Kortverhaal: Heartattack and vine
Ek is sewe jaar oud, amper agt.
Ek lê op my maag en kyk na die houtblokkies op die stoep se vloer. Ek luister. Ek wil nie opkyk nie, ek wil nie sien nie. Maar ek hoor, ek luister.
Die ergste van die aand is dat hulle vergeet ek is daar. Ek is daar, sonder om daar te wees. Hy en sy maak of hulle alleen is, en praat, en kyk, en sien my nie. Of maak of hulle my nie sien nie.
Die grootste seer: ek is nie my pa se seun nie. Nie vanaand nie.
Daar is twaalf riffels aan ’n doppie. Ek drink vandag nog nie tamatiesap nie. Weer en weer tel ek die riffels, ’n ewigheid van riffels wat my ’n vreemde plesier gee. Iets groot is besig om te gebeur; ek is deel van die einde van my onskuld.
En ek weet dat alles nou anders gaan wees.
Sy dra Cameo Pantyhose.
Ek weet dit oor die twee skoenlappers wat op haar enkels uitgeborduur is. Ek onthou die woorde van die advertensie: “Cameo, let your legs do the talking”.
Sy het nie skoene aan nie. Ek kyk oor die houtstoep na die beweging van haar voete.
Dan raak sy aan die vloer, dan nie. Haar voete is nooit stil nie.
Daar is iets bekend, ek herken dit, maar dis iets wat nie hier en nou hoort nie. Iets tussen Pa en haar. Ek is nie ontsteld nie, miskien net nuuskierig. Miskien saam met hulle bang dat my ma hierop sal inloop.
Sy kom nooit in nie. My ma het nog nooit ingeloop nie; ook nie met die ander nie.
Ek maak asof ek nie daar is nie.
Pa flirt met Vivienne, Vivienne flirt met Pa. Toe het ek nie geweet dis flirt nie, ek het net geweet dis iets.
Musiek, vodka en tamatiesap. Ek hoor my ma lag in die kombuis. Ek weet sy bedoel dit nie. Die lag jok.
Ek probeer deel word van die varing in die hoek, die spinnerak met die takkies in, die houtblokkies onder my. Ek gaan lê plat op my maag. Ek is die vloer, en ek kry koud. Ek het nog nooit so koud gekry nie.
“I do love you, you know.”
(My pa praat altyd Engels as hy nie wil hê ek moet verstaan nie.)
“Oh yes?”
Sy glimlag en maak haar bene effens wyer oop. Die materiaal om haar bene wikkel heen-en-weer, heen-en-weer... maak sagte geluide wat skiet-skiet teen haar kouse. Daar bo iewers is haar gesig.
“We can leave,” hy lig die glas van die tafeltjie af en ek weet daar is nou ’n wit ring op die hout, “elope like children.” Ek dink daaraan om ’n iets te gaan haal sodat hy die nat glas daarop kan neersit, maar ek weet van beter.
Vivienne kyk nou na my, sy lyk opgewonde. Ek voel haar kyk. Ek probeer die vuil onder my ringvinger se nael met ’n tandestokkie uithaal. Sy weet ek is hier. Ek is hier. Ek dink sy hou daarvan.
“Pieter, ... don’t be silly, you have a nice life here,” (sy kyk nog steeds na my, ek kyk nie na haar nie, ek sal nie na haar kyk nie) “try to think of me as your... your intimate consciousness. A presence you can touch without obligation.”
“And I thought you only wanted to fuck.”
Ek kan nie die swart onder my nael uitkry nie; ek hou aan probeer. Dit begin nou seer word.
Hy maak sy glas stadig leeg. Dis ’n rukkie stil terwyl hy die ys in sy glas laat klingel. Dan lag hulle albei vinnig en ’n bietjie te hard en sy sê iets vir hom wat ek nie verstaan nie.
Dan praat hy met my. “Gaan haal gou vir Pappa nog ’n sappie, asseblief.”
Ek trek my gesig in ’n glimlag vir my pa en hardloop weg, na die kombuis toe – ’n gevoel van oorwinning. Nou wonder ek hoekom.
Later die aand is al die gaste weg en Pa groet vir Vivienne by haar kar (dit was ’n Mini, dink ek. ’n Groene). Ek stap na Ma toe waar sy op die rystoel sit en wag. Sy lyk asof sy ver dink. Dan kyk sy na my en glimlag. Die glimlag is vir my, nie vir haarself nie.
“Haai, jong, slaap jy nog nie?”
Ek voel skielik hartseer en klim op haar skoot. Ek wil huil. Nou, nou kan ek dit doen. Ek onthou vaagweg die musiek wat hulle vroeër die aand gespeel het. Ek vryf my neus by die rooibruin hare net bo haar oor in en wag ’n rukkie.
Ek fluister so saggies as wat ek kan.
“Daa... daar is iets wat ek vir Mamma moet vertel.”
By haar oor, so na as moontlik. Ek wil dit so sag sê as wat ek kan.
Ek ruik die sjampoe.
“Ek wil vir Mamma vertel waaroor Pappa en tannie Vivienne gesels het.”
Ek begin. “I do love you, you know.” Ek vertel dit alles in Engels, soos hulle gepraat het.
Later, na die rusie en my pa se uitstorm het ek my ma hoor opstaan, gehoor hoe sy stap na my kamer toe; ek het gemaak of ek slaap. Sy het oor my kop gestreel en ’n ruk op die rand van die bed gesit, ek dink sy het na my gekyk, toe het sy opgestaan en na die badkamer gegaan. Ek kon hoor hoe sy haar binnekant leeggemaak het van tamatiesap, braaivleis en avokado.
Ek was ook naar.
Ek is agt jaar oud. Dit is vroeg Desember 1980 en ons is die Oos-Kaap. Ons huur ’n klein plasie naby Oesterbaai vir die vakansie. Ons het ons eie groentetuin. Ons weet dit nie, maar dit is ons laaste somervakansie saam as gesin. Vroeër die dag het ons middagete geëet by die bekende dramaturg en sy vrou. Ek het met skilpaaie gespeel op die grasperk terwyl die mans—een ou man en een jong man—gekuier het op die rondomstoep.
Vir die res van die dag is my pa lig en vriendelik; ons almal voel soos gode. Wanneer hy gelukkig is, is ons almal gelukkig. Hy en my ma dans daardie aand na aandete. Ek kyk na hulle en glimlag verwonderd. Dit is raar. Ons is in die hemel. Ja, daar is wyn, ek is versigtig, altyd versigtig, maar alles gaan goed.
Die volgende oggend gaan ons na ’n strandwinkeltjie toe vir brood en melk. Daar is ’n koerantopskrif: JOHN LENNON DOOD. Vir my beteken dit niks nie. My pa pak die kruideniersware agter in die kar en eers is hy stil, maar dan huil hy ontroosbaar, saggies. My ma bestuur. Niemand praat nie. Daardie middag verdwyn hy met die motor en kom terug met bottels wyn. Groen bottels en deursigtige bottels. Ek gaan na my kamer toe, dan na buite. Ek ken hierdie musiek.
Daardie aand dring my pa daarop aan dat ek die klein modelvliegtuig wat ons in voorafgaande maande saam gebou gaan haal. Die vliegtuigie is so lank soos my voorarm en gemaak van balsahout. My pa wil hê ons moet buite daarmee speel. My ma – haar stem sag – sê dat die wind sterk waai. My pa staan op ’n heuwel langs ’n klein woud en gooi die vliegtuig hoog die lug in. Die tuigie word vinnig opgelig, hoër, hoër, hoër, en swaai dan neus ondertoe, reguit tussen die bome in. Ons soek daarvoor maar kry dit nie. Ek is ongelukkig, ek huil; my pa sê ek moet ophou kerm.
Hy dring daarop aan om self aandete te maak. Bredie. Pleks van aartappels gebruik hy groen appels; dit smaak sleg. Ek sê dis heerlik en hy hou aan opskep. Die hel sal op ons neerdaal as ons nie eet nie. Die hel gaan in elk geval neerdaal. Ons is klaar in die hel.
Laat daardie aand kondig hy aan dat ons vroeg die volgende oggend gaan oppak en teruggaan huis toe. Ek vra hom dat ons kan bly, asseblief. Ek hou van ons plasie. Hy koggel my: “Asseblief, pappa. Asseblief, pappa. Asseblief, pappa”.
Ek gaan buitentoe en stap die wind binne terwyl my ma die kar pak, ek sit op my knieë en bid.
Ek smeek God om hom dood te maak.
Ek is twaalf jaar oud. Dit is Desember. Ons drie braai op die Swartbergpas, langs ’n klein bewoude area naby die kruin. Dis ’n wolklose dag en die uitsig is asemrowend. Ons is geheel en al op ons eie en ons kan sien tot in die toekoms in, tot in die hemel. My ouers is geskei, maar my pa het onlangs teruggekom en bly vir ‘n paar weke by ons. Ons is gelukkig. Hy is skoon, droog: hy het onlangs by die A.A. aangesluit. Ons is die beste, die mees perfekte weergawe van onsself.
Ek en my pa hardloop op die grondpad teen die berg af, in die rigting van ons kar. Die bome is aan ons linkerkant en die uitsig aan ons regterkant. Die honde is by ons, opgewonde, al om ons voete, blaffend. My ma neem foto’s van ons, van waar sy by die motor is. Sy lag. Terwyl ons hardloop, skree ons die woorde uit die film Gallipoli, ons het dit onlangs saam gesien. Ons skree die dialoog, uitasem:
Pa: “What are your legs?”
Ek: “Springs. Steel springs.”
Pa: “What are they going to do?”
Ek: “Hurl me down the track.”
Pa: “How fast can you run?”
Ek: “As fast as a leopard.”
Pa: “How fast are you going to run.”
Ek: “As fast as a leopard!”
Pa: “Then let’s see you do it!”
Ek lag, hy lag, sy lag, en ons val neer op die gras by die braai, die lug brand warm in my bors.
Ek voel soos ’n god.
Ek is twintig jaar oud en op universiteit. Dis ’n naweek en ek kuier by my pa. Vroeër die dag het my ouma vertrek na haar weeklange besoek aan my pa, sy vrou, en my vierjarige halfbroer.
Dit is naby middernag, maar ek en my pa is nog wakker. Hy het aanhou drink sedert sy ma se vertrek, en ek beplan om vroeg die volgende oggend te vlug, terug na Stellenbosch. Ek probeer dink aan verskonings om weg te kom, om ons naweek saam vroeg te onderbreek. Ek moes van beter geweet het: my ouma bring die slegste in mense na vore. ’n Duiwel, ’n slang – sy suig alle vreugde uit mense uit, en my pa probeer kompenseer vir die donkerte wat oorbly op die enigste manier moontlik.
Sy het ’n skildery vir my pa agtergelaat as ’n geskenk. Dit is ’n werk deur ’n bekende skilder, olie op doek, netjies binne ’n oorlade goue raam. Dis ’n dramatiese kruisigingstoneel, ’n imposante kunswerk, maar die estetiese waarde word vertroebel deur die oorsprong en deur die identiteit van die mees onlangse eienaar. My ouma het genoem hoe duur die skildery is; sy het dit onlangs laat waardeer vir meer as vyftig duisend.
Dit is laat en ek lees my boek op die diep stoel buite op die voorstoep. Dis ’n soel aand. Hulle woon in ’n houthuis op ’n enorme erf in ’n buurt waar mense honde en perde aanhou. Die bure is ver weg, ander huisligte net-net sigbaar deur die bome. Dit reën al die hele dag, sag en aanhoudend. Ek hou van hierdie weer.
My pa kom sit by my. Ek is versigtig, my emosionele radar skerp. Ja, hy is dronk, maar hy is nie aggressief nie. Ek weet wel hoe vinnig dit kan verander, so ek bly bedag; ek is vriendelik en instemmend, maar ek hou dit lig. My uiterlike self is stiller en vaer as my binnelewe. Ek ken hierdie rol goed.
My pa het die skildery met hom saamgebring. Dit is groot: een meter by amper een meter. Hy sit dit versigtig neer teen ’n stoel, sodat ons beide kan wegstaan en dit bewonder. My pa sê iets oor die Heilige Augustinus, dan gaan hy oor na ’n lesing oor visuele perspektief en die middeleeuse blik. Nou praat hy oor Marxisme en die kommodifisering van kuns. Ek moedig hom aan. Ek knik, ek is intelligent en gedienstig.
My pa gaan haal ’n blik en ’n kwas in die motorhuis. Die blik bevat een liter deursigtige verdunner. My pa neem die kwas, doop dit in die vloeistof en verf versigtig oor die hele skildery. Terwyl hy besig is, verduidelik hy aan my dat die verdunner die beskermende lagie vernis wat bo-oor die olieverf aangebring is sal oplos, en dat dit die olie sal sagmaak. Ek kyk vasgenael. My oë blink soos dié van ’n kind wat staar na ’n huis wat besig is om af te brand. Met die taak afgehandel, steek my pa ’n sigaret aan en verduidelik dat hierdie proses op sigself nie die skildery beskadig nie; om die proses te staak hoef ’n mens net te wag tot die verdunner verdamp, dan kan ’n nuwe laag vernis aangebring word.
Hy staan op uit sy stoel, hy lig die skildery versigtig op en stap uit onder die stoep se dak, skildery in sy hande, ’n paar tree oor die gras, en sit dan die skildery op ’n tuinstoel met die voorkant na ons gewys. My pa vra of ek die skildery goed kan sien, ek sê ek kan. Hy los die skildery daar, stap terug na waar ek is.
Ons deel ’n sigaret terwyl ons kyk hoe die ligte Kaapse reën die lydende Christus wegspoel tot Hy saai en grys is.
Ek is drie-en-dertig jaar oud. Oor net minder as twee weke is dit my verjaarsdag.
Ek lê op my rug, op ’n bed. Ek het my werksklere aan. Dit is ’n Dinsdag, middagete, September. Iewers onder is ek in my minnaar se mond. Ek weet ons verhouding is verby. Terwyl hy besig is tref dit my dat ek nou die ouderdom is wat Jesus was toe Hy dood is. Ek moes iets gesê het, of dalk het ek beweeg, want my minnaar skuif, daar is ’n onderbreking, hy probeer antwoord, hy probeer iets sê, maar ek verstaan nie. Ek sê vir hom dat dit slegte maniere is om te praat terwyl sy mond vol is. Hy knipoog vir my, en gaan weer aan.
Ek kyk na die plafon. Daar is dooie motte binne die glaslamp. Ek draai my kop weg en ek maak my oë toe. Ek vlieg soos ’n vliegtuig, lig, gewigloos; ek is gemaak van balsahout. Ek hardloop teen ’n berg af, in ekstase. Ek sien ’n skildery oplos voor my oë.
Ek sal die verhouding later daardie dag beëindig; dit is die regte ding om te doen. Nou is ek jammer vir hom, en ek streel oor sy kop, druk my vingers deur die lieflike hare op daardie lieflike kop.
Ek dink weer aan God en die duiwel, en ’n reël van Tom Waits kom by my op.
“Don’t you know there ain’t no devil, it’s just god when he’s drunk.”
Kunswerk: Ilya Repin, ‘Follow Me, Satan (Temptation of Jesus Christ)’, 1901-1903
P. P. Fourie is verbonde aan die Departement Politieke Wetenskap by die Universiteit van Stellenbosch. Griessel, sy ma se nooiensvan, is ook sy van.