Mengelmoes comics
4e82fe_785fb1933ca74a129526dd1566e805b2_mv2_d_1719_2362_s_2.jpg

Willem Samuel se storie

Hierdie is ’n storie van ’n seun wat grootword in Kaapstad. Sy ma is Antjie Krog. Hy teken al van hy vyf jaar oud is om te deal met die wêreld rondom hom. Skool is die pits, maar kunsperiodes is ok (dink aan die ou wat agter in die hoek van die klaskamer sit). Drank, sigarette, porn en dwelms bied ’n mate van ontsnapping (en maak alles soms erger). Hy gaan later universiteit toe en swot kuns by Stellenbosch, met nog van daai dwelms. Daar is meisies, maar the one that got away steek by hom vas en hy kan haar nie afskud nie. Hy speel in ’n band wat dit nie sal maak nie. Hy is depressed oor liefde en oor die wêreld. Hy soek sy plek in die heelal.

Dit is die outobiografiese storie van Willem Samuel. Hy het na sy studies as strokiesprent-kunstenaar by Supa Strikas gewerk. Nou vroeg in sy dertigs woon hy in Londen as vryskutkunstenaar. Hy het besluit om 15-jaar se onvoltooide kunswerke oor sy lewe te publiseer in Mengelmoes, ’n versameling van ses comics, of eerder graphic novels.

Die boeke kyk na die grootword van ’n born-free Afrikaner in ’n post-apartheid Suid-Afrika. Dit is uiteraard gepolariseerd met politiek en die soeke na identiteit. Werk, trou en kinders kry; al dan nie: heelmoontlik nogsteeds aan depressie ly. Willem deel sy storie as deel tot ’n groter narratief van die jeug se rebellie teen ’n sisteem wat hul dikwels later self by aansluit.

Mengelmoes 1 tot 5 verskil heelwat in illustrasiestyl en aanslag – soos dit in verskillende tye van die outeur se lewe geteken en geskryf is. Nuwe stories en herinneringe bind die voriges saam. Terugkykende fiksie en what ifs speel ook ’n rol in die boeke se aanbieding.

Willem se nuutgevonde geloof en sy gevolglike wending na Christendom, ’n konstante struikelblok en iets wat hy in die verlede verpes het, tesame sy stryd teen sonde en die verkondiging van die evangelie maak dié comics diep en eg. Die leser word ingetrek by sy onsekerheid en soek saam met hom na antwoorde.

Met die vrystelling van Mengelmoes 6, Porn Again, is daar hopelik baie om te ontvou. 360 bladsye later is hierdie ’n ryke storie om die jeug van die 90′s se uitgangspunt te verstaan, of om saam met hul daaroor te besin.

Samuel se werk is gevorm deur jare se ondervinding, asook sy kunste-opvoeding onder leiding van Bittercomix se Anton Kannemeyer. Dat hy sy storie só deel is van onskatbare waarde.

Kry Mengelmoes uitgawes 1 tot 5 asook nommer 6 (dit verskyn binnekort) by Readers Den. Uittreksels van die boeke is op Mengelmoes se Facebookblad te sien.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Mengelmoes comics gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand