uKhoiKhoi se weergawe van Suikerbossie tydens die Pendorings

uKhoiKhoi se weergawe van Suikerbossie tydens die Pendorings

Meevoerende inheemse veeltaligheid

Pendoring, wat inheemse taalgebruik in advertensies, bemarking en die kreatiewe sektor aanspoor en bekroon, het vanjaar soos die meeste ander geleenthede aanlyn plaasgevind. Die hoogtepunt was die opvoerings deur uKhoiKhoi, ’n live looping, musikale opvoerkuns-duo. uKhoiKhoi gebruik veeltalige lirieke in die styl van opera, inheemse gesange (chants) en lofpoësie, sowel as ’n verskeidenheid van tradisionele en kontemporêre instrumente om hulle unieke afro-futuristiese klank te skep.

Die duo bestaan uit die stem- en opvoerkunstenaar Anelisa Stuurman (ook bekend as Annalyzer), saam met die musikant en komponis Yogin Sullaphen. Die groep, wat in Johannesburg gebaseer is, het in 2019 ontstaan. Hulle naam is ’n ode aan hulle gedeelde Khoi- en San-erfenis. Hulle het by AfroPunk 2019 opgetree en in Junie 2020 die EP uKhoiKhoi vrygestel. Die lied ‘uKhoiKhoi’ gaan oor die inheemse stamme van Suid-Afrika en hulle kulturele gebruike. Dit is ’n eerbetoning aan die groep se voorouers en tradisies, ook aan legendes soos Credo Mutwa, die oorlede Zulu-sangoma. ‘uKhoiKhoi’ is ook geïnspireer deur Xhosa-lofgesange en tradisionele “voorvaderritmes” van tromme en perkussie, volgens die groep.

Die lied ‘Qabela’ kom van “Qabela udlule ngapha” wat beteken om hard te werk (te hustle), kennis oor te dra en om jou gemeenskap te bemagtig. Die groep benadruk dat werkloosheid ’n hewige krisis in Suid-Afrika is. In ‘Qabela’ motiveer hulle die jeug om moed te hou en na hulle doelwitte te streef, ondanks die uitdagings. Hulle moedig ook Afrikane aan om terug te keer huis toe: each one, teach one. uKhoiKhoi het die #QabelaChallenge begin om mentorskap aan te moedig. Die duo het die projek van stapel gestuur deur self ontluikende musikante, sangers en filmmakers te begelei, en deur hulle vriende aan te moedig om ook hulle vaardighede met ander te deel.

uKhoiKhoi se roerende weegawe van ‘Suikerbossie’ en die lied ‘Claps’ is vir die eerste keer op die Pendoring-platform opgevoer.

Anelisa Stuurman (Annalyzer)

Anelisa Stuurman het in die afgeleë dorpie Sterkspruit in die Oos-Kaap grootgeword in ’n musikale familie. Haar ouers het in kore gesing en Stuurman is dus só van ’n jong ouderdom af aan koor, klassieke en inheemse musiek blootgestel. Sy het in Durban geswot waar sy haar verhoogvaardighede geslyp het. Sy het musiek begin opneem as Annalyzer en het al internasionale sukses onder dié naam behaal. Stuurman is ook ’n prominente LGBTIQA+ aktivis. Sy het al by verskeie Pride-bymekaarkomste regoor die land opgetree as musikant en gasheer, o.a. by die Le Grand Ball in Johannesburg. Sy het ook saam met Kieron Jina en kie deel gevorm van die queer produksie Pink Money wat vir twee jaar (2018–2019) internasioneel getoer het. In 2019 het sy weer saam met Jina in die produksie Rise of the African Queer verskyn, waarvoor Sullaphen die klankontwerp gedoen het. Hierdie samewerking het tot die ontstaan van uKhoiKhoi gelei.

Yogin Sullaphen

Yogin Sullaphen is die “musical mastermind” van uKhoiKhoi. Hy is ’n multi-instrument-musikant en -komponis met ’n graad in jazz-komponering aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sullaphen se niche is die scoring en opvoer van musiek in die teaterbedryf, waarvoor hy in 2019 met ’n Naledi-toekenning bekroon is. Hy gee klas in kitaar en baskitaar — sy wapens ter keuse — alhoewel hy ook klawerbord, tromme, fluit en ’n verskeidenheid van inheemse Afrika-instrumente bespeel. Sy belangstelling in live looping het mooi bymekaargekom toe Stuurman by hom aangesluit het vir die ontstaan van uKhoiKhoi.

Die Pendorings

Die Pendorings is in 1995 geskep as ’n Afrikaanse reklame-toekennings, maar dit is in die afgelope paar jaar radikaal getransformeer om alle Suid-Afrikaanse inheemse tale (Engels is dus uitgesluit) te bevorder en te vier. Pendoring moedig die voorbehoud en ontwikkeling van inheemse tale aan, en toon die waarde van kulturele kapitaal in die samelewing en besigheidsektor aan. Dit is ook nuut dat daar by Pendoring nie net inheemse taal-advertensiewerk bekroon word nie, maar nou ook uitnemendheid in die kreatiewe sektor as ’n geheel. Die uitgewer-kategorie is in 2020 geskep met o.a. Ryan Pedro se bundel Pienk ceramic-hondjies (uitgegee deur Carolyn Meads van Kwela) se omslag wat deur Nathan Trantraal ontwerp is, met ’n foto en kunswerk deur Stephané E Conradie, wat bekroon is met ’n goue Pendoring. Bykomende kategorieë word deur die Pendoring-raad oorweeg vir 2021. Die Pendorings is ook tradisioneel oop vir studentewerk.

Die Pendorings gaan op vernuwende wyses met taal en kultuur om. By Pendoring 2018 en 2019, aangebied by die UJ-kunssentrum, is daar geen Engels op die verhoog gepraat nie, maar eerder ’n mengsel van Suid-Afrika se 10 amptelike inheemse tale. Daar is gebruik gemaak van ’n ticker tape om dit wat op die verhoog gesê is in Engels te vertaal. Beide musiek en komedie speel ’n pertinente rol, met Sho Madjozi, Bombshelter Beast, Anne Hirsch, Pule Welsch en Nothembi Mkhwebane wat al op Pendoring se verhoog die afgelope drie jaar verskyn het. Vanjaar was daar ’n satiriese inslag in die inskrywings-veldtog met die skerp bewoorde #EnglishNeverLovedUs-veldtog, geskep deur die TBWA\Hunt Lascaris-agentskap. Pendoring funksioneer onder die vaandel van #SpeakSouthAfrican.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van uKhoiKhoi se weergawe van Suikerbossie tydens die Pendorings gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand