Nuwe Afrikaanse musiek waarvan jy moet weet

'n Omvattende lys van wat om na te luister

Om ’n versameling van nuwe Afrikaanse musiek wat tussen 2020 en tot dusver in 2021 verskyn het, saam te stel, is ’n verbasend veeleisende taak. Afrikaans blyk om inderdaad, soos Van Pletzen sê, kakgroot te wees. En nie áltyd, soos Riku Lätti in ’n meningstuk op Vrye Weekblad beskryf, op die “Afrikaner-heimat gekoesterde sweer van homogene kultuur”-manier nie. Hier is Klyntji se lys van nuwe Afrikaanse musiek wat grense oorskry, bane breek en nuwe lewe in die Afrikaanse musieklandskap inblaas — kortliks, nuwe Afrikaanse musiek wat jy van móét weet. Jy’s welkom.

Die lys wat volg se enigste konstante is dat dit Afrikaans is. Afrikaans is immers ’n taal en nie ’n genre nie. En Afrikaanse musiek kán buite die boksies van Afrikaans Is Groot bestaan (en dit doen). Dankie aan dié kunstenaars en ander wat hulle werk met die wêreld deel. Ons luister graag.


SAMPAULE

SAMPAULE (uitgespreek “sample”) is die 22-jarige Kapenaar Paul-Samuel Rheeder se rapmusiekprojek wat nuwe terreine in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musieklandskap invaar. As uitgesproke queer Afrikaanse rapkunstenaar is SAMPAULE werklik ’n vars en vernuwende stem op die Afrikaanse musiektoneel. Met skerp lirieke (“Hulle sê ons adamsappels groei verkeerde vrugte / […] / deesdae voel ek dubbelnegatief”) bied SAMPAULE in sy musiek ’n vars blik op temas soos liefde, heartbreak, geestesgesondheid, verhoudings en (Afrikaanse) queer identiteit. Op visuele vlak bied die musiekvideo vir sy enkelsnit, ‘Die Anderkant’, sowel as sy Instagram en sy kunstenaarsbeeld as ’n geheel ook ’n vars en unieke estetika wat queer, Afrikaans en rap soomloos versoen. In sy eerlike Instagram captions besin hy oor kunstenaarskap, writer’s block, toksiese verhoudings, heling en geestesgesondheid. Luister ook SAMPAULE se Spotify Rugby en die Openbaring-playlist hier – hy beskryf dit as “Afrikaans is ’n movie. Hierdie is hoe die soundtrack in my kop klink.”

@sampaule

Rotas The Rapper

Rodney “Rotas” Goliath is ’n jong Afrikaanse rapper van Paarl wie se rapmusiek en ritmes nie net moerse vernuwend is nie, maar ook moerse cool is; luister byvoorbeeld na sy gebruik van Xhosa én Afrikaans in sy enkelsnit ‘Wees jouself’, en dié se boodskap van selfbemagtiging. Luister My drome hou my wakker, sy nuutste mixtape wat vanjaar verskyn het, hier. ’n Baie welkome, belowende en vernuwende jong stem wat gerus dopgehou kan word.

@rotastherapper

Zaan Sonnekus

Cézaan Sonnekus, beter bekend as Zaan Sonnekus, se eerste EP, No More Empty Words is in 2018 uitgereik. Sedert 2019 reik hy Afrikaanse enkelsnitte uit, met sy mees onlangse enkelsnit ‘Hoog’ wat in Augustus vanjaar vrygestel is. Sonnekus beskryf sy musiek as “alternative rock with a soulful backbone”. En dít is presies wat sy musiek is: alternatiewe rock wat opgebou is uit liriese vakmanskap en digterlike skryfvermoë. In die spoken word-snit ‘Donner Seer’, sowel as in ander enkelsnitte soos ‘Seer’ en ‘Soos Hel’ word Sonnekus se vermoë vertoon om die liriese kwaliteite van Afrikaans met klavier- en rockmusiek te komplimenteer. ‘Ek kan net bid’, wat opgedra word aan Sonnekus se ma wat weens Covid-19 oorlede is, is ’n eksemplaar van sy vermoë om sensitiewe, eerlike en poëtiese lirieke met rock- en klaviermusiek te vervleg om ’n kragtige emotiewe impak te hê. Terselfdertyd bewys hy met ‘Hoog’ dat sy musikale aanbod veelsydig genoeg is om luisteraars geïnteresseerd te hou. Op sy webwerf deel Sonnekus dat hy beplan om sy volle debuutalbum later vanjaar vry te stel.

@zaan_sonnekus

Margot Rothman

Margot Rothman het in 2019 met haar cover van Francois van Coke en Karen Zoid se bekende ‘Toe vind ek jou’ vir die amptelike filmtemalied van Fiela se Kind (2019) haar toetrede tot die Afrikaanse musiek-scene gemaak. Vanjaar het sy haar eerste oorspronklike enkelsnit ‘Tydelike Afleiding’ vrygestel — ’n pop snit wat aan enige iemand wat skepties oor Afrikaanse pop is, sal bewys dat ’n mens ’n baddie ook in Afrikaans kan wees. Kyk die musiekvideo vir ‘Tydelike Afleiding’ hier onder.

@margorothman

jitsvinger

Jitsvinger is reeds sedert die verskyning van sy debuutalbum in 2005 ’n bekende stem op die Afrikaapse rap en hip-hop scene. In Augustus vanjaar verskyn die musiekvideo vir Jitsvinger se nuutste enkelsnit ‘Graasies’, die eerste sedert sy ultra-smooth ‘Breinsuiker’. As die verskyning van ‘Graasies’ en dié se musiekvideo ’n aanduiding is dat ons nóg nuwe musiek van Jitsvinger kan verwag, is dit inderdaad opwindende tye vir Afrikaapse musiek.

@jitsvinger

Rooksein

Rooksein — bestaande uit die musikante Megan Danner, Dian André Maritz en Renier van der Westhuizen — is ’n trio wat vanuit Potchefstroom met hulle catchy rock-pop (verrassend genoeg) nuwe lewe in die Afrikaanse liefdes-pop song inblaas. Luister byvoorbeeld na enkelsnitte soos ‘Kyk na my hart’, ‘Onthou jy die dae’ en ‘Damlelielief’ en probeer om nié deur Rooksein se lighartige, catchy, dog tegnies-afgeronde tunes ge-charm te word nie (en om nié ná die tweede koor saam te sing nie).

@rooksein

Synth peter

Synth Peter het in 2020 opspraak gemaak toe sy debuutsnit (en dié se musiekvideo), ‘Doef Doef’, ’n viral sensation geword het. Jack Parow verskyn op sy nuutste enkelsnit, ‘Brakke Blaf’, wat pas in Julie vanjaar verskyn het. Luister sy volle debuutalbum, Die Toekoms is Synth, hier.

@synth_peter

Die Ek

Die Ek is ’n progressive Afrikaanse rockgroep van Pretoria wie se harde rock en eksperimentele komposisies en musiekvideo’s ’n buitewêreldse kreatiwiteit uitbeeld. Die groep is in 2014 deur Riaan le Roux gestig en het in 2019 hulle eerste enkelsnit vrygestel, ‘Verkeerde Voet’.

In Die Ek se titel-snit, ‘Die ek’, en die musiekvideo daarvoor, word die musiekgroep se eksperimentele, byna metafisiese aanslag op kreatiwiteit op ’n besonderse wyse uitgebeeld – so ook omtrent elke ander beskikbare liedjie en musiekvideo van hulle. Hul harde, progressiewe en byna psychedelic rock, hulle tegnies-vaardige kitaarspel en ander hoogs kreatiewe komposisies en musiekvideo’s getuig daarvan dat Die Ek ’n unieke bydra tot die Afrikaanse musiekaanbod bied, en boonop ’n moerse vonds op enige playlist is. 

Kyk die video vir ‘Die ek’ en vir ‘Fokijuk’ hier onder. Kyk ook ‘Fokijuk’ hier en die liriekvideo van ‘Verkeerde Voet’ hier.

@die_ek

EET KREEF!

EET KREEF! se Eet Kreef Herleef is presies dít wat die naam van hierdie musiekprojek voorstel: ’n Herlewing van dié ikoniese Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se Eet Kreef-album. Hierdie herlewing word gedryf deur Laudo Liebenberg (sang), Frank Freeman (kitaar), Sheldon Yoko (dromme), Etienne van Rooyen (klawerbord), Schalk van der Merwe (baskitaar) en Nicole Mitchell (sang).  

Eet Kreef oorspornklike album.jpg

Vir dié wat nie bekend is met die oorspronklike Eet Kreef-album nie, is Eet Kreef Herleef ’n fantastiese manier om bekend te raak met Kerkorrel en sy Gereformeerde Blues Band en dié se ikoniese liedjies soos ‘Sit dit af!’, ‘Energie’, ‘Hillbrow’ en ‘BMW’ (en al die ander treffers), wat vir die eerste keer in 1989 op die oorspronklike Eet Kreef-album verskyn het. Indien jy reeds bekend is met dié ikoon van ’n album, is Eet Kreef Herleef ’n fantastiese her-ontdekking en her-waardering van die oorspronklike album.

Die oorspronklike word gemoderniseer en instrumenteel afgerond op ’n manier wat die essensie van die 1989-album verhef en vernuwe. Dis ’n besonderse kopknik en respekbetoon aan die nalatenskap van Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band en die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging waarvan hulle destyds deel was. Hoendervleis en vollebors-saamsing gewaarborg vir die album se volle duur van 49 minute en 26 sekondes.

Jy kan hier op Showmax kyk hoe Liebenberg, Freeman, Yoko, Van Rooyen, Van der Merwe en Mitchell Eet Kreef laat herleef. 

@eetkreef

Henru

Easy-going ritmes en catchy kore komplementeer Henru se skerp raplirieke, wat ’n verfrissende bydra tot die onlangse opbloei in Afrikaanse rap bied. Liedjies soos ‘Beter Nou’, ‘Langer bly’ en ‘Bietjie Bietjie’ (“shout out vir die heartbreak vir die liedjie”), ‘Bang’ (“die whisky maak my tipsy maar die liefde maak my bang / hoe gaan ek jou vervang”) en ‘Run’ bied ’n blik op liefdesteleurstelling en heartbreak wat verfrissend in rapvorm aangebied word. ‘Jack se Kind’ is juis ’n salute in die rigting van Jack Parow (“Hinke-pink / Ek praat so vuil my asem stink / ek’s bar, ek’s onbeskof, ek dink ek’s Jack Parow se kind […] oh shit, Jack se kind”), terwyl ‘Dis ’n repeat’ en ‘Shoutout’ verdere edgy raplirieke en ritmes bied.

Henru se laid-back indie-rap is ’n vars bydrae tot die Afrikaanse musiek-scene, en soos hy self rap: “Kom ons almal verstaan / hoe jy bal en hoe jy spit / het niks te doen met jou taal / ek doen my ding in Afrikaans en die ding gaan nog mal” (‘Dis ’n repeat’).

@henru_eb

Lucinda Neethling

Lucinda Neethling is ’n kunstenaar (en Pilates-instrukteur) wat sedert 2002 ’n lid van Die Melktert Kommissie (nóg ’n Afrikaanse musiekgroep waarvan jy moet weet) was. In 2019 het sy haar solo-debuut gemaak met Waar die see die kus omhels, ’n EP wat Neethling saam met Bouwer Bosch uitgereik het. In 2021 verskyn haar enkelsnit ‘Ons is ons’ (feat. John-Henry Opperman). Kort daarna verskyn haar solo-debuutalbum, Uitgeskryf, wat ten beste beskryf kan word as “poetry ontmoet pop”. Luister Uitgeskryf hier.

@lucindarosacreates

Kontras

Kontras is ’n Afrikaanse alternatiewe rockgroep wat dit regkry om ’n nostalgiese herinnering van die MK-punk-rock-dae te wees én om terselfdetyd iets nuuts op die Afrikaanse alternatiewe (punk-)rock scene te plaas. Op hulle webwerf beskryf hulle self die sogenaamde “kontras” van hulle musiek: “Van ons tunes is hard. Van ons tunes trek jou hartsnare”. En hulle eerste EP’s Side A en Side B, sowel as hulle debuutalbum, Vir Konteks, wat in 2020 verskyn het, getuig as ’n geheel van hierdie “kontras” – snitte soos ‘Kopstamp’ en ‘Mors jou drank’ het dieselfde energie en genoegsame dosis van anargie vir ’n moshpit à la Fokopolisiekar-circa-2005, terwyl ‘Middelklas Middelman’, ‘Die happy song’ en ‘Die Ruimtevaarder’ pragtige, roerende ballades is. Luister Vir Konteks hier.  

Alle lirieke is ook beskikbaar op hulle webwerf.

@kontrasband

RUAN WESSELS

Die akteur Ruan Wessels het in 2019 reeds ’n spoken word-snit, ‘Ongeduldige Kuns’, vrygestel, wat ’n liefdesgedig is waarin Wessels se gebruik van poëtiese beelde reeds beïndruk en roer. Vanjaar het Wessels ’n EP van gesproke poësie uitgereik. Dié EP, Dronk&Danig, bevat vier snitte waarop Wessels sy poësie voorlees, met musiek wat elke poëtiese scene wat Wessels skep, ondersteun en inkleur, en wat Wessels se digkuns en sy voordrag daarvan komplementeer. ’n Kort en kragtige verbeeldingsvlug in poëtiese beelde.  

Luister die hele EP hier.

’n Beperkte aantal gedrukte kopieë van die gedigte wat op Dronk&Danig verskyn, is beskikbaar. DM Ruan Wessels op Instagram om ’n kopie te bestel.

 @ruanwessels08

Dronk & Danig .png

Janie Bay

Janie Bay is al sedert 2011 op die Suid-Afrikaanse musiek-scene, maar dis veral met haar nuutste enkelsnit ‘My lief’ (feat. Majozi en Early B) dat Janie Bay ’n unieke bydra tot Afrikaanse pop maak. Die visuele aanbod van die musiekvideo is net so verfrissend vir kontemporêre Afrikaanse musiek. ‘My lief’ is ’n welkome kontemporêre variasie op die Afrikaanse liefdes-pop song.

@janiebay

MYMYMY

“Kitch, Kamp en effens Onbeskof” — só lui die beskrywing van synth-pop duo Conrad van Breda en Jana Oosthuizen se nuutste enkelsnit, ‘Ek en jy, Dikgat’, se musiekvideo op YouTube; en beter kan MYMYMY se satiriese synth-pop nie beskryf word nie. Of, nee, dalk bied “Synth Pop Aliens return to their hometown to discover nothing has changed — they still fall head over heels in love with strangers in the aisles of cheap Supermarkets” ’n beter oriëntering vir MYMYMY se musiek? Hoe dit ook al sy, van MYMYMY se vroeër enkelsnitte soos ‘Die Naweek’ en ‘Wakker Skrik’ (feat. Churchil Naude) tot hulle nuutste, ‘Ek en jy, Dikgat’, is ’n stoute verbeeldingsvlug na ’n drag konsert op Mars waar al die robotte en aliens Afrikaans praat.

@mymymyband

Brixton Moord & Roof Orkes

Die Brixton Moord en Roof Orkes is nié die gewese Brixton Moord-en-Roof-eenheid se polisie-blaasorkes nié, maar eerder ’n Afrikaanse rockgroep wat in 1999 deur Andries (Roof) Bezuidenhout en Ockert (Moord) Greef gestig is. Drikus (Brixton) Barnard, Kapelaan Pat Plank en Esmé Evakwaad het by Moord en Roof aangesluit en in 2002 is hulle debuutalbum Spergebied vrygestel. In 2007 is Greef deur Andrew (Moord) Evans vervang.

Op hulle webtuiste word daar beskryf hoedat hulle musiek handel “oor alledaagse onderwerpe soos drank, dwelms, misdaad, road rage, oorlog” en hulle het “selfs ’n love song”. Hulle tweede album, Terug in Skubbe, is in 2005 vrygestel, met hulle derde album, Slaaptyd in die Suburbs, wat tien jaar later in 2015 verskyn. Terug in Skubbe is vanjaar heropgeneem (remastered). Luister dié epic album hier.

BenJan en Katoo

BenJan en Katoo se akoestiese folkmusiek is besonders mooi. Hulle poëtiese lirieke en akoestiese kitaarspel skep ’n pragtige folk-klank wat herinner aan internasionale groepe soos The National en Luluc. Dat BenJan en Katoo in Afrikaans sing en die digterlike en liriese kwaliteite van die taal so mooi benut (luister net na die lirieke van elkeen van hulle beskikbare enkelsnitte: ‘Boston’, ‘Waar die honde blaf’ en ‘Verander’) maak hulle sjarme net nog meer aanloklik.

Volg en luister BenJan en Katoo op Soundcloud en op YouTube.

Neil Sandilands

Sangoma Sandilands en Jou Pa se Posse (Maanskyn) is die Suid-Afrikaanse akteur Neil Sandilands se debuutalbum. Sandilands sal bekend wees vir diegene wat die Netflix-reeks Sweet Tooth (2020) gekyk het, waarin hy die rol van General Steven Abbot vertolk. Vir Sandilands se debuutalbum neem hy die rol van ’n alomsiende verteller aan wat sy alter-ego, Frikkie Duvenhage — “a fella born from furnaces and suurpap” — se avonture oorvertel. Soos een YouTube comment op die video vir ‘Goue Graal’ lees: “Elke snit is ’n melodiese kortverhaal”. En dit ís so. Kyk net die video’s vir ‘Goue Graal’ en ‘Dipper se Dittie’ hier onder om deur Sandilands se vertelling meegevoer te word in die avonture van Frik. (Dis onmoontlik om nie beïndruk te wees nie as Sandilands só op jou afstap soos in die video vir ‘Goue Graal’.)

As Willem Anker se Buys (2014) ’n soundtrack gehad het, was dit Neil Sandilands se debuutalbum.

Luister die volle album hier.

@realsandilands

Gazelle

Gazelle is Xander Ferreira se electro-musiekprojek wat in 2009 bekendheid verwerf het met sy (nou, ikoniese) enkelsnit ‘Die Verlore Seun’. Sy debuutalbum waarop dié snit verskyn, Chic Afrique, het op visuele vlak ook die grense in die Afrikaanse musiekwêreld oorskry; Daniel Laine se portretfotografie van verskeie konings in Afrika het as inspirasie vir Gazelle se ikoniese image gedien. Tot onlangs het Ferreira in New York gewoon en werk, waar hy steeds musiek gemaak het. Sedert 2021 is die oorspronklike verlore seun egter terug in SA met sy enkelsnit ‘Goeiemôre Suid-Afrika’ (saam met Die Heuwels Fantasties).

@xander_ferreira

Van Pletzen

Van Pletzen, Peach van Pletzen (ook bekend as Pierre-Henrie van Pletzen) en Matthieu (Makkie) Auriacombe se elektroniese/techno-dansmusiek en satiriese Afrikaanse lirieke is reeds sedert hulle debuut in 2018, Kak Lekke Vibe, welbekend. In 2020 is hulle nuutste album, Love & Legehness, vrygestel. In classic Van Pletzen-styl is dié album ’n versameling elektroniese beats en lighartige, satiriese, dog charming en catchy lirieke (wie sou kon dink ’n mens kan jouself sien kopknik op “Die beat het my verlief / Jy is ’n hartedief”?). En net Van Pletzen kan ’n hele elektroniese song met die herhaling van die frase “Afrikaans is kakgroot” maak (en een wat jou boonop wíl laat dans daarop). Die album bevat ook ’n hele paar snitte waarin bekendes soos Early B, Jack Parow, Janie Bay en Francois van Coke feature. Luister die album hier.

Van Pletzen het ook in 2020 saam met Francois van Coke die enkelsnit ‘Kakmal’ vrygestel. Kyk die video daarvoor hier onder — kompleet met 80’s synth en bass, dansende aliens en ’n massiewe zol.

@peachvanpletzen

Ruiter Piet en Die Partytjie

Pieter de Jager, sanger en liedjieskrywer van Die Tuindwergies, maak as Ruiter Piet sy debuut as solo-kunstenaar. Die enkelsnit ‘Minnie se liedjie’, ’n indie-rock liefdesliedjie, is in 2020 vrygestel. Ruiter Piet en Die Partytjie se debuutalbum, Vrydae Aande, Maandae Oggende, is vanjaar vrygestel, en bou as ’n geheel voort op die voel-goed, indie-word-verlief-op-rock van ‘Minnie se liedjie’. Luister die volle album hier.

Ná die verskyning van Ruiter Piet en Die Partytjie se debuutalbum, verskyn die musiekvideo vir die pop-rock-enkelsnit ‘Lit-Skud’, waarop Jack Parow verskyn. Kyk dit hier onder.

Ryno Velvet

Ryno Velvet is ’n bekende op die alternatiewe Afrikaanse rock-toneel. Selfs vir dié wat nie Ryno Velvet se naam herken nie, sal sy bekende liedjie ‘Ai my lam’, wat op sy debuutalbum Karma verskyn, waarskynlik baie bekend wees. Karma is reeds in 2006 uitgereik, met Harp (2008), Bulletin (2010) en Alfabet (2014) wat in die daaropvolgende jare verskyn het. Volgens Velvet se Instagram is hy tans besig om sy nuwe album Testament Vol.1 op te neem.

In 2021 verskyn die enkelsnit ‘Te Naby die Son’ as voorsmaak vir dié album. En met sy easy ritme, herkenbare Velvet-esque guitars en catchy koor, waarborg ‘Te Naby die Son’ dat Testament Vol. 1 ’n skatkis gaan wees. Kyk die amptelike video vir ‘Te Naby die Son’ wat deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Lionel Smit vervaardig is, hier onder.

Vir aanhangers van harder rock-musiek bied Ryno Velvet se musiek ook baie om van te kies. Luister en ontdek sy diskografie hier, terwyl jy Velvet se Instagram dophou vir nuus oor die vrystelling van sy nuwe album.

@rynovelvet

Marcia Moon

Marcia Moon is ’n welkome nuwe stem op die alternatiewe Afrikaanse rock-scene. Haar alternatiewe folk-rock het ’n donker, mistieke kwaliteit wat deur haar unieke stem, liedjieskrywing, ritmiese guitar en über cool image aangevuur word.

Alhoewel die meeste van haar musiek in Engels is, bevat dié liedjies wat Moon in Afrikaans (immers haar moedertaal) opvoer dieselfde mistieke kwaliteit as dié wat in haar Engelse snitte feature. Luister byvoorbeeld na haar vertolking van die storie van Eliza Meiring in ‘Die Heks van Hexrivier Vallei’ en na haar Cranberries-styl ‘Stormweer’.

Kry Marcia Moon se musiek op Bandcamp of luister daarna op YouTube.

@moonmarcia

the buckfever underground

Buckfever Underground is ’n spoken word-musiekprojek wat oorspronklike spoken word-poësie deur Toast Coetzer met eksperimentele rock, “free-form improvised jazz-rock [en] post-rock” perform. Hulle het reeds sedert hulle debuut in 1998 ses albums uitgereik. Tydens 2020 se lockdown het The Buckfever Underground hulle sewende album, Satelliet, opgeneem sonder om ooit in dieselfde kamer as mekaar te wees. Satelliet is deur die lede van Buckfever Underground opgeneem deur verskeie opnames vir mekaar aan te stuur en dít saam te mix as volledige snitte. Luister dié hele vonds van ’n eindproduk hier.

@thebuckfeverunderground

sara

SARA is ’n alternatiewe indie-pop-rock groep wie se eerste EP, Wildernis, in 2020 uitgereik is. Dis feel-good en sterk ritmies, soos goeie indie-pop-rock moet wees. In 2021 reik SARA saam met Wikus du Rand die ernstiger, stadiger enkelsnit ‘Sterre’ uit, en bewys hiermee dat hulle aanhangers nog veel meer as net die vier snitte op Wildernis van SARA kan verwag. Luister die volle Wildernis-EP hier.

@sara_orkes

tasché

Sedert sy as die eerste vroulike wenner van The Voice SA in 2019 aangewys is, het Tasché Burger reeds diepe voetspore in die Afrikaanse musieklandskap getrap. In Augustus vanjaar verskyn Tasché se eerste oorspronklike enkelsnit ‘Baby, Ek Bly’; en tesame hiermee, ’n image van haar eie (en vir eens nie dié van haar The Voice-mentor, Francois van Coke, nie). Soos dit in ’n comment op die video vir ‘Baby, Ek Bly’ opgesom is: “LGBT — YES!!! Love story — YES!!! Amazing vocals — YES!!! Great video — YES!!!”. Kyk en luister self hier onder.

@tascheburger

Die heuwels fantasties & Tresor

Die Heuwels Fantasties is Die Heuwels Fantasties. Hulle nuuste enkelsnit is ’n herverwerking van hulle 2014-snit ‘Shrangri-la’, dié keer saam met TRESOR. Luister na dié unieke verwerking, wat in Junie vanjaar vrygestel is, hier onder.

Elandré

Elandré Swartz het in 2016 bekendheid verwerf toe hy op live radio ’n plate-kontrak aangebied is, nadat sy cover van Bruce Springsteen se ‘Tougher than the Rest’ (1987) viral gegaan het. Reeds met sy debuutalbum, Kleindorp-dromer (wat in 2017 verskyn) bied Elandré ’n interessante en vernuwende Afrikaanse pop-beeld: effe Taylor Swift, ’n bietjie Hozier, so iets van Harry Styles, en selfs so iets van ’n jong Jon Bon Jovi. Sy derde en nuutste album, Rugsak, verskyn in Maart 2021. Luister die volle album hier.

spoegwolf

Spoegwolf — reeds gewild sedert die verskyning van hulle debuutalbum Swaartekrag (2012) én die verskyning van hulle daaropvolgende drie albums — het in 2020 en in 2021 altesaam drie nuwe albums uitgereik: in 2020 beide See en Wind, en in 2021 Groen. Al drie die albums bou voort op die kenmerke van Spoegwolf se vorige albums: Danie du Toit se byna theatrical vibrato sangstem, teer ballades oor liefde en verlies, poëtiese lirieke en interessante komposisies. See, Wind en Groen is dus elkeen welkome variasies op die herkenbare Spoegwolf-styl.

Volgens hulle Instagram verskyn Spoegwolf se nuutste album, Silwer, in September vanjaar. Twee enkelsnitte van dié album is vroegtydig vrygestel as voorsmake vir wat verwag kan word van dié volgende variasie op Spoegwolf se klank. Luister die enkelsnit en titellied “Silwer” hier onder.

@spoegwolf

Uncle Spike

Stellenbosch-gebore Uncle Spike se derde en nuutste album, The Year of the Rat, het vroeër vanjaar verskyn. Soos Elodi Troskie verlede jaar in haar Klyntji-storie oor Uncle Spike se derde album vermoed het, ís The Year of the Rat ’n “splinternuwe interpretasie van Uncle Spike se kenmerklike rock/punk/funk/reggae (tesame met die getroue saksofoon)”. Die diversiteit van Uncle Spike se klank word weereens in hulle nuutste album bevestig: van die dromerige, vloeiende ‘Klank’ tot die groovy, jazzy ‘Tommy This’ en ‘Tommy That’. Van die harde punk-rock ‘Hoordosis’ en ‘Hongerman’, tot die swerwende, eerlike akoestiese klank van ‘Ware Gevoel’, is The Year of the Rat ’n amalgamasie van klanke en genres soos net Uncle Spike kan saamstel.

Luister die volle album hier.

@unclespike_band

Orwellington

Orwellington is ’n Afrikaanse rockgroep van (jip) Wellington, wat (luidens hulle Facebook-bio) “kennis neem van George Orwell en hulle Wellington boots aantrek as dit nat is”. Die groep se naam is dus ’n woordspeling op die konsep “Orwellian”; hulle gestroopte, plat-op-die-aarde rock ’n roll klink asof dit in ’n donker, rokerige kroeg gespeel moet word, ’n troostende afleiding van ’n distopiese realiteit êrens ver daarbuite. In 2020 verskyn Orwellington se tweede en nuutste album, Die Angstige Avonturier. (Orwellington se debuutalbum, Nael sussie nael, is al in 2016 uitgereik.) Luister die volle 2020-album hier.

Later in 2020 het Orwellington saam met Almuir Botha en Willim Welsyn ook ’n donkerder, harder variasie van die musiek op Die Angstige Avonturier in die enkelsnit ‘Willem Willim’ uitgereik.

@Orwellington

bloumoord

So nuut soos wat Bloumoord op die Afrikaanse musiektoneel is, so belowend is hulle. Terwyl hulle enkelsnitte ‘Dis Okay’ en ‘Natuurlike Vrees’ bewys dat Bloumoord se aanbod en talent divers is, bevat hulle nuutste enkelsnit ‘Jy moet net jouself wees’ genoeg jong-Afrikaner-anargie om hulle plek en potensiaal in die Afrikaanse musieklandskap stewig te vestig.

Luister hulle selfgetitelde punk-rock debuutalbum Bloumoord (wat in 2019 verskyn het) hier.

@bloumoord_

bonus: minder nuut, maar tydlose Afrikaanse musiek waarvan jy anyway moet weet

Die bostaande lys musiek is natuurlik nie die enigste Afrikaanse musiek waarvan jy moet weet nie (en daar gaan beslis nóg nuwe Afrikaanse musiek verskyn, waarvan jy ook gaan moet weet). Hier volg ’n lys van die tydlose Afrikaanse musiek waarvan jy beslis kennis kan neem:

Die See, Broeder Bond, SkallaBrak, Battery9, Bittereinder, Draadhond, K.O.B.U.S., Die Helde, Riku Lätti, Bernoldus Niemand, Die Wasgoedlyn, Voëlvry, Bacchus Nel, Churchil Naudé, Johannes Kerkorrel, Jan Blohm, Piet Botha, Willim Welsyn, Koos Kombuis, Zinkplaat, Valiant Swart, Karen Zoid, Die Skynmaagde, Jani, Fokofpolisiekar, Deon Meiring en Van Coke Kartel.


Regstelling: In ’n vorige weergawe is daar foutiewelik genoem dat My drome hou my wakker Rotas The Rapper se debuutalbum is. Dit is egter die kunstenaar se sesde mixtape wat tot dusver vrygestel is.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Nuwe Afrikaanse musiek waarvan jy moet weet gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand