Die visuele storievertelling van die Trantraal-broers se comics

Die visuele storievertelling van die Trantraal-broers se comics
Colour 1

Colour 1

Lewe, en televisie, in apartheid Suid-Afrika

Die Trantraal-broers is 'n stripkunstenaar-tweemanskap bestaande uit André en Nathan Trantraal. Hoewel hulle tans aandag as Kaapse skrywers geniet, maak hulle reeds sedert 2003 naam as spotprentkunstenaars. Hul eerste spotprent Urban Tribe verskyn in 2003 in die Cape Argus. In 2008 publiseer hulle die grafiese roman Drome kom altyd andersom uit by Tafelberg Uitgewers. Daarna skep hulle die spotprente Ruthie en The Richenbaums wat onderskeidelik in Rapport en Cape Times verskyn het. In 2010 publiseer hulle Coloureds, 'n spotprentboek wat oor 'n arm familie in Bishop Lavis handel. In 2014 word hulle deur die historikus, dr. Koni Benson, genader om 'n reeks van ses grafiese romans te skep. Hierdie reeks is gebaseer op Benson se PhD-verhandeling wat die onvertelde stories van die vroue betrokke by die Crossroads-optogte in die 1970's – 1990's opskryf. Die Crossroads-romans is getiteld (in chronologiese volgorde): I Live Where I Like, I Took Out The Loudhailer, Imfuduso, Witdoeke, The Mothers of Crossroads en The Woman's Power Group. Hulle werk is ook in Hamburg, Amsterdam en in Julie 2018 by die AVA Gallery in Kaapstad uitgestal.

Drome kom altyd andersom uit (2008)

Drome kom altyd andersom uit (2008)

Volgens die Trantraal-broers is dit vir hulle belangrik om die geleefde ervaringe en werklikhede van arm mense op 'n akkurate wyse op te skryf. In sy boek Wit issie 'n colour nie (2018) noem Nathan "as arm mense doodgaan los hulle niks agte nie, niks trace dat hulle exist et ie". Met hulle spotprente druis die Trantraal-broers teen hierdie aanvaarde norm en verwoord die werklikhede en familiedinamiek van arm mense, soos gesien in The Richenbaums en Coloureds. André wys tereg daarop dat arm mense gewoonlik op 'n eendimensionele wyse en gevul met stereotipes, uitgebeeld word. As gevolg van hul bekendheid met die omstandighede van hul karakters, systap die Trantraal-broers die gewone indringende poverty porn gaze en omvat die komplekse aktualiteit van hierdie groep mense se bestaan in die taalvariëteit waarin dit geleef word.

Hulle nuwe werk (Colour 1, 2 en 3), wat by die AVA Gallery te koop is, bied 'n satiriese terugkyk na (Afrikaanse) televisieprogramme in die 1990's en hulle persoonlike ervaringe van dié programme. Met bitsende kommentaar maak hulle verwysing na televisieprogramme soos Vyfster en die whitewashing van die tronklewe asook die gepastheid van 'n Afrikaanse oorklanking van The Sopranos, wat die parallelle tussen die karakters in dié reeks en die Apartheidsregime uitwys.

As gevolg van hul bekendheid met die omstandighede van hul karakters, systap die Trantraal-broers die gewone indringende poverty porn gaze en omvat die komplekse aktualiteit van hierdie groep mense se bestaan in die taalvariëteit waarin dit geleef word.
Crossroads I Live Where I Like

Crossroads I Live Where I Like

Behalwe vir die tematiese tersaaklikheid van hul werk, skep die Trantraal-broers ook diskoers rondom die medium waardeur die betrokke temas aangebied word. Hul gebruik van spotprente en grafiese romans om aktuele kwessies te ondersoek en uit te beeld, bied nuwe maniere om geleefde ervaringe, hetsy geskiedkundig of kontemporêr, te vertel en te behou. In die geval van die Crossroads-reeks, word grafiese romans se toeganklikheid gebruik om nuwe (en jong) lesers aan 'n onbekende deel van ons geskiedenis bloot te stel. Die gebruik van Kaapse Afrikaans as skryfvariëteit (in sommige van die spotprente en grafiese romans) verbreed ook die huidige beperkte lys van Kaapse Afrikaanse-publikasies. Met hulle spotprente en grafiese romans dra die Trantraal-broers by tot gesprekvoering en aksieneming oor die sosio-ekonomiese stand van miljoene Suid-Afrikaners en bied ook 'n belowende nuwe manier om opvoedkundige materiaal te verryk en 'n leeskultuur te kweek.

Colour 2

Colour 2

Colour 3

Colour 3

Sparks of revolution bl. 6

Sparks of revolution bl. 6

Sparks of revolution bl. 7

Sparks of revolution bl. 7

Uit: Crossroads

Uit: Crossroads

Earl Basson is tans 'n meestersgraadstudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy belangstellinge wissel vanaf taal- en identiteitspolitiek, letterkunde, queer letterkunde en films en enigiets rakende Beyoncé (behalwe die Pink Panther-movie en haar bangs-fase).

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die visuele storievertelling van die Trantraal-broers se comics gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand