Die derde spoel is riskant queer
'n Uittreksel van SJ Naudé se edgy diasporaroman
SJ Naudé se debuutroman Die derde spoel het in Mei 2017 by Umuzi verskyn, en het sedertdien aanhou lof vergader. Daar is geskryf dat die teks eers voorkom as die bekende pad van ’n jongman se verset teen die Afrikanernasionalistiese patriargie, maar dat dit met ’n verrassende, energieke en gelade invulling die leser onkant vang. Naudé het as skrywer opslae gemaak met die publikasie van ’n bundel kortverhale, Alfabet van die voëls, wat met sowel die UJ-debuutprys as die Jan Rabie Rapport-prys vereer is. Nou, met dié roman wat al R600 000 in beurs- en prysgeld ingepalm het, word die verhaal van Etienne vertel wat as twee-en-twintigjarige filmkuns in Londen studeer nadat hy uit Suid-Afrika gevlug het om diensplig te vermy. Die verhaal speel rondom 1986 af, die tyd van Thatcher, optogte teen apartheid, en Vigs, maar ook van eksperimentele kuns en post-punk musiek. In Londen raak Etienne verlief op Axel, ’n Duitse kunstenaar en bewoon hulle ’n bouvallige kunstenaarskommune.
Wanneer Etienne die eerste van drie filmspoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is, ontdek, begin hy na die oorblywende twee spoele soek. Sy soektog word ’n obsessie wanneer sy geliefde in Berlyn vermis raak. Terwyl Etienne die gevaarlike ruimtes weerskante van die Muur navigeer, begin die verhaal van ’n groepie Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland vorm aanneem. Etienne word egter teruggeruk na die hede en na Suid-Afrika, maar sy soektog na die vermiste film duur voort. Argitektuur, kinematografie, seks, musiek, siekte, verlies en liefde deurweek SJ Naudé se kosmopolitaanse en roerende Die derde spoel. Die boek word gelyktydig in Afrikaans en in Engels as The Third Reel gepubliseer.
SJ Naudé het in die regte aan die Universiteit van Pretoria en aan Cambridge en Columbia studeer en verwerf ook ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Stellenbosch. Alfabet van die voëls verskyn ook in Nederlands en Engels. Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2014 is aan hom toegeken wat hierdie boek moontlik gemaak het. Die UJ-prys vir beste kreatiewe teks in Afrikaans is aan hom toegeken vir Die derde spoel, sowel as die kykNET-Rapport-boekprys vir beste Afrikaanse fiksiewerk. Dié boek was ook op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys. Na jare in New York en Londen, woon hy tans in Johannesburg.
Klyntji deel ’n hoofstuk van Die derde spoel met verlof van die uitgewer.
Hoofstuk 6
Op ’n middag kom hy uit die British Film Institute se teater. Sy oë knip-knip teen die lig. Die rivier is grys, die middag drukkend. Etienne het nog ’n Tarkofski-film gesien. Sluiper. Drie karakters reis saam deur ’n verbode sone waar die reëls van fisika opgehef is. Hul bestemming is ’n raaiselagtige kamer waar begeertes werklikheid word. Die skote is minute lank; skaars enigiets gebeur. Watter tegnieke van hipnose word gebruik, wonder Etienne. Hoekom bly hy nou al swetend in sirkels deur Londen se strate loop?
Hy stap en stap. Sy oksels jeuk; sweetstrale loop in sy sye af. Naby Tower Bridge ruik hy iets skerp. ’n Asynfabriek, dui ’n naambord aan. Hy stap in Tanner Street af, draai rivierwaarts in Bermondsey Street. Hy was al voorheen hier saam met Frank, wat vertel het van die beknopte pelsfabrieke wat eens in agterplase en op lekkende solders bedryf is. Etienne loer by steë en skemer ruimtes in, hoop vaagweg op karkasse en ongebreide velle.
Hy kruis Crucifix Lane, gaan ’n tonnel onder die treinspoorviaduk binne. Mos groei aan die Victoriaanse baksteengewelf; duiwemis kors op die sypaadjie. Sy oë pas by die skemer aan. Hy stop by ’n figuur wat op die sypaadjie hurk. In ’n donker inham voor hulle, onder ’n waarskuwingsbord met ’n geel blitsstraal, sit ’n engel. Etienne sper sy oë. Eintlik ’n prént van ’n engel, vars teen ’n swart deur gestensil. Helderwit. Vlerke agter die skouers ingevou, met jeans en stewels aan. Boude op die sypaadjie, arms om die knieë. Die engel se kop hang; hy het ’n sigaret tussen die vingers. Voor hom staan ’n bottel gif, gemerk x.
Dit voel vir Etienne of die stad buite die tonnel aan die brand slaan. Hy kyk van die engel na die man wat langs hom hurk. Uit sy wit frokkie rank boomwortels teen sy nek op: ’n tatoe. Die man se intensiteit is soos ’n lem; hy steek ’n hand na die bottel gif uit.
“Daar sit hy. Uitgesmyt. Verkrag deur die hoofengel, dalk God sélf. Toe vir die wolwe gesmyt.” Terwyl die man dit sê, kom hy in ’n blitsige beweging orent. Hy is langer as Etienne, en so naby dat Etienne hom ruik. Sweet, met ’n ondertoon van kordiet. Hy draai nie om nie; die boomwortels op sy nek is digby Etienne se gesig. Hy leun agteroor teen Etienne se bors, lig sy knie. Sy Doc Marten-stewel tref die engel, sien Etienne verby die skouer. Die teenkrag laat Etienne steier. Die slot breek, die staaldeur kletter oop, die tonnel eggo.
Etienne word aan sy pols binnetoe getrek. Hy hoor swart elektrisiteit dreun. Sy broek word in die donker afgestroop. Iets neem van Etienne besit; hy rem die man se hemp met ’n skeurgeluid oor sy kop. Die bors voor hom is glad. ’n Koel tong beweeg oor Etienne se baardstoppels soos wind deur afgebrande gras. In die dampe van vlermuispis tel hulle mekaar se kneukels, voel die senings aan mekaar se polse. Hul liggame sluit. Dis so warm soos die hel. Etienne gee nie om waar daar transformators in die donker is, of lewendige kabels nie. Die volts het sy liggaam reeds binnegegaan; hy is in die stad se netwerk ingeprop. Sy wang is teen growwe baksteen; hy is net spier en pees en krag. ’n Dik stroom vloei reg deur hom, na slagpale en fabrieke.
Donderende treine kruis bo hulle. Wit vlamme spring in die donker op. Etienne hoor die man se tande klapper, wonder of hy sy tong afgebyt het. Hy kan nie die gesig uitmaak nie. Op die adamsappel glim sweet. Hulle ontknoop. Die man tel nie sy geskeurde hemp op nie. Hy maak sy gordel vas, stap uit. Sonder ’n woord, sy bolyf kaal. Toe Etienne tot sy sinne kom en die sypaadjie se duiwemis betree, is hy al ver in die tonnel af, naby die halfsirkel lig. Op die lang rug is die tatoe ontbloot: ’n ontwortelde boom, onderstebo. Wortels oor die nek, kroontakke oor die lae rug. En op die middelrug, ’n knoetsige stam. Weerskante vlerk uitdagende skouers. Die man verlaat die tonnel; die boom los in die lig op. Etienne kyk af na homself: hy staan poedelnaak hier op die sypaadjie. Hy is verbaas daar kleef nie boombas aan sy vel nie. Sy hande bewe. Hy ruik na die sweet van ’n vreemdeling.
Hy dink onverhoeds aan sy pa se studeerkamer, aan die halfverslane geur van pyprook.
Ses weke gelede, toe Etienne soos ’n rusper sy pad deur die katalogus van Europese auteur-films begin baan het, het hy Brent op ’n sypaadjie in Soho raakgeloop. Ná hoflike vrae oor en weer, het Brent se gesig versomber. “Die land brand. Dis tyd om die skroewe aan te draai. Ons het die ore hier van almal wat tel. Ons kan die regime laat wankel.” Hy het oor Matthew Goniwe en die ander Cradock-leiers gepraat, oor die vredeskonferensies in Suid-Afrika.
“Praat jy nou van Thatcher se ore?”
Bloedvate het deur Brent se gesigsvel geskyn. “Wel … almal behalwe Thatcher en kie. Die opposisie, eintlik.” Hy het vorentoe geleun. Rooiblonde haartjies op sy bowange het die lig gevang. “Daar’s soveel om te doen. Protesaksies om te reël. Plakkate om te versprei. Alle klein bydraes—”
“Ek gaan filmskool toe.” Etienne was verbaas. Die besef dat dit presies is wat hy moet doen, het met sy uiting saamgeval. “Ek het nie tyd nie.”
“Dís ’n eerste, daardie verskoning.” Brent het sy gesig van die son weggedraai, ’n lys name afgerits. Tussen elke naam was daar ’n oomblik van stilte. “Almal in aanhouding in Suid-Afrika. Gewetensbeswaardes. Hier sit ons veilig in Londen. Voel jy nie énige soort verantwoordelikheid nie?” Sy sproete het in ’n blos van verontwaardiging verdwyn.
Etienne het net sy kop stadig bly skud. Brent het iets van “lojaliteite” en “groter dinge” gemompel en weggestap.
As hierdie vent nou nog ’n ware rolspeler was, het Etienne gedink, sou hy inskikliker gewees het. Iemand met gesag, en wat iets skouspelagtigs voorstel. Iets wat verbeelding verg en Étienne s’n sou aangryp. ’n Aanbod, byvoorbeeld, om hom na die Sowjetunie te laat reis vir rewolusionêre opleiding. Om hom touwys te maak in die kuns van vermomming. Hom dan Suid-Afrika toe te smokkel om maste en treinspore op te blaas. Of hom homself te laat voordoen as die verlore seun, wat kwansuis gekenterd terugkeer, maar sy pa en kie vir inligting melk. En wat dan bomme plant in die raadsale van maatskappye wat met die regime saamspan. Of nog beter: ’n sluipmoord. Etienne wat een van sy pa se ministersvriende in hul Pretoriase sitkamer in die voorkop skiet. Of ’n ploftoestel in genoemde ministersvriend se aktetas inglip en sodoende die ganse kabinet opblaas. Of wat van ’n plan wat behels dat Etienne sy lojaliteit moet bewys deur sy eie pa in sy bed te verwurg? ’n Liggewig, onse Brent, ’n amateur. Het Etienne nie eens as “comrade” probeer aanspreek nie. Geen navorsing oor sy familieverbintenisse gedoen nie. Geen strategie nie, zero visie. ’n Algehele gebrek aan dramatiese instinkte.
Ieder geval, Brent en sy oordele was vir hom onbenullig. Met absolute helderheid het Etienne nou geweet: sy roeping is om films te maak.
Hy het weer by COSAWR gaan aanklop. Met sy eerste besoek het Ben hulp aangebied: “Ons het kontakte in baie sfere. Instansies hier is ontvanklik teenoor apartheid-exiles.” Ben het hom nou weer gul ontvang, oor die vordering van sy asielaansoek gepraat. Etienne het sy filmskoolplanne verduidelik, navraag gedoen oor studiebeurse. Ben het onderneem om daarvan werk te maak, hom met die nuwe uitgawe van Resister weggestuur. Gedagtig aan sy ontvangs vroeër by Miss Jackson het Etienne nie veel hoop gehad nie.
Die ontmoeting in die tonnel stook onrus in Etienne se borskas. Sy ore is nou ingestem op die stad se elektriese geruis en die stilte van alles ondergronds. Die soort dinge waaroor Frank sou uitwei. Tonnels, riole, kripte. Ongebruikte moltreinstasies en katakombes met hul stapels beendere. Sweet loop langs sy ruggraat af wanneer hy aan die elektriese substasie in die tonnel dink; bloed klop in sy laer buik. Hy móét hom opspoor, die man met die boom op die rug. Maar hoe?
Middag ná middag keer hy na die tonnel terug, wag in die engel se inham. Mense stap verby, skrik vir Etienne en die engel. Die tatoeman maak nie sy opwagting nie. Etienne voel aan die deur. Die verwoeste slot is vervang. Hy wil ín. Hy du met sy voet teen die engel. Eers versigtig – dalk is daar ’n geheime ontsluitingsmeganisme. Hy druk met ’n vingerpunt op die gifbottel se x, plaas sy palm op die grootste vlerkveer. Hy staan terug, skop die engel teen die kop. Niks. Hy is uitgesluit, verban uit die olierige newestad waarvan die tatoeman sekerlik die burgemeester is, en die engel die poortbewaker. Voetgangers drom agter hom saam, kyk hoe hy skop en rem. Sy soolmerke gaan sit teen die wit vlerke, sy vingermerke op die bottel gif. Die engel roer nie.
’n Leidraad kom vinniger as wat Etienne verwag. Laataand sit hy in no. 37, op een van die halfverrotte fluweelbanke. Die kaggel brand; motreën waai deur die dak. In die vlamlig sit Hilde en Glenda, elk met ’n bier in die hand. Etienne sluit by hulle aan. Hilde dra ’n batikrok wat haar bolyf selfs langer laat lyk, haar skouers nog meer sku. Sy vertel Glenda van Suid-Duitsland se verlore eikewoude, van die uitskiet van die laaste wilde bisons daar in die 1920’s. Dit steur haar skynbaar nie dat Etienne luister nie. Sy vertel van ’n eeue oue jaghut naby haar ouerhuis in hul Beierse dorp. Eens was dit in die middel van ’n woud, sê sy. Nou staan dit en verweer in die agterplaas van ’n fabriek. Sy draai na Etienne. “Ek was jare laas in Duitsland. Ek wil my ouers gaan besoek, maar ek is bang ek verloor my blyplek. Dat die Square platgestoot sal wees wanneer ek terugkom. Alles onder die rommel.” Sy kyk af na haar plat leersandale.
“Dis absurd,” sê Glenda, en vee bier van haar mond af. “Vir mý sal hulle nie begrawe nie.” Sy slaan met ’n plat hand teen haar bors. “Ek sal veg tot op die laaste. Dit weet jy.” Glenda se hare is die kleur van gemmer. Kort langs die kante en agter, met ’n tros krulle bo-op.
Hilde vertel hoe sy en ’n kindermaat om die ou jaghut gespeel het. Van die beendere en bokhorings wat hulle daar opgegrawe het. Hoe sy nou nog drome kry van die hut se binnekant. Hulle wou destyds inkyk, sien of daar gestopte dierekoppe hang. Die vensters was te hoog. “Die reuk van ou hout is wat ek mis. My Suid-Duitse hart is eintlik van eik …” Sy kyk na die vlamme. “En ek is nie alleen nie. Ek weet van ’n Duitser wat ’n eikeboom op sy rug getatoeëer—”
Etienne sit vorentoe; die kaggelvlamme brand hoog. “Wie?” sê hy dringend. “Waar?”
“Ek ken hom nie goed nie …” sê Hilde huiwerig. Sy frons.
Etienne se hart klop. “Asseblief,” sê hy, “ek het hom al ontmoet … Ek wil hom kontak.”
“Ek het hom net een maal gesien, by ’n squat party. Iemand het hom aangehits om sy hemp uit te trek. Toe’s daar ’n reuse-eik—”
“Waar is hy?” “Al wat ek kon dink, was: ek wil ook so ’n boom op my rug—”
“Wáár’s hy? Wat is sy naam?”
Glenda sit haar bier hard neer. Hilde se stem verkil. “Dit onthou ek nie. Hy is ’n kinderverpleër. Dít het hy my vertel. By St. Thomashospitaal, dink ek.”
Die vroue staan op, laat Etienne swetend in die vuurgloed agter. Op die tafeltjie staan drie halfgedrinkte biere.
—
Drie dae na mekaar wag Etienne voor die St. Thomas-hospitaal. Ure lank. Die eerste dag het hy ’n lys van pediatriese verpleërs by die hospitaalontvangs aangevra. Dis geweier. Vandag probeer hy by die kinderafdeling ingaan. ’n Suster keer hom voor, wil weet waarheen hy op pad is. “Ek is van Finland. Ek soek na ’n verlore vriend.” Sy frons. Net familielede van pasiënte word toegelaat, verduidelik sy oor ’n leesbril. Dit lyk of sy ’n veiligheidswag gaan bel. Of die polisie. Hy blaas die aftog, gaan wag weer buite. Hy kyk na die parlementsgebou oorkant die rivier, na die water wat om brugpilare versnel. Die strome is fataal, het Frank eenmaal vertel; dit suig mens die modder in. Hy het voortgegaan om die geskiedenis van rivieroorgange, veermanne en brûe uit te lê.
Hy dink skielik daaraan dat die hospitaal dalk verskillende uitgange het. Op daardie oomblik stap die Duitse tatoeman uit. Hy sien Etienne dadelik, stap doodluiters na hom, neem sy hand en voel elke kneukel. Etienne voel sý onreëlmatige kneukels ook. Een vir een. Hulle begin stap.
“Ek is Axel.”
“Ek is Etienne.”
Axel se vingers het haartjies op die litte. Etienne snuif die lug, gulsig vir ’n sweem sweet. Hy kyk onderlangs na die groen uniform waaronder die boom weggesteek is. Iets antisepties damp uit die jurk op, herinner aan brandwonde. Etienne wil sy neus in die jurk druk. Hy dink aan die oksels, die knieknoppe, die rugstring soos ’n slangskelet. Aan speeksel wat soos roet en elektrisiteit proe.
Axel vra Etienne nie hoe hy hom gevind het nie. Terwyl hulle stap, steek Etienne ’n hand uit, voel Axel se pols. Anders as sy eie, klop dit sterk en egalig. (Die hart is nie van hout nie.)
As hy Axel so maklik kon opspoor, dink Etienne, sal níks hom ooit weer kan ontglip nie.
Middel Augustus. Toe hy vanmiddag in sy kamer aankom, lê daar twee briewe. Een is van binnelandse sake: asiel is toegestaan. Hy maak die ander koevert oop: COSAWR het vir hom ’n studiebeurs gereël! Daar is selfs ’n uitsondering gemaak vir laat toelating by die London Film School. ’n Parlementslid van die Arbeidersparty het die saak self met die filmskool opgeneem. Etienne begin oor skaars ’n maand.
Hy neem die moltrein na Covent Garden, mik na die filmskool. Die roetswart geboue hou hom voorlopig buite, maar binnekort begin sy noordelike lewe behoorlik. Sy voete raak skaars meer die keistene. Hy reis teen die spoed van lig.
Die volgende oggend lê daar nog twee koeverte: sy ma se parallelle briewe. Hy maak net een oop. “Is jy behoorlik gehuisves? Verdien jy iets om van te lewe? Hoekom hoor ek niks van jou nie?”
Hy gaan lê op sy futon, dink aan sy ouerhuis se sierstene en staalvensters, die swembad met blou mosaïekteëls, die wolfhond in sy hok. Die leiklipstoep, die reuk van gesnyde gras. Hoe hy in die middaghitte klavier oefen. Sy pa het wel nooit misnoeë met die klavierspeel te kenne gegee nie, maar het ook skaars belanggestel. Nadat Etienne sy laaste musiekeksamen afgelê het, het hy nie weer aan die klawers geraak nie. Hy het maande lank by sy ma gepleit en uiteindelik het sy vir hom ’n stel tromme gekoop. Sy het by sy pa geld vir ’n nuwe eetkamerstel gevra, ’n goedkoper een gekies en die oorskot aan die tromme bestee. Tot hiertoe en nie verder nie, het sy pa ’n maand later besluit – die tromme moet gaan. Dit het net ’n vlugtige blik van Etienne na sy ma geverg om haar te laat tussenbeide tree. Etienne het nie ’n woord gesê nie. Sy moes haar argumente vinnig inpas voordat sy doodgepraat word. Die tromme het gebly. In die hoek van sy slaapkamer, soos ’n oorlogsmonument.
Self het Etienne hom net eenmaal teëgesit. Hy was vyftien of sestien. Dit was ’n Sondagmiddag. Etienne het gedink sy ouers slaap en hy was te verdiep in sy Blake-prente om sy pa in die gang te hoor. Voordat hy geweet het, was sy pa in die kamer, het hy die boek gegryp. Met een hand sodat die rugkant verkeerdom vou. “Wat is dit hierdie?”
Etienne het die boek teruggegryp. “Los dit uit, dis nie joune nie!” Sy pa het hom oor die astrante toon aangespreek, en oor die oneerbiedige “joune”, pleks van “pa s’n”. Etienne het die boek op die bedkassie neergesit, ’n skoolhandboek in die hand geneem. Hy het sy knieë opgetrek en gemaak of hy studeer, sy pa gluipend dopgehou. Sy pa het na die hoek geretireer waar die modelvegvliegtuie wat hulle saam gebou het aan vislyne hang. Sy asem het die vliegtuie laat roer; sy skouers het daarteen gestamp. Die bomwerpers het geswaai: chaotiese formasies wat inswiep en sy pa laat koes voordat hulle wegdraai. Etienne het sy neus in sy skoolboek gehou. Sy pa het die bed genader, die Blake-boek geskuif sodat dit presies gelyk met die bedtafeltjie se rand was. Sy pa se vingers het ’n oomblik lank op die voorblad getalm. Toe het hy in die gang uitgestap.
Van toe af het die Blake-boek onder Etienne se matras gebly, behalwe wanneer sy ouers slaap.
Sy ma skryf verder: “Jou pa is nie so hard soos jy dink nie. Hy kan homself nie help nie; sy verdriet klink soos woede. Hy maak planne om jou te help. Gee kans.”
Etienne sit regop op die futon, skryf ’n brief vir sy ma. Hy het alles wat hy nodig het. Huisvesting, kos om te eet, klere aan sy lyf. Hy is verlig dat hy aan Suid-Afrika kon ontsnap: “Ek sweer dit af, daardie Republiek van Stof. Ek is bly ek is nou ’n misdadiger daar. Nooit hoef ek weer ’n voet daar te sit nie.” Hy herbedraad homself, gaan hy voort. Hy het nie hulp nodig nie, hetsy van haar of sy pa. En hy twyfel of hy weer sal skryf.