Sluit aan by dié Instagram-studiegroep oor 'n Griekse tragedie
Rozanne Vos en Lisa-Marie Myburgh se opdieping van Antigone
Dit het alles begin toe Rozanne Vos in 2018 Jean Anouilh se vertaling en verwerking van die klassieke Griekse tragedie van Antigone* by Bikini Beach Books gekoop en verslind het, alles in een sonnige middag. “Die informele trant, die kleurvolle grysheid, die tragedie, die relevansie, die suiwer politiek van die hele saak het my meegevoer,” vertel Rozanne. “Die volgende dag het ek begin vertaal.”
Ná ’n paar weke het sy ’n stukkie van haar “gestaltende vertaling bewerig voorgelees” aan Lisa-Marie Myburgh. Die saadjie het op vrugbare grond geval en in die daaropvolgende week het hulle weggespring en die teks begin omskep deur ’n reeks oefeninge, mediums, prosesse en gesprekke.
Ná sowat ’n jaar van ondersoek en navorsing agter die rug, sowel as ’n voorlesing van ’n uittreksel hier en daar, het Heinrich Groenewald die creative duo die geleentheid gebied om vir ses weke die Komposjaart-inwoning (residency) op die Kleinood-wynlandgoed te benut, van Julie tot begin September 2019, met die fokus om dié projek te ontgin.
Al vertel die duo oor hoe ryk en betekenisvol die ervaring was, word daar ook gemeld dat die werk emosioneel toleisend was. “Nadat ons die inwoning afgehandel het, het ons al die werk in ’n kis gesit en dit spreekwoordelik op die solder laat wag.” Buiten die kis van werk, wat nou weer oopgemaak gaan word, is ’n ou Afrikaanse skoolwoordboek as deel van die inwoning in ’n gat op Kleinood begrawe. Die boek was vir die duo insiggewend oor hoe Afrikaans in die verlede gebruik was; dit is ook deur Myburgh geskilder.
Jy word nou uitgenooi om deel van die spreekwoordelike opgrawing en verkenningsproses van Antigone te wees. “Ons is gereed om ’n studie van die teks te maak en die eerste weergawe te hersien met die hulp van enigiemand wat bereid is om te lees en deel te neem.” Dis ’n tipe studie-groep, steekproef, tafelgesprek en/of gemeenskap. Daar is ’n ope-oproep vir mense om deel van die projek te word om sodoende insae en idees te lewer, asook om foute uit te wys.
Daar is ’n rowwe program opgestel vir die volgende ses of sewe weke. Om te registreer vir die studie-groep, stuur ’n follow request aan @antigoneheks op Instagram en stuur tegelykertyd jou naam en e-posadres in ’n DM.
Om jouself bekend te maak met die projek, kyk solank na hierdie karaktergids en tekstuele inleiding.
Daar sal weekliks bronne en uittreksels gedeel word, op Instagram maar ook via e-pos. Daar sal ook, waarskynlik, video-gesprekke wees. Tot watter mate jy betrokke wil wees, word aan jou oorgelaat: “Jy is enigetyd welkom [om te onttrek], ons neem jou nie kwalik nie. Die inhoud is swaar en uitdagend, maak nes jy wil. Moet nooit huiwer om vrae te vra nie, ons help waar ons kan.”
* Antigone is die jongste dogter van Oedipus Rex. Oedipus Rex was ’n koning wat noodlottig sy eie pa vermoor het en vier kinders by sy biologiese ma verwek het. Hy het nadat hy dít uitgevind het, verstandelik nogal gesukkel, sy oë uitgeg(rou) en kort daarna gesterf.