Breytenbach verkies skilder bo skryf
Maar skryf sal hy skryf
Breyten Breytenbach (79) se poësie is dig, soms ondeurdringbaar vir ’n nuwe leser. Deur sy oeuvre, wat getuig van ’n skynbaar onuitputbare bron van kreatiwiteit en werksetiek, het hy oor die jare ’n visuele en geskrewe taal eie aan homself ontwikkel. Soortgelyk aan die werk van ander visuele kunstenaars wat hulself in die domein van die geskrewe woord verdiep, ontstaan daar ’n interteks van beeld en vers wat met elke werk uitgebrei word. Die herhalende gebruik van simbole en motiewe van die voël, die oog as spirituele insig, die pampoen, sowel as die selfportret as introspeksie – wat reeds van meet af aan aangetref kan word in die kunstenaar se oeuvre – is opmerkbaar. Breytenbach is meestal bekend as skrywer, alhoewel hy self al opgemerk het dat dit eintlik skilderkuns is waarsonder hy nie sou kon, of wou, lewe nie. Hy skryf dit toe aan die geleentheid wat skilderkuns hom bied om van kleur gebruik te maak, en die tasbaarheid van dié kunsvorm – iets wat woorde nie bied nie. In ’n onderhoud vertel hy:
I prefer to paint. Painting is more satisfying and relaxing than writing. It's physical, you can smell it and feel it. And when you accomplish something, it is immediate. You have something to build on the next day. That is harder to do with a poem, those belong to a particular moment. Writing poetry is intense and poets tend to burn up early. You are building a labyrinth that often leads to illusions, disturbances and pathological dead-ends. If you only write poetry, you go mad sooner or later. Painting has kept me from that madness.
Breytenbach se geskrewe werk vereis toewyding. Die leser kan die kompleksiteit van sy werk as ’n uitdaging aanvaar om later daardeur beloon te word. Dit kan ook van buite af waardeer word, maar die meeste gaan jou dan verby. Sy kuns, aan die ander kant, ontvou op ’n manier wat nie ’n bepaalde lesing vereis nie. Dit verdiep en vergesel die poësie, maar bied ook iets vir ’n kyker van ’n ander baan. Die kunswerke in hierdie storie is deel van Breytenbach se eerste solo-uitstalling by Stevenson in Kaapstad in 2018, The 81 ways of letting go a late self, wat ook al in Pretoria in 2019 gewys het. Soos wat die naam aandui, is daar vele toetredes tot Breytenbach.
Dit is moontlik dat een van die beste plekke om ’n insig tot Breytenbach se werk te kry nie met sy direkte woorde is nie, maar met ’n diepgaande profiel wat The New Yorker oor hom gedoen het in 1993. Sy verwysingsraamwerk, oortuigings en uitsprake wat gelei het tot sy gevangenisstraf en jare in die tronk, het die kunstenaar se waardering en begrip van die wêreld onherroeplik verander.
Sy nuutste bundel op weg na kû (2019) word beskyf as ’n gesamtkunstwerk, ’n werk wat van alle kunsvorme gebruik maak. Die gedigte word begelei deur ’n verskeidenheid foto’s, hetsy van landskappe of van Breyten se eie en ook ander kunstenaars se skilderye. Die manuskrip bevat ’n rykdom bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale, en eindelik word die teks meer as die somtotaal van vers en beeld.