Stefanie Langenhoven se foto's verken die vroulike psige
Haar werk vorm deel van die nuwe Klyntjies
Stefanie Langenhoven is opgelei as ’n fotograaf en psigoterapeut, maar het besluit om vir sewe jaar lank op te hou foto’s neem. Ná haar studies by Open Window en die National College of Photography in Pretoria, en ’n paar jaar se werk in haar eie kommersiële fotografie-ateljee, is sy Brittanje toe om transpersoonlike integratiewe psigoterapie te swot. Dit is die kennismaking met die menslike psige wat haar kunsfotografie, wat sy weer van 2005 af voltyds aanpak, wesenlik beïnvloed het.
Haar werk fokus op die geleefde ervarings en argetipe van vrou-wees, deur die vroulike liggaam uit te beeld as ongepoets en nie-konformerend in die lig van die patriargie se obsessie met die vrou. Sy daag die “male gaze” uit deur met ’n vroulike blik na binne te kyk. As ’n metode van self-uitdrukking is baie van Stefanie se werk selfportrette. Sy noem dat sy nuuskierig is oor selfbeeld en hoe persepsies van vroulikheid verdraai word deur die weerspieëling daarvan in die samelewing. Met haar werk wil sy ’n diepere, meer betekenisvolle vroulikheid nastreef. Sy verken die temas van dood, vrees, liefde, transformasie, gender, verhoudings en drome.
In van haar meer onlangse werk verken sy die band tussen tweelinge en sibbe wat baie na aan mekaar is. Die intuïtiewe verbintenis wat hulle met mekaar deel, is iets wat sy verken, deur die vraag te stel of dieselfde fenomeen kan ontstaan tussen die lewendes en die dooies, of selfs sonder dat daar fisieke kontak hoef te wees. Sy reflekteer ook op hoe ons eensaam kan voel al is ons saam met ander mense, veral in die tyd waar soveel van ons aandag afgelei is in mekaar se teenwoordigheid.
Stefanie word verteenwoordig deur DF Contemporary Gallery in Kaapstad en is ’n geassosieerde kunstenaar by die Dead Bunny Society.
Stefanie se fotografie is in uitgawe sewe van Klyntjies te sien saam met teks deur Christa Steyn. Klyntjies is saamgeroep deur Juanita Køtzé vir BiB, in samewerking met Klyntji.