Koos Prinsloo se queer prosa is steeds relevant

Koos Prinsloo se queer prosa is steeds relevant
Kunswerk deur Hentie van der Merwe, in die reeks Trappings.

Kunswerk deur Hentie van der Merwe, in die reeks Trappings.

Oor die skrywer wat bygedam is deur Johannes Kerkorrel

Kontroversie volg Koos Prinsloo soos 'n donker skaduwee. Trouens, 24 jaar na sy afsterwe het akademici tydens vanjaar se February Lectures wat deur Unisa aangebied word, juis besin oor die relevansie van Koos Prinsloo vir 'n jonger generasie. Sy kortverhale was (en is steeds) opspraakwekkend en het selfs tot 'n vuisgeveg in 'n kantoor gelei. Die bronne van kontroversie was onder andere die eksplisiete uitbeelding van gayseks, die ondermyning van die Afrikanerpatriargie, sowel as die oorskryding van literêre grense. Al hierdie temas is maar net enkele aspekte wat sy klein, maar kragtige, oeuvre kenmerk.

Maar wie was Prinsloo? Wat het hy gedoen en hoekom moet enige iemand anders as dié wat Afrikaanse letterkunde bestudeer, van hom weet?

Kom ons begin by die mens self: Prinsloo is gebore in 1957 in Kenia as die jongste van drie kinders. Sy gesin trek egter in 1962 terug na Suid-Afrika. Soos met meeste mans in die Apartheidsjare, voltooi Prinsloo sy twee jaar lange diensplig, waarna hy by die Universiteit van Pretoria studeer en sy Honneurs in Afrikaans en Nederlands behaal. Vanaf 1982 werk hy as joernalis in Johannesburg tot en met 1994 waar hy aan vigsverwante oorsake oorlede is. Prinsloo was openlik gay en het sy ervarings van die gaywêreld in sy vier bundels beskryf. Tydens sy kort lewe publiseer hy Die jonkmanskas (1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) – 'n klein botteltjie maar dodelike gif, selfs in vandag se terme.

Hoekom dodelike gif? Sy verhale was gif vir die Apartheidsera, en het dit sonder om te skroom, by die horings gepak en alles oopgeskryf in 'n byna dokumentere styl. Van die gebeure op die Grens en die psigologiese effekte daarvan op dié wat lewendig uitkom, die diskriminasie en geweld teen swart- en gaymense, en die politieke onregte van die destydse regering. Dan is daar natuurlik ook die uitbeelding van seks tussen mans wat vir sommige in die laat 70’s en 80’s vreugde verskaf het, en vir ander ongemaklik in hulle stoele laat rondskuif het.

Afgesien van die politiek het daar ook bekendes deurgeloop, die bekendste Ralph Rabie (ook beter bekend as Johannes Kerkorrel). Prinsloo het die kas waarin Kerkorrel was se deur vir die publiek oopgemaak. Kerkorrel het homself in een van Prinsloo se karakters, “my vriend die Popster”, gesien en na 'n paar kwaai briewe en woorde, was daar houe uitgedeel in Prinsloo se kantoor.

koos prinsloo verhale.jpg

So, wat kan die omstrede figuur Koos Prinsloo vandag vir ons beteken? Nie net bied hy vir die post-apartheid generasie 'n time capsule van hoe lewe in Suid-Afrika was nie, maar dit bied insig in die gevare en wroegings van 'n gay man in 'n tyd wat grootliks vergeet (wil) word. Die sosiale en politieke konteks het wel verander sedert 1994, maar die stryd om aanvaarding en inklusiwiteit is steeds 'n struikelblok vir die LGBT-gemeenskap.

In 2008 het Human & Rousseau al vier Prinsloo se bundels saamgevat onder die titel Verhale wat hom en sy werk weereens beskikbaar stel vir 'n hele nuwe en jonger generasie.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Koos Prinsloo se queer prosa is steeds relevant gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand