Parkiegra$: Hoog bo die wolke en ver onder die grond
Eksklusiewe vrystelling van die Kri$mi$-musiekvideo
Parkiegra$ het in 2018 ontstaan toe die lede PJ Maas en Brian Hartell ’n vet blunt gerook het. PJ is ’n konsert van bedrywigheid en idees wat partymaal selfs homself oorweldig, tog is sy energie aansteeklik. Hy het onlangs getrou en ’n pa geword. Verlede jaar het ons om ’n vuur gesit terwyl hy die nuwe musiek waaraan hy werk vir my speel, hy noem toe dat hy besig is met ’n Afrikaanse rap projek. “Ja, ja,” dink ek. Later in 2019 stel hulle Vol. 1, hulle eerste mixtape, vry. Dit was later daardie jaar, een Sondagmiddag terwyl ek deur Facebook krap dat ek op ’n promo vir hulle nuutste single ‘Krismis’ afkom. Dit lei my na hulle tweede mixtape, gepas genaamd Vol. 2. Dit is op hierdie oomblik dat hulle my oortuig. Ek stuur vir PJ ’n boodskap: “Ek wil julle afneem.”
Later daardie week maak ek ’n draai by PJ se woonstel in Melville waar hy my dadelik neem om sy eersgeborene te ontmoet. Die babatjie lê nog pap in haar ma se arms. PJ glimlag breed. Hy is ’n trotste man. Hierna gaan sit ons op die stoep waar ek vir Brian ontmoet. Brian sit gemaklik terug op ’n sagte bank. Hy dra ’n tropiese hemp met sy rekenaar voor hom. Hy is besig om aan ’n beat te werk. Brian is stil. Hy is byna die teenpool van PJ, behalwe dat hy ook nie sy energie in sy oë en glimlag kan wegsteek nie. PJ rol ’n zol en verduidelik al hulle planne bo-oor Brian se beat. Brian, besig om aan sy musiek in sy eie wêreld te werk, luister steeds aandagtig en bevestig alles wat oor PJ se lippe vloei met gretige knikke. Hulle oë skitter.
Elke beat van Parkiegra$ kom met ’n kis vol weggesteekte skatte. PJ hang sy hart om sy nek terwyl hy preek oor ons huidige samelewing – hy is moeg vir hoe ons die aarde behandel, hoe ons onsself behandel en vir seksisme in musiek. Hy speel oop kaarte oor die feit dat dit nie altyd maklik is om ’n goeie minnaar te wees nie, selfs nog moeiliker om ’n goeie pa te wees. Hy maak dit ook duidelik dat hy aanhou probeer ten spyte van ’n wêreld vol omstandighede. En dit is Parkiegra$: opregtheid. Mens voel dit in hulle nuutste enkelsnit ‘Kri$mi$’; dis meer van ’n verklaring as ’n lied.
Volgens die band gaan ‘Kri$mi$’ oor ’n paradigmaskuif na pa-wees en mondigwording. “Kwaad is ’n masker wat jou pa graag dra / My lippe bewe as ek gesig wys want jou pa dra swaar”. Die lied spreek oor die konflik in spesifiek PJ se opvoeding, maar ook “oor die foute wat ek maak as ’n man as gevolg van my woede en tekortkominge”.
“Deel van my self-development is om gedrag wat deur die patriarchy ontstaan het, aan te spreek en te identifiseer. Ek’s nou ’n skakel in die ketting van ’n moderne gesin. My veganism en ambisie as ’n kunstenaar maak hierdie lewenspad interessant en kleurvol, maar daar is ook angs en depressie wat daarmee gepaard gaan. Ek word forseer om te fokus op die belangrike dinge in my lewe. Daar is soms geweldige finansiële en emosionele swaarkry wat daarmee saamkom om jou passies te volg, maar ‘Kri$mi$’ is ’n tipe “mission statement” aan my dogter sodat sy weet wie haar pa was toe sy nog te klein was om te lees. Sy sal altyd so kan terugkyk vir konteks in haar eie lewe en haar verhouding met haar pa,” vertel PJ.
Volgens die band handel dié lied oor die temas van geboorte, dood, nostalgie, geloofsleuens, materialisme en ambisie, maar ook gemeenskaplike liefde, Johannesburg en alles wat daarmee gepaard gaan om ’n pasgetroude, jong Afrikaanse man te wees.
Parkiegra$ werk tans aan hulle eerste vollengte album, Ruimte Tape, wat later in 2020 vrygestel sal word.