SJ Naudé verbeel die (Suid-Afrikaanse) toekoms

SJ Naudé verbeel die (Suid-Afrikaanse) toekoms

Foto: Mitch Epstein, Gavin Coal Power Plant, Cheshire, Ohio, 2003, deel van die reeks American Power.

Innerlike lewens, neuroses, identiteitspolitiek

Nota: Hierdie toespraak deur SJ Naudé is vir die eerste keer voorgelees by die Universiteit Stellenbosch se onlangse kollokwium wat deur die Departement Afrikaans-Nederlands aangebied is. Die tema van die tweejaarlikse openbare gespreksgeleentheid was “Om die draai”. Vier Afrikaanse skrywers — Jolyn Phillips, Alettie van den Heever, Ryan Pedro en SJ Naudé — het op unieke wyse gedeel hoe hulle Suid(er)-Afrika in 2050 verbeel.


Die fokus, wanneer fiksie of films in die toekoms afspeel, is dikwels op die skouspelagtige. Heel gereeld gaan dit oor tegnologiese fantasieë, hier of op ander planete. Dit kan byvoorbeeld te make hê met kunsmatige intelligensie en kuborge. Of met nuwe vorme van vervoer of kommunikasie. Of dit kan fokus op nuwe politieke moontlikhede, hetsy utopies of distopies: nuwe vorme van vryheid, uitbuiting of onderdrukking. Of radikale wetenskaplike vooruitgang, die moontlikheid om uithoeke van die heelal wat voorheen buite bereik was, te ontdek of besoek. Of om lewens te verbeel in ander sonnestelsels.

Baie aandag word daaraan gewy om geloofwaardige eksterne fantasiewêrelde te skep in sulke werk. Ek is meer geïnteresseerd in werk waarin die toekoms hoofsaaklik gemeet kan word aan die tekstuur van die karakters se innerlike lewens, en aan die verhoudinge tussen mense. In hoe innerlike lewens nuwe vorm gegee kan word deur daardie toekoms, en watter nuwe moontlikhede geskep word vir verhoudinge, vir nuwe soort verbintenisse, deur daardie toekoms. 

Futuroloë, wetenskaplikes, ekonome en mense in ’n klomp ander dissiplines is sekerlik veel beter toegerus as skrywers om oor die toekoms te besin, hoewel selfs futuroloë se voorspellinge by uitstek gekenmerk word deur die feit dat dit gewoonlik nie waar word nie. Die pandemie was, nodeloos om te sê, dalk die duidelikste voorbeeld van die radikaal-onvoorspelbare – dit wil sê, die radikaal-toekómstige – aard van die toekoms. Dit het ons ’n kille blik op toekomstigheid gegee, op die onsekerheid van alles. Vir ’n ruk lank het die poorte oopgegaan, het ’n mens ’n onbeskermde blik op die niet gekry. Die pandemie het ons in die verleentheid gebring, ons gewys hoe lukraak – hoe láf – ons voorspellinge is, hoe dit in ’n oogwenk radikaal ontwrig kan word. En, natuurlik, het dit weer bevestig hoe voorspellinge altyd veel meer te make het met die hede as die ware toekoms. Min dinge dateer so vinnig as sulke voorspellinge. En gou vergeet almal dan die verlede se toekoms.

Vir skrywers is dit gewoonlik belangriker om ’n wêreld met dramatiese potensiaal te skep, een wat inherent samehangend is, en boeiend, ongeag hoe sterk dit verband hou met die waarskynlikste toekomsscenario aldan nie. Populêre verhale wat robotte behels, of reise in die dieptes van die heelal in, het helaas dikwels te make met ’n fantasie van ontsnápping aan die menslike kondisie eerder as ’n konfrontasie daarmee. Asof ’n mens, wanneer jy van die aardbol se swartekrag wegbeweeg, ook die onontsnapbare problematiek van mense en gemeenskappe kan agterlaat. Histories het groot makroveranderinge menselewens natuurlik op die mees intieme vlak verander. Die vooruitgang van die mediese wetenskap, die tegnologie rondom vervoer en kommunikasie, die ontwikkeling van demokratiese regeringstelsels en individuele burgerregte, om maar net ’n paar te noem. En selfs in die nabye toekoms is daar ook makrokwessies wat elkeen van ons, en ons kinders, in Suid-Afrika gaan affekteer. Aardverwarming is uiteraard ’n krities-belangrike een. Die nuwer voorspellinge is dat die veranderinge veel vinniger gaan volg as wat voorspel is. Suid-Afrika gaan byvoorbeeld volgens die meerderheidsmening reeds in die volgende dekade aansienlik droeër word, met erge vloede tussendeur. En armoede is nog ’n makrotoestand wat fundamenteel bepalend sal wees vir die potensiaal van menselewens in Suid-Afrika. Daar is geen verantwoordelike ekonoom wat, ten minste in die afwesigheid van ’n verandering in die regerende party en fundamentele beleidsverskuiwinge, ’n noemenswaardige verbetering in die toestand van arm mense in Suid-Afrika voorspel nie. Inteendeel. Daar is ook potensiële ontwikkelinge in die Suid-Afrikaanse politiek wat mense se lewens op intiem-individuele vlak kan raak. ’n Konserwatiewe populisme sou hier sterker kon posvat en ’n gevaarlike suidelike teenhanger word vir die populistiese golf in die VSA, die VK en Europese lande soos Italië en Hongarye. Hier sou dit kon manifesteer as konserwatiewe Swart nasionalisme en ’n toenemend-geformaliseerde vyandigheid teenoor en viktimisering van migrante uit Afrika.

Daar is geen verantwoordelike ekonoom wat [...] ’n noemenswaardige verbetering in die toestand van arm mense in Suid-Afrika voorspel nie.
— SJ Naudé

As ek moet probeer om ’n toekoms hier te verbeel waarby ek self dalk nog betrokke sou kon wees, dit wil sê as my beendere teen daardie tyd reeds nie iewers ingemessel is nie, voel ek helaas net opgewasse om ’n meer beskeie benadering uit te probeer. In die nadraai van die pandemie en, in die aangesig van uitsonderlike, geopolitieke en internasionale ekonomiese onstabiliteit, kan ’n mens dalk nader kom aan produktiewe dinkwerk oor die toekoms as ’n mens groter fokus plaas op die plaaslike eerder as die globale, op spesifiekheid eerder as die generiese, op kleiner verskuiwinge in ’n meer nabye toekoms. As ’n mens trouens áfstand doen van die dramatiese en die aanskoulike toekomsestetika. So ’n benadering laat ’n mens ook toe om versigtiger te oorweeg hoe om aan die vorming van die toekoms te help meedoen.

So, laat my toe om op ’n klein manier, vanuit ons klein Suid-Afrikaanse – en Afrikaanse – perspektief ná te dink oor enkele aspekte van die volgende dekades.

Om oor daardie toekoms te kan spekuleer, moet ’n mens natuurlik noodwendig begin by die erfenis van apartheid. Ek wil veral ’n oomblik stiltstaan by die psigologiese erfenis. In onlangse openbare gesprekke in die Afrikaanse ruimte het dit so duidelik geblyk hoe ’n sekere soort patologie steeds net-net onder die oppervlak skuilhou. ’n Goeie verduideliking word gebied deur ’n teorie in die sielkunde. Dit verduidelik die lewensiklus van vooroordele oor generasies heen. Die eerste generasie ontwikkel sekere soorte vrese en vooroordele wat, ofskoon dit nie moreel verantwoordbaar is nie, tog rasioneel verband hou met oorlewing. Daardie generasie bepaal die grense van die groep, en sluit ander uit, pleeg selfs geweld teen hulle, ter wille van selfbehoud. In die tweede generasie verander omstandighede, en verval enige objektiewe noodsaak vir agterdog teenoor of vrees of haat vir die ander. Die oorlewingsbedreiging het naamlik weggeval. En tog, die gekondisioneerde respons op die buitestanders is steeds vrees of afsku of aggressie. ’n Derde generasie verstaan dat vooroordeel en diskriminasie irrasioneel is en nie met werklikhede of oorlewing te make het nie, verwerp dan die sieninge van die middelgenerasie en kom in konflik met laasgenoemde. Hierdie model help om heelwat van die fenomene van apartheid en die post-apartheidsera te verduidelik. In die openbare gesprekke waarvan ek self onlangs deel was, help dit ook om die heftige, irrasionele en, in die populêre domein, ook soms erg hatige reaksies van sommige Afrikaners te verduidelik. As die onderbrein se uitgediende reflekse jou waarsku dat jou lewe op die spel is, verdamp rasionele denke vinnig. Ek dink nou aan die Moro-refleks by suigelinge. As ’n mens ’n baba se liggaam naamlik vinnig laat sak, steek hy albei hande vinnig sywaarts uit en bring hulle bymekaar voor hom. Soos ’n apie wat deur hoë take gedra word deur ’n aapmoeder, dan amper val en moet vasgryp om nie op die woudvloer te beland nie. Behalwe, natuurlik, dat ’n mens hier met patriarge en matriarge te make het, eerder as met suigelinge. Maar vasgryp, gryp hulle vas.

My eie versugting is dat ons teen 2050 vêr verby hierdie generasionele psigologiese afloop van die brutale era van ons geskiedenis sal beweeg het. Dat die soort gesprekke rondom inklusiwiteit wat ons onlangs gevoer het, hoewel tans belangrik, teen daardie tyd iets heel outyds geword het. Dat die vierde of vyfde generasie hulle koppe kan skud oor hulle voorsate se neuroses.

Dit is terloops nie net in die Suid-Afrikaanse konteks waar die aanspreek van ’n sosiale piramidestruktuur as dringend nodig ervaar word nie. In die African Youth Survey – uitgevoer post-pandemie, vroeër vanjaar – is een van die heel grootste kwessies vir jeug regoor die kontinent, benewens ’n sterk kommer oor aardverwarming, die ontbondeling van patriargale oorheersing. Jeugdiges in Afrika, die burgers en leiers van 2050, het ’n sterk en dringende behoefte om patriargale tradisies teë te werk. Om agentskap te verkry – agency. Om self vorm te gee aan hulle eie toekoms. En internasionaal is dit natuurlik nie anders gesteld met jong mense wat self beheer wil neem oor klimaatsgesprekke nie. Dit is immers húlle wat in 2050 met die gebakte pere gaan sit.

[...] een van die heel grootste kwessies vir jeug regoor die kontinent, benewens ’n sterk kommer oor aardverwarming, is die ontbondeling van patriargale oorheersing.
— Volgens die African Youth Survey

'Ek wil graag ook iets sê oor identiteitspolitiek'

Ek wil graag ook iets sê oor identiteitspolitiek. Konserwatiewes in die Anglo-Amerikaanse wêreld – en ook hier ter plaatse – het veel afwysend te sê hieroor. Die waarheid is natuurlik dat as daar oor ’n lang periode teen mense gediskrimineer word op grond van ’n aspek van hulle identiteit, ’n aspek wat nie bepalend behóórt te wees op enige manier nie, maar wat gebruik word om ’n eendimensionele identiteit op hulle af te dwing, om hulle polities te onderdruk, dan is die enigste manier om polities-strategies daarop te reageer, om rondom daardie aspek van die self te mobiliseer. Dit wil sê om politiese weerstand saam met ander mense van byvoorbeeld dieselfde etnisiteit, ras, seksuele oriëntasie of gender te organiseer. Identiteitspolitiek is essensieel om verandering teweeg te bring. Maar uiteraard moet ’n mens nie self daardie reduktiewe oplegging van identiteit internaliseer nie. Die skrywende, skeppende self is altyd oneindig meer kompleks en ekspansief as daardie identiteit. Ek sien uit na ’n tyd, hopelik voor 2050, wanneer dit onnodig geraak het om identiteitspolitiek te besig. Wanneer vloeibaarheid en kompleksiteit aan die orde van die dag sal wees. Wanneer almal self sal bepaal en definieer wie hulle is. Wanneer vriendskappe van die mees onverwagte aard sal floreer. En wanneer die mees onverwagte kreatiewe werk uit die mees onverwagte oorde sal voortkom. Iets wat daardie toekoms voorspel is tans in die Afrikaanse letterkunde aan die gebeur. Daar is ’n nuwe golf van werk van jong skrywers van diverse agtergronde wat herkoms en identiteit definieer, herskep en herinterpreteer. Van binne af. Wat die voorheen-onsigbare sigbaar maak. Hierdie soort kreatiewe werk, en die komplekse dog duidelike beelde wat dit skep van ervaringswêrelde wat voorheen op die agtergrond was, is die teenoorgestelde van die bevrore soort kulturele beelde wat dikwels voorgehou word as verteenwoordigend van groepe mense. Dit is kultuurskepping wat na die toekoms reik, wat toekomssképpend is. Wanneer ’n wêreld wat nog nooit op papier was nie, nog nooit die onderwerp van ’n gedig was nie, ineens in ’n kragtige gedig verskyn, roer dit my diep.

Wanneer ’n wêreld wat nog nooit op papier was nie, nog nooit die onderwerp van ’n gedig was nie, ineens in ’n kragtige gedig verskyn, roer dit my diep.
— SJ Naudé

Erfenisdag se moer, het ek onlangs gedink toe ek ’n jong digter se elektriese werk lees. En om te verduidelik wat ek bedoel: ek sien ’n tyd gelede ’n bepaalde maatskappy se goedbedoelde, neem ek aan, beeldmateriaal vir hulle interne Erfenisdagvieringe. Die viering van herkoms is natuurlik in beginsel goed en reg. Maar in hierdie organisasie se foto’s, gekurateer deur publisiteitsbeamptes, is daar ’n stukkie luiperdvel iewers, ’n velskoen en kakiebroek elders, ’n rooi kolletjie op ’n voorhoof, ’n tradisionele hooftooisel, en so gaan dit aan. Bevrore beelde wat verskillende Suid-Afrikaners elk tot een beeld reduseer. Die ondermyning hiervan, in poësie en elders, kom reeds op dreef, maar ek hoop in 2050 kan ons almal reeds lankal sê: moenie julle vir my probeer sê wie ek is nie. Ek sal vir júlle sê wie ek is. Beter nog, hopelik lúister ons in 2050 almal eerder as om te veel te praat, en wag ons vir iemand om hulself te onthul eerder as om by voorbaat ’n beeld van hulle te vorm.

’n Skrywersvriend van my, Masande Ntshanga, het so ’n dekade of wat gelede ’n boek geskryf getiteld The Reactive. Een van die interessante aspekte van sy roman, wat ’n diverse groep vriende in Kaapstad betrek, is dat hy opsetlik die kulturele merkers weglaat wat ’n mens sou toelaat om sy karakters te posisioneer: in terme van ras, kulturele agtergrond, die taal wat hulle praat, ensovoorts. Dit was vir my ’n opwindende oomblik, ’n soort afskaduwing van hoe ’n toekoms kan wees. Nie identiteitsloos nie, maar ’n plek waar vriendskap belangriker is as identiteit.

Dit is natuurlik so dat, vir ten minste nog ’n generasie of twee, veral as die spiraal van armoede en ongelykheid hier voortduur, dat individue die las van die geskiedenis en die verantwoordelikheid wat dit op ’n mens plaas akuut in die gedagte sal moet hou, en gedurig oor etiese gedragswyses sal moet dink en dit herbedink, en van verskillende vorme van historiese bevoorregting bewus moet bly. Dit gaan nie oornag, of selfs in ’n dekade of twee verdwyn nie. Ek suggereer hierbo nie vir ’n oomblik dat ’n mens hierby verby moet beweeg, of dit moet ignoreer nie. Eerder spreek ek my hoop uit dat die prosesse van radikale verstelling wat nodig is op ’n diep vlak, op die vlak van waardestelselsels, behoorlik op dreef sal wees in 2050. Dat daar toenemend sosiale waardes gekonstrueer sal word wat hulle oorsprong in baie verskillende soorte ervaringswêrelde het. 

Maar ek wil, om af te sluit, veral terugkeer na vriendskap. Ek wil ’n wêreld begin verbeel waar nuwe soorte vriendskap moontlik is. Vriendskap wat behels die gesamentlike en eerlike soeke na maniere om hardnekkige ongeregtighede op te los. Of dalk tas ek eintlik na begrippe anderkant vriendskap. Enersyds wil ek ’n woord soos “naasteliefde” gebruik, of dalk herwin. Dit is ’n woord wat ek byvoorbeeld ook tydens die onlangse openbare gesprekke rondom inklusiwiteit wou uitprobeer. Maar ek het gehuiwer. Iets voel nog nie heeltemal reg daaromtrent nie, asof dit ingebed is in 1950 eerder as 2050. Dis ’n woord met ’n effe muwwerige, kerklike soort aura. Miskien het ons teen 2050 ook al nuwe woorde gevind om hierdie sake te beskryf. Ek sou persoonlik diepe bevrediging daarin vind as ’n mens ’n manier in Afrikaans kan ontdek om daardie waardes wat nog moet vorm aanneem, te benoem. Dalk moet daardie woorde nog gebore word, dalk sal hulle op ’n nuwe generasie se tonge gesmee word. In ons eie sonnestelsel. In hierdie land. In die nabye toekoms.

‘Naasteliefde.’ Iets voel nog nie heeltemal reg daaromtrent nie, asof dit ingebed is in 1950 eerder as 2050. Dis ’n woord met ’n effe muwwerige, kerklike soort aura.
— SJ Naudé oor woorde wat nog gebore moet word
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van SJ Naudé verbeel die (Suid-Afrikaanse) toekoms gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand