Hylton Nel se tuisgebakte speelsheid
Die wêreldbekende kunstenaar van Calitzdorp
Hylton Nel is in 1941 in N’Kana, Zambië gebore en het in die Noord-Kaap grootgeword en in Kimberley skoolgegaan. Hy verwerf sy BA-graad in beeldende kuns aan Rhodes-Universiteit in Grahamstad, waarna hy in Antwerpen aan die Royal Academy of Fine Arts ’n diploma in keramiek voltooi. Hierna woon en stal hy sy werk uit in verskeie stede in verskeie lande: Kaapstad, Kent, Gqeberha, Bethulie, Londen, New York, Oudtshoorn, Edinburgh, Johannesburg, Durban. Selfs nadat hy in 2002 in Calitzdorp in die Klein Karoo ge-settle het, is daar uitstallings in Kaapstad, Dublin, Londen, Denemarke, Franschhoek, New York, Providence, Johannesburg, Charleston. En meer onlangs, in Junie vanjaar, verskyn vergrootte weergawes van sy kenmerkende keramiekbeelde en motiewe uit sy kuns op die runway in Parys, waar sy werk as inspirasie dien vir ontwerper Kim Jones se nuutste versameling vir Dior Homme (L/S 2025). Dié groot oomblik bevestig Hylton Nel se status as een van die wêreld se mees verbeeldingryke pottebakkers.
In ’n onderhoud met Wallpaper vertel Jones dat dit Nel se “homespun monumentalism” en die uitgestrekte Karoolug waaronder Nel woon en werk is, wat as die grootste inspirasie vir sy Dior-ontwerpe gedien het. Dié tuisgeweefde monumentalisme (as ek so direk mag vertaal) is so eie aan Nel soos sy vingerafdruk — dit word vasgevang in sy speelse keramiekbeelde van mense en katte, in die ruimtes en objekte waarmee hy homself in sy huis aan die buitewyke van Calitzdorp omring.
Speelsheid en jeugdigheid is twee woorde wat Nel, vanjaar 83, se werk vir my onmiddellik oproep. Ironies genoeg toon ’n scroll deur die argief van sy werk op sy webwerf (wat terugstrek tot in die 1960’s) ’n toenemende versterking van hierdie speelsheid oor die jare heen. Waar sy eerste werke in die 1960’s ’n gevoel van erns het, toon sy keramiekbeelde en -borde teen die 1990’s ’n onmiskenbare styl wat ek nie anders as “speels” kan beskryf nie. Sy kleurpallet is lewendig en fun; sy beelde is byna ongesofistikeerd, soos wanneer ’n mens ’n dier (of ’n meermin, of ’n dier-meermin, of ’n nude man) van geheue af probeer teken. Dan is daar sy keramiekborde, met kleurvolle patrone en teks in sy scrawly handskrif wat wissel van cheeky tot random tot ietwat poëties, soos “This plate is what I have to say” (2009), “oh oh oh / thoughts of you will never end! / Your left arm I used / for a pillow / and when you turned / on your side / I turned with you” (1990’s), “Mampara” (2003), “Champagne for my real friends…” (1990’s) en “aan die een kant is Bethulie ’n baie kak plek, maar aan die ander kant is hy dood lekker” (1995). Daar is iets besonders naïef aan sy styl, en ek dink dit is juis hierdie (gevoel van?) naïwiteit wat Nel se werk vir my (en baie ander) besonders charming maak.
Maar selfs al is hierdie speelsheid ’n kernelement van Nel se werk, is ’n politieke bewustheid nooit ver nie — een keramiekbord lees “God abhors you” (2007), met die eerste letters wat die titel uitspel: G.A.Y. (Nel self is openlik gay, en homo-erotiese beelde en die penis is ’n gereelde motief in sy werk), terwyl ’n ander een “Black Lives Matter” (2020) vertoon. ’n Ander een lees “Long live Senator Romney who voted against his party and an unsavoury POTUS” (2020); ’n ander “Three unforgettable weeks in Gaza” (2009). Hierdie politieke kommentaar te same met die kinderlike kwaliteite van Nel se beelde, blyk amper vir die (high brow-) kunswêreld ’n boodskap te stuur oor estetiese norme: It’s not that deep.
Op sy webwerf verskyn ’n lang, uitgebreide transkripsie van ’n gesprek waarin kurator Michael Stevenson vir Nel oor sy lewe en werk uitvra. Hierin kry ’n mens ’n unieke blik op Nel se lewe en wêreldbeskouinge: van ’n 12-jarige (die seun van ’n veeboer) in die Noord-Kaap wat saam met sy beste vriend Engelse poësie gelees het en verbeeldingryke toneelstukke ge-improvise het totdat hy kosskool toe gestuur is “to straighten [him] out”, wat tot sy ouers se skok en disapproval kuns gaan swot en blootgestel word aan die kunswêreld, en die wêreld at large; van sy reise regoor die wêreld, sy werk as kunsdosent, sy liefde vir boeke, sy skepproses, sy gedagtes oor die aard van inspirasie…
Eklekties is seker nog ’n woord wat Nel se werk kan beskryf. Soos sy huis in Calitzdorp: Gevul met beelde en borde wat hy self gemaak het en wat hy self gevind het; boekrakrakke propvol boeke en verskeie gevonde en geskepte voorwerpe; foto’s van familie/vriende/lovers; poue op die voorstoep; ’n hond en ’n rotstuin in die agterplaas. ’n Maksimalistiese, cluttered samekoms van die voorwerpe wat getuig van ’n lewe se soeke na inspirasie, waardering vir die objekte wat ons agterlaat. In sy gesprek met Stevenson vertel Nel juis dat hy sy werk beskou as “trying to make one’s own culture, a world within which you can operate”.
Nel se joernaalinskrywings op sy webwerf (waarvan daar vele is, kyk hier) getuig ook van hierdie eklektiese versameling en soeke na objekte — beelde, prente, boeke — waaruit die kunstenaar betekenis, inspirasie, genot kan put. In ’n uittreksel skryf Nel op 13 Februarie 1967:
My idols, those I make and those I buy are perhaps my longing, my wish to find an omnipotent god (vain) and my wish that these things be temple furnishings and ritual objects.
In ’n ander een, geskryf op 14 Junie 1970:
My room overlooks the pagoda in Kew Gardens. I have a bookshelf for my books; and on top and round about is my gear, the inanimate things, artefacts, found brought and stolen things and natural things that interest me, delight me and sometimes sicken me, but only when all else sickens me.
Ook die byna whimsical obsessie met katte en ’n speelse ingesteldheid word in hierdie joernaalinskrywings uitgebeeld:
The little cat has just peeped in and peered at me with half-closed eyes. She has withdrawn herself again. I have removed the tobacco and ashtray from the cushion on the chair by my bed. If she wants to she will come in when she’s ready and perhaps spend the night on this nice deep blue velvet cushion which though it suits her ginger colour was not bought especially for her. (18 Desember 1970)
In ’n ander joernaalinskrywing skryf Nel op 6 September 1970 iets wat sy ingesteldheid van sy werk vir my vasvang, en ’n gedagte waarmee ek jou, liewe leser, los om oor te dagdroom terwyl jy na Nel se werk kyk:
Objects have a ritual quality. One must be careful handling cups and plates because handling things is a ritual. Move without haste, consciously.