Briewe vir Piet Botha

Briewe vir Piet Botha
Piet Botha (18 Julie 1955 – 2 Junie 2019) / Foto: Hein Waschefort

Piet Botha (18 Julie 1955 – 2 Junie 2019) / Foto: Hein Waschefort

Jannike Bergh onthou dié rocker se gees


30 Junie 2019, Pretoria

Liewe Piet,

Vanoggend lui daar ’n vers in my kop —

Ewige beweging heen en weer
van ratte, ratte in ’n swart masjien
met slangegly van bande, en
die blink van yster wat nie sien
— Uit die gedig ‘Stad’ van NP van Wyk Louw

Ek hoor jou stem die woorde sê, asof dit een van jou songs kon wees. Dit is eintlik glad nie toevallig nie; dit is nou sedert April-maand wat ek jou hoor praat, en sing, met uitgelate kalmte en verset, en rede.

Sedert die nuus dat jy siek geword het en ek in my gedagtes met die grootheid van jou gees rondloop, het ’n onderliggende verdwaaldheid opnuut begin voel soos ’n pad vorentoe. Die sinneloosheid van die rat race en die “ewige beweging heen en weer van ratte in ’n swart masjien” weerklink die afgelope maand al hoe dringender, en is die besef om nie te vergeet wat goed en wat waar is nie, al hoe helderder.

Jou lewenslange opstand teen die swart masjien, hoe poëties, hoe kwaad, hoe ver weg van hier – hoe verder hoe beter – was meestal ’n verwerping van die dood op “húlle” terme, ’n toeëiening van jou eie verganklikheid. En só het jy die lewe omhels – deur die alledaagse en deur die alleman se vervreemding en verlossing te verhaal. Ek dink aan die manier hoe kommentaar op beide die samelewing en die sublieme, met nét genoeg woorde oorgedra kon word.

Die man met die kitaar, moet vir die gelag betaal —

Dit was ’n verdwaalde dag in April met hierdie refrein wat herhaal het. Ek wou eintlik die afvlerk Notre Dame gaan besoek het – vir my ma, want oudergewoonte in Frankryk wandel ek maar asof ek in gesprek met haar is. Ek was ’n klipgooi van die Seine-rivier, en tog het ek ’n uur lank in die verkeerde rigting geloop, Noord, sommer reg in die Père Lachaise-begraafplaas in. Ek het met geen opset na Jim Morrison se graf gestap nie; die plek is immers ’n doolhof. Maar toe staan die graf daar, en ek ook. Die kerkklokke het gelui so asof hulle wou aandui dat dit tyd is om eerder verder te wandel en nie stil te staan oor die onvermydelike nie. Ek het ’n klipbankie in ’n park gevind, en gedink aan die manier waarop die afgelope paar uur se verdwaal meer sinvol gevoel het as al die weke in hierdie hele jaar.

As kind het tyd natuurlik anders afgespeel – dit was voller, ritmies, eindeloos – met soveel om nog te leer, en daarná weer te ontleer (of is dit net die toenemende “blink van yster wat nie sien” nie?). Twintig jaar gelede het ek dít nog nie geweet nie: toe my ma in die oggende voor skool die Suitcase Vol Winter-album sou luister, en ek sou kyk hoe sy voor die spieël staan en haar eyeliner aansit, en in die agtergrond sou die radio speel, “En sy was nog altyd jou eie Marilyn Monroe…” Ek kon dit nie daardie tyd presies verstaan nie, maar vandag, met die eerste note van daardie album, sien ek hierdie beeld van my ma in al haar sagte, rebelse glorie so duidelik asof dit vanoggend se winterson is wat nog hier hang.

’n klein bietjie liefde,
’n klein bietjie geluk,
heelwat van dit en dat,
maar meestal ’n suitcase vol winter —

Dit voel miskien simpel om hier te sit en te skryf dat ek vir jou wil dankie sê vir die poësie van rock ’n roll, en die gawe wat jy gehad het om hierdie dinge te kommunikeer. Dit is uiteraard nie konsepte wat deur jou uitgedink is nie, en tog vir kinders uit wit Afrikaanse suburbia soos ek en my broers, is jy die absolute vergestalting daarvan. Soos wat ek gou in my tienerjare besef het, is rock ’n roll –  as denkwyse en gewaarwording – ’n skeppende verset teen die idee van “’n blink gebou [waar] almal werk, maar niemand mag praat [nie]”. Dit is nie bloot ’n scene nie, maar ’n ruimte van samesyn teen ’n wêreld waar sukses volgens nommers, en verwantskap volgens klas en kleur gemeet word. Rock ’n roll was nog altyd ’n ruimte vir tuisvoel, en jy het dit ontgin – never on the Man’s terms, but for everybody’s sake.

We were the last, now the soldiers are near —

Ek dink aan al daardie OppiKoppi’s: die eerste keer wat ek jou gesien speel het saam met Vusi Mahlasela by die Fonteine. Die keer wat Vusi weer latere jare ‘Listening Wind’ saam met Jack Hammer op ’n koel bosveld-aand gesing het en Jacob daardie mal kitaarsolo gespeel het. Of by die fees wat jy Subterranean Rhythm ’n Blues gedoop het, met ons voete in die sand en net jy en Johno op stage, een sorgelose middag in Mosambiek. Aan daardie vol-elektriese Sondagmiddag by Cool Runnings, en al die geliefdes was daar, my ma ook. Aan sundowner tunes met die Akkedisse in Kalkbaai, en elke keer wat ek uit die vêrre kom kuier het, en ’n mens iewers na een van jou optredes kon gaan om welkom terug te voel. Ek dink aan die laaste keer wat ek jou gesien het, en jy vir my ’n kopie van Middernagtrein gegee het en my aangemoedig het om weer iets te skryf, en ek nie daartoe in staat gevoel het nie, omdat daardie album reeds alles gesê het.

Ek dink aan die sagte manier waarop jy my broer Olof se talent as kitaarspeler aangemoedig het, en dit het nie soveel oor die musiek gegaan as die manier waarop jy hom as broer verwelkom het nie – maar alles is mos connected.

Ek dink aan my vriend Bacchus se goue skryftalent wat die lig sou sien met die opname van In die arms van die nag; meestal dink ek aan sy goue menswees en ’n vriendskap wat ontstaan het die dag toe hy saam met my en Olof ’n dosyn jare terug die langpad Mosambiek toe gevat het. ‘Here Comes the Sun’ het begin speel toe die son opkom iewers duskant Ermelo, en later toe die son hoog sit en die grens nog ver voor ons was, sou hy die godverlate vlaktes opmerk, en ons sou ’n vriend vir die res van ons lewens hê; of die son nou sou opkom of ondergaan.

Ek dink aan my eerste ware liefde, iemand vir wie musiekmaak sy enigste herberg geword het; dat musiek juis vrede bring omdat dit nie die swaar dinge van die lewe ondermyn nie.

Nou kyk daar is geen verskoning
vir alles wat ons doen
doen ons maar net
om iets van die hemel te proe —

Ek dink aan my eerste ware kennismaking met eensaamheid in die verte: op daardie stadium het Jessica vir my die taak gegee om ’n teks oor Handful of Rain te skryf. Ek het tyd gehad, en kon vir dae lank daarna luister. Die stryd tussen vryheid en verlange wat in hierdie laaste Jack Hammer-album uiteengesit word, met die herhalende beeld van die langpad, is die mees hoopvolle werk wat ek al bestudeer het: die langpad is nie net daar vir rock ’n roll aesthetic nie; die langpad is ’n spirituele onderneming, somtyds ’n ontvlugting, maar meestal ’n voortsetting — ’n opvolging.

Ek glo jou invloed strek so wyd, omdat jy so ’n goeie waarnemer was. Jy kon as lopende legende die kollig systap en uit die nabye verte al die dinge dophou; ’n beskeie man met ’n begrip van tydbenut, wat net in die verbygaan met ’n intuïtiewe kwinkslag ’n ander siel kon verryk – of seën.

Liewe Piet, ’n mens sou kon sê jy is a man who stuck to his guns; met die uitkenbare gees van jou kitaar, die terugkerende treine, spoke, liefde en die langpad, en daardie mondfluitjie wat sou sê, nou is ek hier: met hierdie bekendheid het jou musiek nog altyd gesorg vir ’n gevoel van verbondenheid. Maar musiek het ook altyd vir elkeen ’n ander (be)stemming, nes jy soveel jonger musikante aangemoedig het om hulleself te verwesenlik.

Dankie, Piet, vir die klankbaan. Ons sal onthou om te waak teen die swart masjien en om te kyk hoe die maan oor die see hang op ’n donker aand.

Jou mede-musikante verwys met deernis na jou as Hammer; en deur jou lewendige nalatenskap sal jy aanhou timmer-timmer aan hierdie wêreld, al is dit net om so ’n bietjie lig in te laat.

Jannike

 

9 Augustus 2020, Kaapstad

Maar degeenen die de waerheijt seggen,
hebben geen herberg...
in deese lant
— Estienne Barbier, aangehaal deur Andre P Brink in ‘Inteendeel’

Liewe Piet,

Vanaand was ek my hande, twee, drie, vier keer. Vir die wis en die onwis; die skuldgevoelens van ’n god wat oor jou skouer gluur en jou veroordeel, lei na vreemde gesprekke met jouself. 

Ek hoor weer jou stem; ek lees die brief wat ek ’n jaar terug rou en begeesterd geskryf het, en onthou dat ek twee dae daarna ook ’n brief ingedien het om te bedank. Daardie oggend wat ek in ’n Franse staatsamptenaar se sonnige, selfvoldane kantoor in Pretoria gesit het en daar iets amper heiligs was aan die waarheid: hoe bevrydend. 

Die lewe wieg so tussen heilig en banaal. Maar waaruit word kuns geskep as die wêreld in ’n geestelike niet gedompel is? “Vernuwing” tydens inperking word as ’n verlossende dryfveer gesmous, met al daardie naïewe maxims van aanpas, voortfok en trots wees daarop. Maar daar is niks wat ons meesleur nie; herinneringe voel meteens nie meer soos ’n voortvloeiing van toe en nou nie. Die stilte voel soos ’n skeur tussen wat was en wat is. Waarmee kan ons onsself nou vereenselwig?

Ek verbeel my jy staan iewers ná ’n gig en gesels, pyp in die hand, die woorde is gedemp, maar jou stem is helder en jy vertel dat ’n vriend in hoë plekke onlangs iets kwytgeraak het oor ’n groot stilte wat voorlê; jy klap die gedagte met jou hand weg, skud jou kop terwyl jy laggend sidder. ’n Grendeltyd. Nee fok, that’s not the way of the road, of so iets wat net jy kan sê. 

Ek vermoed dat daar baie mense is wat aan jou dink terwyl die absurditeite en die  magteloosheid ontvou en soos ’n trekklavier verder en al hoe valser uitgestrek word. Hulle dink aan jou wanneer hulle die regstreekse sitkamer-vertonings met helaasheid geniet en betreur. Sou jy ook sonder ’n gehoor opgetree het? Sou jy gekies het om eerder inwaarts te keer en te skryf? Sou jy die moer in gewees het, of met filosofiese rustigheid jou kop geskud het? Sou jy toevlugsliedjies gehad het? Sou kuns nog toeganklik gewees het, vir jou? Jy sou twak vir jou pyp gehad het, ’n kelder vol spoke en ’n klavier vir die stilte.  

Daar is ’n kamer met vier mure
En geen son
Wie is die duiwel
Wie sal die liefde kom red —

Liewe Piet, die riviere begin ontsluimer; die langpad lê oop soos gister. Ons het min woorde, ons beweeg nou stadig. Ons is onwys, maar ons is hier. Ek wil vir jou sê dat jy nie hoef te kommer oor die jonger generasie renegades nie, maar jy het ons mos daarvan vergewis: die waarheid is broos, miskien gebreek; en daarom sal ons sing, vir die wis en die onwis.

Jannike


Jannike Bergh is ’n kopieskrywer en vertaler met ’n voorliefde vir musiek- en taalstories. Sy het 'n geruime tyd in Frankryk gewoon waartydens sy Parissoweto, ’n musiek-uitruilprojek, geskep het.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Briewe vir Piet Botha gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand