Annemarié van Niekerk gesels met Ronelda S Kamfer en Nathan Trantraal

Foto’s verskaf deur Ronelda van haar, Nathan en Seymour se tyd in Nederland.

Oor Nederland, vertalings en boeke

Sommige ontmoetings vergeet ’n mens nooit nie. So was my ontmoeting in Maart 2011 op die Woordfees met Ronelda en Nathan. Ek moes die Tuin van die digters in Stellenbosch se Botaniese Tuine aanbied en Ronelda, wie se tweede bundel Grond/Santekraam kort vantevore verskyn het, was een van die digters wat opgetree het. Ons het almal saam aan een lang tafel gesit – ek, Ronelda en Nathan heeltemal aan die onderpunt. Ek weet nie of dit ons gemarginaliseerde plek aan die tafel was nie, maar dit was ’n bindingsmoment. Nie net het Ronelda se poësie daardie aand ’n nog sterker houvas op my gekry nie, maar dit was ook die begin van ’n kosbare vriendskap. Vir Ronelda en Nathan was die res van 2011 vol vreugde én swaarkry. Op 2 Junie is haar ma onverwags oorlede – vir Ronelda ’n pynlike verlies wat later aanleiding gegee het tot diep treffende gedigte in die bundel Hammie (2016). Maar dit was ook die jaar waarin hulle getrou het en Seymour – van wie ek en Jaap die supertrotse peetouers is – gebore is.

Ons beste tye saam? Ek dink van ons lekkerste kuiers was aande op die balkon by ons huis in Den Haag, en een keer toe Ronelda ’n writer’s residency in La Rochelle in Frankryk gehad het en hulle gevra het of ons nie lus was om ’n draai te kom maak nie. Jaap het ander verpligtinge gehad, maar hulle vraag was skaars koud of ek het met my karretjie die byna 1000 km afgelê en was nie spyt nie, want daar het ons in die courtyard van die Centre Intermondes tot diep in die nagte gesit en onvergeetlike gesprekke gehad.

Betrokke by mekaar se skryfwerk? Ja, beslis. Ronelda en Nathan se kommentaar op my skryfwerk is vir my baie belangrik – ek vertrou hulle oordeel soos min ander. Ek redigeer Ronelda en Nathan se boeke, het ook onlangs Charmaine Africa (Nathan se ma) se boek Amma geredigeer, en al ’n paar onderhoude met hulle gedoen. Daarom was ek baie bly toe Klyntji my gevra het om ook hierdie onderhoud te doen waarin ons oor hulle onlangse besoek aan Nederland gesels, asook die nuutste vertalings van hulle boeke. Ek het ook probeer uitvis oor hulle nuwe projekte, maar hulle is baie geheimsinnig.

Ronelda, Nathan, Annemarié en Seymour in Kaapstad, 2024.


ANNEMARIÉ: Julle was nou onlangs in Nederland. Wat presies het julle hierdie keer daarheen geneem?

RONELDA: Franse vertalings van ons digbundels Chinatown [RK] en Chokers en survivors [NT] is gepubliseer. Chinatown en Kompoun is ook in Nederlands vertaal. Ons was veronderstel om net voor die pandemic al te gaan, maar toe kon ons natuurlik nie en gelukkig kon ons dit hierdie jaar doen. Ons het mainly kom praat oor ons werk; ek oor die Nederlandse vertaling van Kompoun en Nathan het gelees uit sy nuwe grafiese roman, Die man wattie kinnes vang

ANNEMARIÉ: Is Nederland vir julle ’n inspirerende omgewing? Werk julle lekker daar?

RONELDA: Ja, dit is baie inspirerend. Alles is baie accessible en die dae voel bietjie langer. Natuurlik, die heel eerste ding wat ons gedoen het ’n dag na arrival, was om die nuwe Ghibli film te gaan kyk, The boy and the heron, en omdat Seymour paint was dit mandatory om na soveel moontlik kunsmuseums te gaan. Ons het ook hard gewerk. Ek is amper klaar met my nuwe roman en Nathan het alweer begin met ’n nuwe project. Die beste ding van Nederland is dat dit relatively safe is en die belangrikste: boeke. Al die boeke wat ons al jare soek of sukkel om te kry, was daar. 

ANNEMARIÉ: Ek is natuurlik nuuskierig oor watter boeke julle gekoop het. 

RONELDA: Dit was meestal net ’n expansion van boeke wat ons al het van skrywers wat ons admire. Ek het ’n paar Studio Ghibli-boeke gekry, Nathan het ’n Platonov gekry, maar een van my mooiste gifts was ’n illustration van Naomi van Niekerk: ’n still uit haar film Boxcutters, wat based is op my gedig, ‘Box Cutters’.  Die ander nice ding is dat mense die heeltyd vir jou boeke gee; dit is awesome. Ek het ook die habit van boeke koop wat ek al het, net omdat die covers different is. 

ANNEMARIÉ: Wil jy al iets sê oor die nuwe roman waaraan jy werk?

RONELDA: Nee. Dit is ’n mystery :-)

ANNEMARIÉ: Nathan, wil jy dalk iets sê oor die nuwe projek waarmee jy besig is?

NATHAN: Ek is besig met ’n film script; ek navors so tussen die first draft deur, maar dit is nice om op iets te werk wat nuut is. Ek gaan nie share waaroor dit gaan nie, you will have to wait and see.

ANNEMARIÉ: Die man wattie kinnes vang het sopas by Kwela verskyn en alreeds uitstekende reaksies gekry. Dié genre is nie nuut vir jou nie.

NATHAN: Nee, dit is nie. Ek het al met publikasies soos Stormkaap in 2008 en Coloureds in 2010 in hierdie genre gewerk, en het ook al ’n hele paar collaborations gedoen, soos die Crossroads series. Maar Die man wattie kinnes vang is my eerste solo graphic novel. 

ANNEMARIÉ: Is die onderwerp van geweld teen kinders iets wat jou lankal na aan die hart lê?

NATHAN: Geweld teen kinders hoop ek lê naby almal se harte. Geweld in alle forms, vanaf political tot die most basic needs van mense. Dié graphic novel gaan oor meer as net geweld teen kinders; dit gaan oor iemand wat terugkyk op sy childhood in ’n violent land en gemeenskap en hoe incredible dit is hoe baie geweld kinders elke dag saam mee leef. Dit stel baie questions oor ’n spesifieke tyd in die geskiedenis. Ek dink as mens dink aan die dawn of democracy in Suid-Afrika, wil mense amper net die political onthou, maar hoe baie ma’s het gesit en wag vir hulle kinders om huis toe te kom en hulle het nie. Die distance tussen political history en die personal history. 

ANNEMARIÉ: Het jy in Nederland spesifieke inspirasie opgetel vir moontlike toekomstige werk in hierdie genre?

NATHAN: Nederland is ’n great space om te werk, again, accessible en safe. Mense is baie relaxed meeste van die tyd, maar ek need min inspirasie; die goed wat ek need om te werk is altyd prakties. Goeie wifi, koffie, ciggs, ’n playlist en obviously ’n vrou en kind wat my uit die werk uit hou. 

ANNEMARIÉ: Ronelda, ek hoor dat die Nederlandse vertaling van Kompoun sopas – in Mei – verskyn het, onder die titel Compoun. Hierdie keer gee jy by Wereldbibliotheek uit, maar jou vertaler is steeds Alfred Schaffer. Werk julle nou saam gedurende die vertaling? 

RONELDA: Alfred is ’n absolute professional; as hy vrae het gedurende die proses, email hy my en ek antwoord. Ek dink hy verstaan my werk baie goed en ek is incredibly lucky om so ’n goeie skrywer as vertaler te het.

ANNEMARIÉ: Tydens julle verblyf in Nederland het jy uit Kompoun voorgelees. Hoe reageer Nederlandse gehore daarop? Dink jy hulle snap al die nuances?

RONELDA: Ja, ek het gesels en gelees uit Kompoun en dit was altyd goed; ek vat nie te veel note van reaksies nie. Ek dink nie daar is nuances om te snap nie. Ek dink enige iemand wat chaotic families ken en wie moes hard werk om nie ’n product van daai environment te word nie, kan relate. Al wat ek worried oor was, was die humour, maar ek dink Alfred het dit perfectly ge-capture in translation. Ek stem saam met Alfred se benadering tot vertaling. Hy vertaal dit net. 

Ek dink, wat in die vertaalproses verlore gaan, behoort aan die geleefde ruimte en plekke waaruit ek skryf. So het ek byvoorbeeld baie Japannese skrywers gelees wat in Engels vertaal is, en wat die Engelse translations verskaf, is wat ek need as leser; dit is wat die language my allow. Selfs as ek môre Japannees sou leer, sou ek steeds soveel verloor omdat daar ’n dieper, geleefde konteks is wat my steeds sou ontduik. As ek ’n vertaling lees, verloor ek iets wat in die eerste plek nie aan my behoort nie, en dit is fine. En Kompoun gaan oor loss, so dit werk perfect. 

ANNEMARIÉ: Kompoun het ’n sterk sense of space en lewer konfronterende kommentaar op hoe die omgewing waarin kinders grootword hulle teken – kommentaar wat nogal ironies is ten opsigte van die alledaagse sentimentele sêgoed oor die idee van huis, soos Home is where the heart is. Maar ek het nou die dag gelees dat iemand sê (ek kan nie onthou wie nie): “Huis is waar jy huil.” Dit het my getref. Waar en wat is huis vir julle? Het julle dit gemis toe julle in Nederland was? Is julle van daardie soort mense met ’n nomadiese ingesteldheid – daarmee bedoel ek mense wat maklik en selfs graag weg van die huis af kan werk? Of het julle ’n bekende omgewing nodig om goed te funksioneer, om kreatief te wees? 

RONELDA: Dit is baie interessant, maar huis vir ons is altyd culturally, waa jou ma is. Ons is glad nie nomadies nie; ons werk vir rent en sukkel soos everyone else om somehow ’n safe space te create in die wêreld waar jy kan function, en soms word ons invite om ons werk in ’n ander land te gaan lees en deel en dit is ’n incredible ding. Ons werk enige plek. Nathan kom uit extreme chaotic plekke uit; hy het in ’n garage gebly en selfs toe ge-manage om amazing werk te produce – om te create is essential en dit is werk. So, ja, ons werk enige plek. Ek dink dit is nice dat writers stuff het of need. Ek dink altyd, wow that’s nice, almal in my household is hyper, but somehow maak ons altyd deadlines.

ANNEMARIÉ: Ek weet dat julle werk hoog aangeskrewe is in Nederland en nog net positiewe resensies gekry het. Dikwels word julle ook gevra om bydraes te lewer tot vooraanstaande publikasies of verskyn daar prominente stukke oor julle werk. Maar hoe word julle voorlesings en optredes deur Nederlandse gehore ontvang? 

NATHAN: Who knows, ek dink die fokus vir ons is altyd die kleiner, meer intimate responses. Wat ek werklik waardeer, is die persoonlike connections wat lesers soms deel. Lesers wat lief is vir ’n karakter of wat met ’n gedig relate of geïnspireer word om te skryf, is alles universele ervarings wat deur Afrikaanse, Nederlandse en Franse lesers gedeel word. 

ANNEMARIÉ: Nathan, julle was nou ook in Franstalige België vir readings uit Vache enragée, die Franse vertaling van Chokers en survivors. Wat beteken dit vir jou?

NATHAN: Dit is incredible vir poetry in Kaaps. Ek dink die narrative around Kaaps en die fear of losing some inexplicable thing in the process of translation het baie delays in die translation van baie boeke ge-cause. Is funny, dieselfde mense wat jare gelede ge-claim het hulle verstaan nie Kaaps nie, was eerste om te sê is impossible om te translate en nou is daai ook gedoen, nou wat? Ek agree met Ronelda se view oor die translation process en ek is absolutely grateful vir my translators. Ons werk is ook onlangs in Greek translate en binnekort German. Ek het baie respect vir translators.

ANNEMARIÉ: As julle van daar ver af na SA kyk, wat gaan deur julle gedagtes?

RONELDA: Ons doen nie; die lande is baie ver van mekaar, maar mense is oral dieselfde. Ek avoid alle forms van romanticising; ek worry net altyd dat almal wat ek omgee oor, safe is, maak nie saak waar ek is nie. In die afgelope vier jaar is so baie mense wat ek lief voor was, dood, so dit occupy my thoughts altyd. 

ANNEMARIÉ: Na aanleiding van julle ervarings in Nederland, hoe sien julle die verskille tussen Nederland en Suid-Afrika wat kulturele scenes betref?

RONELDA: Honestly, dit is unfair comparisons, twee complete different contexts, reg? En ek experience nie plekke in terms van scenes nie. Daar is baie om te sien en doen, access tot goed, mense wat elke dag opstaan vir werk, mense wat commute, protests, celebrations, pub fights, baie soos everywhere else. ’n Mistake wat baie mense maak, is om hulself te separate van eveyone else af. Die funnieste mens wat ek daar ontmoet het, werk in ’n library; die friendliest persoon wat ek interact het mee, is die man by die tobacco shop en die most unlikeable? Obviously ’n fokken artist.

ANNEMARIÉ: Wat was die hoogtepunt van julle verblyf? En laagtepunt?

NATHAN: Hoogtepunt is om alles saam met Seymour te ervaar en die verskillende plekke te besoek. Laagtepunt, die euro. Alles is duur. 

ANNEMARIÉ: Die Nederlandse kiesers het tydens die laaste verkiesing duidelik aangegee dat daar ’n skuif na regs is binne die maatskappy. Het julle enige iets hiervan gemerk tydens julle verblyf? 

RONELDA: Nee, ons tyd in Nederland en France was baie specifically framed; ons is gaste en alle conversations was vanuit daai perspektief.

ANNEMARIÉ: Is daar iets wat julle vir up-and-coming Suid-Afrikaanse skrywers wil sê?

NATHAN: Lees.

RONELDA: En lees meer as net Afrikaans.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Annemarié van Niekerk gesels met Ronelda S Kamfer en Nathan Trantraal gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand