Meevoerende klanke van Bongeziwe Mabandla
Die sanger wat in Xhosa sing
Tsolo is ’n Xhosa-woord wat ‘gepunt’ beteken en verwys na die heuwels van die Oos-Kaap, die geboorteplek van Bongeziwe Mabandla. Hy het al van kindsbeen af ’n buitengewone passie vir kuns en musiek. By die skool, kerk en huis wou hy sing. Dit was egter eers as student dat hy sy aandag voltyds en ernstig aan musiek as loopbaan begin skenk het.
Sy unieke styl het selfs geharde musiekkritici twee keer laat dink nadat hulle sy musiek aangehoor het. Wat voorheen sy moeilike grondpad na sukses was, is deesdae met diamantstene besaai.
Jongmense in afgeleë gebiede is in die verlede meestal aan hulle eie lot oorgelaat vir vermaak. Hy was geen uitsondering nie. Daarom het hy as kind graag sy eie verbeelding vrye teuels gegee deur liedjies op die radio op te neem, en dan sy eie verwerkings daarvan te maak. Sy vriende en familie was dol hieroor.
Bongeziwe se eerste groot deurbraak kom nadat hy ‘Isizathu’ saam met Tiago Correia-Paulo van Tumi and the Volume en 340ml opgeneem het. “There were times when we were in the studio and Tiago had me kneeling and singing, as a way of enhancing the emotion that my new music is filled with,” vertel Bongeziwe. Nie te lank daarna nie is hy ’n musiekkontrak aangebied.
Dit het hom laat besef dat die heelal sy studies as dramastudent in ’n ander rigting gaan stuur. Aan die begin het Bongeziwe nie veel van musiek geweet nie. Hy het bloot musikale skeppings byna instinktief aanmekaar gelap. Dié lappieskombers van sy kenmerkende Afro-folk-styl in Xhosa, sy moedertaal, laat nou sy aanhangers met ’n warm gevoel wanneer hulle na sy stem luister.
As ’n finalis in die Franse RFI se Discoveries Awards in 2011 het sy ster skielik blink begin skyn. In 2012 verskyn sy immergewilde debuutalbum, Umlilo. Vir hierdie album ontvang hy twee benoemings by die SAMA in 2013, naamlik Beste Nuweling, asook Beste Afrika-album. Sy 2017-album Mangaliso, wat “berg” of “wonderwerk” beteken, handel om hierdie jong man se lewe tot dusver.
Ten spyte van sy internasionale gewildheid, is sy voete steeds stewig op die aarde geplant. Vir hom is elke ding wat hy ervaar kosbaar: “I am incredibly grateful to be doing what I love, and travelling the world while I do it.”
Bongeziwe se roerende opvoerings is al tentoongestel gedurende die Wes-Kaapse Musiekfees, Oppikoppi, die Sakifo-fees in Reunion, die Azgo-fees in Mosambiek, en hy was ook al te siene op die verhoog in Australië, Duitsland, Parys, die VSA en Japan.
Daar is iets in hierdie man se stem wat die hartsnare roer en heimweë meebring.