Die radikale krag van vroulike vriendskap in Wyfie

Foto’s verskaf
Azille Coetzee dink na oor nuwe maniere van wees
Ek het onlangs vir die eerste keer Boer soek ’n vrou gekyk en op een manier is dit presies wat ek geweet het dit sal wees, want ons almal ken die storie, maar op ’n ander manier het dit my verras. Al word die vroue in kompetisie teen mekaar gestel vir die liefde van ’n man in ’n wyse wat net so deprimerend is soos wat dit klink, kry die kyker hier en daar ook onverwags vlugtige blikke van wedersydse respek en vriendskaplike bande wat tussen sommige van die vroue ontstaan. Hulle bring immers baie tyd saam deur in die afwesigheid van die boer, hulle deel kamers op sy plaas en maak saam kos. Dikwels is die vroue almal soveel interessanter en meer innemend as die boer vir wie se liefde hulle kompeteer. Daar is oomblikke waar ’n mens sien dat hulle dit weet, wanneer die boer iets simpels sê en die een skiet ’n kyk vir die ander. As een van die vroue die trekpas kry van die boer, kan mens soms ongemak tussen dié wat agterbly, bespeur; wanneer hulle weer op hul plek gesit word, herinner word aan hoekom hulle daar is, op wie se plaas en waarvoor. In gevalle waar die boer besonders middelmatig of onbegeerlik is, fantaseer ek oor ’n rebellie van die vroue: Wat as hulle saam besluit om die boer van sy mag oor hulle te ontneem? Wat as hulle sê eintlik wil nie een van ons jou hê nie? Maar in die drie seisoene van die reeks wat op Showmax beskikbaar is, gebeur dit nooit nie. Ek blameer hulle nie; dis hoe ons grootgemaak is, jy kan vriende maak met die vrouens, maar die boer is die baas van die plaas.
Ek was vier jaar oud toe ek my eerste vriendin gemaak het. Haar naam is Katryn. Sy en haar ma het in ’n spookagtige huis in Johannesburg gewoon met groot ou bome in die tuin. Ná Katryn was dit Simoné in preprimêr, toe Lenka in laerskool, later Syrene. In hoërskool tot reg deur universiteit was ek deel van ’n hegte groep vriendinne in die konteks van wie ek ontwikkel het tot wie ek is. Ons het saam geskaaf aan mekaar se persoonlikhede en styl, mekaar ondersteun deur verhoudings, deur ouers se egskeidings, ons het raad gegee oor seks, oor masturbasie, menstruasie; ons het boeke en tydskrifte uitgeruil, mekaar opgepas as iemand te veel gedrink het. Ure op die telefoon gesels oor ons grootste drome, ons mees beskamende fantasieë, die vrese, die hunkeringe. Teen die tyd dat ons gegradueer het, was daar niks wat ons nie van mekaar geweet of verstaan het nie. Dit is nou amper twee dekades later en ons sien mekaar selde, maar ek droom nog steeds van hulle.
In ons wêreld is monogame, romantiese liefde die ingang waardeur mens volwassenheid betree. Om vrou te word beteken om die vrou van ’n man te word, die ma van kinders. Om die netwerk van sorg wat jy met vriende gedeel het vir die eerste twee of drie dekades van jou lewe te vervang met ’n huwelik en ’n gesin van jou eie. Die vriende hoef nie heeltemal te verdwyn nie, maar hulle word verplaas na die kantlyne.
Vir Wit Afrikaners soos ek het hierdie reëls ’n baie spesifieke setlaargeskiedenis. As jy ’n Wit nasie wil hê, het jy nodig dat Wit Afrikaanse vroue die babas kry van Wit Afrikaanse mans, so skep jy ’n bloedlyn waardeur grond oorgedra kan word van vader na seun, vader na seun. Die vrou trou in die man se familie in waar dit haar werk is om aan die volgende generasie geboorte te gee en te versorg. Sy word deur hierdie verbintenisse gedefinieer, sy is mevrou so-en-so en bo alles ’n ma, alle ander verhoudings kom tweede. As die vrouens mekaar se geselskap te veel geniet en saam in ’n kar klim om die plaas te verlaat, is alles verlore. (Dit is waaroor ek skryf in my nuutste boek Desire at the End of the White Line: Notes on the Decolonisation of White Afrikaner Femininity [2025, UKZN University Press].)
As ’n mens die wêreldpolitiek volg, is dit duidelik dat dit nie uniek is aan Afrikaner-witheid nie. Die eerste ding wat Donald Trump doen in sy nuwe termyn is om weer van voor af tradisionele heteroseksuele familiewaardes te institusionaliseer – weg met meer vloeibare idees van genderidentiteit en genderrolle, weg met reproduktiewe vryheid vir vroue. Die heteronormatiewe, patriargale kerngesin is nog altyd die hoeksteen van ekstraktiewe kapitalisme en Wit heerskappy.
“Die eerste ding wat Donald Trump doen in sy nuwe termyn is om weer van voor af tradisionele heteroseksuele familiewaardes te institusionaliseer – weg met meer vloeibare idees van genderidentiteit en genderrolle, weg met reproduktiewe vryheid vir vroue. Die heteronormatiewe, patriargale kerngesin is nog altyd die hoeksteen van ekstraktiewe kapitalisme en Wit heerskappy.”
In hierdie wêreld word vriendskappe tussen vroue nie ernstig opgeneem nie, selfs met agterdog bejeën. Dit word tipies afgemaak as ligsinnig of giftig (omdat daar aangeneem word dat ons eintlik net met mekaar kompeteer vir die liefde en erkenning van mans). “How The White Lotus nails the ugly truth about female friendship” is die opskrif van ’n artikel in Glamour Magazine verlede week. Vroulike vriendskap is nie ’n verhoudingsvorm wat enige institusionele ondersteuning geniet nie, nie met erns uitgebeeld word in die populêre kultuur of media nie. Dieselfde geld nie vir vriendskappe tussen mans en broers nie. Dit word geïnstitusionaliseer op allerhande maniere (dink aan die Broederbond, al die old boys’ clubs, ensovoorts) en gesien as iets met groot morele waarde en eksistensiële gewig, dink Good will hunting; Brideshead revisited; Ballade vir ’n enkeling; Nêrens, Noordkaap.
Hoekom die verskil? Want ons wêreld is gebou op netwerke van mans, bloedlyne van mans, wat geproduseer en onderhou moet word deur vroue. As vroue te naby aan mekaar kom, wegdraai van die manne af, kom daar probleme; wat moontlik word, is ’n wêreld op ander terme.
Dit is wat Wyfie vir ons gee, die 2024-Showmax-reeks oor die vriendskap tussen vier vroue saam in ’n universiteitskoshuis. Die regie is behartig deur Johan Cronje, Emilie Badenhorst, Eva du Preez, Ben Heyns en Johannes Pieter Nel en dit is geskryf deur die uitgelese span van Marcel Spaumer (hoofskrywer), Ryan Pedro, Morné Strydom, Kanya Viljoen, Igna Botha, Margo Kotze, Melissa Myburgh, Meesha Aboo en Liese Kuhn. Die hoofkarakters van Wyfie is lewenslustig en jonk en wanneer hulle nie besig is om saam te drink en te dans in die kampuskroeg nie, spandeer hulle ure op ’n rusbank besig om te gesels, saam te eet, realiteitstelevisie te kyk. Op die oog af kan ’n mens in die versoeking wees om dieselfde aanname te maak oor Wyfie as wat so geredelik oor stories van vroulike vriendskap gemaak word: dat dit leë vermaak is, oppervlakkig en apolities. Maar as jy ’n vrou soos ek is, wat honger is vir ruimer uitbeeldings van vroulikheid, van queerheid in Afrikaans, wat siek is van die manne wat die wêreld regeer, wat hunker na nuwe maniere van wees in hierdie taal en in hierdie plek, sal jy vasgenael sit vir 90 episodes en aan die einde van dit alles glo dat jy jou lewe kan verander. (Hierdie artikel spruit uit jare se voortdurende gesprek tussen my en my vriende, spesifiek ’n groep wat al lank besig is met hierdie vrae in hul gewone lewens: Bibi Burger, Vasti Calitz, Chan Croeser, Jana Vosloo, Heleen Hofmeyr, Luami Calitz, Judy-Ann Cilliers.)
Die reeks verken op verfrissende en genuanseerde maniere allerhande transgressiewe temas wat mens gewoonlik nie op Afrikaanse televisie teëkom nie, soos sekswerk, seksuele trauma, verlies aan geloof, seks tussen mense van verskillende rasse, queer seks, orgasmes, mishandelende verhoudings. Maar die mees radikale ding wat die reeks doen, is om vir ons ’n blik te werp op die soort lewe wat moontlik word wanneer ons vriendskap (van alle soorte maar veral vroulike vriendskap) sentraal stel tot die lewens wat ons leef, wanneer ons onsself situeer binne groter netwerke van sorg wat nie wentel rondom die (Wit) man nie, wat ons nie verwyder van die res van die wêreld nie. As daar dan iets soos ’n antitese van Boer soek ’n vrou is, sal dit Wyfie wees.
Die verhouding wat sentraal gestel word in Wyfie, die spil waarrondom die storielyn draai, is die langdurige maar komplekse vriendskap tussen Shay en Amanda. Shay (gespeel deur Beata Bena Green) is die dogter van ’n beroemde anti-apartheidsaktivis, sy is stylvol en queer en kunstig. In die reeks is dit sy wat vrae stel en soek en skep. Amanda (Celeste Loots) is die een met die mooi mond en die siedende woede, die een wat so heerlik die p-woord kan sê. Sy is donker en damaged, en sy dink nie voor sy doen nie. Hulle was saam op skool en is al beste vriende van kleins af. Die openingstoneel van die reeks is een waarin Amanda en Shay in glinsterende laatsomerskemerlig op die dak van die koshuis staan teen die agtergrond van Stellenbosch se berge, in mekaar se oë in kyk met soveel emosie dat dit eers lyk soos ’n liefdestoneel, maar dan vertrek Shay se gesig van paniek en val sy agteruit, amper oor die rand van die dak. Amanda vang haar, trek haar terug en vir ’n oomblik is hulle in mekaar se arms, voor Amanda haar weg stoot en skree met ’n stem wat hees is van pyn: “Ek fokken haat jou.” Die res van die seisoen gaan oor die oploop tot hierdie oomblik. Die kyker leer dat Amanda en Shay se vriendskap ’n lang geskiedenis het, met sy eie mitologie soos wat daar tipies in romantiese verhoudings ontwikkel: woorde, speletjies, plekke en stories wat met betekenis gevul is vir hulle twee; ’n ryk verweefdheid met mekaar waardeur hul albei gevorm is, ’n gedeelde lens waardeur hulle na die wêreld kyk. Hulle ken mekaar se liggame, deel Pinterest-borde, verstaan mekaar se families. Daar is ’n beliggaamde intimiteit aan die vriendskap. Diep in die tweede seisoen, wanneer Shay se menstruasie vir haar groot pyn veroorsaak en haar verhouding op die rotse is, tap Amanda vir Shay ’n bad, bind haar hare vas agter haar kop en was haar rug, terwyl Shay stil sit en huil. Ek kry hoendervleis wanneer ek die toneel kyk, want ek ken dit, daardie soort liefde. Deur die loop van die reeks het beide Amanda en Shay ’n hele aantal seksuele en romantiese verhoudings met ander karakters, maar die narratief is gestruktureer sodat hierdie verhoudings bloot sydelingse vertakkinge is van die hoofaar wat Amanda en Shay is. (Ek het elders geskryf oor die komplekse rassedinamiek van hul verhouding, sien Desire at the End of the White Line, bl.199-200.)
In die eerste episode word Amanda en Shay saam met twee ander jong vrouens geplaas in ’n gedeelde koshuisruimte wat as Die Grot bekendstaan. Daar is sexy Mia (gespeel deur Mienke Ehlers) met die bene en die harde buitekant, maar die groot hart en die onwrikbare sin vir geregtigheid. En daar is Kyla (Kristen Raath) met die rooskleurige gelaat, die dreigende geloofskrisis en die diep begeertes. Hulle is almal baie verskillend en aanvanklik lyk dit onwaarskynlik dat hulle oor die weg sal kom, maar die vier vrouens vind kort voor lank dat hulle meer gemeen het as wat hulle verwag het en die reeks handel dan oor die dinamiese verhoudings wat hulle met mekaar kultiveer en navigeer.
Beáta Bena Green as Shay
Mienke Ehlers as Mia
Celeste Loots as Amanda
Kristen Raath as Kyla
Vir al vier die jong vrouens bied die vriendskap wat hulle in mekaar vind, ’n netwerk van sorg en samesyn wat hulle nie in hulle eie families kon vind nie. Amanda se pa het homself geskiet in haar ouerhuis en haar ma is oorlede; Shay se pa het hulle verlaat toe sy nog ’n baba was; Kyla se ouma het haar grootgemaak omdat haar ouers nie kans gesien het vir die verantwoordelikheid nie; en Mia se ouers het hulle oë toegemaak vir die seksuele mishandeling wat sy ervaar het as tiener deur haar pa se besigheidsvennoot – haar huis was altyd “bietjie van ’n red zone,” sê sy.
Die reeks wys hoe die familiestruktuur dikwels nie in staat is daartoe om vir mense die sorg te bied wat hulle toekom nie. Dat dit ’n mite van laatfase-kapitalisme is dat familie genoeg is, dat ons nie ander vorme van gemeenskap nodig het nie.
Die reeks dink na oor wat ’n tuiste is en vind dit is nie iets wat outomaties by familie lê nie. In episode 29 van die tweede seisoen sê Shay: “Huise, ek dink die afgelope tyd so baie daaraan, meer spesifiek, wat ’n huis ’n tuiste maak en wat ons so tethered daaraan hou.” Aan die einde van die episode kom sy tot die gevolgtrekking dat ’n tuiste dalk net ’n gevoel is, een van “rustigheid, veiligheid, vryheid” en dit is wat hulle vir mekaar gee in Die Grot, al is dit nie in die vorm van ’n huwelik en ’n kerngesin nie.
Tog is die sorg wat hulle bymekaar kry, nie ’n mindere plaasvervanger of kompromie vir die sorg wat ’n mens in familie kry nie. Eerder, as mens lank genoeg kyk, begin dit soos ’n soort utopiese alternatief lyk. Omdat dit vier vrouens is wat vir mekaar sorg, kan huishoudelike en versorgingswerk eweredig verdeel word; daar is geen “natuurlike” hiërargie soos wat daar tussen man en vrou (pa en ma) bestaan nie (geen aannames oor wie “natuurlik” aangelê is vir watter soort werk nie). Hulle maak vir mekaar kos, gee vir mekaar geld, luister na mekaar se probleme, staan mekaar by in ’n netwerk of ekosisteem waarin emosionele, finansiële, huishoudelike arbeid sirkuleer op wedersydse en eweredige maniere wat nie bepaal word deur gender nie. Soms ontvang jy, soms gee jy, soms is jy die kwesbare een en soms is jy sterk.
Wyfie stel die kwessie van versorging sentraal. Hoe sorg ’n mens vir mekaar buite die groewe van die heteroseksuele kerngesin, wat is die terme daarvan, wat is die moontlikhede en wat beteken dit vir wie ons kan wees?
Die reeks bied ’n blik op vroulike queerheid en romantiese liefde met groot pluraliteit, tekstuur en multidimensionaliteit. Shay en Kyla word uitgebeeld in verhoudings met vroue van ander rasse as hulself, later is Shay saam met ’n vrou wat dekades ouer is as sy, en Kyla bevind haar in ’n verhouding met ’n vrou wat haar sielkundig misbruik. Tog gaan Wyfie verder en doen iets wat ’n mens kan argumenteer selfs meer interessant is. Dit verken die inherente queer potensiaal van vriendskap (waar queerheid nie seksueel funksioneer nie, maar te doen het met potensiaal vir vermenging, transgressie, dubbelsinnigheid en veelvuldigheid). Die reeks gee vir ons ’n sosialiteit tussen vriende wat improviseer moet word, deurentyd van vorm verander. Daar is nie patrone of resepte wat mens help verstaan wat dit beteken wat ’n mens vir mekaar voel, of wat voorskryf wat ’n mens aan mekaar verskuldig is, of die vorm van die intimiteit wat mens aan mekaar moet gee nie. Dit is ’n kreatiewe proses waar mens saam met iemand op verbeeldingryke maniere skep aan ’n verhouding wat verander wie jy is.
“Die reeks gee vir ons ’n sosialiteit tussen vriende wat improviseer moet word, deurentyd van vorm verander. Daar is nie patrone of resepte wat mens help verstaan wat dit beteken wat ’n mens vir mekaar voel, of wat voorskryf wat ’n mens aan mekaar verskuldig is, of die vorm van die intimiteit wat mens aan mekaar moet gee nie.”
Chelsea Thomas as Jocelyn (regs)
Basetsana Motloung as Neo (links)
Op hierdie manier is Wyfie polities radikaal, esteties interessant en persoonlik opwindend omdat dit ’n lewenswyse uitbeeld, ’n raamwerk gee vir die wording van die self buite die kloustrofobiese rigsnoere van die heteronormatiewe, patriargale kerngesin en die reëls van Wit Afrikanergenealogie, omdat dit vir my as vrou ’n voorbeeld gee van ’n identiteit wat nie relatief is tot ’n man nie, wat nie beperk word tot my reproduktiewe kapasiteit nie.
Wyfie bied niks hiervan aan as swaar en siellose feministiese werk nie. Nee, in teenstelling: Dit gaan oor plesier! Plesier wat die vrouens in mekaar se teenwoordigheid ervaar op soveel maniere, plesier wat jy as kyker voel en nog vir ure ná ’n episode in jou lyf ronddra. Die ruimtelike middelpunt van die reeks is die rusbank in Die Grot waarheen die vier hoofkarakters altyd terugkeer, en saam in hulle pajamas of half in hulle onderklere samesyn geniet. Dit is ’n liggaamlike plesier wat ek goed ken, die saam sit en eet en drink, kyk en luister, lees en gesels terwyl tyd oopgaan en rondom jou uitkring. Die fantasie dat vrouens mekaar se hare sit en vleg is nie nié waar nie.
Die plesier van saamwees in vroulike en queer vriendskappe gaan ook oor die onthulling van die self oor ’n lang tyd, hoe iemand anders jou herinner aan al die vorige weergawes wat jy was, jou verantwoordbaar hou aan jou diepste self, maar jou ook laat veilig voel om te verander. Amanda, Kyla en Mia moedig vir Shay aan om haar hart te volg wanneer sy verlief raak op ’n veel ouer vrou, al is dit gevaarlik, al beteken dit dat sy minder beskikbaar sal wees vir haar vriende. Mia help vir Kyla om haar begeerte vir vrouens te ontsluit en hulle almal ondersteun haar deur verskillende fases van haar self-verkenning. In ons romantiese of familieverhoudings is mense dikwels belê in die huidige of vorige weergawes van wie ons is of was, die verhouding sukkel om te strek om nuwe weergawes van ons te akkommodeer (iets wat ’n mens byvoorbeeld sien in die romantiese verhouding tussen Kyla en Jocelyn). Wyfie vra: Wat beteken dit om lief te wees en te sorg vir iemand omdat hulle is wie hulle is, maar hulle terselfdertyd volle ruimte en ondersteuning te gee om te verander? “Om vir iemand om te gee is soos om jou hart uit jou bors te haal en in iemand anders se hande te plaas,” sê Shay. “Dit wat hulle kies om te doen, word die dinge waarmee jy moet deal.”
Die groot krisis waarop die verhaallyn afstuur is wanneer Shay verlief raak op Maggie (Cintaine Schutte), en dan die soort romantiese verhouding begin wat so ernstig is dat dit die koers van Shay se lewe kan verander en dus groot implikasies het vir Shay se vriendskap met Amanda, Mia en Kyla. Amanda maak een oggend vir Shay douvoordag wakker en sleep haar saam om ’n koppie uit te stap wat hulle al van skool af saam uitstap. In ’n gestroopte toneel, in grys vroegoggend lig, sit hulle bo-op die koppie met die dorp wat onder hulle uitstrek en Amanda deel haar vrees oor Maggie met Shay. “Sy is verlief op jou op die mooiste, genuineste manier wat ek nog altyd gehoop het iemand verlief sal raak op my ride-or-die,” sê sy. “Maar van daai dag af is ek in fokken turmoil, want ek voel soos so ’n fokken asshole, want ek is so fokken happy vir jou maar my hart is ook in fokken stukke, want sy is perfek vir jou.” En dan in trane: “Ek weet dat dinge gaan nie weer rêrig dieselfde wees nie.”
Nes ek en jy, het Shay en Amanda grootgeword met die storie dat om ’n grootmens te word beteken om romantiese liefde te vind waarrondom jy jou lewe kan en moet bou. Hulle aanvaar, nes ek het, dat die verplasing van vriendskap onvermydelik is in die proses.
“Niemand gaan jou ooit replace nie,” sê Shay, “ek is mal oor jou.” Mens kan sien dat sy dit wil bedoel, maar in die episodes wat volg, verander dinge tussen hulle, Shay bring meer en meer tyd saam met Maggie deur en Amanda onttrek van Shay af. “Wat is besig om tussen ons te gebeur?” vra Shay vir Amanda.
“Ons is seker net besig om groot te word,” antwoord sy.
Cintaine Schutte as Maggie (links)
Die laaste klomp episodes van die reeks word dan ’n soort bewening van die onvermydelike verlies van die lewe wat die jong vrouens saam geskep het, selfs terwyl hulle nog binne-in daardie lewe staan. “En voor jy jouself kan vang, is jy en jou vriende besig om papiere rond te stuur, skelm-skelm, van een hand na die ander, op soek na antwoorde en tyd mors en grootword, en voor jy jou oë uitvee, is dit alles verby.” Hulle maak beloftes aan mekaar dat hulle nooit uitmekaar uit sal dryf nie, pinky promise en cross my heart hope to die dat alles dieselfde gaan bly, maar die toon is melankolies. Daar is ’n episode waar hulle vir Kyla terugneem Kraaifontein toe nadat sy geskors is uit die universiteit, en kort daarna trek Mia in ’n enkelkamer in nadat sy tot die koshuis-HK verkies is. Hulle ontdek ’n groeiende swart skimmelvlek in Die Grot en Shay en Amanda moet ook daar uit. ’n Paar maande later verlaat Amanda die dorp. Dis alles verby en as kyker sit jy en sluk die trane weg. Jy onthou so helder wat jy alles self verloor het langs die pad.
In die heel laaste toneel vind mens vir Shay op ’n punt in die toekoms waar sy nou saam met Maggie woon. Haar foon lui en wanneer sy antwoord, is dit Amanda se stem wat luid na haar roep uit een of ander kroeg of klub oorsee, want dit is haar en Shay se liedjie wat speel. Dis ’n hoopvolle einde natuurlik, hoe hul uitreik na mekaar, maar die note van Angie Oeh se droewige en byblywende temamusiek vul die toneel, Shay sit alleen op ’n bank in ’n doodstil woonstel, Amanda is net ’n stem op ’n foon êrens vanuit ’n ander kontinent, en die verlies voel verskriklik.
Blykbaar ís daar ’n episode van Boer soek ’n vrou waarin twee van die vrouens muit. ’n Vriendin van my onthou dit; sy het dit jare gelede in een van die heel eerste seisoene gesien. Die vrouens is op die plaas van ’n vreeslike oninteressante boer, hulle deel ’n kamer en een vroegoggend wanneer hulle in die bed lê en gesels, beken hulle aan mekaar hoe min hulle van hom hou. En dan klim hulle saam in die kar en hulle ry daar weg. Ek weet nie of my vriendin dit reg onthou nie en self kan ek die episode nie vind nie, maar ek hoop dat dit bestaan.
Azille Coetzee is ’n skrywer en navorsingsgenoot by die Universiteit Stellenbosch. In haar navorsing ondersoek sy die dekoloniserende krag van feministiese en queer denke. Haar werk is in verskeie internasionale vaktydskrifte gepubliseer, en sy is die skrywer van Desire at the end of the white line: notes on the decolonisation of white Afrikaner femininity (2025, UKZN University Press), Die teenoorgestelde is net so waar (2021, Human & Rousseau) en In my vel: ’n reis (2019, Tafelberg).
Azille Coetzee is die skrywer van ‘In my Vel: ’n Reisverhaal’ wat later hierdie jaar deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word, en ’n nadoktorale genoot by die South African Research Chair for Gender Politics by Stellenbosch Universiteit.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die radikale krag van vroulike vriendskap in Wyfie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.