.J. du Preez, broer van Eva du Preez wat die film se redigering gedoen het, is al vir ’n hele wyle Olwagen se keuse vir plakkate. Hy het ook Dogma (teaterstuk), Die Seemeeu (teaterstuk en film) en Johnny is nie dood nie (film) se posters ontwerp.

Die ontwerp in hierdie geval was die gevolg van ’n samewerking tussen Du Preez, Olwagen en Lingenfelder. Olwagen het heelwat visuele verwysings aangestuur en Lingenfelder album covers van die 80’s. Die airbrush styl van die eerste weergawes maak verwysings na Andy Warhol en die make-up na Johan se liefde vir Boy George. Die ou Suid-Afrikaanse vlag was in die finale Scrapbook poster weggelaat, maar bly ’n prominente merker in die film, as deel van die film se indrukwekkende art direction en set design.

Dan ook, Nader my God by U word met hierdie film ’n nuwe betekenis gegee, nes Johannes Kerkorrel Al lê die berge nog so blou ’n anthem oor queer liefde gemaak het.


Daar is ’n lekker 80’s playlist deur DJCJ, Johan en Wolfgang se 1985 Mixtape, op Spotify en Apple Music.

Die film begin 19 Oktober landswyd te speel.


Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Kanarie is 'n gesang oor queer liefde gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand