NuusKlyntji

Vrye Weekblad herleef met Max du Preez as redakteur

NuusKlyntji
Vrye Weekblad herleef met Max du Preez as redakteur
Max du Preez met die destydse Vrye Weekblad wat van 1988 tot 1994 uitgegee is.

Max du Preez met die destydse Vrye Weekblad wat van 1988 tot 1994 uitgegee is.

Met mede-redakteurs Anneliese Burgess en Jacques Pauw

Ná sy onlangse uittrede as rubriekskrywer by News24 en ander Afrikaanse koerante, het dit na vore gekom dat Max du Preez die destydse Vrye Weekblad laat herleef as webkoerant, met Tiso Blackstar as uitgewer. In die verklaring hieronder lig hy uit waarom die koerant weer op die been gebring word en wie betrokke gaan wees. Die weeklikse digitale koerant word glo van April 2019 af gepubliseer op VryeWeekblad.com, met die eerste ses uitgawes wat gratis beskikbaar sal wees.

 
 

Max du Preez se verklaring

“Toe Vrye Weekblad 25 jaar gelede sy deure moes sluit, het ons ietwat oneerbiedig verklaar: ons fade nie, ons fokof.

Wel, Vrye Weekblad is terug. Met mening. Aanlyn dié keer. Geen boom word opgeoffer sodat jy op hoogte kan bly nie.

En geen minister kan ons gebied om drieduisend keer die normale registrasiefooi as ’n koerant te betaal soos wat Kobie Coetsee in 1988 gedoen het nie.

Die tyd vir Vrye Weekblad II is reg en die behoefte daaraan is duidelik.

Ons missie vandag is fundamenteel dieselfde as in 1988: soek die feite; wys geen genade vir diegene in magsposisies nie; sny deur die mis en rook en geraas en kom by die waarheid uit. Ons taak is om ’n ingeligte openbare mening te help skep en so ons demokrasie te dien.

Met die eerste verskyning van Vrye Weekblad.

Maar die omgewing is vandag gans anders as in die turbulente laat 1980’s en vroeë 1990’s. Suid-Afrika is vandag ’n konstitusionele demokrasie, ’n oop gemeenskap met vryheid van spraak wat in die grondwet verskans is.

Dit was waaroor Vrye Weekblad destyds gedroom en voor gewerk het.

Ons is trots op die rol wat ons gespeel het. Geen voorbehoude nie.

Ons het beslis nié gewerk vir wat die laaste dekade of so in die land gebeur het nie: staatskaping, korrupsie, wanadministrasie, magsmisbruik, hebsug, goedkoop populisme, onverdraagsaamheid en raspolitiek.

Soos apartheid en rassisme destyds ons teiken was, só gaan dié verskynsels Vrye Weekblad II se teiken wees. Ons gaan weer teen etniese mobilisering, wit en swart, baklei.

Ons het onsself destyds ’n progressiewe stem genoem. Ons is dit steeds. Onder progressief verstaan ons verdraagsaamheid, oopheid vir nuwe idees en oortuigings, nie-rassigheid (ons definisie daarvan verskil dalk van dié van die regerende party en regse drukgroepe), lojaliteit teenoor die grondwet, ’n verbintenis tot menswaardigheid en tot reg en geregtigheid, ’n erkenning van die nalatenskap van ons bittere verlede en ’n onderneming om ’n meer regverdige en voorspoedige Suid-Afrika te help bou.

Vrye Weekblad II is geensins ’n Afrikaner-publikasie nie. Dit is ’n Suid-Afrikaanse webkoerant in Afrikaans. Vir almal wat Afrikaanssprekend is of Afrikaans verstaan.

Ons is lankal erg gefrustreerd met die bestaande Afrikaanse media.

Hoekom juis nou Vrye Weekblad laat herleef? Ons is lankal erg gefrustreerd met die bestaande Afrikaanse media. Ons is ’n Afrikaanse mediahuis, klink dit vir my is die houding, so ons het ’n gevange lesers/kykerskorps en kan dus maar middelmatig wees. En ons is so skytbang vir die lawaaieriges regs van ons dat ons liewer by hulle gaan witvoetjie soek. Geen energie nie, geen avontuurlustigheid nie, geen vonk van kreatiwiteit nie. Misdaad en celebrities is die hoofmaal.

Kieskeurige, denkende Afrikaanse lesers verdien beter. Hulle hoef hulle nie na Engelse publikasies te wend nie. Vrye Weekblad is terug. Ons wil weekliks nuus, menings, ontledings en essays van wêreldgehalte publiseer.

Ons gaan elke Vrydagoggend met ’n heel nuwe aanbieding na vore kom, en elke weeksdag met ’n bulletin en, waar paslik, nuwe berigte.

Saam met my in die kernspan is die gewese adjunk-redakteur van Vrye Weekblad, Jacques Pauw, deesdae nog beroemder na sy boek The President’s Keepers, en Anneliese Burgess, wat in Vrye Weekblad se dae by ons sustertydskrif Die Suid-Afrikaan was. Ons drie het ook jare lank by SAUK-programme soos die TRC Special Report en Special Assignment saamgewerk. Die gesoute joernalis Adri Kotze in Londen is ons Europese korrespondent. En dan het ons ’n ryk oes van van die beste joernaliste, skrywers en ontleders in Afrikaans wat gereeld vir ons gaan skryf.

vrye weekblad max du preez

Die grootste nagmerrie met die oorspronklike Vrye Weekblad was nie soseer die staat se houding en optrede nie, maar die finansies. Die meeste adverteerders was skrikkerig vir ons, en van dié wat wel belang gestel het, is deur die owerhede geintimideer om te onttrek.

Vrye Weekblad II het die finansiële steun van Tiso Blackstar Group, uitgewers van onder meer Business Day, Financial Mail, Sunday Times en Sowetan. Ons is baie gemaklik met ons vennote.

Ons beplan om in Maart ons eerste uitgawe op die web te sit.”


*Bygewerk met nuwe inligting (20/02/19).

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Vrye Weekblad herleef met Max du Preez as redakteur gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand