Slegs Wit mans op Gay Pages se voorblad vir 23 jaar
Die tydskrif met 'n diversiteit-probleem
Die kwartaallikse Gay Pages wat in 1996 gestig is en wat as Suid-Afrika se grootste gay tydskrif beskryf word, het oor ’n tydperk van ongeveer 23 jaar net Wit mans op die voorblad geplaas. Die voorblaaie van 2009 tot datum wat aanlyn beskikbaar is, word hierbo vertoon (in geen spesifieke volgorde nie). ’n Swart man het nog nooit alleen op die publikasie se voorblad verskyn nie. Die vraag ontstaan of die tydskrif slegs vir Wit mans bedoel is, en of slegs Wit mans goed genoeg is vir die voorblad?
Die tydskrif is al vantevore hieroor gekritiseer, meestal in akademiese kringe. Katlego Disemelo het die verteenwoordiging van swart mans in queer verbruikersmedia ondersoek, Gay Pages inkluis, vir sy meestersgraad aan Wits in 2014. Andy Carolin het daarenteen templare van die tydskrif tussen 2012 en 2016 bestudeer vir die artikel ‘South African Gay Pages and the politics of whiteness’ (2019).
Beide bronne argumenteer dat die tydskrif die Andersheid van gay-wees versag deur witheid en assimilasie. Dit word gedoen deur die skep van ’n homonormatiewe beeld van manlikheid; ’n middel- na opperklas, cisgender Wit man in ’n hiperrealistiese wêreld van luukse handelsware en ontspanning. Dit terwyl swart liggame uitgewis word deur herhaalde, sistematiese uitsluiting.
Witheid word regdeur die tydskrif aangetref, soos beide bogenoemde akademici aanvoer, maar nêrens so prominent soos op die voorblad nie. In ’n onderhoud wat Disemelo met Gay Pages se stigter-redakteur Rubin van Niekerk gevoer het, word die kriteria vir die kies van die voorbladfoto so beskryf: “Cover models that are actively involved in some or other gay event, like Mr Gay South Africa or Mr Gay World are preferred. Sometimes cover models are simply placed for their stunvalue [sic]. Eye contact is really important and professional photographers with sufficient lighting are non-negotiable.” Geen verwysing na ras word gemaak nie, al word ’n duidelike tendens tot die teendeel aangetref. Van die swart mans wat deelgeneem het aan die genoemde kompetisies is daar ook geen sprake nie.
Gevra oor die (gebrek aan) verteenwoordiging van queer swart mans in Gay Pages, antwoord Van Niekerk in Januarie 2014: “Black men are far more closeted and difficult to reach than almost any other demographic. Few gay black entrepreneurs are willing to be openly featured in media which impacts on their role in the pink economy.” Die argument dat nie een gay swart man oor ’n tydperk van 23 jaar opgespoor kon word om op die voorblad te verskyn nie, laat egter veel te wense oor. Dieselfde met die afmaak van gay swart mans se hedendaagse koopkrag.
Van Niekerk het bygevoeg: “The white and coloured communities are the most gay tolerant generally, therefore it is a lot easier to publish their pictures. The Indian and Black community are becoming more tolerant, so they appear more frequently than in the past.” Dit ís so dat daar wel sommige stories oor swart mans in die tydskrif verskyn, alhoewel dit steeds in die minderheid is. Volgens Carolin word die meerderheid van stories met temas soos vegetarisme, meditasie en joga, reis, oudword, besigheid, verhoudingsadvies, geloof, onderklere, en sosialisering, vergesel met stock foto’s van Wit mans. Dieselfde geld vir advertensies met enkele uitsonderings.
In die 24ste jaar: te min, te laat?
Daar is tekens dat Gay Pages tot die besef gekom het van post-apartheid Suid-Afrika, nietemin baie laat. Op die winter-uitgawe van 2019, die tydskrif se 24ste bestaansjaar, het enkele mans van kleur verskyn in ’n groepfoto as deel van Mr Gay World wat in Kaapstad gehou is. Dit ná ’n prominente swart man op die herfs-uitgawe van 2019 se voorblad verskyn het – wel sáám met ’n Wit man. Moet swart mans dan deur Wit mans vergesel word? In die daaropvolgende drie uitgawes is daar weer teruggekeer na die gewone. Te min, te laat?
* Rubin van Niekerk is gevra om op hierdie opiniestuk te reageer.