Die Kaapse comic Bal-Oog & Brommel
Ons deel 'n uittreksel van 'Moord In Ixiastraat'
Dit word beskryf as “die beste Komix in Afrikaans” en “Bitterkomix se nefie”, met verwysings na die storie as ’n nuwe Trompie of Kuifie. Ons vermoed dat daar ’n paar ander opinies sal wees, maar Bal-Oog & Brommel kan beslis nie misgekyk word nie. Dit handel oor twee makkers wat in Kaapstad se suburbs grootword en ’n moord gewaar. Bal-Oog en Brommel stel ondersoek in en Boltjie, Bal-Oog se hond, kry snuf in die neus. So raak hulle verstrengel in die skadu-wêreld van Milnerton se skurke. Om sake verder te bemoeilik is Bal-Oog dolverlief op Anja – die vermoorde Kobus se meisie. En dan is daar die geheimsinnige bak; hou dit verband met Kobus se moord? Dit alles terwyl Bal-Oog en Brommel net wil vakansie hou en musiek maak.
Ná die sukses van die grafiese roman Die Avonture van Bal-Oog en Brommel - Moord In Ixiastraat, wat lateraan ook omskep is tot ’n teaterstuk, word daar nou ’n poging aangewend om ’n volgende boek in die reeks te maak. Die Avonture van Bal-Oog en Brommel se Kampsbaai Kaperjolle word deur ’n crowdfunding-projek bemark, met t-hemde, ‘n getekende oorspronklike skets, ’n karakter in die comic, en ’n privaatvertoning van Moord in Ixiastraat wat as belonings aangebied word.
Die projek word gedryf deur Swart Septembir, geskep deur die grafiese kunstenaar Swart Streep and skrywer Sjaka S Septembir. In 2017 het hulle saam met die strokiesprent-kunstenaar Willem Samuel die eerste boek die lig laat sien. Nathan Trantraal het die Afrikaaps redigeer. Die teaterstuk, in 2018 geskep, was onder regie van Gideon Lombard, met De Klerk Oelofse en Richard September in die rolverdeling, met musiek deur Gertjie Besselsen. Die show is benoem vir twee kykNET Fiesta’s en drie Fleur du Cap Teater-toekennings.
Swart Streep is die skuilnaam van David du Plessis, ’n gesoute kinderboekskrywer en illustreerder. Sy boeke word gepubliseer deur Penguin Random House. Sjaka S Septembir het ’n M.A. in teater verwerf (cum laude) by die Universiteit van Kaapstad en spog met 20 jaar se ervaring in teater. Hy is ’n gepubliseerde digter, akteur en regisseur. Hy skryf gereeld vir die verhoog. Willem Samuel is ’n veelsydige kunstenaar van Kaapstad. Hy is bekend vir sy grafiese romans, Mengelmoes, wat in Brittanje gepubliseer is. Oor die jare het hy ’n konstante vloei van sketse en skilderye geskep en is ook bedrywig as musikant.
Klyntji deel ’n uittreksel van Die Avonture van Bal-Oog en Brommel - Moord In Ixiastraat hieronder.