Angie oeh se energie sal vir ewig hou

'n Huldeblyk aan dié kweer ikoon met die vrystelling van haar eerste (en laaste) vollengte album Wyfie

Die eerste track van die postuum-vrygestelde Angie oeh-album Wyfie begin met ’n asem (‘Asem teen die venster’), terwyl die laaste een eindig met net ’n spoor (‘Spoor’). So reis my gedagtes en emosies in 30 minute deur ’n album wat soos ’n leeftyd voel. Angie oeh, met haar bleach blonde hare, tattoos, cool styl en kweer-energie, het te fokken gou hierdie wêreld verlaat. Maar sy het vir ons haar stem gelos; Peach van Pletzen en die span wat saam met Angie gewerk het, het deur die swaar en die seer van dié moerse verlies gewerk om Angie se laaste opnames in Augustus vry te stel.

Angie oeh, née Angelique Greeff, is op 19 Augustus 2023 oorlede ná sy met fase 4-longkanker gediagnoseer is. Gedurende dié tyd het sy aan ’n soundtrack saam met Peach van Pletzen gewerk vir die Afrikaanse series Wyfie. In Julie vanjaar het Valkie van Coke (Wynand Myburgh) via haar Instagram page aangekondig dat daar ’n klomp unreleased musiek vrygestel gaan word. Daar gaan uiteindelik 14 liedjies drop, asook ’n kortfilm wat aan ons ’n intieme behind-the-scenes-blik op die produksieproses gee.

Vir hierdie artikel gebruik ek die woord kweer as ’n Afrikaanse woordspel op queer. Ek verkies kweer bo die woordspesifieke beskrywings soos lesbian/gay, want dit is, volgens die skrywer bell hooks, meer as net met wie jy slaap. Dit is eerder ’n manier van leef, in stryd met alles om jou, soveel so dat jy kreatief moet dink aan nuwe maniere van floreer en selfuitdrukking. Dit klink dalk absurd, en ek hoop dat daar nog baie iterasies en eksperimente met die taal sal gebeur in die toekoms, maar vir hierdie stuk wil ek graag die taal probeer buig rondom Angie, nie anders om nie. Dit is ook belangrik om te noem, vir diegene wat wonder hoekom dit nodig is om meer kweer openbare figure in hoofstroom-Afrikaanse kultuur te sien, dat ons in ’n tyd leef waar daar ’n groot golf van anti-LGBTQI+-sentimente deur die wêreld spoel. Dit is gevaarlik om openlik te sê dat jy nie volgens die heteronormatiewe narratief leef nie. Dit is gevaarlik om te sê wie jy liefhet en hoe jy identifiseer, en dit is ineengevleg met ander aspekte van identiteit, geografie en omstandighede. Die blote feit dat Angie die openbare (Suid-) Afrikaanse kulturele domein as openlik kweer betree het, en boonop nie bang was om soos ’n matroos te vloek nie, het beteken dat sy in haar kort beroep die tight rope tussen fame en infamy moes loop.

Die blote feit dat Angie die openbare (Suid-) Afrikaanse kulturele domein as openlik kweer betree het, en boonop nie bang was om soos ’n matroos te vloek nie, het beteken dat sy in haar kort beroep die tight rope tussen fame en infamy moes loop.
— Carina Jansen

Angie oeh se onderhoud met Peach van Pletzen op sy reeks Praating was vir my baie moeilik om te kyk. Veral waar hulle begin gesels oor haar toekoms. Deur die knop in my keel en wat voel soos klippe in my maag, het ek wel dit belangrik gevind om te hoor hoe sy gesels oor die feit dat sy nie noodwendig ooit ’n tipe van ikoon of simbool wou wees nie, maar ongelukkig, omdat daar so min mense soos sy in die industrie is, het sy eintlik geen ander keuse gehad nie. Tog – of dalk juis daarom – moes die jong kletsrymer met baie aanlyn aggressie en haat deal.

Een van my gunstelingkenmerke van Angie is dat sy nooit op haar bek geval was nie. Die een uur wat ek na YouTube-kykers se kommentaar gekyk het op haar musiekvideo’s, was genoeg om my naar (en bang) te maak oor die haat van konserwatiewe Afrikaners teenoor kweer persone wat nie in húlle boksies van genderrolle en -identiteit pas nie, maar Angie het nooit die haters laat wegkom sonder ’n one-liner van haar af nie. My gunsteling bly steeds waar sy net vir party geskryf het: “Tiete”. Dit vat baie van een jong mens om so op te staan vir haarself, en dit gee ook dalk moed vir ander om dieselfde te doen. Dankie daarvoor, Angie.

Om die nuwe album van begin tot einde te luister, binne die konteks van haar vorige musiek, was vir my ’n diep ervaring. Ek is ook altyd baie opgewonde om na musiekvideo’s te kyk, want ek vind dit op sigself ’n interessante genre. Wat my opgeval het met haar eerste album se musiekvideo’s, is hoe daar kweer-elemente begin gesig wys het toe sy begin co-direct het. Ek dink spesifiek aan ‘Te sexy’ wat die Pussy Riot-estetika gevat het en gekombineer het met ikoniese plekke in die Moot. (Vir die mense wat nog nooit in die Moot was nie, dis skrikwekkend Afrikaans. En voel so ’n bietjie unreal.) Die lukraakheid van die jukstaponering van die visuele materiaal van die Moot met die lirieke van ‘Te sexy’, is vreemd maar opwindend. Dan is daar ’n bietjie van ’n indie coming-of-age element te sien in ‘Altyd op my vibe’.

Ek moet my keer om nie moedeloos te voel oor hoe baie potensiaal daar was en hoe opgewonde ek was om te sien hoe Angie oeh as kunstenaar sou groei en verander en die konserwatiewe fokkers in die comment sections laat bewe het nie. Maar ek herinner my dat musiek magies is en dat dit vir ewig is. Angie het haar gat af gewerk om vir ons iets te gee wat ’n ewigheid sal hou.

In ’n parking lot in Randburg het ek vir Peach van Pletzen gebel om te gesels oor die produksieproses van die album. Hy vertel vir my dat Angie, amper asof sy geweet het wat gaan kom, konstant probeer tyd deurbring het in die studio. Al was sy siek, was sy in die studio, of dit nou vir vyf minute was of langer. Daar was ’n opgewondenheid oor die musiek wat niemand kon blus nie. Soos my gedagtes met die luister na die nuutste musiek gevloei het, het die eerste song (een van my gunstelinge op die album) my reeds laat besef dat hierdie album anders is.

Peach lig dit in ons gesprek uit dat omdat die musiek aanvanklik vir ’n soundtrack was, Angie haarself kon vrymaak van die Angie oeh-persona. Daar is ’n volwassenheid te sien in hierdie album wat voel asof sy baie langer in die industrie betrokke was. Daar is ’n kombinasie van Engels en Afrikaans, wat ek eintlik baie van hou, want dit wys dat sy nie haarself in slegs ’n suiwer Afrikaanse boksie vir haar gehoor wou plaas nie. Peach beskryf dié proses as effortless en organies, omdat sy wel begin het om in Engels te rap en baie van haar ikone Engelse rappers was. Die Engelse aspekte behoort ook die musiek meer toeganklik te maak vir nie-Afrikaanssprekendes, beide in Suid-Afrika en internasionaal. Jy kom collaborators op die album teë soos Biggie en Jack Parow, Yesterday’s Pupil, Early B, Hanna en Kay Faith. Alhoewel al die collabs gedoen is nadat sy ons verlaat het, was dit belangrik vir Peach om te luister na wie sy aanbeveel het vir elke track in die studio. Waar sekere tracks nie lank genoeg was nie, moes hy speel met repetisie en klankbane. Dit was werklik ’n alchemistiese proses. Mens kan verskeie temas verwag in die album, insluitend melankolie, optimisme, boss-bitch-energie, partytjie en mortaliteit. Peach beskryf dit as een van die mees profound albums waaraan hy nog gewerk het.

In ‘Murder depot’, song nommer 12 op die album, is daar harmoniese vocals wat jou amper regmaak vir die feels in die laaste twee liedjies. Ek gaan eerlik wees, hierdie twee het my soos ’n trein getref.

Fok, julle…

Ek kan net baie dankie sê aan die exceptional team wat hierdie album bymekaargesit het, insluitend Peach van Pletzen, Wynand Myburgh, Louise Crouse en al die collaborators, wat deur die pyn en die hartseer van Angie se afsterwe iets so beautiful soos dié album kon produce. Ek hoop dat almal mekaar in hierdie tyd styf sal vashou, maar ook sal dans en vier dat Angie se magic vir ewig by ons sal wees. Just press play.

Die enigste huldeblyk wat werklik Angie se nalatenskap sal justice doen, is ’n belofte aan jouself dat jy sal aanhou jouself wees, al maak dit nie vir almal sin nie. Ek vra glad nie vir ’n nuwe Angie oeh nie, maar vir meer kweer mense wat die industrie kan oopbreek en die konserwatiewe konglomeraat van die kultuur kan kwaad maak. Ek soek meer redes om actually van Afrikaans te hou.

Ek voel ’n poes ’bout what you say — Ek doen my eie kak like every day.
— Angie oeh

Ek glo dat die energie van een mens wat sterf, nooit werklik verdwyn nie. Dit word net iets anders. Die energie wat Angie in die wêreld gebring het, sal aanhou beweeg en verander, of dit nou mense se harte, idees of ambisies is. Iets hét klaar verander in die kort tyd wat sy physically hier was. Angie se nalatenskap is ’n uitnodiging vir al die kweers, die weirdos, die zeffies, die gays en die girls om haar energie verder te neem, om iets daarmee te maak wat vir die wêreld wys, in die woorde van Angie: “Ek voel ’n poes ’bout what you say — Ek doen my eie kak like every day.”

Tiete <3
(vir ewig)

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Angie oeh se energie sal vir ewig hou gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand