Die 'Christelike vs. geestelike' debat

Die 'Christelike vs. geestelike' debat
33625_480755255287_4000654_n.jpg

Koos Kombuis skryf oor Joan Hambidge teen Cas Vos. 

Die boekwinkel-ketting CUM het, volgens berigte, die afgelope paar weke verskeie publikasies van hul rakke laat afhaal. Een hiervan is die kontroversiële versamelbundel Die Mooiste Afrikaanse Christelike Gedigte (Lux Verbi).

Volgens ’n berig deur Seugnet van Zyl in Beeld van 1 September 2017 het “Hannes Meyer, voorraadbestuurder van CUM… een van Lux Verbi se advertensieverteenwoordigers per e-pos verwittig dat hy die besendings van Saam in Suid-Afrika en Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte aan die uitgewer wil terugstuur.”

Geen verduideliking is gegee nie.

Die kansellasie van CUM se bestelling volg op ’n herrie in die pers tussen een van die digters wat opgeneem is in die gedigtebundel, Joan Hambidge, en die samesteller van die bundel, Cas Vos.

Volgens Joan Hambidge het sy “gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die ‘Geestelik’ in ‘Christelik’ verander is.”

Sy voeg by:  “Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ’n Christelike digter beskou nie.”

Volgens stories in die media deel van die ander digters wat opgeneem is in die bundel, onder andere Daniel Hugo en Lina Spies, haar besware.

“Die feit dat Pasolini ’n film oor Jesus gemaak het, maak nog lank nie van hom ’n Christen nie,” skryf Hambidge. “Ek is tans besig met ’n bloemlesing Vreemde Liefde oor lesbiese verse en ek dink ek gaan een van Cas Vos se verse opneem. Uiteraard sonder toestemming. So laat ons nie jakkalsdraaie gooi of vosserig raak nie, ’n Christelike gedig is nie net sommer ’n gedig wat geloof aanspreek of dit kritiseer nie.”

Hambidge se woorde was skaars koud, of Cas Vos het gereageer met ’n liefdevolle teregwysing waarin hy Hambidge beskuldig van ’n gebrek aan nuanse.

“Ek gaan nie aan die versoeking toegee om te reageer op die sarkastiese en spottende… slot van Joan Hambidge se reaksie op Die Mooiste Afrikaanse Christelike Gedigte nie,” sê Cas Vos, voordat hy, enkele paragrawe later, wel toegee aan die versoeking.

Oor Hambidge se voorneme om sy (Cas se) werk op te neem in ’n bundel lesbiese verse, skryf hy: “Hambidge se tweede laaste paragraaf getuig doodgewoon van swak smaak en onprofessionaliteit.”

Vir dié wat nie weet nie, Cas Vos is ’n bekende teoloog en vertaler, en hy is ook bekend as ’n deskundige oor Vincent van Gogh vermiste oor.

Hy is ook self ’n gepubliseerde digter van formaat, soos hy self erken: “Ek reken, in alle beskeidenheid, myself, net soos T.T. Cloete en I.L. de Villiers, nie as Christelike digters nie, maar ek oordeel dat ek ’n digter is wat in heelwat gedigte ’n Christelike uitstraling het.”

Hierdie bekgeveg boei my om verskeie redes. Ek weet ek is ’n derderangse digter wie se werk geensins in hierdie geselsskap sou kon kompeteer nie, maar ek vra myself nietemin af: hoe sou ek gevoel het indien daar van my eie gedigte sonder toestemming in ’n Christelike (of lesbiese) versamelbundel opgeneem sou word? En: hoe sou ek voel as ek in ’n bundel opgeneem word wat dan deur ’n boekewinkel-ketting soos CUM van die rakke verwyder word, met of sonder enige uitstralings?

Dis moeilik om te sê. Ek het tot onlangs nie geweet van die bestaan van ’n Christelike boekwinkel-ketting genaamd CUM nie.

Om die waarheid te sê, ek het wel so ’n winkel gesien in ons plaaslike mall, maar vinnig verby-gestap en anderpad gekyk omdat ek gedink het hulle verkoop pornografie.

Terloops, is dit moontlik, uit ’n bemarkingsoogpunt, dat ’n Christelike boekwinkel-ketting met ’n naam soos ‘CUM’ hoegenaamd kan bestaan? Is hulle total onbewus van die konnotasies van ’n woord soos ‘cum’?

’n Vlugtige internet-soektog het my binne drie sekondes by die volgende webruimte besorg, waar die term ‘cum’ as volg verduidelik word:

“Cum is a vulgar slang word for the liquid that comes out of the penis during ejaculation. Sometimes spelled come, this is very inappropriate word… The spelling ‘cum’ is often used in pornography.”

Ieder geval, die boekwinkel en sy misleidende logo daar gelaat. Gepraat van bemarking: daar is twee dinge omtrent Lux Verbi se boek wat my pla.

Eerstens: waarom het hulle nie maar gebly by die oorspronklike gedagte om hul versamelbundel te noem “Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte” nie? Dit sou niemand aanstoot gegee het nie, ook nie Christene nie. Dit sou, inteendeel, hul bundel aantreklik gemaak het vir potensiële groter leserspubliek.

En dit bring my by die tweede vraag: is Lux Verbi werklik onbewus van die tendens wat ons die laaste paar jaar waargeneem het onder gelowiges, ook Afrikaanssprekende gelowiges, om weg te beweeg van die dampkring van die Kerk, en van die “amptelike” Christendom, deur om hul geloof eerder uit te leef in ’n sekulêre milieu?

Toe ek vyf jaar gelede my eie geestelike album uitgereik het, het dit geen speeltyd op RSG gekry nie, wat nog te sê Radio Kansel (al het ek die moeite gedoen om vir hulle almal ’n kopie te pos). Boonop het ek gevind dat ek my half dood gesukkel het om my standpunt (vir geloof, teen godsdiens) aan die pers te verduidelik. Dit was skynbaar ’n nuwe gedagte, en die mark kon nie my album in ’n kategorie plaas wat vir hulle sin gemaak het nie.

Intussen het dinge verander. Al hoe meer mense beskou hulleself as “geestelik” eerder as “Christelik”.

Yuval Noah Harari beskryf dit so in sy bekende 2016-publikasie Homo Deus – A Brief History of Tomorrow:

“Religion gives a complete description of the world, and offers us a well-defined contract with predetermined goals. ‘God exists. He told us to behave in certain ways. If you obey God, you’ll be admitted to heaven. If you disobey Him, you’ll burn in hell.’ The very clarity of this deal allows society to define common norms and values that regulate human behaviour. Spiritual journeys are nothing like that. They usually take people in mysterious ways towards unknown destinations… For religions, spirituality is a dangerous threat. Religions typically strive to rein in the spiritual quests of their followers, and many religious systems have been challenged not by laypeople preoccupied with food, sex and power, but rather by spiritual truth seekers who expected more than platitudes… Religion is a deal, whereas spirituality is a journey.”

Aan die ander kant: dalk moet mens vir Cas Vos die voordeel van die twyfel gee. Per slot van rekening is die benaming “geestelik” ook nie ideaal nie. Dit laat mens voel die dinge waarin hierdie mense glo wat hul geloof buite die kerk wil uitleef, is, op die een of ander manier, vaag of insubstansieel. Byna so belaglik soos party van die Gnostici van die eerste eeu na Christus wat geglo het Jesus het ’n entjie bo die grond gesweef en nooit gesweet of voetspore gelaat het nie (dit is duidelik nie waar nie, want sou Maria genoop gevoel het om die Here se voete te was en te salf as daardie voete nie in die eerste plek ’n effense klankie afgegee het nie?)

Die woord “geestelik” sit dus ook nie 100% met my nie. Ek voel daaroor ’n bietjie soos D.H. Lawrence, wie in sy essay Why the Novel Matters sy eie ongemak verwoord met die konsep van “geestelike” of abstrakte waarhede wat mens dikwels in die filosofioe teëkom:

“These damned philosophers, they talk as if they suddenly went off in steam, and were then much more important than they are when they’re in their shirts. It is nonsense. Every man, philosopher included, ends in his own fingertips.”

Om te impliseer dat die onsigbare dinge waaraan ons waarde heg slegs in die verbeelding bestaan, en so vaag en lig is soos spookasem, is ’n bietjie soos om te sê dat die kleure op die kleurspektrum wat vir die menslike oog onsigbaar is, soos infrarooi en ultraviolet, nie regtig daar buite is nie. Dis ook ’n bietjie soos die aanname dat konkrete voorwerpe wat ons kan sien en voel, die materie om ons, meer werklik is as die dinge wat ons nie kan sien nie; dit, terwyl die wetenskap self erken dat ons, in die eerste plek, slegs 4% van die heelal sintuiglik kan waarneem, en voorts, dat materie self tot ’n groot mate ’n illusie is wat staande gehou word deur partikels wat so ver van mekaar af is en so klein dat alle konkrete voorwerpe so te sê “leeg” is! En dan het ons nog nie eens by kwantumfisika gaan draai nie. Daardie soort navorsing los ek liewer veilig in Maryna Blomerus se hande!

Hoe dit ook al sy, “Geestelik” of “Christelik”, aan die einde van die dag weet ons as mense eenvoudig te min om finaal kant te kies tussen die twee. Ons kan ons voorkeure hê – ek het inderdaad my voorkeure - maar dit bly bloot opinies. Ons kan selfs weet waarin of in Wie ons glo sonder dat ons daardie waar of Wie finaal kan omskryf. En ons sal dalk nooit weet hoekom ‘CUM’ nie sekere boeke op hul rakke wil hê nie. Ons soek  as’t ware na die waarheid deur ’n spieël in ’n raaisel.

En waar, o waar, is Van Gogh se oor?

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die 'Christelike vs. geestelike' debat gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand