MyMyMy, wat het ons hier?

MyMyMy, wat het ons hier?

Foto’s: Lorcan Berg

Treffers vir Tannies is dié Kaapstadse synth-pop-duo se eerste album

“Kitsch, Kamp en effens Onbeskof” – só is die synth-pop-duo MyMyMy se enkelsnit ‘Ek en jy, Dikgat’ destyds beskryf. Dié snit en sy out-of-this-world music video (letterlik) en tong-in-die-kies lirieke (“Skies, my skat, jy’t fokkol styl” — iconic) het in 2021 semi-viral gegaan. Tóé vertel Conrad van Breda – een helfte van die MyMyMy-duo – dat dié snit deel vorm van ’n toekomstige album wat “soos ’n musical gaan wees”, of “[e]intlik meer ’n low budget trash opera”. Vanjaar het MyMyMy se curtain call uiteindelik aangebreek: Hulle album Treffers vir Tannies is in September bekendgestel.

MyMyMy bestaan uit Conrad van Breda (op klawerbord en sintetiseerders) en Jana Oosthuizen (sy sing). Van Breda is ’n viool-onnie; Oosthuizen gee klas in sang en drama. MyMyMy het sewe jaar gelede reeds musiek begin vrystel. In 2015 sing Oosthuizen reeds op Van Breda se dromerige synth-pop-slash-shoegaze-klanke van “’n Afrikaner-hipster met ’n daisy in sy baard” (‘Kryger’). Nou, in 2023, rig MyMyMy hulle visier op Die Afrikaner Tannie. En, soos ‘Ek en jy, Dikgat’, is Treffers vir Tannies “kitsch, kamp en effens onbeskof”.

Treffers vir Tannies is, luidens ’n persverklaring, “’n ode aan radiodramas, sepies en techno” en geïnspireer deur film noir en “die eindelose sentimentaliteit van Broadway musicals”. Die album belowe verder “oomblikke van teerheid, melodrama en oppervlakkige geluk”.

Die album vorm inderdaad byna ’n musical, met verskeie karakters en storielyne van liefde, verraad en (die verlange na) verlossing. Daar is Marta, die radio-omroeper, ontstel deur lelike kommentaar op Facebook, wat die album open op haar radioprogram Musiek met Marta. Dan is daar Maarlyn Roos, ’n gewese Afrikaanse popster, en haar eks-rugbyheld man Jan-Brink Vermeulen in ’n toneelspel akin to Joost en Amor: Die Musical of Nadine en Derick: Die Opera op ‘Psycho Tannie’ en ‘Doodgewoon’. Anneli van Rooyen se ‘Neem my op vlerke’ kry ’n makeover wat ’n hele nuwe vlak van gevoel en betekenis (en cool) aan dié classic gee. (In MyMyMy se weergawe is ’n paartjie aan heroïne verslaaf en besluit hulle om saam ’n oordosis te neem.) In ‘Hooglied (feat. Cloud Witness)’ ontmoet Enya die NG Kerk om ’n verhaal van verlangende, verbode liefde in die kerkbanke te vertel – dink koorsang en klavier kruis paaie met ’n synthesiser en bassline. “‘Vonkel’,” bieg die duo, is ’n “onbeskaamde en eerlike poging om ’n vrolike, opgewekte en radio-vriendelike nommer te skryf” — “’n perfekte Saterdagmiddag lekker-voel-naweek-tone-tik-witwyn-snit”. Hiermee akkordeer die uwe.

Die album bevat ook drie enkelsnitte wat vroeër bekendgestel is: Die reedsvermelde ‘Ek en jy, Dikgat’, ‘Vonkel’ en — een van my persoonlike gunstelinge — die mid-tempo shoegaze-nommer ‘Die partytjie’.

Met ’n (befokte) feature deur rapper SAMPAULE, tong-in-die-kies lirieke (“laat hierdie tannie jou iets vertel / sy was ook slim / kon alles vermag / totdat sy skielik hou van skottelgoed was”), ’n catchy koor en ’n polsende “ins-ins”-beat wat jou na ’n underground club in Berlyn transport, is die titelsnit ‘Treffers vir Tannies’ ’n hoogtepunt op die album. Draai die volume op vir dié een.

Alhoewel hulle inspirasie van toeka se kitsch kry, bly MyMyMy se klank gewortel in ’n elektronika-klank wat reeds van hulle vroeër werke kenmerk. (Luister byvoorbeeld ‘In hierdie dorp’ van hulle 2019-EP Oorskiet.) Die algehele eindproduk is ’n mash-up van kitsch, kommin en kamp; van klavierkonserte, pop, Broadway, get-down-and-dirty-synths en pompende basslines. Dis ewe nostalgies as vars. Ek het nog nie iets soos dít in Afrikaans gehoor (of gesien) nie. (Shout out aan Romano, also known as die drag queen martian in ‘Ek en jy, Dikgat’, wat die stilering van die reklamefoto’s vir Treffers vir Tannies gedoen het. Cheff’s kiss!)

Die Tannie het in vandag se Afrikaanse popkultuur byna ’n Jungiaanse argetipe geword. Van Volksmoeder tot Karen — die variasies van middeljarige Afrikanervrou is volop. (Iemand moet nog eendag ’n tesis daaroor skryf.) Alhoewel die spot met Die Tannie óók in Treffers vir Tannies gedryf word, is die album veel eerder (at least volgens hierdie luisteraar) ’n heilsame ode aan jeugdigheid; ’n herinnering dat ons might as well die volume opdraai en dans asof niemand kyk nie tot die einde toe. Fok wat die bure sal sê.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van MyMyMy, wat het ons hier? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand