Frantz Birkholtz streef eerlike oomblikke na
Soos 'n hedendaagse Trompie en die Boksombende
"Ek was nog altyd 'n storieverteller, op meer manier as een. As kind het ons baie rondgetrek en altyd in klein, weggesteekte dorpies gebly (Kleinzee, Orapa in Botswana en Musina om maar net 'n paar te noem). Dit het my forseer om kreatief te wees met die vorm van stories om myself en familie te vermaak. Die klein dorpies het ook met frustrasies gepaard gegaan. Ek moes op 'n daaglikse basis met mense deal wat rassisties, homofobies of bloot net nougesind was. Ek het beslis 'n donker kant van Suid-Afrika gesien wat kinders nooit moet sien of beleef nie. Ek was natuurlik van jonk af geklassifiseer as vreemd. Na skool het ek drama en teaterkuns gaan studeer by Kovsies in Bloemfontein.
Ek was gewoond aan die vertel van stories deur verhoogspel en skryf. Ongeveer vier jaar terug het ek my eerste filmkamera (Pentax P30 vroeg 90’s-model) gekry as 'n geskenk van my tante. My eerste gedagte was hoe ek 'n storie kan vertel deur om net van 'n enkele beeld gebruik te maak. Ek was gewoond daaraan om stories te vertel deur die uitvoerende kunste, met mond en lyf, oor die nodige tydperiode wat dit verg om die boodskap oor te dra. Ek was hoogs opgewonde oor die nuwe uitdaging en het geweet dit sal 'n ander benadering en metode vereis. Dit is nou vier jaar later en ek kan nie ophou skiet nie. Ek leer elke dag nog en ek kan eerlikwaar sê ek is nog net so kinderlik opgewonde soos met die eerste film wat ek deur geskiet het. 'n Mooi foto is mooi en ek kan dit natuurlik waardeer vir wat dit is, maar die storie wat ek wil oordra is vir my meer belangrik as blote mooiwees. Dit gaan vir my oor om 'n oomblik vas te vang, 'n enkele beeld wat boekdele spreek, wat emosies ontwaak, wat vrae skep en miskien antwoorde verskaf – dit is waarna ek op soek is. Dit is waarheen ek streef."
Volg hom op Instagram.