Sounds like words: Kobus Kotze se spoken word poetry

Sounds like words: Kobus Kotze se spoken word poetry

Vir die 'renegades, vagabonds, wanderers, loved ones, dead ones, alive ones, forgotten ones, remembered ones'

Kobus Kotze

Kobus Kotze is in die Springbokvlakte in Limpopo gebore en het grootgeword en skoolgegaan op Potch. Hy het later ook universiteit daar bygewoon. Dis hier waar hy saam met skrywers soos Alwyn Roux en Mariëtte van Graan skryfkuns en letterkunde geswot het. Later in sy lewe het hy begin optree by die Dowe Digters in Pretoria. In hierdie tyd het hy bevriend geraak met Johan Jack Smith, Deon Maas en ander skrywers, en ’n spoken word/poësie-groep begin. Kobus, Franco Prinsloo en André van Rensburg (Battery 9, OHM) het hulleself Dooie Diere genoem en in en rondom Johannesburg en Pretoria, asook by Oppikoppi opgetree. In 1999 vat Kobus die pad: Hy hitch-hike deur Suid-Afrika en doen odd jobs to get by. Hy vertaal Athol Fugard se Bloodknot as Bloedbroers, en dit word deur Christo Davids en Hennie Jacobs, met Zane Meas as regisseur, in 2009 by die KKNK opgevoer. Hy skryf ook die teaterstuk Splinterster saam met Jaco Mans (musiek), Pieter Lombard (regisseur), Franco Prinsloo, Johan Jack Smith, Netanja Brink en Johanica Havenga, en dit word by Aardklop (2017) opgevoer. Tussendeur is daar trips na Asië. Hy woon tans in Hanoi, Viëtnam, waar hy en sy suster in sy trip hop/poësie/eksperimentele groep Free State Gothic optree.

Dit was tydens ’n besoek aan Suid-Afrika, en spesifiek tydens ’n optrede van Free State Gothic in Rosendal in die Vrystaat, dat die geleentheid opgeduik het om sy spoken word poetry op te neem. In ’n email exchange vertel Kobus vir my hieroor:

Dit was een van die meer emosionele, although very simple and stripped down shows wat ek in my lewe gedoen het. Na die show het Stella Olivier (die kunstenaar van die album cover art) gevra of ek dit asseblief nie kan opneem nie, hulle sou dit graag wou onthou. Dit was vir my natuurlik ’n moerse voorreg en half skaam het ek gesê: “Goed, let’s do it!” Jaco Mans, die bekende kitaarspeler, het saam met ons opgetree in Rosendal en is ’n ou vriend van my. Ek het die EP toe sommer by sy huis saam met hom opgeneem en die eindproduk aan Virgin Music Africa gestuur. Surprisingly they seem to really support poetry type albums, understated minimalist art stuff or whatever one calls it, en het dit toe onder hulle vaandel vrygestel. 

Kobus en sy suster, Marike, perform in Free State Gothic.

Die EP, Sounds like words, begin met ’n verwelkoming en ’n uitnodiging:

Hello. Renegades. Vagabonds. Wanderers. Loved ones. Dead ones. Alive ones. Forgotten ones. Remembered ones.

Só begin die eerste track, ‘Chasing ghosts’, voordat Kotze die luisteraar voorstel aan Boeta Paul, Pa Sakka, Bra Johan, liewe Ada, ’n mooi seun en “’n superperd wat soos ’n boogrugkraai oor die sandsteenberge vlieg”, “die vreemdeling langs die groot pad wat afdraai na Delagoa en ou Sixpence met sy drome oor pers bougainvilleas in die winter ook”, en die luisteraar uitnooi:

Let us take the tiny mirrors inside our hearts on this more or less short journey
of life on its way to death —
murderers, arsonists, drug addicts, bums,
thugs, embezzlers, collectors of little things,
and you and I and I and you and us.

Let us climb through the gap
to the final junk yard where all memory goes away

Album artwork deur Stella Olivier

Met die eerste hooropslag is die ryk beeldvorming en die vloeiende ritme van Kobus se stem veral opvallend. Sy stem vloei oor die woorde teen die agtergrond van klanke wat ek net as “spacey” kan beskryf. En dit is juis hierdie ryk beelde wat inmekaarvloei en groei, wat die luisteraar op ’n journey beyond tyd en plek neem — deur daardie gap, na daardie “final junkyard where all memory goes”.

In ons email exchange vertel Kobus vir my dat hy as kind op hulle plaas op die Springbokvlakte tydkapsules met briewe in begrawe het. Die snitte op Sounds like words voel soos om so ’n tydkapsule op te grawe en oop te maak.

‘Chasing ghosts’ gaan juis oor “die onvermydelikheid van verandering en die verbeelde skoonheid van vrede and letting go,” vertel Kobus. Die figure wat Kobus aan die luisteraar voorstel, vertel hy my, is mense vir wie hy, en baie ander ook, baie lief is, en wat hom vir altyd verander het ná hulle dood. Hy beskryf die rouproses “soos as ’n mens ’n plant snoei” — verlies bring onvermydelike verandering. Soos Kobus ook beautifully in ‘Boeta Bosvelddroom’ (snit 3) verwoord:

Soos ’n blinde stalaktiet sonder die voorbeskikte kennis
van sy uiteindelike evolusionêre ineenstorting
in ander uiteindelike eise van bestaan
binne al die stom sterrestelsels
van ons veronderstelde begrip was dit
toe
jou liggaam opgestaan het so tussen die bergklippe
een gewone sondige oggend

soos die wedergeboorte van ’n planeet wat vir ewig verlore wou wees.
[…]

Soos ’n junkyard, is die snitte op Sounds like words bestrooi met voorwerpe en dinge van uiteenlopende oorspronge. Kobus verweef nostalgiese herinneringe met die futuristiese, die buiteruimtelike met die aardse, die mens en sy besoedeling en vrese en vreugdes en kleinlike bestaan met die expansiveness van die Bosveld en die hemelruim. Die video vir ‘Chasing ghosts’ (geskep deur Frans Borman) — bestaande uit ’n jukstaponering van beeldmateriaal van nagkameras in die Bosveld, van highways, besige straat-scenes in Asië, vuurwerke, woude, uilbeelde wat lyk soos Helen Martins s’n en plaaswerkers in landerye — vang vir my die klank en affektiewe effek van Sounds like words visueel goed vas. Dis quintessentially nomadies in estetika en ingesteldheid.

In die tweede snit, ‘I believe’, ondersoek Kobus “die ideologiese realiteite en drome wat deur die wêreld om ons gevorm word,” vertel hy my. “Dit praat van die aard van geloof, beide in groot ideale en die onopvallende kleiner oomblikke wat ons lewens definieer.” “I believe in the precise cut of the warmongers shrapnel through the skin, in the perfect symmetry of the flickering movie screens and the countless universes of the house wives that pass each other in shopping malls, in the madness of the city planners that split perfect symmetry into lonely bewilderment […] I don’t believe in drones,” verklaar Kobus.

In ‘Jou ma se huis’ (snit 4) neem die journey ’n draai by ’n plaashuis in die Springbokvlakte. Soos spoke, sweef luisteraars “vroegoggend” saam met Kobus oor die stil vlakte na ’n huis wat (hierdie luisteraar net aflei) ’n baken van veiligheid, nostalgie en geborgenheid is.

Die EP sluit af met ‘Roads’, waarin Kobus nogmaals die luisteraar uitnooi om ’n nomadiese bestaan — van gees en gedagtes, eerder as van vlees — te handhaaf. “Let us take the roads that lead to junkyards in countries we have never known to exist.” Die snit is ’n epic road trip deur plekke, tye en memories; deur asphalt highways met “the screams of car guts”, deur “burning grass fields in autumn” en “barely marked meandering moss trails”.

Ek hou in die besonder van hoe Kobus taal in die sentrum van hierdie journey deur die “junkyard of memory”, deur tyd en plek dus, plaas. Taal is immers al wat ons eintlik het om sin te maak van ons (sinnelose?) bestaan op hierdie planeet in die middel van die Jirre-weet-wat-alles-daarbuite-aangaan. Taal enable ons om abstrakte konsepte met mekaar te kommunikeer, soos die teorie van relatiwiteit, of liefde en verlies en verlange. Taal help ons om te onthou. Taal help ons om die toekoms te verbeel. Ek is g’n metafisikus nie, maar ek is fokken gefassineerd deur die workings van taal. Is taal nie maar ook so metafisies soos die samestelling van die heelal self nie? Sounds like words laat my glo dit is. Lees/luister net die laaste reëls van die EP:

For now let us choose to walk
to the less direct byways of thought
to the miniature mountains that asphalt
makes on roads and if you look real close
you see there the liquids of animals, cars and mist
flow through the small rock cracks like rivers on
maps in places where we have dreamt of one day being in
If not so, we will adapt and we will make
boorish beacon fires
with wet wood and dying trees
we will pack little
temples of stone to remember that
we were once at this imagined place
I would whistle in the wind like a flightless winged bird
and stand and watch the sound of it die under little brushes
next to the road
But only after we make our tongues in the shapes of leaves
curling up in the autumn sun.


Kry die PDF van die geskrewe woorde van Sounds like words hier.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Sounds like words: Kobus Kotze se spoken word poetry gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand