Nathan Trantraal: 'Dit was 'n dag wat ek nooit sal vergeet nie'

Nathan Trantraal: 'Dit was 'n dag wat ek nooit sal vergeet nie'
Nathan Trantraal.jpg

Dit was ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie.

Ek praat van dai opstelle wat ôs geskryf et innie eksamen toe ek nog in stanned 8 was. Ek was nogal goed in Afrikaans op skool. Afrikaans en Engels was, in fact, die ienagste vakke wat ek altyd geslaag et. Ek sit innie eksamenlokaal en flick dee my memories soese photo-album en kyk vi iets watte teacher sal tevriede stel. Oppie ou einde beslyt ek om maa virrie menee ’n note te skryf en te vedydelik dat al my dae ‘wat ek nooit sal vergeet nie’ some form van violence of psychological abuse gan entail en ek dinkie ek hettie krag om nog ’n opstel te skryf oo hoe lekker dit was by die strand en hoe my pa agterna die dag moes red toe Buks, ons hond, platgeslaan was deur ’n tamaai brander ie. Wan ôs hettie ’n hond genaamd Buks gehad ie, ôse hond se naam was Brandsiek, wan hy het permie brandsiek gehad, en innie unlikely event dat ôs hom saam beach toe sal gevat et, en hy innie wate in gehaloepet en begin vesypet sal dai die laaste van hom gewies et, wan ek kannie swem ie en my pa sal net daa gesit et en gesêret: ‘As hy kan inhaloep moet hy sieke maa kan ythaloep.’

Die nice ding daavan om te decide jy gan nie mee participate ie though, is dat jy kan lê met jou kop oppie bank en assie teacher wie invigilate se rug gedrai is, kan jy stilletjies die analphabetic cunt ookant jou vra om sy opstel te sien. Die laitie ookant my was Warren Fowler, maa ôs het hom Mr Fowler of ‘Vader’ geroep omdat hy 21 geraak et in stanned 6. Mr Fowler dryp elke jaa Afrikaans en as jy Afrikaans dryp, dan kan jy maa al jou anne vakke slaag, jy dryp nog altyd die jaa. Om jou hystaal te dryp was, om ôse Afri- kaans menee te quote, ‘ ’n gruwel in die aangesig van God.’ Wat of course ironic was, wan Afrikaans wassie ôse hystaal ie. In fact, die Afrikaans wat ôs op skool gedoen et het nette passing resemblance gehad tot die Afrikaans wat ôs byrie hys gepraat et. Ek hoef net an Mr Fowler te dink sywer Afrikaans byrie hys praat dan begin ekke laughing fit kry wat maak dattie menee omdrai en my ankyk asof ek altyd in eksamenlokale lag, maa ek sak my kop en hou my lag in, wan ek soekie nou die menee op my case ie, ek wil ees Mr Fowler se opstel lies, wan dan gan ek rêrag ie my lag kan inhou nie, en dan gan hulle miskien my vraestel opskee en my ytie eksamenlokaal sit. Dan kan ek vroeg hystoe fokof.

Mr Fowler kyk my suspicious an wanne ek hom roep, maa ek promise hom ek is klaa met my opstel en ek wil hom help, ek gan vi hom ’n paa lines skryf. Mr Fowler is desperate om dié kee stanned 8 te slaag soe hy gie maa vi my sy opstel, met soe ’n defeated look op sy gevriet, wat maak dat ek beslyt ek gan maa rêrag vi hom ’n paa lines skryf. Dan kan hy miskien maklik 10 yt ’n 100 kry. Ek lies Mr Fowler se opstel.

 

’n Dag wat ek nooit sal vergeet nie

Ons biere mense. Ons biere mense is goeie mense. Ons speel grag sam. Ons bere mense braai gerelt dat eet ons almal die lekernye. Ek hou baie van ons bure mense. Ons biere mense het 2 seens ons lag leker sam terwuil ons baljaar op die strant. Dit was ’n dag wat ek nooit sal virgeet nie.

 

Yt ’n possible 400 woore het hy net gemanage om 64 te produce, maa elke line isse faultless manifestation van stupidity, soes le mot juste vi morons. Mr Fowler kan sense hy hette mistake gemaak om vi my sy opstel te gie wan ek lê met my kop op my arms soes een wie slaap, maa my body ruk uncontrollably soes een wie hyl of lag. Ek wiet hy wil vi my iets sê maa die teacher staan tussen ôs.

Wanne die teacher na die vooste ry toe stap, roep Mr Fowler my saggies: ‘Jy jou nai, waavoo lag jy?’, maa hy het self lag in sy stem, wan hy wiet hy is kak dom. Dan sê hy wee lag-lag: ‘Jou nai, jy wiet mos ’n man kannie die kak doenie, skryf ’n paa stukkies haa, jou ma se poes, moenie soe wiesie.’ Ek was al een kee saam Mr Fowler by sy hys, wat ôs saam skool gebunk et. Sy neighbours oo wie hy innie opstel skryf kannie die mense wies wie ek gemeet et ie, nie unless Mr Fowler ’n double life lead ie. Hulle wasse klomp alcoholics en druggies. Hulle het loud music gespeel enne kis bier gedrink oppe Woensdagoggend, die heeltyd vi ôs oorie die muurtjie geskrie:

‘Kom syp julle naies!’ Die vrou vannie hys het vi ôs gesê:

‘Kom, kom, julle fokkit op dái kant dan fok ôs it op dié kant.’ Hulle een suun was dood, die anne drie was innie tronk vi moord, soe ek wiettie wanne hulle en Mr Fowler soe lekke gebaljaar en gelag et oppie strand ie. Ek sit en hou die blaai dop en decide, okay, ek sal maa iets skryf vi Mr Fowler, wannie cunt sit en kyk my an asof hy ’n brood se geld by my soek. Vi some reason issit makliker vi my om vi Mr Fowler ’n opstel te skryf as vi myself en ek jot die ding inne paa minute nee.

 

’n Dag wat ek nooit sal vergeet nie

Toe ons klein was het ons familie gereeld strand toe gegaan, al die neefs en niggies en ooms en tannies.

My ma se broer, wie ’n Rastafariër is, was gewoonlik aangestel om na die kinders te kyk. My Rastafariër-oom het altyd op sy hurke gaan sit, vêr genoeg sodat die water hom nie kan bereik nie, maar naby genoeg sodat hy ons vinnig sou kon uitduik, indien nodig. Ek het nooit gedink dis eienaardig dat hy so houtgerus kon sit terwyl al die kindertjies in en uit by die branders hardloop nie, omdat ek klein was, en natuurlik gedink het dat ek onsterflik is, maar ook omdat ek geglo het dat die grootmense altyd in volle beheer was.

Tussen die rotse, waar die water vlak was, was daar altyd ’n waatlemoen en ’n kis bier wat staan en koud word. Ek kan myself nou nog sien: kaalbolyf in my onderbroek, my neus vol soutwater en snot, my tone vol nat sand, uitasem van resies hardloop vir nog ’n skyf waatlemoen. Laasgenoemde was vir my altyd die hoogtepunt van die dag, selfs beter as die braaivleis. Ongelukkig was daar gereeld ook ’n laagtepunt. Al die grootmense behalwe my ma, en een of twee ander, was altyd reeds vroegdag smoordronk. Mense begin baklei en dan soek iemand ’n mes. Ek het nooit gedink dis eienaardig dat my pa, my tannies en ooms altyd ontsettend baie gedrink het op ons uitstappies na die see toe nie. Omdat ek opgegroei het tussen grootmense wie baie gedrink het was dit ook vir my heel normaal. ’n Uur of wat later was alles altyd weer piekfyn, dan speel ’n oom kliphard musiek in sy motor terwyl almal dronk slow dance.

Op een uitstappie was daar ’n familie wie nog harder partytjie gehou het as ons familie. Toe dit byna tyd was om huis toe te gaan toe roep my oom vir my: ‘Kyk, daai dronklap gaan sowaar van die rotse af duik.’ Die kêrel het direk op sy kop beland en was dood voor die branders hom kon wegspoel.

 

Ek gie vi Mr Fowler die blaai an, hy kyk it vi vyf minute an, dan vra hy my: ‘My broe watte kak is die?’ Ek gie nie vi hom antwood ie. Ek sak my kop oppie bank, ek wiet hulle gan hom nul gie vi dai opstel, hulle gannie ees omgie dat it impossible is dat Mr. Fowler it self geskryf et ie. Maa dais cool wan ek haat die Afrikaans teachers. Ek haat hoe hulle vi ôs force om boeke te lies van Dalene Mathee en poetry van DJ Opperman. As ek dai name sien dan wil ek virrie teacher vra, ‘Wat het die shit met my te doen, ek gie nie ’n fok om oo Ogilvy Douglas ie, Ogilvy Douglas isse cunt.’

Elke kee as die menee sy rug drai roep Fowler my, ‘My broe, maak die kak reg, man.’ Ek dink by myself: ‘Fowler, jou dom poes, jy was perfectly happy met dai kak wat jy geskryf et, hoe kan wat op dai blaai staan vi jou ’n problem wies?’ Ek raak skielik annoyed met Mr Fowler, ek wil hê hy moet recognise dat ek iets geskryf et wat vi hom iets moet beteken, ek wil hê hy moet moved wies. Maa die ungrateful cunt dink net die heeltyd annie feit dat hy wee stanned 8 gan moet oo doen. Ek snap en sê vi hom had, dat ammel kan hoo: ‘Jy, Fowler jou dom nai, gie die ma se poes trug as jyritie gan gebryk ie.’ Hy sê: ‘Naai, is orait is bieter as niks.’ Ek staan op en stap na sy bank en gryp ie blaai en sê: ‘Ek gan nou die kak opskee’, maa Mr Fowler sê: ‘Naai my broe, lossie blaai, moenie ’n nai issie’, maa dan kom die menee en sône om ienagge iets te sê, vat hy my vraestel en hy vat Fowler se vraestel en trek twie moerse rooi lyne oo altwie en gooirit op sy tafel. Dan drai hy om en sê: ‘Reg manne, julle kan maar loop, ek gee julle die res van die dag af. Julle kan sommer môre ook wegbly, sê ek het julle toestemming gegee.’

Jare later, toe ek self Afrikaans en Engels geteach et by my ou high school, toe sê ek eendag vi my Afrikaans-klas: ‘Skryf vi my iets oo waa jy vandaan kom, en skryf it soes jy praat.’ Hulle het my net angekyk asof ek befok is. It het about drie klasse gevat om hulle te convince om net te doen wat ek vi hulle fokken sê, dat hulle nie hoef te vestaan hoekom ekkit sê nie. Ek was amazed deerie shit wattie laities geskryf et, horrified en saddened dee meeste vannit. Toe ek later ie dag met my vakhoof sit en merk en vi haa vetel vannie opstelle wat my klas geskryf et, vannie drugs ennie seks ennie violence, vannie abuse ennie trauma, toe sê sy as ’n kind vi haa sukke goed skryf, dryp sy hulle onmiddelik.

‘As jy skryf dan moet jy jou verbeelding gebruik, as jy wil praat oor daardie goed moet jy met die voorligting-onderwyser gaan praat, die Afrikaans-klas is nie die plek daarvoor nie.’


Wit issie n colour nie.jpg

Met verlof gepubliseer uit Wit issie 'n colour nie (2018) deur Nathan Trantraal, uitgegee deur Kwela en te koop teen R220.

Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. In 2008 publiseer Tafelberg Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit, 'n grafiese roman. Sy debuutdigbundel, Chokers en survivors is bekroon met die Ingrid Jonkerprys (2015) en 'n ATKV-Woordveertjie vir digkuns (2014). Hy is getroud met Ronelda S. Kamfer. Alles het niet kom wôd is sy tweede digbundel. Hy is tans besig met 'n MA-graad aan Rhodes-universiteit.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Nathan Trantraal: 'Dit was 'n dag wat ek nooit sal vergeet nie' gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand