Wees een van vyf wenners van R100,000 met jou grafika

Wees een van vyf wenners van R100,000 met jou grafika

Maak 'n illustrasie vir American Express se nuwe bewusmakingsveldtog

Jisliaak, hier’s ’n lekker geleentheid. Amex was nie altyd in elke Suid-Afrikaanse winkel en restaurant aanvaar nie, maar dit het verander. As deel van hulle nuwe bewusmakingsveldtog bied American Express in Suid-Afrika, bestuur deur Nedbank, ’n kompetisie aan waar vyf kunstenaars/ontwerpers/illustreerders elk R100 000 kan wen. Dis R500 000 prysgeld in totaal. Al wat jy moet doen, is om ’n suksesvolle ontwerp of kunswerk te maak, gebaseer op die tema “The vibrant African marketplace – everyone is welcome”.

Naamborde is ’n belangrike element vir American Express, dit wil sê die bekende blou-en-wit-vierkant-logo op handelaars se deure of webtuistes waar American Express-kaarte verwelkom word. Dít is die boodskap wat Amex wil bevorder om sodoende hulle markaandeel te vergroot, deur te wys dat hulle die plaaslike mark ondersteun, geskoei op die inklusiwiteit van kliënte en handelaars van alle gemeenskappe. 

Die vyf wenners se ontwerpe sal op sulke naamborde en bemarkingsmateriaal regoor Suid-Afrika gebruik word, om te wys dat American Express by winkels aanvaar word, en om kliënte te verwelkom van regoor Afrika en die wêreld. Die top kunswerke gaan ook in ’n uitstalling by Keyes Art Mile in Rosebank, Johannesburg in Maart 2023 te sien wees.

Die wenners sal gekies word deur ’n paneel van bekende kurators, galery-eienaars, kulturele vervaardigers, fotograwe, mode-ontwerpers en redakteurs. Die inskrywings word beoordeel op grond van oorspronklikheid, komposisie, reaksie op die gekose tema en algemene indruk.

Om in te skryf, moet jy registreer by graphicarts.africa; daarna sal daar ’n stap-vir-stap-verduideliking van die inskrywingsproses wees. Die uitdaging is oop vir almal wat tans in Suid-Afrika woon. Die kompetisie sluit op 31 Januarie 2023.

May the odds be ever in your favour.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wees een van vyf wenners van R100,000 met jou grafika gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand