BCUC: Rage against the unbotheredness
Musiek tegelyk só mooi, só sielvol, só die moer in
Bantu Continua Uhuru Consciousness (BCUC) beweeg rond in ’n ambivalente ruimte van meesleurende ongemak. En tog is ekstase die punt van samekoms in hulle musiek, van eie bodem tot groot festival stages regoor Europa; van straatkonserte in Soweto tot ’n metro-stasie in Rennes; van die Voortrekkermonument in Pretoria tot jazz festivals in Parys saam met Femi Kuti en Salif Keïta.
BCUC is Zithulele “Jovi” Nkosi, Kgomotso Mokone, Letlhogonolo “Hloni” Maphunye, Thabo “Luja” Ngoepe, Thabo “Cheex” Mangel, Skhumbuzo Mahlangu en Mosebetsi Nzimande.
Roskilde. Glastonbury. Lockdown.
Dit was ’n Maandagoggend elfuur by Xai-Xai in Melville dat Jovi, Kgomotso en Hloni my en my pa omhels het. Dit was in Januarie 2016 dat ons hier ontmoet het om te gesels oor ’n Franse musiekfees se direkteur se wens om hulle na Frankryk te nooi. Daar was ’n opwindende eienaardigheid wat die toekoms ’n mooi glans gegee het.
Dit was via ’n skelm foonoproep tydens werksure uit ’n taalskool se kantoortjie in Besançon in die ooste van Frankryk dat ek sonder om mooi te besef het met wie ek sou praat, die grote Jean-Louis Brossard aan die ander kant van die lyn gehad het. Die fees, Les Rencontres Trans Musicales de Rennes, is sy geesteskind wat hy sedert 1979 bestuur; ons gesels daardie dag oor sy voorliefde vir wat vandag wemel in die sfere van die Suid-Afrikaanse musiek-ondergrond. Johannesburg, eintlik. Die fees se line-ups oor die jare getuig daarvan: BLK JKS, Tumi Mogorosi, The Brother Moves On… Hy reken dat hy nie spesifieke voorkeure het wat lande betref nie – eerder dat musiek wat ongewoon, onvergelykbaar en vernuwend is, ’n ongeskrewe voorvereiste is om sy oor te vang. Hy noem dat Suid-Afrika wel ’n “pays de musique” is; ’n land waar musiek in oorvloed is en dit in die murg en been van die samelewing is.
“Watter ander kunstenaars uit Suid-Afrika sou hy graag wou oorbring?” wou ek by hom hoor. “Ek het nog nie aan volgende jaar se line-up gedink nie,” skerts hy, maar hy noem dat hy “alle ore is vir nuwe dinge uit Suid-Afrika.” Hy gooi die vraag terug na my toe en sê: “As jy my dalk in die regte rigting kan wys, luister ek baie graag.” Ek praat skynbaar sy taal toe ek vertel van BCUC. Hy vra vir ’n harde kopie van hulle musiek. Twee CD’s met die pos gestuur en ’n maand later ontvang ek ’n e-pos terwyl ek in Suid-Afrika kuier: Jean-Louis is ín, en hy wil hê BCUC moet in Desember by sy fees kom optree.
Vyf jaar later gaan kuier ek by die Food Zone in Lakeview, Soweto: Luja en ’n vriend bestuur dié gesellige plek van samekoms vir vriende en gelykdenkendes waar daar ook gebraai en musiek geluister word. Dit is ook BCUC se rehearsal space en waarheen Jovi hoop om “Wit bands van die suburbs” te nooi as deel van ’n informele uitruil-inisiatief.
Die gesprek loop weer lank; Jovi is ’n onuitputbare gesprekmasjien; “un moulin à paroles” – woordemeul – soos wat ’n Franse joernalis oor hom geskryf het. Die charismatiese voorman van die groep se uitdrukkings is so eie aan homself dat dit by tye ’n onreg is om dit in Afrikaans te vertaal; sy energie en menswees is onvergelykbaar. Dieselfde geld natuurlik vir die hele groep. Daar is bloot nie iets soos BCUC elders in Suid-Afrika nie, wat nog van die wêreld.
Aan sy sy sit Kgomotso. Die dierbare dog onwankelbare Kgomotso. Sy het in kerkkore grootgeword. Sy sing so ongelooflik mooi, maar ten spyte van haar warm geaardheid voel dit somtyds asof sy die swaarkry van hierdie land in haar ronddra; en die wreedheid van wegkyk vóél. Liefde lê in melodie, spreek die bose aan, is in trans. Dít is hoe Kgomotso sing.
“Suid-Afrika is smoke and mirrors. Alles gaan oor hoe dit lyk; mense het nie tyd vir diepte nie,” sê sy, effe mismoedig.
BCUC, aan die ander kant, dans na niemand se pype nie. Hulle musiekstyl wat hulle “africangungungu” noem, het ’n punk-energie met ’n komplekse maar effektiewe samekoms van funk, jazz, gospel, hip-hop – en vier ouens op ritme en bas. Die boodskap, veral, is uitdagend.
In die lied ‘Moya’ is daar ’n refrein wat Kgomotso sing wat altyd soos ’n goeie tyding weerklink.
Yithi ugodo oluvimbe eswangweni
Impi iyozilwe nini?(When will the war end?)
– Uit: ‘Moya’ (Album: Emakhosini, 2018)
Te midde van die chaos van hierdie lied, skep Kgomotso ’n ewewig. ’n Mooi opname hiervan is gemaak by hierdie optrede by Gilles Peterson se Worldwide Awards in Engeland (Januarie 2018); dié welbekende wêreldmusiek-entoesias is ’n kompas vir opwindende klanke van oraloor. Hy hou ’n jaarlikse tentoonstelling, en toe hy BCUC uitgenooi het, het hy hulle onomwonde as die beste live show van die jaar verklaar.
Ons sit onder ’n boom en ’n hoëveldstorm woed in die verte. Die wind is ongenaakbaar. Ons praat oor hulle nuwe gewaagde song ‘Ramaphosisa’. “It means Mr Lies,” verduidelik Jovi. Marikana se stof het nie gaan lê nie. Die groep is veral uitgesproke oor die manier waarop transformasie ná 1994 nie werklik plaasgevind het nie; dat die armes gelos is om te sterf; dat die meerderheid van die land nie bestaansreg het nie. Jovi is agterdogtig, en verduidelik: “We’re worried about his unbotheredness” – ’n moedswillige gebrek aan omgee. Die sentiment in die song gaan oor meer as magsmisbruik; dit gaan oor hoeveel (of hoe min) waarde daar aan mense se lewens geheg word – dit gaan verder as dit: hoe mense nie as mense gesien word nie.
Is dit moeiliker om vandag brutaal eerlik te wees?
Kgomotso verduidelik dat BCUC nog nooit verander het nie, dat hulle inhoud baie mense al aanstoot gegee het. “Speaking against power is in the fibre of who we are,” stel sy, ferm. Hulle klassifiseer hulle musiek eerder as sosiale kommentaar: “When the lockdown happened and the soldiers were in the streets, you guys in the suburbs did not experience that; things like how rough the soldiers were, especially with youth and the elderly. People died, we felt that, we saw that. I can’t pretend like I didn’t see that.”
Jovi verwys na die magstelsel as ’n “institution of eating”, wat ook goed uiteengesit word in ‘The Journey with Mr Van der Merwe’, ’n lied wat handel oor ’n klein minderheid wat die meeste van die land besit, maar wat hulleself nie steur aan die meerderheid wat in shacks bly nie. “Because we are living in a modern South Africa, Mr Van der Merwe has also become the black elite.” Jovi verf met handgebare ’n prentjie van ’n gehoor vol strikdasse waarvoor hulle ’n week vantevore ‘Ramaphosisa’ gespeel het: “That means we offended a lot of people on that day.”
BCUC se opstandigheid word verkeerd gelees as aggressie. Die opstand is positief, en hulle musiek ontstaan uit ’n plek van wrywing; dit is tasbaar in die ruisende, diep tamboerritmes van Luja, Skhumbuzo en Thabo; in virtuoos-Mosebetsi se soepel baskitaar; in Jovi se kryger-in-trans-krete; in Hloni se fluitjies en klokke en in Kgomotso se sang wat sweef en kloof deur die gebulder. Dit is tegelyk só mooi, só sielvol, só die moer in.
Ek deel met hulle my persoonlike aanklank wat ek by hulle opstand vind, wat ek net kan beskryf as “positive rage” – juis omdat dit waansinnig is om so min om te gee. Ons gesels oor ’n konsert in Lyon, waar Jovi vir die gehoor gesê het: “There’s no time to be soft about love. Love hard!”
Rage against the unbotheredness.
Jovi lag, en sê, ja, want dit is omdat hulle nie sweethearts is nie: “We’re not having hoola hoops on stage. We’re not wearing African regalia.” Hy verwys na hoe maklik dit is om die werklikheid te vermom in ’n poskaart-beeld van Suid-Afrika. Wat hulle nader aan die hart lê, is hoe ’n Suid-Afrikaner vandag lyk. “Dit beteken hy is gefrustreerd, kwaad en desperaat. That is the South African of now. We are that. We are not Ladysmith Black Mambazo,” sê hy met ’n knippie humor. “Ons sing melodieë wat klink of daar ’n storm op pad is.”
Ek wonder gereeld hoe dit vir hulle voel om voor soveel verskillende gehore te speel, met wisselende verwagtinge. Ek het hulle al kwaad gesien in Troyeville en ek het hulle al vredeliewend by Park Acoustics gesien. Ek het hulle al op hulle senuwees en bedeesd in ’n intieme teater in Pantin buite Parys gesien. Daardie aand het die sittende gehoor stadig maar seker vorentoe gesluip. Eers was daar ’n skraal ou man, seker in sy sewentigs; ’n Japannese omie met ’n grys bolla. Hy het op ’n manier gedans wat ek nog nie vantevore aanskou het nie. Hy het soos water deur die ritmes gesypel. Daarna het kinders om hom kom dans. Ek sal daardie sekonde vir ewig in my geestesoog onthou – daardie presiese oomblik dat Jovi se hart begin gloei het. Kgomotso het uit die hoek van haar oog begin glimlag terwyl sy sing en spring, en Luja-hulle se ritmes het die energie verhef: en só het BCUC een gloeiende, kloppende hart saam met die gehoor geword. Dit is op daardie oomblik dat Frankryk die groep se tweede tuiste geword het.
“Some swore to have seen the best live band in the world, others declared Soweto the future capital of the universe.” Hierdie woorde is twee maande later in Frankryk se mees wydgelese kultuurtydskrif, Les Inrocks, gepubliseer. ’n Paar maande daarna het hulle in ’n venue met slegte klank voor vyftien mense in Pretoria gespeel. Die dissonansie was seer; daar is inderdaad ’n parallelle heelal en die band sou gou weer terug in Frankryk wees.
Op ’n dag het ek ’n brief ontvang van ’n verlangse vriend in Besançon; ’n geharde, sekulêre pessimis wat nog altyd ’n stryd voer met homself en sukkel om rede en liefde te vereenselwig. Hierdie persoon wat ek nog nooit sien dans het nie, het vir my geskryf om te sê: Jannike, hierdie boodskap is ’n lomp poging tot ’n e-pos, gemotiveer deur ’n absoluut verbysterende ervaring wat ek gisteraand meegemaak het: ’n kragtige konsert vol soveel vitaliteit en diepte; ’n oomblik van samesyn, van menslikheid, waar ek heeltemal natgesweet uitgestap het, met die gevoel in my hart dat ek sopas iets ongelooflik beleef het.
Hiérdie ervaring ís BCUC: ’n groep wat speel soos wat die gees hulle lei en die gehoor saam met hulle neem. “We morph,” vertel Jovi. Daar is dae dat hulle bang is, dat hulle sê nou maar voor ’n gehoor wat sy eie idees van Afrika-jazz het, moet speel. “But we feel the vibe, we feel the vibe,” vertel Jovi, totdat hulle vastrapplek vind. Daar is dae dat hulle voor ’n oorwegend-Wit gehoor in Pretoria moet speel, aan die voete van die Voortrekkermonument byvoorbeeld, en daarby moet aanpas. “We’d rather give you the time of your life, than affect your life. But we love to imprint. And if we don’t imprint, we want to give you a party like you’ve never had a party.”
Volgens Kgomotso is dit ’n vorm van respek om by die gehoor se energie aan te pas en ’n fyn balans om te handhaaf – hoe die band voel, hoe die gehoor voel. “Reading the room is a beautiful thing for an artist to do.”
Die boodskap bly dieselfde; die energie kan wissel in intensiteit, stemming, atmosfeer.
“En kom ons wees nou eerlik,” gee Jovi toe, “ons weet wat die Voortrekkermonument beteken. Maar ons weet ook wat dit kan wees, want as mens ‘voortrekker’ moet vertaal, verwys dit na leiers, reisigers wat voor die ander reis. Ek weet nie of my Afrikaans reg is nie, maar dit is so iets. En dan word ons ook ‘voortrekkers’.” Dit is net die woord wat Afrikaans is, verduidelik hy, maar op daardie dag “speel ons vir die Suid-Afrika wat ons voor wens. How we deliver it is by dragging the people along the Black person’s perspective of what South Africa can be.”
Wat is BCUC se wens vir Suid-Afrika? Sy antwoord is iewers tussen vasberadenheid en hard-op droom: “’n Suid-Afrika waar almal ’n goeie plek kan hê om te woon.”
'Jy wou nog vra oor African spirituality'
Die wind het nou so erg opgesteek dat ons in Jovi se kar moet gaan sit om die gesprek voort te sit. Die stilte is welkom. “Jy wou nog vra oor African spirituality,” herinner Jovi my.
Laze laguqubala emini
(Ubusantusantu besivunguvungu)
Sangena emaweni
(Ubusantusantu besivunguvungu)
Kwanhlanga zimuka no moya
(Ubusantusantu besivunguvungu)
Ubusantusantu besivunguvungu
(Ubusantusantu besivunguvungu)The clouds just turned into darkness during the day
(The havoc and chaos of the big wind)
We all ran into the caves
(The havoc and chaos of the big wind)
Whilst the windstorm was cleansing and getting rid of the bad energies
(The havoc and chaos of the big wind)– Uit: ‘Isivunguvungu’ – BCUC, Saul Williams (Album: The Healing, 2019)
Daar is nie meer rede om hard te praat nie. Kalmer, verduidelik Jovi: “Soos met die meeste van ons songs, sien ons onsself as African spirituals.” Die boodskap word omhul in tradisioneel-spirituele musiek – “songs by sangomas, indigenous churches, the Church of Zion, the Church of Shembe. Songs inspired by choirs. We infuse those so that they can anchor us into the spirit of that song.” Dit is die beginpunt, daarna word die musiek BCUC s’n.
Hulle filosofiese benadering is onlosmaaklik van hulle musikale invloede.
“Hoe ervaar jy hierdie spiritualiteit in die daaglikse gang van die lewe?” vra ek vir Kgomotso. “Jy droom oor dinge, ander tye ervaar jy déjà vu, ander tye is dit jou ouma wat jou waarsku oor iets. Drome beteken iets; ons glo dit.” Sy verduidelik verder dat Afrika-spiritualiteit teenwoordig is in elke manier waarop hulle met die wêreld omgaan: “Yes, my family is christian, but for me [it] does not connect the way I feel when I’m at home and the room smells like my grandmother.”
Jovi is bly om uiteindelik hieroor te praat. “Dit is ’n groot deel van ons musiek. Ek voel eerlikwaar dat ons voorvaders mekaar ontmoet het en bespreek het dat hulle kinders eendag sou ontmoet om te praat oor hoe ons dinge gaan oplos. Ons mag dalk voorvaders hê wat nie in die droom geglo het waarin ons vandag glo nie.”
Volgens hierdie denkwyse beteken sterflikheid nie die einde van die onderhandeling nie. Jovi en Kgomotso plaas voortdurend klem op hierdie lang pad waarmee daar aangehou moet word – al is die pad teen die stroom. “And if your urge tells you, ‘fuck racism, bra,’ it can also be [your ancestors] building on your resolve to say, ‘it didn’t work, bra; fuck it’. You know, it can happen. We know it happens. That mission for us is more important than ‘Ramaphosisa’, for example. That shit is more important. I like where this conversation is going now.”
Nifana qamashi noyihlo nonyoko benu
Ngigweli imikhuba yabo
nginentsobotsi yabo(When you walk in the footsteps of the ones that walked before you
you will be the curse and the gift of your family tree)– Uit: ‘Insimbi’ – BCUC (Album: Emakhosini, 2018)
Ek noem dat die oomblikke in hulle live optredes wat my die meeste bybly, presies is wanneer hulle so ’n transendentale punt bereik. Kgomotso beaam hierdie idee en Jovi voeg by: “Ons het almal ons roeping, en ons glo ons roeping is deur musiek. Somtyds sien jy ’n persoon [in die gehoor] en jy voel hulle pyn en sien waardeur hulle gaan. En jy weet jy het ook al so gevoel en kan die persoon help, en dan maak die res van die show nie meer saak nie. Hierdie één persoon maak nou saak – en nou maak ons musiek om hierdie persoon te genees, of deur ’n moeilike oomblik te lei.”
Ek weet alte goed waarna hulle verwys – BCUC het my al in tye van onmeetbare rou gehelp om my kop hoog te hou.
“En somtyds sien jy iemand wat hulleself verskriklik geniet, en jy fokus op daardie persoon.” Die groep is deurentyd bewus van hierdie wisselende energie. Hy glimag: “Now all of us are going to have a good time channeling that person.”
Daar is ’n voorwaarde aan BCUC: “We’re an uncomfortable band. It’s uncomfortable to be BCUC. It’s uncomfortable to see BCUC be uncomfortable on stage.” Dit, glo ek, is meer van toepassing op hulle plaaslike gehore. Natuurlik is dit makliker om voor vreemde gehore te speel, gee hulle toe. Miskien is hierdie ongemaklike ruimte eerder ons land s’n, en BCUC sien hulleself as deel daarvan, eerder as apart daarvan.
Wat lê voor vir BCUC? Hulle gaan “opnuut aangaan” van waar hulle vantevore was. ’n Nuwe album is op pad en ’n Europese somertoer wink. Hulle het in die afgelope twee jaar van tuis wees (as gevolg van lockdown), nadat hulle dit sover as Glastonbury in 2019 gemaak het, aanhou musiek skep. Báie daarvan, sê hulle. Dit was frustrerend om so lank stil te sit, en in die nuwe materiaal is hulle eerlik daaroor.
Jovi sit en peins; hy wens steeds dat BCUC ’n gehoor in Suid-Afrika kon hê wat net daar is om bos te gaan – “to fuck shit up,” soos hy sê. “What’s this cat that I love? Francois van Coke! You know when he plays, people take their shirts off before he even plays!” Hy wens BCUC kan dit eendag met hulle Suid-Afrikaanse gehore behaal. “Dit vat natuurlik ’n bietjie langer, want ons bou nog vertroue. Ons musiek is obviously nie ‘doo-bee, doo-bee-doo’ nie.”
Die land, die gehoor, BCUC, almal is deel van ’n proses-in-wording; en hierdie groep gaan nie kortpaaie vat nie. “We’re driven by rage. I like what you said, that we’ve got positive rage. At the end of the day we’re going to take you to where the sun shines.”