Paul Simon, David Kramer, Voëlvry en die 80’s

Vier dekades later
40 jaar ná die vrystelling van Paul Simon se Graceland vertolk dié album steeds ’n belangrike rol in die Nuwe Suid-Afrika. Deon Maas en Anelia Heese bring hulde aan die album en aan die uniekheid van Suid-Afrika wat aan só ’n projek gestalte kon gee. ’n Engelse weergawe van hierdie essay is in Daily Maverick gepubliseer.
In apartheid-Suid-Afrika was David Kramer die een kunstenaar wat geweet het hoe om die musikale kleurgrens oor te steek. Die SAUK het sy 1980-album Bakgat! verban, omdat dit as te polities, vulgêr en linguisties gemeng beskou is. Die establishment het hom verder verwerp, omdat hy saam met sy kollega Taliep Petersen musiekblyspele geskryf het wat Afrikaans as Wit taal bevraagteken het. Sy liedjies het tussen min en nooit speeltyd op die radio gekry nie.
Dit is dus heel gepas dat hy ten tyde van Paul Simon se besoek met die opname van Graceland as toergids aangestel is. In ’n staaltjie wat hy in die liedjie ‘The Paul Simon story’ weergee, vertel Kramer hoe hy vir sy Amerikaanse gas Kaappunt gaan wys. Tydens die besoek stop daar ’n toerbus, die plaaslike toeriste sien vir Kramer raak en storm op hóm af vir handtekeninge en foto’s. Simon, die wêreldbekende kunstenaar, staan eenkant op sy eie en aanskou die spektakel met ’n bek vol tande.
Vir diegene wat destyds gebore is, het die Suid-Afrika van die tagtigerjare ’n unieke bekoring, wat dikwels met ’n gerieflike nostalgie opgeroep word. Terselfdetyd is dié era met ’n makabere opgewondenheid besmet. Sensasie is uiteraard ’n neweproduk van geweld. Die ligging van daardie eerste herinneringe van geborgenheid – van die hondjies, die trampolien in die agterplaas, die Graceland-album as klankbaan – sit knus digby die plekke wat later deur gruweldade geken sal word. Daardie eerste ouerhuis, ’n siersteeneiland van kindwees, omring deur Vlakplaas, Sebokeng, Soweto.
Diegene wat in die tagtigerjare mondig geword het, kon nie meer aan die ongemak ontsnap nie. Die eerste noodtoestand is in Julie 1985 aangekondig, en daarmee saam het die swaar gordyn van totalitarisme begin skeur. Vra maar die voorstedelike aandadiges om oor daai tyd te praat en hulle sal aanvanklik met ’n stoïsme en gelatenheid begin vertel. En dan, kort daarna, verloor die verteller effe tred van die verhaal soos wat die geleefde werklikheid ná 40 jaar in die SAW-veteraan se keel kom sit. Die storie word dan stotterend uitgebraak: daardie bloedstollende gil wanneer jy te laat (of te vroeg?) by ’n halssnoermoord opdaag; daardie reuk van vrouens wat hulself tydens ’n middernagtelike klopjag natmaak; daardie beeld van ’n vierjarige in jou R4 se visier, nadat hy sy ouers nageaap het deur ’n klip in die rigting van jou Casspir te gooi.
Die tweede noodtoestand het bepaal dat jy nie oor die noodtoestand kon praat of daaroor kon skryf nie. Dit het verdere opstand verder onderdruk en die pers verbied om oor enige opstande verslag te doen of te sê dat daar ’n noodtoestand is.
“Die ligging van daardie eerste herinneringe van geborgenheid – van die hondjies, die trampolien in die agterplaas, die Graceland-album as klankbaan – sit knus digby die plekke wat later deur gruweldade geken sal word. Daardie eerste ouerhuis, ’n siersteeneiland van kindwees, omring deur Vlakplaas, Sebokeng, Soweto.”
Die onderdrukking van massademokratiese bewegings was egter basies die enigste vorm van opwinding wat vir die jong volwassene beskikbaar was. Die gehoorsame kinders van NP wou nie moeilik wees nie, en enige vorm van verset teen die norm was moeilikheid. Verder was die grense gesluit en daar was beperkings op beweging en byeenkomste.
Danksy die kulturele boikotte wat deur die Britse Equity-vakbond en die Australiese Vakbondunie teen apartheid gedryf is, was die enigste programme op televisie Amerikaans: Miami Vice (in Afrikaans vertolk), Dallas, MacGyver, The Cosby Show en Knight Rider.
Miskien het die regering so hard probeer om dinge in toom te hou dat dit by ander plekke moes skiet gee. Sport is op Sondae uitgesaai en dit het nie, soos sekere dominees daai tyd verkondig het, die eindtye ingelui nie. Sosiale norme rondom vrouens in kroeë het begin verslap, alhoewel daar steeds ’n verbod op drankverkope op die heilige dag was. Ná 36 jaar is die Wet op Gemengde Huwelike geskrap. Die aktivis Protas Madlala en sy Wit Amerikaanse vrou Suzanne Leclerc kon die eerste paartjie wees wat sedert 1948 oor die kleurgrens trou. Hierdie gebeurtenis het internasionaal opslae gemaak en was waarskynlik die eerste brokkie goeie nuus wat in ’n baie lang tyd uit Suid-Afrika gestam het.
Daar was verandering, al was dit kunsmatig vertraag. Die Amerikaanse schlockmeisters Cannon Films is ruimhartig deur Suid-Afrikaanse staatsubsidies ondersteun en het onvergeetlike films soos American ninja 2: the confrontation (1987), River of death (1989), Ben, Bonzo and Big Bad Jo (1988) en Peter Fonda se Freedom Fighters (1988) gemaak.
Protes in die kunste is geduld, omdat dit ’n klein, elite aanhang gehad het. Waag jy dit egter om dinge verder te dryf, kon jou werk deur Die Komitee as “undesirable” bestempel word. (Niks was ooit “desirable” nie, dinge was of “undesirable” of “not undesirable”.) Toneelstukke van Athol Fugard, John Kani, Winston Ntshona, Bartho Smit en Pieter-Dirk Uys is verbied. Afrikaanse musiek is van sy gemengde herkoms ontsmet en vertaalde schlager is eerder op die radio gespeel. Joseph Charles en Rufus Radebe van die reggae-groep Splash is tronk toe gestuur, omdat hulle by die Wits Free Peoples Concert ’n pro-Mandela-lied gesing het.
Op die internasionale verhoog het kunstenaars besef dat die situasie in Suid-Afrika nie normaal was nie. Peter Gabriel se ‘Biko’, Special AKA se ‘Free Mandela’ en Malcolm McLaren se ‘Duck rock’ het mense bewus gemaak van wat besig was om te gebeur. Maar aangesien al hierdie liedjies in Suid-Afrika van lugspeeltyd ontneem is, was die plaaslike impak beperk. Suid-Afrikaanse kunstenaars het nie tantieme of aansien daaruit verkry nie.
Little Steven het ‘Sun City’ gedryf (en sou homself later as die heiland sien wat apartheid beëindig het). Die kulturele boikot het beteken dat die kunstenaars wat bereid was om dit te verontagsaam – Queen, Elton John, Tina Turner, Ray Charles, Rod Stewart – goed beloon was. Behalwe vir buitensporige fooie, was daar ’n uitgehongerde gehoor wat lanklaas eersteklasvermaak kon geniet.
Pik Botha, voormalige minister van buitelandse sake, is in 1996 in ’n onderhoud gevra of daar enige spesifieke keerpunte was wat die binnekring van die Nasionale Party laat besef het dat hulle apartheid nie vir ewig sou kon handhaaf nie. Botha het nie na groot militêre veldslae van die Grensoorlog of na optogte verwys nie, maar na twee plaaslike kulturele gebeurtenisse.
Concert in the Park was ’n liefdadigheidskonsert wat op 12 Januarie 1985 in Johannesburg plaasgevind het. Dit is deur 100 000 betalende toeskouers en 25 000 roofkykers bygewoon. Dit is by uitstek die grootste musiekvertoning wat Suid-Afrika ooit gesien het. Dit was die eerste konsert waar kunstenaars, asook ’n gehoor oor die kleurgrens toegelaat is. Dronk en bedwelmd het mede-Suid-Afrikaners mekaar omarm en kon saam musiek hoor wat hulle dalk op die radio gehoor het, maar waarvan hulle die konteks nie kon verstaan nie. Daar word bespiegel dat die konsert toegelaat is om voort te gaan, omdat die owerhede gedink het dit sou chaos tussen die verskillende rasse veroorsaak wat tot op daardie stadium suksesvol apart gehou is. Maar die bravade van prille jeug en die bekoorlikheid van musiek het die teenoorgestelde bewys. Die verset het die hoofstroom geword. Die abnormale het normaal geword, en die normale abnormaal.
Die ander beweging wat Botha genoem het, was Voëlvry, die eerste massabeweging van verset wat Afrikaanse musiek gebruik het om hul boodskap oor te dra. Die groep het groot moles by die ou Afrikaanse universiteite veroorsaak. As hulle nie eens hul eie kinders in toom kan hou nie, hoe gemaak met die res van die land …
Paul Simon het reg in hierdie geografiese isolasie en minderwaardigheidskompleks aan wal gekom. Sy vorige solo-album Hearts and bones was ’n kommersiële mislukking. Hy was op soek na iets om sy loopbaan te laat herleef, en ’n bootleg van die Boyoyo Boys het hom na die suidpunt van Afrika gelok. In die proses het hy baie reëls oortree.
Die idee om “popmusiek”, soos die Weste dit verstaan, met ’n inheemse Afrika-klank te vermeng, is nie nuut nie. Boeremusiek van die 1930’s was dié kunsvorm se pioniers. Suid-Afrika se eerste rockgroep The Vikings, onder leiding van Manfred Mann, het pennywhistle- en kwela-invloede op hul 1959-album Rock party with The Vikings at the Club Pepsi ingespan. Wildebeest het verder met Afrika-dromme op hul 1981-album Bushrock 1 geëksperimenteer.
In die tagtigerjare was daar ook die opkoms van crossover-musiek in Suid-Afrika: musiek waarvan die klank nie bloot deur ’n ander kultuurerfenis beïnvloed is nie, maar waar beide Swart en Wit klank ingewerk is. Dit kon dus ’n breër gehoor oor afsonderlike radiogolwe bereik: ’n Swart en ’n Wit gehoor kon (ofskoon apart) lewendige optredes bywoon. Juluka, Hotline en Mango Groove het plaaslik kommersiële sukses behaal. Maar hierdie groepe kon slegs marginale sukses internasionaal behaal, aangesien niemand met sogenaamde politieke melaatses te doen wou hê nie. Dit was ’n rompslomp vir internasionale kunstenaars om in Suid-Afrika in te kom, maar dit was veel moeiliker vir Suid-Afrikaanse kunstenaars om uit te kom.
Paul Simon was natuurlik ’n ander saak. Met genoeg geld en genoeg roem kan jy enigiets vermag, en maak nie saak hoe fel die kritiek is nie, as jy iets skep waarvan mense baie hou, sal al jou probleme verdwyn. Graceland se kultusstatus onder jong Suid-Afrikaners vandag staaf dit.
Graceland het Suid-Afrikaners toegelaat om na hul eie musiek te luister soos dit deur ’n vreemde oor gehoor is. Dit het genoeg mense laat glo dat die land en sy musikale opbrengs meriete het, iets wat mense vir lank betwyfel het. Miskien het dit ’n vorm van hoop gedistilleer – die idee van ’n Suid-Afrika waar nie-rassigheid nie meer abstrak was nie, maar waar dit ’n begaanbare werklikheid kon wees. ’n Nuwe Suid-Afrika, opgesom in 43 minute en 18 sekondes.
Die debat rondom Simon se verontagsaming van die kultuurboikot was ’n groot storie, selfs in geïsoleerde Suid-Afrika. Die een kamp het dit as ’n misdaad gesien, die ander as ’n gulde geleentheid.
Nietemin, die debat oor die boikot het mediadekking regoor die wêreld gekry, wat op sy beurt die fokus op apartheid geplaas het. Selfs al was die fokus negatief, was dit op die ou end positief, want dit het mense laat besef dat die bestel sy rakleeftyd bereik het. Drie jaar later het die druk sodanig toegeneem dat FW sy Rubicon-toespraak gehou het waarin hy die ANC ontban het.
“Graceland het Suid-Afrikaners toegelaat om na hul eie musiek te luister soos dit deur ’n vreemde oor gehoor is. [...] ’n Nuwe Suid-Afrika, opgesom in 43 minute en 18 sekondes.”
Die album is egter nie heeltemal onskuldig nie. Simon kon meer vrygewig met die tantieme wees. ’n Dekade gelede is daar ’n noodbetaling van $10 000 aan MD Shirinda gemaak, nadat hy aangevoer het dat hy nooit sy aandeel in tantieme ontvang het nie.
40 jaar later kan die album steeds nie vrae rondom kulturele toeëiening, magsverskille en heelhartige wedersydse instemming vryspring nie. Maar te midde van die kontroversie, kan dit nie ontken word dat Graceland as ’n belangrike keerpunt vir Suid-Afrikaanse musiek gedien het nie.
Ladysmith Black Mambazo het later vyf Grammys gewen en Suid-Afrikaanse musikante wat nog nooit oorsee was nie, het internasionaal gaan toer en nuwe loopbane oopgekrap. In die daaropvolgende dekades het Suid-Afrikaanse musiek die beperkings van apartheid se isolasie en Amerikaanse invloed afgeskud. Die gewildheid van kwaito, gqom en amapiano is ’n bewys dat ons oor musiekmakers in eie reg beskik.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Paul Simon, David Kramer, Voëlvry en die 80’s gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



