Aweregse mans se dekorstyle bekyk

Aweregse mans se dekorstyle bekyk

Masculus, 'n boek oor die manlike ruimte, deur Leoni Smit

Leoni Smit wou iets produseer wat nog nie voorheen gedoen is nie. Ander mense sou dalk ’n aweregse kunswerk aanpak, of dalk ’n beeldhouwerk uit ’n ongewone materiaal. Leoni besluit om mans en hul dekor en leefstyl te takel. Drie jaar, 562 bladsye en duisende foto’s later is MASCULUS – The Male Domain voltooi. Dit weeg ’n allemintige 7 kg en sal ’n kasteel se voordeur in die Suidooster kan oophou, maar is mooi genoeg om as kunswerk uitgestal te word. Dit vertoon 23 meestal maksimalistiese interieurs, propvol “heerlike chaos wat die konvensionele trotseer” – haar woorde, nie myne nie. 

Leoni Smit

Die boek is verpak in ’n mosgroen boekgleuf met 23 addisionele uitvou-foto’s. Die fotografie is deur Yvette Jordaan, Dirk Pieters en Mia Ziervogel; Leoni het die fotografiese stilering en skryfwerk behartig en Sirette Hare die grafiese ontwerp. Slegs 200 beperkte oplae met ’n genumereerde sertifikaat is as versamelstukke gedruk en ’n onbeperkte oplaag volg binnekort.

Leoni is ’n gerekende stilis, skrywer en was eienaar van fotografiese ateljees, Mudhouse en Runaway Royalty, waar spanne van die wêreld se voorste tydskrifte soos Vogue en Marie Claire kom fotografeer het. Ek moes ook saggies giggel toe ek sien wat haar Instagram handle is, @cheaparistocrat, en haar beskrywing daarby: “Ek reis op soek na treffende dekor.”

Die boek was op ’n koue wintersaand in die Ilse Schermers Art-galery op Stellenbosch met vonkelwyn bekendgestel. Sy beweeg tussen die mense en verklaar dan ewe droog aan ’n groepie gaste dat koffietafelboeke wapens van dekor-massavernietiging is, want dit plaas mense in modegier-bokse.

Die boek bekyk mans se lewenspasies van elke uithoek van die land, waaronder Bernie Diedericks, Cobus van Niekerk, Dapper (Willem) de Wet, David Bell, Gerhard Swart, Anthony C Harris, Gert van der Merwe, Jaco Jansen van Rensburg, Hein Liebenberg, Jacques Erasmus, Hylton Nel, Jan-Georg Solms, JanHarm Vorster, Pieter Vosloo, Jan Sauer Lambrechts, Jood Momberg, Johann Louw, Laurent Bayard, Laurie van Heerden en Kevin Reinders, Louis Janse van Vuuren, Hardy Olivier, Marc Watson, James Moffatt, Nhlanhla Eric Fologwe, Nicolaas Maritz, Phillip van Staden, Scott Hart, Tielman de Villiers en Wim van Zyl. Selfs oorlede Niel Stemmet is post humus by die lys ingesluit, weens sy uitsonderlike styl en lewensfilosofie. Cobus van Niekerk is 10 dae ná die publisering oorlede; hy het op sy sterfbed gesit en het nadenkend deur sy hoofstuk geblaai en gesê dat niemand hom al ooit so raak uitgebeeld het nie. Dat hy só tevrede is...

Foto’s uit MASCULUS: Verskaf

In die inleiding haal sy die woorde van Antoine de Saint-Exupéry aan: “A rock pile ceases to be a rock pile the moment a single man contemplates it. Bearing within him the image of a cathedral.” 

Sy skryf voorts dat die eerste ding wat haar opval as sy in ’n vertrek of ruimte instap, is ’n goeie keuse van musiek – Wes-Afrikaanse instrumentele musiek, of stadige blues, of donker tjelloklanke wat teen die wiegende gordyne dans of die patina van muurverf of skaduwees omhels. “En dan kyk ek na die elemente wat die vertrek interessant maak, daardie iets wat verklaar dat die persoon in mooiheid leef; hul wêreld inkleur.”

Sy sê sy hou van die weerhouding van minimalisme: maksimalistiese uiterstes, daardie voorwerpe wat effe af is, maar te goed is om te ignoreer, soos keramiekware van die vyftigs; of daardie stille skoonheid van ’n mooi landskapkunswerk wat teen antieke klip geplaas is of foto’s uit die sestigs.

Leoni se pa se loopbaan het van die gesin nomades gemaak, wat tussen die ou Transvaalse Hoëveld, die verre Limpopo waar haar grootouers ’n plaas besit het en die Kaap beweeg het.

“Ons kinders se dae is gevul met die maak en ontwerp van klere, papierpoppe, die uitmekaartorring van ou swembroeke en nuutskeppings uit ons verbeeldingswêreld,” vertel sy. “Ek het dikwels eerder na die agterkant van borduurwerk gekyk – die dekonstruksie van estetika. My belangstelling in vlegsels as versierings in die vroeë periodes van maak-met-wat-jy-het, het gelei tot my belangstelling in die kreatiewe platform van dekor. My eerste ervaring van die herwinning van voorwerpe was toe ek huise tussen die miershope in die rooigrond van die Bosveld gebou het met behulp van ronde klippe, stokke en materiaal uit my ouma se laai – ’n skatkis van nuuskierighede en uitrustings – of op my ma se grimeertafel, waar ek die swaaispieëls ten volle gebruik het vir my poppe se leefareas.”

As sy nou terugdink aan haar eerste ruimte wat sy gestileer het, was dit waarskynlik haar toktokkie se sandhuisie met maroelablaar en stokgras. “Want in die hart van die Bosveld was daar nie eens klippers nie,” sê sy. “As tiener het ek my almal op die bus voorgestel in verskillende klere, met verskillende haarstyle en beter skakerings lipstiffie – ’n wêreld waar alles meer aangrypend, meer waaghalsig gemaak kan word.”

fenomenale mans

Leoni sê gender is nie vir haar ’n “groot hoehaa” nie. “Ek kyk na onderwerpe wat onaangeraak is, wat ’n skaarste is in die milieu van dekor; na voorwerpe wat onvanpas is in ’n vertrek; na temas wat nog nie aangeroer is nie. Die mans in my boek is so fenomenaal van karakter – hulle het my hulle beste gebring – ek was oorweldig met hulle deelname en hulle stylvolle fynheid van leefstyl en van gees.”

Sy sê dit dwing jou ook om te kyk na “manlike” en “vroulike” dekor. “Verwys ons na donkerder kleure as manlike dekor en met ligter kleure na vroulike dekor? Is sterker lyne en woorde soos bas, amber, tekstuur en skerp meer toepaslik vir mans? Want as ons dit aanneem, kan ons egter presies die teenoorgestelde bewys: Sommige mans verkies bleker interieurs.”

Sy voeg by dat haar navorsing vir hierdie boek haar laat besef het daar is nie spesifieke “manlike” en “vroulike” dekorstyle nie. “Maar as ek deur die boek blaai en terugdink aan my gesprekke met hierdie mans, dat ek eerder bewus geword het – op ’n metafisiese vlak – dat die interieurs van MASCULUS mans se handewerk was.”

By die bekendstelling vertel Leoni aan die gehoor: “Ek word dikwels gevra wat het my gedryf om ’n koffietafelboek van 562 bladsye te maak. Ek kry my motivering van die Vogue-redakteur, Diana Vreeland, wat in haar kontroversiële Harper’s Bazaar-rubriek, onder die titel “Why don’t you”, mense uitgedaag het om ongewone lewens te lei. Ek het besluit om ’n boek te doen oor ondefinieerbare interieur – die dinge in jou huis wat ‘effe lelik’ is; hang spieëls met geskiedenis. Sit rond en kyk hoe die lig oor jou kamers val en bring die chemie van die gedig in elke vertrek. Soek na wat effe onaantreklik van mooiheid is. Wat tegelyk melodie en skreeukuns bevat. Dis waaroor styl gaan! Oor die private kaleidoskoop met stukke wat val waar hulle wil. En effense onaanvaarbare idees.”

Leoni voeg by dat sy besluit het op ’n dekorboek oor mans se leefstyl, omdat sy nie so ’n boek kon vind nie. Wel oor mansmodes soos Scott Schuman se The Satorialist blog, maar nie oor mans en hul dekorstyl nie.

Sy verduidelik hoe sy die mans vir die boek gekies het: “Hulle moes in die eerste plek versamelaars wees en nie deelneem aan die wedloop van wat in en wat uit is nie. Ek het mans gekies wat prominent is, maar nie te oorbekend nie. Die mans in MASCULUS is bekend vir hul smaak, maar ’n bietjie huiwerig oor publisiteit. Die dekor moes ’n bietjie ongedaan wees, los om die nate, nie te stylvol of presies nie, meer buigsaam en ongejaagd. En natuurlik moes hulle ’n spesifieke reflektiewe teenwoordigheid hê, ’n spesifieke manier om hul eie pas te bepaal. Al die mans in MASCULUS het een ding gemeen – hulle beskik oor ’n sekere energie wat nie op die sypaadjie gevind word nie. Hulle is nie bang vir risiko’s en foute nie.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Aweregse mans se dekorstyle bekyk gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand